Dra oesfeeste God se goedkeuring weg?
SAPPIGE vrugte, heerlike groente en hoë stapels gesonde koringgerwe vorm ’n mooi prentjie. Gedurende die oestyd versier sulke rangskikkings die altare en preekstoele van kerke regdeur Engeland. In Europa, soos ook op ander plekke, word talle feeste gehou om die begin sowel as die einde van die oestyd te vier.
Diegene wat van die grond afhanklik is om ’n bestaan te maak, is veral dankbaar vir die opbrengs van die land. Trouens, God het die eertydse nasie Israel beveel om drie jaarlikse feeste te vier wat ’n noue verband met die oestye gehad het. Vroeg in die lente, gedurende die Fees van die Ongesuurde Brode, het die Israeliete ’n gerf van die eerstelinge van die garsoes aan God gegee. Tydens die Fees van die Weke (of Pinkster) teen die einde van die lente het hulle brode gegee wat van die eerstelinge van die koringoes gemaak was. In die herfs was daar die Fees van die Insameling, wat die einde van Israel se landboujaar gevier het (Exodus 23:14-17). Hierdie feeste was “heilige samekomste” en tye van verheuging.—Levitikus 23:2; Deuteronomium 16:16.
Wat dan van hedendaagse oesvieringe? Dra dit God se goedkeuring weg?
’n Heidense verband
’n Anglikaanse geestelike in Cornwallis, Engeland, wat ontsteld was oor die wêreldse aard van die tradisionele oesfeesmaal en die dronkenskap wat deel was van die fees, het in 1843 besluit om ’n Middeleeuse oesgebruik te laat herleef. Hy het van die eerste graan wat geoes is, geneem en brood daarvan gemaak vir die Nagmaalviering in sy kerk. Sodoende het hy die fees van Lammas laat voortbestaan—’n “Christelike” viering wat volgens party sy oorsprong gehad het by die eertydse aanbidding van die Keltiese god Lugh.a Die hedendaagse Anglikaanse oesfees het dus ’n heidense oorsprong.
Wat van ander vieringe wat aan die einde van die oestyd gehou word? Volgens die Encyclopædia Britannica het baie van die gebruike wat hierdie feeste kenmerk hulle oorsprong by “die animistiese geloof in die graangees of graanmoeder”. In party streke het die boere geglo dat daar ’n gees woon in die laaste gerf graan wat geoes is. Hulle het die graan teen die grond geslaan om die gees uit te jaag. Op ander plekke het hulle ’n paar graanhalms in ’n “koringpop” vasgeweef wat hulle bewaar het om “geluk” te bring totdat hulle die volgende jaar saai. Dan het hulle die graanare in die grond teruggeploeg in die hoop dat dit die nuwe gesaaides sou seën.
Party legendes verbind oestyd met die aanbidding van die Babiloniese god Tammus, metgesel van die vrugbaarheidsgodin Isjtar. Die afsny van die ryp graanaar het ooreengestem met Tammus se ontydige dood. Ander legendes verbind oestyd selfs met menseofferandes—’n gebruik wat Jehovah God verafsku.—Levitikus 20:2; Jeremia 7:30, 31.
Wat is God se beskouing?
God se handelinge met eertydse Israel toon duidelik dat Jehovah, die Skepper en Fontein van die lewe, die uitsluitlike toegewydheid van sy aanbidders geëis het (Psalm 36:10; Nahum 1:2, NW). In die profeet Esegiël se dag was die gebruik om die god Tammus te beween ’n ‘groot gruwel’ in Jehovah se oë. Dit, tesame met ander valse godsdiensritusse, het veroorsaak dat God sy ore gesluit het vir die gebede van daardie valse aanbidders.—Esegiël 8:6, 13, 14, 18.
Vergelyk dit met wat Jehovah God Israel beveel het om in verband met die oes te vier. Gedurende die Fees van die Insameling, het die Israeliete ’n plegtige samekoms gehad waartydens oud en jonk, ryk en arm, in tydelike wonings gebly het wat met die welige takke van pragtige bome versier is. Dit was ’n tyd van groot vreugde vir hulle, maar dit was ook ’n tyd om na te dink oor die verlossing wat God hulle voorvaders gegee het tydens die uittog uit Egipte.—Levitikus 23:40-43.
Gedurende die Israelitiese feeste is offerandes gebring aan Jehovah, die enigste ware God (Deuteronomium 8:10-20). Wat die voormelde animistiese opvattings betref, praat die Bybel nooit van landbouprodukte, soos koringgerwe, asof dit ’n siel het nie.b En die Skrif toon duidelik dat afgode leweloos bly; hulle kan nie praat, sien, hoor, ruik, voel of hulle aanbidders enigsins help nie.—Psalm 115:5-8; Romeine 1:23-25.
Christene is vandag nie onder die Wetsverbond wat God met die eertydse nasie Israel gesluit het nie. Trouens, God “het dit uit die weg geruim deur dit aan [Jesus se] folterpaal te nael” (Kolossense 2:13, 14). Jehovah se hedendaagse knegte lewe volgens “die wet van die Christus” en reageer met waardering op alles wat God voorsien.—Galasiërs 6:2.
Die apostel Paulus het dit duidelik gestel dat die Joodse feeste “’n skaduwee van die toekomstige dinge” is, en het bygevoeg, “maar die werklikheid behoort aan die Christus” (Kolossense 2:16, 17). Gevolglik aanvaar ware Christene die skriftuurlike redenasie dat “die nasies die dinge wat hulle opoffer aan demone opoffer en nie aan God nie . . . Julle kan nie die beker van Jehovah en die beker van demone drink nie” (1 Korintiërs 10:20, 21). Daarbenewens slaan Christene ag op die opdrag om ‘op te hou om wat onrein is aan te raak’. Het oesfeeste in jou omgewing ’n heidense of valse godsdiensverband? Indien wel, kan ware Christene dit vermy om Jehovah te mishaag deur te weier om by sulke besoedelde aanbidding betrokke te raak.—2 Korintiërs 6:17.
Wanneer ’n dankbare kind ’n geskenk van sy vader ontvang, wie bedank hy? ’n Wildvreemde of sy ouer? God se aanbidders dank Jehovah, hulle hemelse Vader, daagliks vir sy oorvloedige vrygewigheid deur opregte gebed.—2 Korintiërs 6:18; 1 Tessalonisense 5:17, 18.
[Voetnote]
a Die woord “Lammas” is ontleen aan ’n Ou Engelse woord wat “brood-Mis” beteken.
b Insight on the Scriptures sê: “Neʹfesj (siel) word nie met verwysing na die skepping van plantelewe op die derde skeppings-‘dag’ (Ge 1:11-13) of daarná gebruik nie omdat plante bloedloos is.”—Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.