Dankbaar vir ’n lang lewe in Jehovah se diens SOOS VERTEL DEUR OTTILIE MYDLAND
Laat in die 19de eeu het seilskepe langs mekaar gelê in die hawe van Kopervik in Wes-Noorweë. In daardie dae het mans sowel as perde karretjies deur die strate getrek. Mense het paraffienlampe vir lig gebruik, en witgeverfde houthuise is met hout en kooks verhit. Ek is in Junie 1898 daar gebore, die tweede van vyf kinders.
IN 1905 was my pa werkloos, en hy het na die Verenigde State gegaan. Hy het drie jaar later teruggekeer met ’n tas vol interessante geskenke vir die kinders en symateriaal en ander goed vir my ma. Maar sy kosbaarste besittings was boeke deur Charles Taze Russell met die titel Studies in the Scriptures.
My pa het sy vriende en familielede begin vertel van die dinge wat hy uit hierdie boeke geleer het. By plaaslike kerkvergaderinge het hy die Bybel gebruik om te toon dat daar nie ’n brandende hel is nie (Prediker 9:5, 10). In 1909, die jaar nadat my pa van die Verenigde State teruggekeer het, het broer Russell Noorweë besoek en toesprake in Bergen en Kristiania, nou Oslo, gehou. My pa het na Bergen gegaan om na hom te luister.
Die meeste mense het my pa daarvan beskuldig dat hy valse leringe verkondig. Ek het hom jammer gekry en hom gehelp om Bybeltraktate onder ons bure te versprei. In 1912 het ek ’n traktaat oor die hel vir die dogter van ’n geestelike gegee. Sy het my en my pa uitgeskel. Ek was geskok dat ’n geestelike se dogter sulke vieslike taal kon gebruik!
Ander Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het ons soms in Kopervik kom besoek, onder andere Theodor Simonsen, ’n bekwame spreker. Ek het mense na die toesprake genooi wat hy in ons huis gehou het. Voor sy toespraak het hy op die siter gespeel en gesing, en ná sy toespraak het hy ’n afskeidslied gesing. Ons het diep respek vir hom gehad.
’n Ander besoeker by ons huis was Anna Andersen, ’n kolporteur, of voltydse bedienaar. Sy het hoofsaaklik per fiets van dorp tot dorp deur die hele Noorweë gereis en Bybellektuur by mense gelaat. Sy was vroeër ’n offisier in die Heilsleër en het ’n paar Heilsleëroffisiere in Kopervik geken. Hulle het haar toegelaat om ’n Bybellesing in hulle vergaderplek te hou, en ek het mense genooi om na haar te gaan luister.
’n Ander kolporteur wat ons in Kopervik besoek het, was Karl Gunberg. Hierdie beskeie, stil, maar grapperige, man, het ook van tyd tot tyd as vertaler gedien in die takkantoor in Oslo. Jare later het ons saam daar gewerk.
Onder die invloed van godsdiensoortuigings
In daardie tyd het die meeste mense nie net sterk geloof in God en die Bybel gehad nie, maar hulle het ook diepgewortelde oortuigings gehad, soos oor die helse vuur en die Drie-eenheid. Daarom het dit nogal ’n opskudding veroorsaak toe die Bybelstudente ander geleer het dat hierdie leerstellings nie met die Bybel ooreenstem nie. Ek is beïnvloed deur ons bure se sterk aantygings dat my pa op ’n dwaalspoor was. Eenkeer het ek selfs vir hom gesê: “Wat Pa leer is nie waar nie. Dit is ’n dwaalleer!”
“Kom hier, Ottilie”, het hy gesê, “en kyk wat sê die Bybel.” Toe het hy vir my uit die Skrif voorgelees. Gevolglik het my vertroue in hom en wat hy geleer het, toegeneem. Hy het my aangespoor om Studies in the Scriptures te lees, en gevolglik het ek dikwels gedurende die somer van 1914 op ’n heuwel wat oor die dorp uitgekyk het, gesit en lees.
