Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 10/1 bl. 4-8
  • Ken Jehovah die persoonlike God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ken Jehovah die persoonlike God
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah en Moses “van aangesig tot aangesig”
  • Jehovah—Elia se persoonlike God
  • Die heilige gees rig Paulus
  • Ateïsme geen hindernis vir Jehovah se persoonlike belangstelling nie
  • “Die dwaas” en God
  • Waarskuwings van ons persoonlike God
  • Hy het vertroosting in sy God gevind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Sal jy getrou wees soos Elia?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hy het vertroosting in sy God gevind
    Volg hulle geloof na
  • Voel jy ooit eensaam en bang?
    Leer jou kinders
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 10/1 bl. 4-8

Ken Jehovah die persoonlike God

DR. Radhakrishnan van Indië het die Hindoekonsep van God met dié van ander godsdiensstelsels vergelyk en gesê: “Die God van die Hebreërs is anders. Hy is ’n persoon en is bedrywig in die geskiedenis en stel belang in die veranderinge en gebeurlikhede van hierdie ontwikkelende wêreld. Hy is ’n Wese wat met ons kommunikeer.”

Die Hebreeuse naam van die God van die Bybel is יהוה, wat gewoonlik as “Jehovah” vertaal word. Hy oortref alle ander gode. Wat weet ons van hom? Hoe het hy in Bybeltye met mense gehandel?

Jehovah en Moses “van aangesig tot aangesig”

Jehovah en sy kneg Moses het ’n intieme vriendskap “van aangesig tot aangesig” gehad, al kon Moses God nie letterlik sien nie (Deuteronomium 34:10; Exodus 33:20). Toe Moses nog jonk was, was sy hart met die Israeliete, wat destyds in slawerny in Egipte was. Hy het sy lewe as ’n lid van Farao se huisgesin agtergelaat, “en gekies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word” (Hebreërs 11:25). Gevolglik het Jehovah talle spesiale voorregte aan Moses gegee.

As ’n lid van Farao se huisgesin “is Moses in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” (Handelinge 7:22). Maar om die nasie Israel te lei, moes hy ook die eienskappe nederigheid, geduld en sagmoedigheid aankweek. Dit het hy gedoen gedurende die 40 jaar wat hy ’n herder in Midian was (Exodus 2:15-22; Numeri 12:3). Hoewel Jehovah onsigbaar gebly het, het hy homself en sy voorneme aan Moses geopenbaar, en God het deur engele die Tien Gebooie aan hom toevertrou (Exodus 3:1-10; 19:3–20:20; Handelinge 7:53; Hebreërs 11:27). Die Bybel sê vir ons dat ‘die HERE van aangesig tot aangesig met Moses gespreek het soos ’n man met sy vriend spreek’ (Exodus 33:11). Trouens, Jehovah het self gesê: “Mond tot mond spreek Ek met hom.” Wat ’n kosbare, persoonlike verhouding het Moses tog met sy onsigbare maar persoonlike God geniet!—Numeri 12:8.

Buiten die vroeë geskiedenis van die nasie Israel het Moses die Wet met al die vertakkinge daarvan neergeskryf. Hy het ook ’n ander onskatbare voorreg ontvang—om die boek Genesis te skryf. Die laaste deel van daardie boek was geskiedenis waarmee sy eie familie baie goed bekend was en was derhalwe maklik om op te teken. Maar waar het Moses die besonderhede van die mens se vroegste geskiedenis gekry? Dit is moontlik dat Moses antieke geskrewe dokumente, wat deur sy voorouers bewaar is, gehad het om as bronnemateriaal te gebruik. Daarenteen kon hy besonderhede gekry het deur mondelinge oordrag of regstreeks deur Goddelike openbarings van Jehovah. Godvresende mense van alle tye erken al lank die persoonlike verhouding wat Moses in hierdie verband met sy God geniet het.

Jehovah—Elia se persoonlike God

Die profeet Elia het Jehovah ook as ’n persoonlike God geken. Elia was ywerig vir ware aanbidding en het Jehovah gedien al het hy die skyf geword vir groot haat en teenstand deur die aanbidders van Baäl, die hoofgod van die Kanaänitiese godedom.—1 Konings 18:17-40.

Agab, die koning van Israel, en sy vrou, Isebel, wou Elia doodmaak. Omdat Elia vir sy lewe gevrees het, het hy na Berseba, wes van die Dooie See, gevlug. Daar het hy in die woestyn ingegaan en gebid om te sterf (1 Konings 19:1-4). Het Jehovah Elia verlaat? Het Hy opgehou om in sy getroue kneg belang te stel? Elia het dalk so gedink, maar hoe verkeerd was hy tog! Later het Jehovah met ’n sagte stem met hom gepraat en gevra: “Wat maak jy hier, Elia?” Ná ’n dramatiese vertoon van bonatuurlike krag “kom ’n stem na hom wat [weer] sê: Wat maak jy hier, Elia?” Jehovah het hierdie persoonlike belangstelling in Elia getoon om sy betroubare kneg aan te moedig. God het nog werk vir hom gehad, en Elia het gretig op daardie uitnodiging gereageer! Elia het sy toewysings getrou uitgevoer en sodoende die naam van Jehovah, sy persoonlike God, geheilig.—1 Konings 19:9-18.

