Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 4/15 bl. 9-14
  • Geloof en jou toekoms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof en jou toekoms
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe was die verlede?
  • Geen menslike oplossings
  • Hoe Jehovah se Getuies die toekoms beskou
  • Die toekoms van menseheerskappy
  • Stel geloof in Jehovah se beloftes
  • Jehovah is die God van liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Vertrou dat Jehovah sy voornemens sal uitvoer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • God se voorneme gaan binnekort verwesenlik word
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • God se Koninkryk—die aarde se nuwe heerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 4/15 bl. 9-14

Geloof en jou toekoms

“Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word.”—HEBREËRS 11:1.

1. Watter soort toekoms wil die meeste mense hê?

STEL jy belang in die toekoms? Die meeste mense stel daarin belang. Hulle hoop op ’n toekoms van vrede, vryheid van vrees, bevredigende lewensomstandighede, produktiewe en genotvolle werk, goeie gesondheid en ’n lang lewe. Elke geslag in die geskiedenis wou ongetwyfeld hierdie dinge hê. En vandag, in hierdie wêreld wat so vol probleme is, is sulke toestande begeerliker as ooit tevore.

2. Hoe het ’n staatsman een beskouing van die toekoms verwoord?

2 Is daar, namate die mensdom die 21ste eeu nader, enigsins ’n manier om vas te stel watter soort toekoms op ons wag? Die Amerikaanse staatsman Patrick Henry het meer as 200 jaar gelede na een manier verwys. Hy het gesê: “Ek weet van geen ander manier om die toekoms te beoordeel as volgens die verlede nie.” Volgens hierdie beskouing kan daar tot ’n redelike mate bepaal word wat die mensdom se toekoms inhou deur wat die mens in die verlede gedoen het. Baie stem saam met hierdie gedagte.

Hoe was die verlede?

3. Wat dui die geskiedenisverslag aan met betrekking tot toekomsvooruitsigte?

3 Vind jy die gedagte dat die toekoms ’n weerspieëling van die verlede sal wees bemoedigend? Het die toekoms vir vorige geslagte deur die eeue heen beter geword? Nie juis nie. Ondanks die verwagtinge wat mense duisende jare lank gekoester het en ondanks materiële vooruitgang op party plekke was die geskiedenis gevul met onderdrukking, misdaad, geweld, oorlog en armoede. Hierdie wêreld het een ramp na die ander ondervind, wat hoofsaaklik deur onbevredigende menseregerings meegebring is. Die Bybel sê tereg: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.

4, 5. (a) Waarom was mense vroeg in die 20ste eeu met hoop vervul? (b) Wat het met hulle toekomsverwagtinge gebeur?

4 Feit is dat die slegte geskiedenis van die mensdom hom voortdurend herhaal—maar op ’n groter en verwoestender skaal. Hierdie 20ste eeu is ’n bewys daarvan. Het die mensdom uit die foute van die verlede geleer en daardie foute vermy? Wel, aan die begin van hierdie eeu het baie mense geloof gestel in ’n beter toekoms omdat daar ’n betreklike lang tydperk van vrede was en weens die vooruitgang in die nywerheid, wetenskap en onderwys. Vroeg in die 20ste eeu, het ’n universiteitsprofessor gesê, is daar geglo dat oorlog nie meer moontlik is nie omdat “mense te beskaafd is”. ’n Voormalige Britse eerste minister het aangaande die beskouing wat mense destyds gehad het, gesê: “Alles sou al hoe beter word. Dít was die wêreld waarin ek gebore is.” Maar toe het hy gesê: “Alles het skielik, onverwags, een oggend in 1914 tot ’n einde gekom.”

5 Ondanks die vertroue in ’n beter toekoms wat destyds algemeen voorgekom het, het die nuwe eeu skaars begin toe die wêreld gedompel is in die ergste rampspoed wat nog deur die mens veroorsaak is—die Eerste Wêreldoorlog. Die vernietiging kan toegelig word met wat in 1916 in een veldslag gebeur het toe Britse troepe Duitse linies naby die Sommerivier in Frankryk aangeval het. In net ’n paar uur het 20 000 Britse soldate gesneuwel, en baie aan die Duitse kant is doodgemaak. Die vier jaar lange slagting het die lewe van bykans tienmiljoen soldate en baie burgerlikes geëis. Frankryk se bevolking het ’n tyd lank gedaal as gevolg van al die manne wat hulle verloor het. Ekonomieë het in duie gestort, wat tot die Groot Depressie van die dertigerjare gelei het. Dit is geen wonder nie dat sommige gesê het dat die wêreld kranksinnig geword het op die dag toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het!