In Augustus 1914 het mense buite die plaaslike koerant se gebou saamgedrom om te lees van die Eerste Wêreldoorlog wat uitgebreek het. My pa het daar aangekom en gesien wat gebeur het. “Dank die Vader!” het hy uitgeroep. Hy het besef dat die oorlog wat uitgebreek het, die vervulling van Bybelprofesieë was waarvan hy getuig het (Matteus 24:7). Baie Bybelstudente het destyds geglo dat hulle kort daarna hemel toe geneem sou word. Toe dit nie gebeur het nie, het party teleurgesteld geraak.
My standpunt vir Bybelwaarheid
In 1915, op 17-jarige leeftyd, het ek my middelbare skoolopleiding voltooi en in ’n kantoor begin werk. Toe het ek The Watch Tower gereeld begin lees. Maar eers in 1918 is gereelde vergaderinge in Kopervik gehou. Aan die begin was ons vyf wat die vergaderinge bygewoon het. Ons het die Wagtoringgenootskap se publikasies, soos Studies in the Scriptures, gelees en het die materiaal deur middel van vrae en antwoorde bespreek. Al het my ma die Bybelstudente geprys, het sy nooit een van ons geword nie.
In die kantoor waar ek vanaf 1918 gewerk het, het ek kennis gemaak met Anton Saltnes, wat ek kon help om ’n Bybelstudent te word. Gedurende hierdie tyd het ek ’n gereelde verkondiger geword en is ek in 1921 by ’n byeenkoms in Bergen gedoop.
In Mei 1925 was daar ’n byeenkoms vir die hele Skandinawië in Örebro, Swede. Meer as 500 was teenwoordig, onder andere Joseph F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap. Ons was omtrent 30 wat per trein van Oslo af in ’n bespreekte passasierswa daarheen gereis het.
By daardie byeenkoms is aangekondig dat ’n Noord-Europese kantoor in Kopenhagen, Denemarke, gestig sou word om na die predikingswerk deur die hele Skandinawië en die Baltiese lande om te sien. William Dey uit Skotland het die taak gekry om toesig te hou oor die predikingswerk. Die mense het van hom gehou, en hy het gou as die Groot Skot bekend geword. Aanvanklik het broer Dey geen Skandinawiese taal geken nie, en gedurende vergaderinge en byeenkomste het hy agter gesit en die kinders opgepas sodat hulle ouers aandag kon gee aan wat van die verhoog af gesê word.
The Watch Tower van 1 Maart 1925 het Openbaring hoofstuk 12 bespreek en het verduidelik dat hierdie hoofstuk betrekking het op die geboorte van God se Koninkryk en dat hierdie geboorte in 1914 in die hemel plaasgevind het. Dit was vir my moeilik om te verstaan, en daarom het ek die artikel oor en oor gelees. Toe ek dit uiteindelik verstaan het, was ek baie bly.
Wanneer daar aanpassings in ons begrip van Bybelonderwerpe gekom het, het party gestruikel en hulle van God se volk afgeskei. Maar wanneer so ’n aanpassing moeilik was om te verstaan, het ek die materiaal altyd oor en oor gelees om die redenasie te probeer verstaan. As ek die nuwe inligting nog steeds nie verstaan nie, wag ek dat dit verduidelik word. Ek is al keer op keer vir sulke geduld beloon.
Diens by Bethel
Ek het ’n paar jaar as ’n boekhouer, sekretaresse en streekouditeur gewerk. In 1928 het die persoon wat na die Genootskap se finansiële rekeninge omgesien het siek geword en moes hy Bethel verlaat. Aangesien ek ondervinding in sulke werk gehad het, is ek gevra om dit oor te neem. Ek het in Junie 1928 met Betheldiens begin. Elke nou en dan het broer Dey ons besoek en my rekeninge geouditeer. Ons Bethelgesin het ook die leiding geneem in die openbare predikingswerk in Oslo, waar ons destyds net een gemeente gehad het.
