Waarom moet oortreding aangemeld word?
“HY WAT ’n saak aan die lig bring, word die mense se vyand”, sê sommige in Wes-Afrika. Dit is wat met Olu gebeur het toe hy sy ouer broer daarvan beskuldig het dat hy bloedskande met sy suster gepleeg het. “Jy is ’n leuenaar!” het die broer geskreeu. Toe het hy Olu wreed geslaan en uit die familiehuis weggejaag, asook al Olu se klere verbrand. Die dorpenaars het die broer gesteun. Omdat Olu nie meer in die dorp welkom was nie, moes hy weggaan. Dit was eers toe die mense kon sien dat die meisie swanger is dat hulle besef het dat Olu die waarheid vertel het. Die broer het erken wat hy gedoen het, en Olu is weer in ere herstel. Dinge kon baie anders gewees het. Die mense kon Olu doodgemaak het.
Diegene wat geen liefde vir Jehovah het nie, sal moontlik nie daarvan hou dat hulle oortredings aan die lig gebring word nie. Die sondige menslike neiging is om jou teen teregwysing te verset en die persoon wat dit gee daarvoor kwalik te neem. (Vergelyk Johannes 7:7.) Dit is dus geen wonder nie dat baie soos die graf swyg wanneer hulle die sondes van ander moet openbaar aan diegene wat die gesag het om hulle tereg te wys.
Waardeer die waarde van teregwysing
Onder Jehovah se volk is daar egter ’n ander gesindheid teenoor teregwysing. Godvrugtige manne en vroue het ’n hartgrondige waardering vir die reëling wat Jehovah ingestel het om oortreders binne die Christengemeente te help. Hulle besef dat sulke dissipline ’n blyk van sy liefderyke goedhartigheid is.—Hebreërs 12:6-11.
Dit kan toegelig word deur ’n voorval in die lewe van koning Dawid. Hoewel hy van sy jeug af ’n regverdige man was, was daar ’n tyd toe hy hom aan ernstige oortreding skuldig gemaak het. Hy het in die eerste plek egbreuk gepleeg. In ’n poging om sy oortreding toe te smeer, het hy toe gereël dat die vrou se man doodgemaak word. Maar Jehovah het Dawid se sonde geopenbaar aan Natan die profeet, wat Dawid moedig met die saak gekonfronteer het. Natan het ’n kragtige illustrasie gebruik en Dawid gevra wat met ’n ryk man gedoen moet word wat baie skape het maar die enigste lammetjie, ’n geliefde troeteldier, van ’n arm man geneem en geslag het om as voedsel vir sy vriend te gee. Dawid, wat ook eens ’n herder was, het verontwaardig en woedend geraak. Hy het gesê: “Die man wat dit gedoen het, moet sterwe!” Natan het toe die illustrasie op Dawid toegepas en gesê: “U is die man!”—2 Samuel 12:1-7.
Dawid het nie vir Natan kwaad geword nie; hy het hom ook nie probeer verdedig of hom tot teenbeskuldigings gewend nie. Natan se bestrawwing het sy gewete eerder diep getref. Dawid se hart is geraak en hy het erken: “Ek het gesondig teen die HERE.”—2 Samuel 12:13.
Natan se blootlegging van Dawid se sonde, wat deur Goddelike teregwysing gevolg is, het goeie vrugte afgewerp. Hoewel Dawid nie die gevolge van sy oortreding vrygespring het nie, het hy berou getoon en weer met Jehovah versoen geraak. Hoe het Dawid oor sulke teregwysing gevoel? Hy het geskryf: “As die regverdige my slaan‚ sou dit ’n daad van liefderyke goedhartigheid wees; en as hy my teregwys‚ sou dit olie op die hoof wees‚ wat my hoof nie sou wou weier nie.”—Psalm 141:5, NW.
In ons dag kan Jehovah se knegte hulle ook aan ernstige oortreding skuldig maak, selfs diegene wat al baie jare getrou is. Omdat hulle besef dat die ouer manne hulle kan help, neem die meeste die inisiatief om hulle om hulp te nader (Jakobus 5:13-16). Maar ’n oortreder sal sy sonde soms probeer wegsteek, soos koning Dawid gedoen het. Wat moet ons doen as ernstige oortreding in die gemeente onder ons aandag kom?
Wie se verantwoordelikheid is dit?
Wanneer ernstige oortreding onder die ouer manne se aandag gebring word, nader hulle die individu om hom die nodige hulp en teregwysing te gee. Dit is die ouer manne se verantwoordelikheid om sulke persone binne die Christengemeente te oordeel. Hulle hou die geestelike toestand daarvan fyn dop en kan enigiemand bystaan en vermaan wat iets onverstandigs doen of ’n misstap begaan.—1 Korintiërs 5:12, 13; 2 Timoteus 4:2; 1 Petrus 5:1, 2.