Nadat Jehovah die nasie Israel verwerp het, het hy opgehou om persoonlik met sy knegte op die aarde te praat. Dit het nie beteken dat sy persoonlike belangstelling in hulle afgeneem het nie. Hy het hulle nog steeds deur middel van sy heilige gees in sy diens gerig en versterk. Neem byvoorbeeld die apostel Paulus, wat vroeër as Saulus bekend gestaan het.

Die heilige gees rig Paulus

Saulus was van Tarsus, ’n vername stad van Silisië. Sy ouers was Hebreërs, maar hy is as ’n Romeinse burger gebore. Saulus is egter volgens die streng opvattings van die Fariseërs grootgemaak. Later, in Jerusalem, het hy die geleentheid gehad om “aan die voete van Gamaliël”, ’n vername leermeester van die Wet, opgevoed te word.—Handelinge 22:3, 26-28.

Weens Saulus se misplaaste ywer vir Joodse tradisie het hy deelgeneem aan ’n boosaardige veldtog teen die volgelinge van Jesus Christus. Hy het selfs die moord op Stefanus, die eerste Christenmartelaar, goedgekeur (Handelinge 7:58-60; 8:1, 3). Later het hy erken dat, hoewel hy vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n onbeskaamde man was, ‘barmhartigheid aan hom bewys is, omdat hy onkundig was en in ongeloof opgetree het’.—1 Timoteus 1:13.

Saulus is beweeg deur ’n opregte begeerte om God te dien. Ná Saulus se bekering op die pad na Damaskus het Jehovah hom op kragtige wyse gebruik. Ananias, ’n vroeë Christendissipel, is deur die verrese Christus gerig om hom te help. Daarna is Paulus (die Romeinse naam waaronder Saulus bekend geword het as ’n Christen) deur Jehovah se heilige gees gelei om ’n lang en vrugbare bediening dwarsdeur dele van Europa en Klein-Asië te vervul.—Handelinge 13:2-5; 16:9, 10.

Kan ons vandag nog steeds sien dat die heilige gees mense op dieselfde manier rig? Ja, ons kan.

Ateïsme geen hindernis vir Jehovah se persoonlike belangstelling nie

Joseph F. Rutherford was die tweede president van die Wagtoringgenootskap. Hy is in 1906 as ’n Bybelstudent—soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het—gedoop, is die volgende jaar as die Genootskap se regsverteenwoordiger aangestel en het in Januarie 1917 die president daarvan geword. Tog was hierdie jong regsgeleerde vroeër ’n ateïs. Hoe het hy so ’n gemotiveerde Christenkneg van Jehovah geword?

In Julie 1913 was Rutherford die voorsitter by ’n byeenkoms van die Internasionale Bybelstudente-vereniging wat in Springfield, Massachusetts, VSA, gehou is. ’n Verslaggewer van die plaaslike koerant, The Homestead, het ’n onderhoud met Rutherford gevoer, en die berig is in die aandenkingsbrosjure van daardie byeenkoms herdruk.

Rutherford het verduidelik dat hy, toe hy wou trou, aan die Baptistekerk behoort het, maar dat sy aanstaande ’n Presbiteriaan was. Toe Rutherford se pastoor sê dat “sy na die helse vuur toe gaan omdat sy nie ondergedompel is nie en dat hy reguit hemel toe gaan omdat hy wel is, het sy logiese verstand in opstand gekom, en hy het ’n ateïs geword”.

Dit het Rutherford etlike jare van noukeurige navorsing gekos om weer sy geloof in ’n persoonlike God op te bou. Hy het gesê dat hy van die veronderstelling uitgegaan het dat “dit wat nie die verstand tevrede kan stel nie geen reg het om die hart tevrede te stel nie”. Christene “moet daarvan oortuig wees dat die Skrif waarin hulle glo waaragtig is”, het Rutherford verduidelik, en hy het bygevoeg: “Hulle moet die fondament ken waarop hulle staan.”—Sien 2 Timoteus 3:16, 17.

Ja, dit is selfs vandag vir ’n ateïs of agnostikus moontlik om die Skrif te ondersoek, sy geloof op te bou en ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah God aan te kweek. Ná ’n sorgvuldige studie van die Bybel met behulp van die Wagtoringpublikasie Kennis wat tot die ewige lewe lei het een jong man erken: “Ek het nie in God geglo toe ek met hierdie studie begin het nie, maar nou vind ek dat kennis van die Bybel my hele denkwyse verander het. Ek leer Jehovah ken en begin op hom vertrou.”