6. Het die lewe beter geword ná die Eerste Wêreldoorlog?

6 Was dít die toekoms waarop daardie geslag gehoop het? Nee, beslis nie. Hulle verwagtinge is totaal verpletter; en dit alles het ook nie tot iets beters gelei nie. Slegs 21 jaar ná die Eerste Wêreldoorlog, of in 1939, het ’n veel erger rampspoed deur mensetoedoen begin—die Tweede Wêreldoorlog. Dit het die lewe van ongeveer 50 miljoen mans, vrouens en kinders geëis. Grootskaalse bomaanvalle het stede in puin gelê. In die Eerste Wêreldoorlog het duisende soldate tydens een veldslag binne ’n paar uur gesneuwel, maar in die Tweede Wêreldoorlog is meer as 100 000 mense binne sekondes deur slegs twee atoombomme doodgemaak. Wat volgens baie selfs erger is, was die stelselmatige moord op miljoene in Nazi-konsentrasiekampe.

7. Wat is die werklikhede waarmee die mensdom hierdie hele eeu te kampe gehad het?

7 Etlike bronne sê dat die aantal mense wat in hierdie eeu doodgemaak is ongeveer 200 miljoen sou beloop as ons oorloë tussen nasies, burgerlike konflikte en sterftes wat regerings oor hulle eie burgers bring, sou insluit. Een bron skat selfs dat hierdie syfer 360 miljoen is. Dink aan die afgryslikheid van al hierdie dinge—die pyn, die trane, die angs en die verwoeste lewens! Daarbenewens is die gemiddelde sterftesyfer weens armoedeverwante oorsake ongeveer 40 000 mense per dag, waarvan die meeste kinders is. Drie keer soveel word elke dag deur aborsies doodgemaak. En ongeveer ’n miljard mense is te arm om genoeg kos te koop om ’n gewone dag se werk te doen. Al hierdie toestande is getuienis van wat in Bybelprofesieë voorspel is dat ons in “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe.—2 Timoteus 3:1-5, 13; Matteus 24:3-12; Lukas 21:10, 11; Openbaring 6:3-8.

Geen menslike oplossings

8. Waarom kan menseleiers nie die probleme van die wêreld oplos nie?

8 Namate hierdie 20ste eeu sy einde nader, kan ons die ondervinding daarvan by dié van vorige eeue voeg. En wat sê daardie geskiedenis vir ons? Dit sê vir ons dat menseleiers nooit die groot probleme van die wêreld opgelos het nie, dat hulle dit nie tans oplos nie en dat hulle dit nie in die toekoms sal oplos nie. Hulle is eenvoudig nie daartoe in staat om vir ons die soort toekoms te gee wat ons wil hê nie, ongeag hoe welmenend hulle mag wees. En party met gesag is nie so welmenend nie; hulle streef na posisie en mag vir hulle eie egotistiese en materialistiese doeleindes, nie vir die beswil van ander nie.

9. Waarom is daar rede om te twyfel dat die wetenskap die oplossing vir die mensdom se probleme het?

9 Het die wetenskap die oplossing? Nie as ons na die verlede kyk nie. Staatswetenskaplikes het ontsaglike hoeveelhede geld en tyd bestee asook baie moeite gedoen om uiters dodelike chemiese, biologiese en ander soort wapens te maak. Die nasies, met inbegrip van dié wat dit allermins kan bekostig, bestee jaarliks meer as driebiljoen rand aan wapens! ‘Wetenskaplike vooruitgang’ is ook deels verantwoordelik vir die chemiese stowwe wat tot die besoedeling van die lug, grond, water en voedsel bygedra het.

10. Waarom verseker nie eers opvoeding ’n beter toekoms nie?

10 Kan ons die hoop koester dat die opvoedkundige instellings van die wêreld ’n beter toekoms sal help bou deur vir mense hoë sedelike standaarde, bedagsaamheid teenoor ander en naasteliefde te leer? Nee. Hulle vestig eerder die aandag op loopbane, op maniere om geld te maak. Hulle wek ’n uiters mededingende gees op, nie ’n gees van samewerking nie; daarbenewens leer die skole kinders nie sedes nie. Baie van hulle vergoelik eerder seksuele vryheid, wat ’n groot toename in tienerswangerskappe en seksueel oordraagbare siektes veroorsaak het.