Party van ons het die verskepingskneg in Bethel, broer Sakshammer, gehelp om The Golden Age (nou Ontwaak!) te verpak en uit te stuur. Broer Simonsen en broer Gunberg was onder dié wat hand bygesit het. Ons het lekker saam gewerk, en het dikwels gesing terwyl ons gewerk het.
Vertroue in die Koninkrykshoop
In 1935 het ons besef dat die “groot skare” nie ’n sekondêre hemelse klas is nie. Ons het geleer dat dit eerder ’n klas afbeeld wat die groot verdrukking oorleef en die geleentheid het om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (Openbaring 7:9-14). Met hierdie nuwe begrip het party wat die Gedenkmaalembleme gebruik het, besef dat hulle ’n aardse hoop het en het hulle opgehou om dit te gebruik.
Al het ek nooit aan my hemelse hoop getwyfel nie, het ek dikwels gedink: ‘Waarom wil God vir my hê?’ Ek het gevoel dat ek nie so ’n groot voorreg verdien nie. As ’n klein, skugter vroutjie, het ek dit vreemd gevind om aan myself te dink as ’n koning wat in die hemel saam met Christus regeer (2 Timoteus 2:11, 12; Openbaring 5:10). Maar ek het nagedink oor die apostel Paulus se woorde dat “nie baie magtiges” geroep is nie, maar dat ‘God die swak dinge van die wêreld uitgekies het, sodat hy die sterk dinge kan beskaam’.—1 Korintiërs 1:26, 27.
Bedrywighede gedurende die Tweede Wêreldoorlog
Op 9 April 1940 is Noorweë deur Duitse troepe binnegeval, en kort voor lank was die land beset. As gevolg van die oorlog het baie aan die Koninkryksboodskap gehoor begin gee. Van Oktober 1940 tot Junie 1941 het ons meer as 272 000 boeke en boekies versprei. Dit beteken dat elkeen van die meer as 470 Getuies wat destyds in Noorweë was gedurende daardie nege maande gemiddeld heelwat meer as 570 boeke en boekies versprei het!
Op 8 Julie 1941 het die Gestapo alle presiderende opsieners besoek en vir hulle gesê dat hulle na konsentrasiekampe gestuur gaan word as die predikingswerk nie stop nie. Vyf Duitse polisieoffisiere het na Bethel toe gekom en beslag gelê op baie van die Wagtoringgenootskap se eiendom. Die Bethelgesin is weggeneem en ondervra, maar nie een van ons is gevange gehou nie. Ten slotte is daar op 21 Julie 1941 beslag gelê op die Genootskap se gebou, Inkognitogaten 28 B, en ons predikingswerk is verbied. Ek het teruggegaan na Kopervik en het sekulêre werk gekry om my te onderhou.
Gedurende daardie tyd het my pa as ’n pionier gedien. Eendag het die Nazi’s gekom en my pa se huis deursoek. Hulle het al sy lektuur geneem, ook sy Bybels en Bybelkonkordansies. Ons het gedurende hierdie tyd net ’n skrapse voorraad geestelike voedsel gekry. Om geestelik sterk te bly, het ons ou boeke, soos die boek Government, oor en oor bestudeer, en ons het aangehou preek.
Ongelukkig was die broers in baie plekke verdeeld. Party was van mening dat ons openlik moet preek en van huis tot huis moet gaan, terwyl ander gedink het dat ons versigtiger te werk moet gaan en op ander maniere met mense in verbinding moet tree. Vooraanstaande broers, wat voorheen baie goed saamgewerk het en vir wie ons baie lief was, het gevolglik nie met mekaar gepraat nie. Die verdeeldheid tussen hulle het my groter hartseer as enige ander situasie in my lewe as ’n Getuie besorg.
Hernieude bedrywigheid ná die oorlog
Ná die oorlog, in die somer van 1945, het broer Dey Noorweë besoek en vergaderinge in Oslo, Skien en Bergen gehou. Hy het die broers gesmeek om vrede te maak en het gevra dat almal wat dit wou doen, moet opstaan. Almal het gestaan! Die geskil is in Desember 1945 vir goed opgelos, ná ’n besoek van Nathan H. Knorr, destyds die president van die Wagtoringgenootskap.