Maar gestel jy is nie ’n ouer man nie en jy word bewus van die een of ander ernstige oortreding deur ’n mede-Christen. Ons vind riglyne hieroor in die Wet wat Jehovah aan die nasie Israel gegee het. Die Wet het gesê dat iemand wat ’n getuie van afvallige dade, oproer, moord of sekere ander ernstige misdade was persoonlik daarvoor verantwoordelik was om dit aan te meld en ’n verklaring af te lê van wat hy weet. Levitikus 5:1 sê: “En as iemand sondig—dat hy die luid uitgesproke beswering hoor, terwyl hy getuie was, dit gesien het of daarvan weet—as hy naamlik dit nie te kenne gee nie [sal hy] sy ongeregtigheid moet dra.”—Vergelyk Deuteronomium 13:6-8; Ester 6:2; Spreuke 29:24.
Hoewel Christene vandag nie onder die Mosaïese Wet is nie, kan hulle hulle laat lei deur die beginsels waarop dit gebaseer is (Psalm 19:8, 9). Wat moet jy dan doen wanneer die ernstige oortreding van ’n mede-Christen onder jou aandag kom?
Wat om te doen
Dit is in die eerste plek belangrik dat daar grondige rede is om te dink dat daar wel ernstige oortreding was. “Wees nie sonder oorsaak getuie teen jou naaste nie”, het die wyse man gesê. “Want mag jy met jou lippe mislei?”—Spreuke 24:28.
Jy kan besluit om direk na die ouer manne toe te gaan. Dit is nie verkeerd om dit te doen nie. Maar gewoonlik is die liefdevolste weg om die betrokke persoon te nader. Miskien verskil die feite van hoe sake voorkom. Of miskien gee die ouer manne reeds aandag aan die situasie. Bespreek die saak kalmweg met die persoon. As daar nog steeds rede is om te dink dat ’n ernstige sonde gepleeg is, moet jy hom of haar aanmoedig om die ouer manne om hulp te nader en die wysheid daarvan verduidelik. Moenie met ander oor die saak praat nie, want dit sal beteken dat jy skinder.
As die persoon nie binne ’n redelike tyd met die ouer manne gaan praat nie, moet jý dit doen. Een of twee ouer manne sal die saak dan met die beskuldigde bespreek. Die ouer manne moet “terdeë ondersoek en naspeur en uitvra” om vas te stel of ’n oortreding begaan is. Indien wel, sal hulle die saak volgens die skriftuurlike riglyne hanteer.—Deuteronomium 13:12-14.
Ten minste twee getuies is nodig om ’n klag van oortreding teen iemand te lê (Johannes 8:17; Hebreërs 10:28). Indien die persoon die aanklag ontken en jou getuienis die enigste is, sal die saak aan Jehovah oorgelaat word (1 Timoteus 5:19, 24, 25). Dit word gedoen in die wete dat alle dinge “oop en bloot” voor Jehovah se oë is en dat die persoon se sondes hom uiteindelik “sal uitvind” indien hy skuldig is.—Hebreërs 4:13; Numeri 32:23.
Maar gestel die persoon ontken die aanklag en jy is die enigste getuie teen hom. Kan ’n teenbeskuldiging van laster nou teen jou ingebring word? Nee, tensy jy geskinder het by ander wat nie by die saak betrokke is nie. Dit is nie laster om situasies wat ’n gemeente raak, aan te meld by diegene wat die gesag en verantwoordelikheid het om toesig te hou en sake reg te stel nie. Trouens, dit is in ooreenstemming met ons begeerte om altyd te doen wat reg en lojaal is.—Vergelyk Lukas 1:74, 75.
Handhaaf heiligheid in die gemeente
Een rede waarom ons oortreding moet aanmeld, is omdat dit help om die gemeente rein te hou. Jehovah is ’n rein God, ’n heilige God. Hy vereis dat almal wat hom aanbid geestelik en sedelik rein moet wees. Sy geïnspireerde Woord vermaan ons: “Hou as gehoorsame kinders op om gevorm te word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het, maar word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Petrus 1:14-16). Individue wat hulle aan onreinheid of oortreding skuldig maak, kan ’n hele gemeente verontreinig en in onguns by Jehovah bring, tensy stappe gedoen word om hulle tereg te wys of uit te sit.—Vergelyk Josua, hoofstuk 7.
Die apostel Paulus se briewe aan die Christengemeente in Korinte toon hoe die feit dat oortreding aangemeld is daartoe gelei het dat God se volk daar gereinig is. In sy eerste brief het Paulus geskryf: “Daar word waarlik berig dat daar hoerery onder julle is, en hoerery van so ’n aard as wat nie eens onder die nasies voorkom nie, dat ’n sekere man die vrou van sy vader het.”—1 Korintiërs 5:1.
Die Bybel sê nie vir ons van wie die apostel hierdie berig ontvang het nie. Dit kan wees dat Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, wat van Korinte gereis het na Efese waar Paulus gebly het, hierdie situasie onder Paulus se aandag gebring het. Paulus het ook ’n brief met talle vrae van die Christengemeente in Korinte ontvang. Wat ook al die bron was, dit was eers nadat die saak deur ’n geloofwaardige getuie by Paulus aangemeld is dat hy leiding oor die saak kon gee. “Verwyder die goddelose mens onder julle uit”, het hy geskryf. Die man is uit die gemeente gesit.—1 Korintiërs 5:13; 16:17, 18.