11. Hoe laat die reputasie van sakebedrywe twyfel oor die toekoms ontstaan?

11 Sal die reusesakebedrywe van die wêreld skielik beweeg word om goed na ons planeet om te sien en liefde aan ander te betoon deur produkte te vervaardig wat waarlik tot voordeel van mense sal wees en nie net om wins te maak nie? Dit is onwaarskynlik. Sal hulle ophou om televisieprogramme te vervaardig wat deurtrek is van geweld en onsedelikheid wat tot die verderwing van mense se verstande bydra, veral dié van die jeug? Die onlangse verlede is glad nie bemoedigend nie, want TV het grotendeels ’n slykpoel van onsedelikheid en geweld geword.

12. Wat is die situasie vir die mens wat siekte en die dood betref?

12 Daarbenewens kan dokters, hoe opreg hulle ook al is, nie ’n einde aan siekte en die dood maak nie. Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog kon hulle byvoorbeeld nie die Spaanse griep onder beheer bring nie; dit het wêreldwyd ongeveer 20 miljoen lewens geëis. Vandag is hartsiektes, kanker en ander dodelike siektes algemeen. Die mediese wêreld het ook nie die hedendaagse plaag van vigs oorwin nie. Inteendeel, ’n VN-verslag wat in November 1997 gepubliseer is, het tot die slotsom gekom dat die vigs-virus twee keer so vinnig versprei as wat vantevore geskat is. Miljoene het reeds daaraan gesterf. In ’n onlangse jaar is nog driemiljoen besmet.

Hoe Jehovah se Getuies die toekoms beskou

13, 14. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies die toekoms? (b) Waarom kan mense nie ’n beter toekoms teweegbring nie?

13 Maar Jehovah se Getuies glo dat ’n rooskleurige toekoms, die allerbeste, op die mensdom wag! Hulle verwag egter nie dat daardie beter toekoms deur mensepogings teweeggebring sal word nie. Hulle vertrou eerder op die Skepper, Jehovah God. Hy weet wat die toekoms inhou, en hoe wonderlik sal dit tog nie wees nie! Hy weet ook dat mense nie so ’n toekoms kan teweegbring nie. Aangesien God hulle geskep het, ken hy hulle beperkings veel beter as enigiemand anders. In sy Woord sê hy duidelik vir ons dat hy mense nie met die vermoë geskep het om sonder Goddelike leiding suksesvol te regeer nie. Die feit dat God mense toegelaat het om oor so ’n lang tyd onafhanklik van hom te regeer, het onbetwisbare bewys gelewer van daardie onvermoë. Een skrywer het erken: “Die menseverstand het alle moontlike regeringsvorme op die proef gestel, en dit was alles tevergeefs.”

14 In Jeremia 10:23 lees ons die woorde van die geïnspireerde profeet: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” Ook sê Psalm 146:3: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” Trouens, omdat ons onvolmaak gebore word, soos Romeine 5:12 toon, waarsku God se Woord ons om ook nie op onsself te vertrou nie. Jeremia 17:9 sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge.” Spreuke 28:26 sê gevolglik: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.”

15. Waar kan ons die wysheid vind om ons te lei?

15 Waar kan ons hierdie wysheid vind? “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid, en die kennis van die Allerheiligste, dit is verstand” (Spreuke 9:10, NW). Slegs Jehovah het die wysheid wat ons deur hierdie angswekkende tye kan lei. En hy het ons toegang tot sy wysheid gegee deur middel van die Heilige Skrif, wat hy vir ons leiding geïnspireer het.—Spreuke 2:1-9; 3:1-6; 2 Timoteus 3:16, 17.

Die toekoms van menseheerskappy

16. Wie het die toekoms bepaal?

16 Wat sê God se Woord dus vir ons omtrent die toekoms? Dit sê vir ons dat die toekoms beslis nie sal weerspieël wat mense in die verlede gedoen het nie. Patrick Henry se beskouing was dus verkeerd. Die toekoms vir hierdie aarde en vir die bewoners daarvan sal nie deur mense nie, maar deur Jehovah God bepaal word. Sý wil gaan op die aarde geskied, nie die wil van enige mens of nasie van hierdie wêreld nie. “Baie planne is in ’n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.”—Spreuke 19:21.

17, 18. Wat is God se wil vir ons tyd?

