Charisma—Lof aan mense of heerlikheid aan God?
“’N HEERSER moet bo sy onderdane uitmunt, nie net deur in werklikheid beter as hulle te wees nie, maar ook deurdat hy hulle op ’n manier moet betower”, het Xenofon, ’n bekende Griekse generaal, geskryf. Vandag sal baie mense hierdie ‘betowering’ charisma noem.
Nie alle menseheersers het natuurlik charisma nie. Maar diegene wat dit wel het, gebruik hulle vermoë om mense met toewyding te besiel en die volksmassa te manipuleer om hulle oogmerke te bereik. In onlangse tye was Adolf Hitler seker die berugste hiervoor. “[In 1933] het Hitler vir die meeste Duitsers die aura van ’n leier met ware charisma gehad—of hy sou dit kort voor lank hê”, skryf William L. Shirer in sy boek The Rise and Fall of the Third Reich. “Hulle sou hom die volgende twaalf onstuimige jare blindelings volg, asof hy oor ’n goddelike oordeelsvermoë beskik het.”
Godsdiensgeskiedenis is ook vol charismatiese leiers wat mense besiel het om aan hulle toegewyd te wees, maar wat rampspoed oor hulle volgelinge gebring het. “Pas op dat niemand julle mislei nie”, het Jesus gewaarsku, “want baie sal onder my naam kom en sê: ‘Ek is die Christus’, en hulle sal baie mislei” (Matteus 24:4, 5). Charismatiese valse Christusse het nie net in die eerste eeu verskyn nie. Gedurende die sewentigerjare het Jim Jones verklaar dat hy die “messias van die People’s Temple” is. Hy is as “’n charismatiese geestelike” met “’n vreemde mag oor mense” beskryf, en in 1978 het hy een van die grootste massaselfmoorde in die geskiedenis aangehits.a
Dit is duidelik dat charisma ’n gevaarlike gawe kan wees. Maar die Bybel praat van ’n ander soort gawe, of gawes, van God af, wat aan almal beskikbaar is en tot almal se voordeel is. Die Griekse woord vir hierdie gawe is khaʹri·sma en dit kom 17 keer in die Bybel voor. ’n Griekse geleerde definieer dit as ‘’n vrye en onverdiende gawe, iets wat aan die mens gegee is sonder dat hy daarvoor gewerk het of dit verdien, iets wat deur God se genade kom en wat die mens nooit deur sy eie inspanning kon verwerf of besit het nie’.
Uit ’n skriftuurlike oogpunt is khaʹri·sma dus ’n gawe wat danksy God se onverdiende goedhartigheid ontvang word. Wat is van hierdie gawes wat God goedgunstiglik aan ons gegee het? En hoe kan ons dit gebruik om lof aan hom te bring? Kom ons beskou drie van hierdie genadegawes.
Die ewige lewe
Die allergrootste gawe is ongetwyfeld die ewige lewe. Paulus het aan die Romeinse gemeente geskryf: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe [khaʹri·sma] wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Dit is opmerkenswaardig dat die “loon” (die dood) iets is wat ons weens ons sondige natuur verdien, al is dit teen ons sin. Daarenteen is die ewige lewe wat God beskikbaar stel iets wat geheel en al onverdiend is, wat ons nooit op eie meriete kan verdien nie.
Die ewige lewe as gawe moet hoog op prys gestel en met ander gedeel word. Ons kan mense help om Jehovah te leer ken, om hom te dien en sodoende met die ewige lewe as gawe begunstig te word. Openbaring 22:17 sê: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet.”
Hoe kan ons ander na hierdie lewegewende water lei? Hoofsaaklik deur in ons bediening goed gebruik te maak van die Bybel. Dit is waar dat mense in party wêrelddele selde geestelike dinge lees of daaraan dink; tog is daar altyd geleenthede om iemand se ‘oor te wek’ (Jesaja 50:4). Wat dit betref, kan ons vertroue hê in die Bybel se motiverende krag, “want die woord van God is lewend en oefen krag uit” (Hebreërs 4:12). Hetsy dit die Bybel se praktiese wysheid, die vertroosting en hoop wat dit bied of die verduideliking daarin oor die doel van die lewe is, God se Woord kan mense se harte roer en hulle op die weg na die lewe plaas.—2 Timoteus 3:16, 17.
Daarbenewens kan Bybellektuur ons help om te sê: “Kom!” Die profeet Jesaja het voorspel dat Jehovah gedurende hierdie tyd van geestelike duisternis oor sy volk ‘sou skyn’ (Jesaja 60:2, vgl. NW). Die publikasies van die Wagtoringgenootskap gee blyk van hierdie seën van Jehovah, en elke jaar lei dit duisende mense na Jehovah, die Bron van geestelike verligting. In al die bladsye daarvan word geen individu op die voorgrond gestel nie. Dit is soos die inleiding tot Die Wagtoring verduidelik: “Die doel van Die Wagtoring is om Jehovah God as Soewereine Heer van die heelal te verheerlik. . . . Dit staan geloof voor in God se tans heersende Koning, Jesus Christus, wie se vergote bloed die weg vir die mensdom open om die ewige lewe te verkry.”
’n Voltydse Christenbedienaar, wat al jare lank groot sukses in haar bediening het, lewer kommentaar oor die waarde van Die Wagtoring en Ontwaak! om mense te help om nader aan God te kom: “Wanneer my Bybelstudente Die Wagtoring en Ontwaak! begin lees en geniet, vorder hulle vinnig. Ek beskou die tydskrifte as ’n waardevolle hulpmiddel om mense te help om Jehovah te leer ken.”
Diensvoorregte
Timoteus was ’n Christendissipel wat nog ’n gawe ontvang het wat spesiale aandag verdien het. Die apostel Paulus het vir hom gesê: “Moenie die gawe [khaʹri·sma] in jou verwaarloos wat jy gegee is deur ’n voorspelling en toe die liggaam van ouer manne jou die hande opgelê het nie” (1 Timoteus 4:14). Wat was hierdie gawe? Dit het betrekking gehad op Timoteus se aanstelling as ’n reisende opsiener, ’n diensvoorreg waarna hy op verantwoordelike wyse moes omsien. In dieselfde skrifgedeelte het Paulus Timoteus aangespoor: “[Gaan voort] om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting. Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 Timoteus 4:13, 16.
Hedendaagse ouer manne moet ook hulle diensvoorregte waardeer. Soos Paulus toon, is een manier waarop hulle dit kan doen deur ‘op hulle onderrigting te let’. Hulle volg nie die wêreld se charismatiese leiers na nie, maar vestig eerder die aandag op God, nie op hulleself nie. Jesus, hulle Voorbeeld, was ’n uitstekende onderrigter wat ongetwyfeld die soort persoonlikheid gehad het wat mense na hom aangetrek het, maar hy het nederig die heerlikheid aan sy Vader gegee. “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het”, het hy gesê.—Johannes 5:41; 7:16.
Jesus het sy hemelse Vader verheerlik deur God se Woord as die gesag vir sy onderrigting te gebruik (Matteus 19:4-6; 22:31, 32, 37-40). Paulus het eweneens beklemtoon hoe belangrik dit vir opsieners is om ‘met betrekking tot hulle onderrigkuns stewig aan die betroubare woord vas te hou’ (Titus 1:9). As ouer manne hulle toesprake stewig op die Skrif grond, sal hulle in werklikheid soos Jesus kan sê: “Die dinge wat ek vir julle sê, spreek ek nie uit myself nie.”—Johannes 14:10.
Hoe kan ouer manne “stewig aan die betroubare woord vashou”? Deur hulle toesprake en vergaderingdele om God se Woord te laat draai en die tekste wat hulle gebruik te verduidelik en te beklemtoon. Dramatiese illustrasies of grappige staaltjies, veral as dit te ver gedryf word, kan die gehoor se aandag van God se Woord aftrek en dit op die spreker se vermoë vestig. Die verse van die Bybel sal daarenteen die hart bereik en die gehoor motiveer. (Psalm 19:8-10; 119:40; vergelyk Lukas 24:32.) Sulke toesprake vestig minder aandag op mense en gee meer heerlikheid aan God.
Nog ’n manier waarop ouer manne bekwamer onderrigters kan word, is deur by mekaar te leer. Soos Paulus Timoteus gehelp het, kan een ouer man ’n ander help. “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17; Filippense 2:3). Ouer manne vind daarby baat om gedagtes en wenke te wissel. ’n Ouer man wat onlangs aangestel is, het verduidelik: “’n Ervare ouer man het die tyd geneem om vir my te wys hoe hy ’n openbare toespraak saamstel. In sy voorbereiding het hy retoriese vrae, illustrasies, voorbeelde of kort ondervindinge ingesluit, sowel as skrifgedeeltes wat hy deeglik nagevors het. Ek het by hom geleer hoe om ’n bietjie afwisseling in my toesprake te bring en sodoende ’n saai, eentonige aanbieding te vermy.”
Almal van ons wat diensvoorregte het, of ons nou ouer manne, bedieningsknegte of pioniers is, moet ons gawe waardeer. Kort voor Paulus se dood het hy Timoteus daaraan herinner ‘om die gawe [khaʹri·sma] van God wat in hom is, soos ’n vuur aan te wakker’, wat in Timoteus se geval die een of ander spesiale gawe van die gees was (2 Timoteus 1:6). In Israelitiese huise was vure dikwels net gloeiende kole. Dit was moontlik om hulle “aan te wakker” om vlamme en meer hitte voort te bring. Ons word dus aangemoedig om ons met hart en siel op ons toewysings toe te lê, om watter geestelike gawe ook al aan ons toevertrou is soos ’n vuur aan te wakker.
Geestelike gawes wat gedeel moet word
Paulus se liefde vir sy broers in Rome het hom gedring om te skryf: “Ek verlang om julle te sien om julle die een of ander geestelike gawe [khaʹri·sma] te kan meedeel sodat julle standvastig gemaak kan word; of liewer, dat daar ’n uitwisseling van aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne” (Romeine 1:11, 12). Paulus het ons vermoë om ander se geloof te versterk deur met hulle te praat as ’n geestelike gawe beskou. Die uitwisseling van sulke geestelike gawes sal tot ’n opbouing van geloof en wedersydse aanmoediging lei.
En dit is beslis nodig. In hierdie goddelose stelsel waarin ons lewe, het ons almal met druk van die een of ander aard te kampe. ’n Gereelde uitwisseling van aanmoediging kan ons egter help om te volhard. Uitwisseling—om te gee sowel as te ontvang—is belangrik om geestelike krag te behou. Ons almal het weliswaar van tyd tot tyd bemoediging nodig, maar ons kan almal ook mekaar opbou.
As ons daarop ingestel is om op te merk wanneer medegelowiges mismoedig voel, sal ons “dié wat in enigerlei verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word” (2 Korintiërs 1:3-5). Die Griekse woord vir vertroosting (pa·raʹkle·sis) beteken letterlik om “iemand na jou toe te roep”. As ons, wanneer nodig, langs ons broer of suster is om ’n helpende hand uit te reik, sal ons ongetwyfeld dieselfde liefdevolle ondersteuning ontvang wanneer ons dit nodig het.—Prediker 4:9, 10; vergelyk Handelinge 9:36-41.
Ons vind ook baie baat by die liefdevolle herdersbesoeke van die ouer manne. Hoewel daar tye is wanneer besoeke gedoen word om skriftuurlike raad te gee oor ’n saak wat aandag verdien, is die meeste herdersbesoeke ’n geleentheid om aanmoediging te gee, om ‘harte te vertroos’ (Kolossense 2:2). Wanneer opsieners sulke geloofversterkende besoeke doen, deel hulle in werklikheid ’n geestelike gawe mee. Soos Paulus sal hulle hierdie unieke manier van gee lonend vind, en hulle sal ’n ‘verlange’ na hulle broers ontwikkel.—Romeine 1:11.
Dit was waar in die geval van ’n ouer man in Spanje wat die volgende ondervinding vertel: “Ricardo, ’n 11-jarige seuntjie, het blykbaar nie veel belangstelling in die vergaderinge en in die gemeente oor die algemeen getoon nie. Ek het dus Ricardo se ouers toestemming gevra om hulle seun te besoek, en hulle het geredelik ingestem. Hulle woon in die berge omtrent ’n uur se ry van my huis af. Ricardo was ooglopend bly om te sien dat ek in hom belangstel, en hy het onmiddellik gereageer. Hy het kort voor lank ’n ongedoopte verkondiger en ’n ywerige lid van die gemeente geword. Sy teruggetrokke geaardheid is deur ’n gelukkiger, spontaner persoonlikheid vervang. ’n Hele paar in die gemeente het gevra: ‘Wat het Ricardo so laat verander?’ Dit het gelyk of hulle hom vir die eerste keer raakgesien het. As ek nou aan daardie deurslaggewende herdersbesoek terugdink, dink ek dat ek meer daarby baat gevind het as Ricardo. Wanneer hy by die Koninkryksaal inkom, straal sy gesig en kom hy dadelik na my toe om te groet. Dit is ’n vreugde om sy geestelike vordering te sien.”
Herdersbesoeke, soos hierdie een, word ongetwyfeld ryklik geseën. Sulke besoeke is in ooreenstemming met Jesus se versoek: “Hou as herder toesig oor my skapies” (Johannes 21:16). Ouer manne is natuurlik nie die enigstes wat sulke geestelike gawes aan ander kan meedeel nie. Almal in die gemeente kan ander tot liefde en voortreflike werke aanspoor (Hebreërs 10:23, 24). Net soos bergklimmers wat teen ’n berg opklim met toue aan mekaar gebind word, so word ons ook deur geestelike bande aan mekaar gebind. Dit is onvermydelik dat wat ons sê en doen ander sal raak. ’n Snydende opmerking of ongevoelige kritiek kan die bande wat ons verenig, verswak (Efesiërs 4:29; Jakobus 3:8). Daarenteen kan goed gekose woorde van bemoediging en liefdevolle hulp ons broers help om hulle probleme te oorkom. Op dié manier sal ons geestelike gawes van blywende waarde met hulle deel.—Spreuke 12:25.
Weerspieël God se heerlikheid in voller mate
Dit is duidelik dat elke Christen ’n mate van charisma het. Ons het die kosbare hoop op die ewige lewe ontvang. Ons het ook geestelike gawes wat ons met mekaar kan deel. En ons kan daarna streef om ander te besiel of te beweeg om goeie doelwitte te probeer bereik. Party het bykomende gawes in die vorm van diensvoorregte. Al hierdie gawes is ’n bewys van God se onverdiende goedhartigheid. En aangesien enige gawe wat ons dalk het iets is wat ons van God ontvang het, het ons beslis geen rede om te roem nie.—1 Korintiërs 4:7.
As Christene kan ons ons gerus afvra: ‘Sal ek enige mate van charisma wat ek dalk het, gebruik om Jehovah, die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”, te verheerlik? (Jakobus 1:17). Sal ek Jesus navolg en ander dien volgens my vermoëns en omstandighede?’
Die apostel Petrus som ons verantwoordelikheid in hierdie verband só op: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe [khaʹri·sma] ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as voortreflike bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid wat op verskillende maniere tot uiting gebring word. As iemand spreek, laat hom as ’t ware die heilige verklarings van God spreek; as iemand dien, laat hom dien as afhanklik van die krag wat God verskaf; sodat God in alles deur middel van Jesus Christus verheerlik kan word.”—1 Petrus 4:10, 11.
[Voetnoot]
a Altesaam 913 mense het gesterf, Jim Jones inkluis.
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Corbis-Bettmann
UPI/Corbis-Bettmann