Het Paulus se raad goeie gevolge gehad? Dit het inderdaad! Die oortreder het blykbaar tot besinning gekom. In sy tweede brief aan die Korintiërs het Paulus daarop gewys dat die gemeente die berouvolle man “goedgunstig moet vergewe en vertroos” (2 Korintiërs 2:6-8). Die feit dat die oortreding aangemeld is, het dus tot optrede gelei wat die gemeente gereinig het en waardeur ’n persoon wat sy verhouding met God geskaad het in God se guns herstel is.
Ons vind nog ’n voorbeeld in Paulus se eerste brief aan die Christengemeente in Korinte. In hierdie geval noem die apostel die getuies wat die saak aangemeld het. Hy het geskryf: “Daar is aan my deur die huisgenote van Chloë oor julle onthul, my broers, dat daar onenighede onder julle bestaan” (1 Korintiërs 1:11). Paulus het geweet dat hierdie onenigheid, tesame met onbehoorlike eerbetoning aan mense, ’n sektariese gesindheid geskep het wat gedreig het om die eenheid van die gemeente te vernietig. Uit diepe besorgdheid oor die geestelike welsyn van sy medegelowiges daar het Paulus gevolglik vinnig opgetree en regstellende raad deur middel van ’n brief aan die gemeente gegee.
Vandag span die meeste broers en susters in gemeentes regoor die aarde hulle in om die geestelike reinheid van die gemeente te bewaar deur individueel ’n goedgekeurde posisie voor God te behou. Party verduur lyding om dit te doen; ander het selfs gesterf sodat hulle hulle onkreukbaarheid kon handhaaf. Dit sal sekerlik ’n gebrek aan waardering vir hierdie pogings toon as ’n mens oortreding vergoelik of geheim hou.
Hulp vir oortreders
Waarom aarsel party wat hulle aan growwe sonde skuldig gemaak het om die gemeentelike ouer manne te nader? Dikwels is dit omdat hulle nie bewus is van die voordele daarvan om na die ouer manne te gaan nie. Party meen verkeerdelik dat hulle sonde aan die hele gemeente geopenbaar sal word as hulle dit bely. Ander maak hulleself wys dat wat hulle gedoen het nie so ernstig is nie. Ander weer dink dat hulle hulleself kan reghelp sonder die hulp van die ouer manne.
Maar sulke oortreders het liefdevolle hulp van die gemeentelike ouer manne nodig. Jakobus het geskryf: “Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word.”—Jakobus 5:14, 15.
Wat ’n wonderlike voorsiening is dit tog om oortreders te help om hulle geestelikheid te herwin! Deur die genesende raad uit God se Woord toe te pas en ten behoewe van hulle te bid, kan die ouer manne dié wat geestelik siek is, help om van hulle verkeerde weë te herstel. Wanneer berouvolles met liefdevolle ouer manne gaan praat, voel hulle dus dikwels verkwik en gerusgestel, en nie soos ’n veroordeelde nie. ’n Jong man uit Wes-Afrika het hoerery gepleeg en sy sonde ’n paar maande lank geheim gehou. Nadat sy sonde aan die lig gekom het, het hy vir die ouer manne gesê: “Hoe wens ek tog dat iemand my oor my vriendskap met daardie meisie uitgevra het! Dit is so ’n verligting dat hierdie saak nou uitgekom het.”—Vergelyk Psalm 32:3-5.
’n Daad van beginselvaste liefde
Gedoopte knegte van God het “uit die dood na die lewe oorgegaan” (1 Johannes 3:14). Maar as hulle ernstige sonde pleeg, het hulle na die weg van die dood teruggekeer. As hulle nie gehelp word nie, kan hulle dalk verstok word in hulle oortreding en geen begeerte hê om berou te toon en na die aanbidding van die ware God terug te keer nie.—Hebreërs 10:26-29.
Dit is ’n daad van ware besorgdheid oor die oortreder om ’n oortreding aan te meld. Jakobus het geskryf: “My broers, as iemand onder julle deur misleiding van die waarheid afgebring word en ’n ander laat hom terugdraai, weet dan dat hy wat ’n sondaar van die dwaling van sy weg laat terugdraai sy siel van die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek.”—Jakobus 5:19, 20.
Waarom moet oortreding dus aangemeld word? Omdat dit goeie gevolge meebring. Ja, dit is ’n daad van Christelike beginselvaste liefde vir God, vir die gemeente en vir die oortreder om oortreding aan te meld. Wanneer elke gemeentelid God se regverdige standaarde lojaal handhaaf, sal Jehovah die hele gemeente ryklik seën. Die apostel Paulus het geskryf: “Hy [Jehovah] sal julle ook tot die einde toe standvastig maak, sodat julle vry van enige beskuldiging kan wees in die dag van ons Here Jesus Christus.”—1 Korintiërs 1:8.
[Prent op bladsy 26]
Dit is ’n blyk van liefde om ’n Getuie wat oortree het, aan te moedig om met die ouer manne te praat
[Prent op bladsy 28]
Ouer manne help oortreders om weer God se guns te verkry