17 Wat is God se wil vir ons tyd? Hy het hom voorgeneem om ’n einde te maak aan hierdie gewelddadige, onsedelike stelsel van dinge. Die eeue oue slegte heerskappy van mense gaan binnekort vervang word deur ’n heerskappy wat deur God tot stand gebring is. Die profesie in Daniël 2:44 sê: “In die dae van dié konings [wat vandag bestaan] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Die Koninkryk sal ook die bose invloed van Satan die Duiwel uit die weg ruim, iets wat mense nooit kon doen nie. Sy heerskappy oor hierdie wêreld sal vir ewig ophou.—Romeine 16:20; 2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19.

18 Let op dat die hemelse regering alle vorme van menseheerskappy heeltemal sal verbrysel. Dit sal nie aan mense oorgelaat word om hierdie aarde te regeer nie. In die hemel sal diegene wat God se Koninkryk uitmaak al die aarde se aangeleenthede bestuur tot die voordeel van die mensdom (Openbaring 5:10; 20:4-6). Op die aarde sal getroue mense met die riglyne van God se Koninkryk saamwerk. Dít is die heerskappy waarvoor Jesus ons leer bid het toe hy gesê het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.

19, 20. (a) Hoe beskryf die Bybel die Koninkryksreëling? (b) Wat sal die heerskappy daarvan vir die mensdom beteken?

19 Jehovah se Getuies stel geloof in God se Koninkryk. Dit is die “nuwe hemele” waaroor die apostel Petrus geskryf het: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Die “nuwe aarde” is die nuwe mensegemeenskap waaroor die nuwe hemele, God se Koninkryk, gaan regeer. Dit is die reëling wat God geopenbaar het in ’n visioen aan die apostel Johannes, wat geskryf het: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan . . . En [God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:1, 4.

20 Let op dat die nuwe aarde ’n regverdige aarde sal wees. Alle onregverdige elemente sal deur ’n daad van God, die slag van Armageddon, uitgewis wees (Openbaring 16:14, 16). Die profesie in Spreuke 2:21, 22 stel dit soos volg: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei [word].” En Psalm 37:9 belowe: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.” Sal jy nie daarvan hou om in so ’n nuwe wêreld te lewe nie?

Stel geloof in Jehovah se beloftes

21. Waarom kan ons geloof stel in Jehovah se beloftes?

21 Kan ons geloof stel in Jehovah se beloftes? Luister na wat hy deur sy profeet Jesaja sê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.” Die laaste deel van vers 11 sê: “Soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11). Ja, ons kan geloof stel in Jehovah en sy beloftes met net soveel sekerheid asof daardie beloftes reeds vervul is. Die Bybel stel dit só: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike demonstrasie van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie.”—Hebreërs 11:1.

22. Waarom kan ons vol vertroue wees dat Jehovah sy beloftes sal vervul?

22 Nederige mense openbaar sulke geloof omdat hulle weet dat God sy beloftes sal vervul. In Psalm 37:29 lees ons byvoorbeeld: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Kan ons dit glo? Ja, want Hebreërs 6:18 sê: ‘Dit is onmoontlik vir God om te lieg.’ Behoort die aarde aan God dat hy dit aan nederiges kan gee? Openbaring 4:11 sê: “U het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Gevolglik sê Psalm 24:1: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan.” Jehovah het die aarde geskep; dit behoort aan hom, en hy gee dit aan diegene wat geloof in hom stel. Om ons vertroue hierin op te bou, sal die volgende artikel toon hoe Jehovah in die verlede sowel as in ons dag sy beloftes aan sy knegte gehou het en waarom ons volkome vertroue kan hê dat hy dit in die toekoms sal doen.

Punte ter hersiening

◻ Wat het deur die geskiedenis heen met mense se verwagtinge gebeur?

◻ Waarom moet ons nie op mense vertrou vir ’n beter toekoms nie?

◻ Wat is God se wil wat die toekoms betref?

◻ Waarom is ons vol vertroue dat God sy beloftes sal vervul?

[Prent op bladsy 10]

Die Bybel sê tereg: ‘Dit behoort nie aan die mens om sy voetstappe te rig nie.’—Jeremia 10:23

[Erkenning]

Bom: U.S. National Archives photo; uitgehongerde kinders: WHO/OXFAM; vlugtelinge: UN PHOTO 186763/J. Isaac; Mussolini en Hitler: U.S. National Archives photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel