Hulle het Jehovah se wil gedoen
’n Vader wat vergewensgesind is
DIT is al tereg die beste kortverhaal genoem wat nog geskryf is. Jesus se gelykenis van ’n vader se liefde vir sy verlore seun is soos ’n venster waardeur ons ’n luisterryke beeld van God se medelye met berouvolle sondaars kry.
Verlore en gevind
’n Man het twee seuns gehad. Die jongste seun het vir hom gesê: ‘Ek wil my erfenis nou hê, pleks van te wag tot u sterf.’ Die vader het ingewillig en hom waarskynlik ’n derde gegee van alles wat hy besit het—die wetlike deel vir die jongste van twee seuns (Deuteronomium 21:17). Die jong man het haastig sy besittings bymekaargemaak en na ’n ver land gereis waar hy al sy geld verkwis het deur ’n losbandige lewe te lei.—Lukas 15:11-13.
Toe het daar ’n swaar hongersnood gekom. Uit wanhoop het die jong man werk as ’n varkwagter aanvaar—’n veragtelike werk vir ’n Jood (Levitikus 11:7, 8). Voedsel was so skaars dat hy begeer het om die karobpeule te eet wat die varke se kos was! Die jong man het uiteindelik tot besinning gekom. ‘My vader se knegte eet beter as ek!’ het hy by homself gedink. ‘Ek sal teruggaan huis toe, my sondes bely en my vader smeek om soos een van sy huurlinge te word.’a—Lukas 15:14-19.
Die jong man het terug huis toe gestrompel. Sy voorkoms het ongetwyfeld aansienlik verander. Sy vader het hom nietemin herken “terwyl hy nog ’n hele ent weg was”. Hy is deur medelye ontroer en het na sy seun gehardloop, hom omhels en “hom teer gesoen”.—Lukas 15:20.
Hierdie hartlike ontvangs het dit vir die jong man makliker gemaak om sy hart uit te stort. “Vader”, het hy gesê, “ek het teen die hemel en teen u gesondig. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.” Die vader het sy slawe ontbied. “Maak gou!” het hy beveel. “Bring ’n lang gewaad, die beste, en trek dit vir hom aan, en sit ’n ring aan sy hand en sandale aan sy voete. En bring die vetgemaakte jong bul, slag dit en laat ons eet en vrolik wees, want hierdie seun van my was dood en het weer lewend geword; hy was verlore en is gevind.”—Lukas 15:21-24.
Hulle het ’n groot fees begin hou, wat musiek en gedans ingesluit het. Die oudste seun het die luidrugtigheid gehoor terwyl hy van die land teruggekom het. Toe hy uitvind dat sy broer teruggekom het huis toe en dat dít die rede vir die feesviering was, het hy verontwaardig geword. ‘Ek dien u al baie jare soos ’n slaaf en was nooit ongehoorsaam aan u nie, en tog het u nooit vir my ’n boklam gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kan wees nie’, het hy by sy vader gekla. ‘Maar nou onmiddellik nadat u seun teruggekeer het wat u rykdom verkwis het, reël u vir hom ’n fees.’ ‘Kind’, het sy vader teer geantwoord, ‘jy was altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Maar ons moes ons eenvoudig verheug, want jou broer was dood en het lewend geword. Hy was verlore en is gevind.’—Lukas 15:25-32.
Lesse vir ons
Die vader in Jesus se gelykenis stel ons barmhartige God, Jehovah, voor. Soos die verlore seun verlaat party mense ’n tyd lank die veiligheid van God se huis maar keer later terug. Hoe beskou Jehovah sulke mense? Diegene wat met opregte berou tot Jehovah terugkeer, kan verseker wees dat hy “nie vir altyd [sal] bly foutvind nie, en hy sal ook nie tot onbepaalde tyd gebelg bly nie” (Psalm 103:9, NW). In die gelykenis het die vader gehardloop om sy seun terug te verwelkom. Jehovah is eweneens nie alleen bereid nie maar ook gretig om berouvolle sondaars te vergewe. Hy is “vergewensgesind”, en hy “vergeef menigvuldiglik”.—Psalm 86:5; Jesaja 55:7; Sagaria 1:3.
In Jesus se gelykenis het die vader se opregte liefde dit vir die seun makliker gemaak om die moed bymekaar te skraap om terug te keer. Maar dink hieraan: Wat sou gebeur het as die vader die seun verstoot het of in ’n woedeuitbarsting vir hom gesê het dat hy nooit weer moet terugkom nie? So ’n gesindheid sou die seun waarskynlik vir goed vervreem het.—Vergelyk 2 Korintiërs 2:6, 7.
Die vader het dus in sekere sin die grondslag vir sy seun se terugkeer gelê toe sy seun vertrek het. Vandag moet Christen- ouer manne soms onberouvolle sondaars uit die gemeente verwyder (1 Korintiërs 5:11, 13). Wanneer hulle dit doen, kan hulle die weg vir die sondaar se terugkeer begin baan deur hom liefdevol op die stappe te wys wat hy kan doen as hy in die toekoms in die gemeente herstel wil word. Die herinnering aan so ’n opregte uitnodiging het later baie wat in geestelike sin verlore was tot berou beweeg en hulle aangespoor om na God se huis terug te keer.—2 Timoteus 4:2.
Die vader het ook medelye betoon toe sy seun teruggekeer het. Dit het hom nie lank geneem om te besef dat die seun opregte berou het nie. Hy het nie daarop aangedring om elke besonderheid van sy seun se oortreding te probeer uitvind nie, maar het hom eerder sonder verwyl terugverwelkom, en hy het groot vreugde geopenbaar in die manier waarop hy dit gedoen het. Christene kan hierdie voorbeeld navolg. Hulle moet hulle verheug wanneer ’n verlore persoon gevind word.—Lukas 15:10.
Die vader se optrede toon sonder twyfel dat hy lank voor die tyd die terugkeer van sy weerspannige seun verwag het. Dit is natuurlik net ’n skaduwee van die verlange wat Jehovah het na almal wat sy huis verlaat het. Hy “wil [nie] hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Diegene wat berou het oor hulle sondes kan dus seker wees dat hulle geseën sal word met “tye van verkwikking van die persoon van Jehovah”.—Handelinge 3:19.
[Voetnoot]
a Terwyl ’n slaaf as deel van die huis beskou is, was ’n gehuurde kneg ’n dagloner wat te eniger tyd weggestuur kon word. Die jong man het geredeneer dat hy bereid sou wees om selfs die laagste plek in sy vader se huis te aanvaar.