Intussen het ek op 17 Julie 1945 ’n telegram van die takkneg, broer Enok Öman, gekry wat gesê het: ‘Wanneer kan jy na Bethel toe terugkom?’ Party het gesê dat ek by die huis moet bly en my pa moet versorg, wat destyds oor die 70 was. Maar my pa het my aangespoor om Betheldiens te hervat, en ek het dit gedoen. In 1946 het Marvin F. Anderson, ’n broer uit die Verenigde State, ons takopsiener geword, en die predikingswerk is geherorganiseer.
Gedurende somervakansies het ek na Kopervik teruggegaan om vir my familie te gaan kuier. My twee broers en twee susters het nie Getuies geword nie, maar hulle was altyd vriendelik teenoor my en my pa. Een van my broers het hawemeester en hoofloods geword, en die ander een was ’n onderwyser. Al het ek in materiële sin min gehad, het my pa altyd vir hulle gesê: “Ottilie is ryker as julle.” En dit was waar! Wat hulle verwerf het, kan nie vergelyk word met die geestelike rykdom wat ek geniet het nie! My pa het in 1951 gesterf toe hy 78 jaar oud was. My ma is in 1928 oorlede.
’n Hoogtepunt in my lewe was toe ek in 1953 die internasionale byeenkoms van Jehovah se volk in die stad New York bygewoon het. Daardie jaar het die wêreldwye verkondigersyfer verby die 500 000-kerf gegaan en meer as 165-000 het die byeenkoms bygewoon! Voor die byeenkoms in 1953 het ek ’n week lank in die Brooklynse Bethel, die hoofkwartier van Jehovah se organisasie op aarde, gewerk.
Ek doen wat ek kan
In die laaste jare het my sig verswak as gevolg van katarakte. Ek kan groot druk nog so ’n bietjie lees met behulp van ’n sterk bril en ’n vergrootglas. En Christensusters besoek my twee maal ’n week en lees vir my, iets waaroor ek baie dankbaar is.
My predikingswerk is ook beperk. Gedurende die somer neem Christensusters my soms in my rolstoel uit na ’n plek waar ek ’n bietjie kan getuig. Ek pos ook gereeld tydskrifte en brosjures na skole in Kopervik, soos die laerskool waar ek byna 100 jaar gelede ’n leerling was. Ek is bly dat dit nog steeds vir my moontlik is om ’n gereelde verkondiger te wees.
Gelukkig is die eetsaal en die Koninkryksaal op dieselfde vloer as my kamer in Bethel, wat sedert 1983 in Ytre Enebakk, buite Oslo, geleë is. Ek kan dus met behulp van ’n loopraam by oggendaanbidding, die etes en ons vergaderinge uitkom. En ek is bly dat ek nog steeds streek- en kringbyeenkomste kan bywoon. Dit is vir my lekker om vriende te sien wat ek al baie jare lank ken, sowel as nuwe broers en susters en talle pragtige kinders.
Bly tot die einde toe getrou
Dit is ’n seëning om hier by Bethel deur bedrywige, aangename en geestelike mense omring te wees. Toe ek my Betheldiens begin het, het die hele gesin uit mense bestaan wat die hemelse hoop gehad het (Filippense 3:14). Nou sien almal by Bethel behalwe ek daarna uit om vir ewig op aarde te lewe.
Ons het weliswaar verwag dat Jehovah vroeër sou optree. Maar ek is verheug wanneer ek sien hoe die groot skare al hoe groter word. Watter vermeerdering het ek tog nie gesien nie! Toe ek die eerste keer aan die bediening deelgeneem het, was daar wêreldwyd omtrent 5000 verkondigers. Nou is daar meer as 5400 000! Ja, ek het gesien hoe “die kleine . . . duisend word, en die geringe ’n magtige nasie” (Jesaja 60:22, NW). Ons moet Jehovah bly verwag, soos die profeet Habakuk geskryf het: “As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Habakuk 2:3.