Die nalewing van Christelike toewyding in vryheid
“Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.”—2 KORINTIËRS 3:17.
1. Aan wie is Jehovah se Getuies toegewy, en waarom gebruik hulle regsmiddele?
JEHOVAH SE GETUIES glo dat hulle godsdiens vir ewig sal bestaan. Hulle verwag derhalwe om God tot in alle ewigheid “met gees en waarheid” te dien (Johannes 4:23, 24). As mense met wilsvryheid het hierdie Christene hulle onvoorwaardelik aan Jehovah God toegewy en is hulle vasbeslote om hulle toewyding na te leef. Met dié doel voor oë vertrou hulle op God se Woord en op sy heilige gees. Terwyl die Getuies hulle weg van Christelike toewyding heelhartig in godgegewe vryheid nastreef, betoon hulle die verskuldigde respek vir die rol van goewermentele “hoër owerhede” en maak hulle gebruik van regsmiddele en -voorsienings (Romeine 13:1; Jakobus 1:25). Die Getuies gebruik byvoorbeeld die Wagtoringgenootskap as ’n regsliggaam—een van baie in verskeie lande—om hulle in staat te stel om hulle werk uit te voer om hulle medemens te help, veral op geestelike gebied. Maar die Getuies is aan God toegewy, nie aan enige regsliggaam nie, en hulle toewyding aan Jehovah sal vir ewig bestaan.
2. Waarom stel Jehovah se Getuies die Wagtoringgenootskap en soortgelyke regsmiddele hoog op prys?
2 As knegte wat aan God toegewy is, is Jehovah se Getuies verplig om Jesus se opdrag uit te voer om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak en hulle te doop in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees en hulle te leer’ (Matteus 28:19, 20). Hierdie werk sal tot aan die einde van die stelsel van dinge voortduur, want Jesus het ook gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:3, 14). Elke jaar voorsien drukkerye van die Wagtoringgenootskap en soortgelyke regsliggame Jehovah se Getuies van miljoene Bybels, boeke, brosjures en tydskrifte om in hulle wêreldwye predikingswerk te gebruik. Hierdie regsentiteite is dus onontbeerlik om toegewyde knegte van God te help om hulle toewyding aan hom na te leef.
3. In watter sin het Jehovah se Getuies vroeër die uitdrukking “die Genootskap” gebruik?
3 Iemand voer dalk aan dat die manier waarop die Getuies praat van die Wagtoringgenootskap—of meer dikwels net “die Genootskap”—aandui dat hulle dit as meer as ’n regsliggaam beskou. Beskou hulle dit nie as die hoogste gesag wat aanbiddingsake betref nie? Die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk klaar hierdie punt op deur te verduidelik dat “wanneer Die Wagtoring [1 Junie 1938] van ‘Die Genootskap’ praat dit nie net ’n blote regsmiddel bedoel nie, maar die liggaam van gesalfde Christene wat daardie regsentiteit gestig het en gebruik”.a Die uitdrukking het dus “die getroue en verstandige slaaf” beteken (Matteus 24:45). Dit is in hierdie sin dat die Getuies gewoonlik die uitdrukking “die Genootskap” gebruik het. Die wetlike korporasie en “die getroue en verstandige slaaf” is natuurlik nie uitruilbare uitdrukkings nie. Direkteure van die Wagtoringgenootskap word gekies, terwyl Getuies wat die ‘getroue slaaf’ uitmaak deur Jehovah se heilige gees gesalf word.
4. (a) Hoe druk baie Getuies hulle uit ten einde misverstande te vermy? (b) Waarom moet ons gebalanseerd wees wat terminologie betref?
4 Ten einde misverstande te vermy, probeer Jehovah se Getuies om versigtig te wees oor hoe hulle hulle uitdruk. Baie Getuies gebruik eerder uitdrukkings soos “die Bybel sê” of “soos ek dit verstaan, leer die Bybel” as om te sê “die Genootskap sê”. Sodoende beklemtoon hulle die persoonlike besluit wat elke Getuie gemaak het om Bybelleringe aan te neem en skep hulle dan ook nie die valse indruk dat Getuies op die een of ander manier tot die voorskrifte van ’n godsdienssekte verbind is nie. Wenke in verband met terminologie moet natuurlik nooit ’n geskilpunt word nie. Terminologie is per slot van rekening slegs belangrik in sover dit misverstande voorkom. Christelike balans is nodig. Die Bybel vermaan ons “om nie oor woorde te baklei nie” (2 Timoteus 2:14, 15). Die Skrif verstrek ook hierdie beginsel: “Hoe sal ’n mens weet wat gesê word tensy julle deur middel van die tong maklik verstaanbare woorde uiter?”—1 Korintiërs 14:9.
God se gees maak minder reëls nodig
5. Hoe moet ons 1 Korintiërs 10:23 verstaan?
5 “Alles is geoorloof, maar nie alles is voordelig nie”, het die apostel Paulus gesê. Hy het bygevoeg: “Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie” (1 Korintiërs 10:23). Paulus het natuurlik nie bedoel dat dit geoorloof is om dinge te doen wat God se Woord nadruklik veroordeel nie. In vergelyking met die nagenoeg 600 wette wat aan eertydse Israel gegee is, is daar betreklik min uitdruklike gebooie wat die Christelike lewe rig. Gevolglik word baie sake aan die persoon se gewete oorgelaat. Iemand wat hom aan Jehovah toegewy het, geniet die vryheid wat voortspruit uit die leiding van God se gees. Aangesien ’n Christen die waarheid sy eie gemaak het, volg hy sy Bybelopgeleide gewete en vertrou hy op God se leiding deur die heilige gees. Dit help die toegewyde Christen om te bepaal wat sal ‘opbou’ en vir homself en ander “voordelig” sal wees. Hy besef dat die besluite wat hy neem sy persoonlike verhouding met God sal raak, aan wie hy toegewy is.
6. Hoe kan ons by Christelike vergaderinge toon dat ons die waarheid ons eie gemaak het?
6 ’n Getuie toon dat hy die waarheid sy eie gemaak het deur by Christelike vergaderinge kommentaar te lewer. Aan die begin sal hy sy antwoord moontlik uit die studiemateriaal lees. Maar mettertyd sal hy vorder totdat hy Bybelleringe in sy eie woorde uitdruk. Hy lewer sodoende bewys dat hy sy denkvermoë ontwikkel en nie net herhaal wat ander gesê het nie. As hy gedagtes in sy eie woorde weergee en korrekte woorde van waarheid met opregtheid uitdruk, sal dit hom vreugde verskaf en toon dat hy in sy eie verstand oortuig is.—Prediker 12:10, NW; vergelyk Romeine 14:5b.
7. Watter besluite het knegte van Jehovah uit vrye wil geneem?
7 Jehovah se Getuies word deur liefde vir God en hulle medemens beweeg (Matteus 22:36-40). Daar bestaan weliswaar ’n hegte band van Christelike liefde onder hulle as ’n wêreldwye gemeenskap van broers (Kolossense 3:14; 1 Petrus 5:9). Maar as mense met wilsvryheid het elkeen self besluit om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, om polities neutraal te bly, om hom van bloed te onthou, om sekere vorme van vermaak te vermy en om volgens Bybelstandaarde te lewe. Hierdie besluite word nie aan hulle opgedwing nie. Dit is besluite wat binne die raamwerk van ’n lewenswyse val wat uit vrye wil deur potensiële Getuies gekies word voordat hulle enigsins die stap van Christelike toewyding doen.
Aanspreeklik teenoor ’n bestuursliggaam?
8. Watter vraag moet opgeklaar word?
8 Die Bybel toon duidelik dat ware Christene God nie onder dwang dien nie. Dit sê: “Jehovah is die Gees; en waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid” (2 Korintiërs 3:17). Maar hoe kan hierdie feit in ooreenstemming gebring word met die idee van ’n “getroue en verstandige slaaf” met sy Bestuursliggaam?—Matteus 24:45-47.
9, 10. (a) Hoe is die beginsel van hoofskap in die Christengemeente van toepassing? (b) Wat het in die eerste-eeuse Christengemeente nodig geword om die beginsel van hoofskap toe te pas?
9 As ons hierdie vraag wil beantwoord, moet ons die skriftuurlike beginsel van hoofskap in gedagte hou (1 Korintiërs 11:3). In Efesiërs 5:21-24 word Christus as “die hoof van die gemeente” geïdentifiseer, die een aan wie dit “onderdanig” is. Jehovah se Getuies verstaan dat die getroue en verstandige slaaf uit Jesus se geestelike broers bestaan (Hebreërs 2:10-13). Hierdie ‘getroue slaaf’-klas is aangestel om God se volk van geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien. In hierdie tyd van die einde het Christus hierdie slaaf “oor al sy besittings” aangestel. Vanweë hierdie posisie verdien dit dus die respek van enigeen wat sê dat hy ’n Christen is.
10 Die doel van hoofskap is om eenheid te bewaar en te verseker dat “alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Korintiërs 14:40). Ten einde dit in die eerste eeu teweeg te bring, is ’n aantal gesalfde Christene van die “getroue en verstandige slaaf”-klas gekies om die hele groep te verteenwoordig. Soos latere gebeure bewys het, het die toesig wat hierdie eerste-eeuse bestuursliggaam uitgeoefen het, Jehovah se goedkeuring en seën geniet. Eerste-eeuse Christene het hierdie reëling blymoedig aanvaar. Ja, hulle het die voortreflike resultate wat dit gelewer het in werklikheid verwelkom en waardeer.—Handelinge 15:1-32.
11. Hoe moet die hedendaagse Bestuursliggaam beskou word?
11 So ’n reëling is steeds nuttig. Tans bestaan die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies uit tien gesalfde Christene, almal met dekades van Christelike ondervinding. Hulle gee geestelike leiding aan Jehovah se Getuies, net soos die eerste-eeuse bestuursliggaam gedoen het (Handelinge 16:4). Soos die vroeë Christene vertrou die Getuies met genoeë op die ryp broers van die Bestuursliggaam vir Bybelse riglyne en leiding in aanbiddingsake. Hoewel lede van die Bestuursliggaam, net soos hulle mede-Christene, slawe van Jehovah en van Christus is, beveel die Bybel ons: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siele as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Hebreërs 13:17.
12. Aan wie moet elke Christen rekenskap gee?
12 Beteken die feit dat die Skrif hierdie posisie van toesig aan die Bestuursliggaam toewys dat elke Getuie van Jehovah aan hulle rekenskap moet gee vir sy werke? Nie volgens Paulus se woorde aan die Christene in Rome nie: “Waarom oordeel jy jou broer? Of waarom sien jy ook neer op jou broer? Want ons sal almal voor die regterstoel van God staan . . . So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”—Romeine 14:10-12.
13. Waarom rapporteer Jehovah se Getuies hulle predikingswerk?
13 Maar is dit nie waar dat daar van elke Getuie verwag word om sy predikingswerk te rapporteer nie? Ja, maar die doel hiervan word duidelik in een van die Getuies se handboeke uiteengesit, wat sê: “Vroeë volgelinge van Jesus Christus het belanggestel in rapporte oor die vordering van die predikingswerk (Mark. 6:30). Namate die werk gevorder het, is statistiese rapporte opgestel tesame met verslae oor besondere ondervindinge van diegene wat die goeie nuus verkondig het. . . . (Hand. 2:5-11, 41, 47; 6:7; 1:15; 4:4). . . . Hoe bemoedigend was dit tog vir daardie getroue Christenwerkers om rapporte te hoor oor wat gedoen is! . . . Jehovah se hedendaagse organisasie probeer eweneens om akkurate rapporte op te stel van die werk wat gedoen word ter vervulling van Matteus 24:14.”
14, 15. (a) Hoe is 2 Korintiërs 1:24 op die Bestuursliggaam van toepassing? (b) Op grond waarvan moet elke Christen persoonlike besluite neem, en met watter besef?
14 Die Bestuursliggaam is ’n liefdevolle voorsiening en ’n navolgenswaardige voorbeeld van geloof (Filippense 3:17; Hebreërs 13:7). Omdat hulle Christus se voorbeeld getrou volg, kan hulle soos Paulus sê: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want dit is deur julle geloof dat julle staan” (2 Korintiërs 1:24). Deur neigings waar te neem, vestig die Bestuursliggaam die aandag op die voordele wat dit inhou om op Bybelraad ag te slaan, gee dit wenke oor die toepassing van Bybelwette en -beginsels, waarsku dit teen versteekte gevare en gee dit “medewerkers” die nodige bemoediging. Dit volbring sodoende sy Christelike bestuurderskap, help hulle om hulle vreugde te behou en bou hulle in geloof op sodat hulle standvastig kan bly.—1 Korintiërs 4:1, 2; Titus 1:7-9.
15 As ’n Getuie besluite neem op grond van Bybelraad wat die Bestuursliggaam gee, doen hy dit uit vrye wil omdat sy eie studie van die Bybel hom oortuig het dat dit die regte weg is. Elke Getuie word deur God se eie Woord beweeg om gesonde skriftuurlike raad toe te pas wat deur die Bestuursliggaam gegee word, in die volle besef dat die besluite wat hy neem sy persoonlike verhouding met God sal raak, aan wie hy toegewy is.—1 Tessalonisense 2:13.
Studente en soldate
16. Waarom word party uitgesit hoewel besluite rakende gedrag ’n persoonlike saak is?
16 Maar waarom word party van Jehovah se Getuies dan uitgesit as besluite rakende gedrag ’n persoonlike saak is? Niemand besluit eiemagtig dat die beoefening van ’n sekere sonde uitsetting vereis nie. Dit is eerder ’n skriftuurlike vereiste slegs wanneer ’n gemeentelid hom skuldig maak aan ernstige sonde, soos dié wat in die 5de hoofstuk van Eerste Korintiërs opgenoem word, en onberouvol is. Derhalwe sal ’n Christen wat hoerery beoefen dalk uitgesit word, maar dit gebeur slegs as hy of sy weier om die geestelike hulp van liefdevolle herders te aanvaar. Jehovah se Getuies is buitendien nie die enigstes wat hierdie Christelike gebruik beoefen nie. The Encyclopedia of Religion sê: “Enige gemeenskap hou hom die reg voor om hom teen afwykende lede te beskerm wat moontlik die algemene welsyn daarvan kan bedreig. In ’n godsdiensmilieu is hierdie reg dikwels versterk deur die oortuiging dat die strafmaatreël [naamlik ekskommunikasie] ’n mens se posisie voor God raak.”
17, 18. Hoe kan die gepastheid van uitsetting geïllustreer word?
17 Jehovah se Getuies is Bybelstudente (Josua 1:8; Psalm 1:2; Handelinge 17:11). Die program van Bybelonderrig wat die Bestuursliggaam voorsien, kan vergelyk word met ’n leerplan wat deur ’n onderwysraad bepaal word. Hoewel die raad nie self die bron van die materiaal is wat onderrig word nie, stel dit wel die leerplan saam, bepaal dit die onderrigmetode en gee dit die nodige riglyne. As enigiemand blatant weier om die voorskrifte van die onderwysinrigting na te kom, vir medestudente moeilikheid maak of die inrigting oneer aandoen, kan hy daaruit gesit word. Die skoolowerheid het die reg om in die belang van die studente as ’n geheel op te tree.
18 Jehovah se Getuies is nie net studente nie, maar ook soldate van Jesus Christus wat beveel is om ‘die voortreflike stryd van die geloof te stry’ (1 Timoteus 6:12; 2 Timoteus 2:3). ’n Christensoldaat kan hom natuurlik God se veroordeling op die hals haal as hy hom aanhoudend aan onbetaamlike gedrag skuldig maak. As iemand met keusevryheid kan ’n Christensoldaat besluit wat hy wil, maar hy moet die gevolge van sy besluite dra. Paulus het geredeneer: “Geen mens wat as ’n soldaat dien, verwikkel hom in die handelsbedrywighede van die lewe nie, sodat hy die goedkeuring kan verkry van die een wat hom as ’n soldaat gewerf het. Bowendien word iemand, ook as hy in die spele meeding, nie gekroon tensy hy volgens die reëls meegeding het nie” (2 Timoteus 2:4, 5). Ryp Christene, met inbegrip van die lede van die Bestuursliggaam, is altyd in alle opsigte tot die beskikking van hulle Leier, Jesus Christus, terwyl hulle “die reëls” nakom sodat hulle die ewige lewe as prys kan ontvang.—Johannes 17:3; Openbaring 2:10.
19. Waarvan kan ons seker wees nadat ons die feite met betrekking tot Christelike toewyding ondersoek het?
19 Toon die feite nie duidelik dat Jehovah se Getuies knegte van God en nie slawe van mense is nie? As toegewyde Christene wat die vryheid geniet waarvoor Christus hulle vrygemaak het, laat hulle God se gees en sy Woord hulle lewe rig terwyl hulle in eenheid met hulle broers in die gemeente van God dien (Psalm 133:1). Die bewyse hiervan behoort ook enige onsekerheid oor die bron van hulle krag uit die weg te ruim. Hulle kan saam met die psalmis sing: “Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en ek sal Hom loof met my gesang.”—Psalm 28:7.
[Voetnoot]
a In 1993 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe help die Wagtoringgenootskap en soortgelyke regsmiddele Jehovah se Getuies?
◻ Hoe vind Christene baat by die rol van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies?
◻ Waarom rapporteer Jehovah se volk hulle predikingswerk?
◻ Onder watter omstandighede is dit gepas om ’n toegewyde Christen uit te sit?
[Prent op bladsy 19]
Die eerste-eeuse bestuursliggaam het eenheid bewaar wat leringe betref
[Prent op bladsy 23]
Jehovah se Getuies regoor die wêreld geniet die vryheid waarvoor Christus hulle vrygemaak het