“Die dwaas” en God

“Dit het by geen skrywer van die OT [Hebreeuse Geskrifte] opgekom om die bestaan van God te bewys of om daaroor te redeneer nie”, sê dr. James Hastings in A Dictionary of the Bible. “Dit is nie in ooreenstemming met die gees van die antieke wêreld in die algemeen om die bestaan van God te ontken of om redenasies te gebruik om dit bewys nie. Die opvatting was iets natuurliks vir die menslike verstand en gemeenskaplik aan alle mense.” Dit beteken natuurlik nie dat alle mense in daardie tyd godvresend was nie. Hoegenaamd nie. Psalm 14:1 sowel as 53:2 praat van “die dwaas” wat in sy hart sê: “Daar is geen God nie.”

Watter soort persoon is hierdie dwaas, die mens wat die bestaan van God ontken? Hy is nie verstandelik oningelig nie. Die Hebreeuse woord na·walʹ dui eerder op ’n sedelike gebrek. Professor S. R. Driver sê in sy aantekeninge by The Parallel Psalter dat die fout “nie ’n swak verstand is nie, maar sedelike en godsdienstige ongevoeligheid, ’n algehele gebrek aan insig, of persepsie.”

Die psalmis gaan voort en beskryf die sedelike verval wat ’n gevolg van so ’n gesindheid is: “Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie” (Psalm 14:1). Dr. Hastings sê ter opsomming: “Omdat mense dink dat God afwesig is uit die wêreld en dat hulle ongestraf sal bly, raak hulle verdorwe en doen hulle verfoeilike dade.” Hulle neem openlik goddelose beginsels aan en laat ’n persoonlike God buite rekening teenoor wie hulle geen begeerte het om aanspreeklik te wees nie. Maar sulke denke is vandag net so dwaas en sinloos as toe die psalmis sy woorde meer as 3000 jaar gelede geskryf het.

Waarskuwings van ons persoonlike God

Kom ons keer nou terug tot die vrae wat in ons inleidende artikel geopper is. Waarom kan soveel mense nie ’n persoonlike God versoen met die lyding wat so algemeen in vandag se wêreld is nie?

Die Bybel bevat geskrewe inligting van mense wat “uit God gespreek [het] namate hulle deur heilige gees meegevoer is” (2 Petrus 1:21). Net die Bybel openbaar die persoonlike God, Jehovah, aan ons. Dit waarsku ons ook teen ’n bose persoonlikheid, onsigbaar vir mense, wat magtig is in die manier waarop hy mense se denke rig en beheer—Satan die Duiwel. Maar hoe kan ons logieserwys glo dat daar ook ’n persoonlike Duiwel, of Satan, is indien ons nie in ’n persoonlike God glo nie?

Die apostel Johannes het onder inspirasie geskryf: “Die een wat Duiwel en Satan genoem word, [mislei] die hele bewoonde aarde” (Openbaring 12:9). Later het Johannes gesê: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Hierdie stellings weerspieël die woorde van Jesus, wat Johannes self in sy Evangelie neergeskryf het: “Die heerser van die wêreld kom. En hy het geen houvas op my nie.”—Johannes 14:30.

Hoe verskil hierdie skriftuurlike lering tog van wat mense nou glo! “Om van die Duiwel te praat, is vandag heeltemal ouderwets. Ons skeptiese en wetenskaplike era het Satan op pensioen gestel”, sê die Catholic Herald. Tog het Jesus prontuit vir die manne wat hom wou vermoor, gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen.”—Johannes 8:44.

Die Bybel se verduideliking van Satan se mag het sin. Dit verduidelik waarom die wêreld, ondanks die begeerte van die meeste mense om in vrede en harmonie te lewe, geteister word deur haat, oorloë en sinlose geweld, soos toegelig is in Dunblane (wat op bladsye 3 en 4 genoem word). Bowendien is Satan nie die enigste vyand met wie ons te kampe het nie. Die Bybel gee bykomende waarskuwings aangaande duiwels, of demone—bose geesskepsele wat lank gelede by Satan aangesluit het om die mensdom te mislei en te mishandel (Judas 6). Jesus Christus het baie keer voor die mag van hierdie geeste te staan gekom, en hy kon hulle oorwin.—Matteus 12:22-24; Lukas 9:37-43.

Dit is die ware God, Jehovah, se voorneme om hierdie aarde van boosheid te reinig en uiteindelik ’n einde te maak aan die bedrywighede van Satan en sy demone. Op grond van ons kennis van Jehovah kan ons vaste geloof en vertroue in sy beloftes hê. Hy sê: “Voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is [Jehovah, NW], en daar is geen Heiland buiten My nie.” Jehovah is waarlik ’n persoonlike God vir almal wat hom ken, aanbid en dien. Ons kan op hom alleen vertrou vir ons redding.—Jesaja 43:10, 11.

[Prent op bladsy 7]

’n Gravure uit die 18de eeu wat Moses uitbeeld waar hy Genesis 1:1 onder inspirasie skryf

[Erkenning]

Van The Holy Bible deur J. Baskett, Oxford

[Prent op bladsy 8]

Jesus Christus het die demone baie keer oorwin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel