Koninkryksverkondigers berig
“U volk sal hulle gewillig aanbied”
DIE magtige Siriese leërowerste Naäman is melaats. As hierdie afskuwelike siekte nie behandel word nie, kan dit tot misvorming en die dood lei. Wat moet Naäman doen? Onder die mense in Naäman se huis is daar ’n dogtertjie wat ‘uit die land van Israel as gevangene weggevoer is’. Sy spreek moedig haar gevoelens uit en identifiseer die profeet Elisa as die een wat Naäman gesond kan maak.—2 Konings 5:1-3.
As gevolg van haar moedige standpunt gaan soek Naäman vir Elisa en word hy genees. Daarbenewens word Naäman ’n aanbidder van Jehovah! Hierdie ondervinding, wat in die Bybel opgeteken staan, het in die tiende eeu v.G.J. plaasgevind (2 Konings 5:4-15). Vandag toon talle jongmense soortgelyke moed deur Koninkryksbelange te verdedig. Die volgende ondervinding uit Mosambiek bevestig hierdie feit.
Die sesjarige Nuno is ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus. Selfs voordat hy ’n ongedoopte verkondiger geword het, het Nuno die kinders in sy buurt bymekaargebring, gebid en hulle die Bybel met behulp van die publikasie My boek met Bybelverhale geleer.
Nuno word baie maal vroeg op ’n Saterdagoggend wakker en herinner dan sy gesin: “Vandag gaan ons uit in die veldbediening.” Sy ywer vir die bediening word ook op ander maniere geopenbaar. Terwyl Nuno sy ouers in straatgetuieniswerk in Maputo vergesel, nader hy dikwels mense op sy eie. By een van hierdie geleenthede het ’n sakeman na hom toe gekom en hom gevra: “Waarom verkoop jy hierdie tydskrifte?” Nuno het gesê: “Ek verkoop nie die tydskrifte nie, maar ek neem wel bydraes om die predikingswerk te bevorder.” Die sakeman het toe geantwoord: “Al stel ek nie belang nie, is ek beïndruk deur jou gesindheid en vermoë. Ek wil graag ’n bydae gee vir hierdie werk.”
By ’n ander geleentheid het Nuno ’n man op straat genader en hom die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? aangebied. Die man het gevra: “Is jy nie in die skool daar oorkant nie?” “Ja”, het Nuno geantwoord, “ek gaan daar skool, maar vandag verkondig ek ’n belangrike boodskap uit hierdie boek. Dit wys dat ons vir ewig in die nuwe wêreld kan lewe wat God gaan bring, soos die prent in hierdie boek wys.” Nuno was salig onbewus daarvan dat die man met wie hy gepraat het ’n onderwyser by sy skool is. Die onderwyser het nie net die boek geneem nie, maar hy kry nou ook gereeld Die Wagtoring en Ontwaak! by Nuno.
Wanneer daar vir Nuno gevra word waarom hy daarvan hou om die predikingswerk te doen, sê hy: “Ek wil graag met mense praat en hulle leer van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus.” Hy voeg by: “En as die mense nie wil luister nie, is dit nie nodig om ontsteld te raak nie.”
Regoor die wêreld is daar duisende jongmense soos Nuno wat “hulle gewillig aanbied” om ander van God se Koninkryk te leer en daarvan te getuig (Psalm 110:3, NW). Maar dit gebeur nie sommer net per toeval nie. Ouers wat hulle kinders van kleins af van Jehovah leer, ’n goeie voorbeeld in die bediening stel en Koninkryksbelange ywerig nastreef, sal ryklik beloon word.