Hulle het Jehovah se wil gedoen
Job se onkreukbaarheid word beloon
JOB was ’n medelydende man, wat reg laat geskied het aan weduwees, wese en die geteisterdes (Job 29:12-17; 31:16-21). Toe, skielik, het hy in die nood beland en sy rykdom, sy kinders en sy gesondheid verloor. Ongelukkig het hierdie edelmoedige man, wat ’n steunpilaar van die onderdruktes was, toe hy in nood verkeer het min hulp ontvang. Selfs sy eie vrou het vir hom gesê: “Vervloek God en sterf!” En sy “vriende” Elifas, Bildad en Sofar het geen vertroosting verskaf nie. Hulle het eerder te kenne gegee dat Job gesondig het en gevolglik sy pyn verdien het.—Job 2:9, NW; 4:7, 8; 8:5, 6; 11:13-15.
Job het getrou gebly, al het hy baie lyding verduur. As gevolg hiervan het Jehovah uiteindelik barmhartigheid aan Job bewys en hom geseën. Die verslag van hoe hy dit gedoen het, verseker alle knegte van God wat hulle onkreukbaarheid handhaaf dat hulle in die toekoms ook beloon sal word.
Vryspraak en herstel
Jehovah het Elifas, Bildad en Sofar eerstens bestraf. Hy het Elifas, waarskynlik die oudste, aangespreek en gesê: “My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring ’n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid” (Job 42:7, 8). Dink aan wat dit geïmpliseer het!
Jehovah het ’n aansienlike offerande van Elifas, Bildad en Sofar vereis, miskien om die erns van hulle sonde by hulle tuis te bring. Trouens, hulle het God, bewus of onbewus, belaster deur te sê dat hy ‘geen vertroue stel in sy dienaars nie’ en dat dit nie werklik vir hom saak gemaak het of Job getrou is of nie. Elifas het selfs gesê dat Job in God se oë van geen meer waarde was as ’n mot nie! (Job 4:18, 19; 22:2, 3). Dit is geen wonder nie dat Jehovah gesê het: “Julle het nie reg van My gespreek . . . nie”!
Maar dit is nie al nie. Elifas, Bildad en Sofar het ook teen Job self gesondig deur vir hom te sê dat sy probleme sy eie skuld was. Hulle ongegronde beskuldigings en algehele gebrek aan empatie het Job verbitter en terneergedruk laat voel, sodat hy uitgeroep het: “Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?” (Job 10:1; 19:2). Stel jou die verleë gesigsuitdrukkings van hierdie drie manne voor terwyl hulle nou ’n offerande vir Job moes bring vir hulle sondes!
Maar Job moes hom nie in hulle vernedering verlustig nie. Trouens, Jehovah het vereis dat hy ten behoewe van sy beskuldigers bid. Job het gedoen net soos hy beveel is, en hiervoor is hy geseën. Jehovah het eerstens sy verskriklike siekte genees. Daarna het Job se broers, susters en voormalige metgeselle gekom om hom te vertroos, “en hulle het hom elkeen ’n geldstuk gegee en elkeen ’n goue ring”.a Daarbenewens “het [Job] veertienduisend stuks kleinvee en sesduisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad”.b En Job se vrou is blykbaar met hom versoen. Mettertyd is Job geseën met sewe seuns en drie dogters, en hy het vier geslagte van sy nageslag gesien.—Job 42:10-17.
Lesse vir ons
Job het ’n uitstekende voorbeeld vir hedendaagse knegte van God gestel. Hy was “onberispelik en regskape”, ’n man wat Jehovah trots was om “my kneg” te noem (Job 1:8, NW; 42:7, 8). Dit beteken egter nie dat Job volmaak was nie. Op een stadium gedurende sy beproewinge het hy verkeerdelik aangeneem dat God sy ellende oor hom gebring het. Hy het selfs die manier waarop God met die mens handel, gekritiseer (Job 27:2; 30:20, 21). En hy het sy eie regverdigheid verkondig en nie dié van God nie (Job 32:2). Maar Job het geweier om die Skepper die rug toe te keer, en hy het nederig teregwysing van God aanvaar. ‘Ek het gespreek sonder om te verstaan’, het hy erken. ‘Ek herroep en het berou in stof en as.’—Job 42:3, 6.
Wanneer ons beproewing verduur, kan ons ook dinge dink, sê of doen wat ongepas is. (Vergelyk Prediker 7:7, NW.) Maar as ons innige liefde vir God het, sal ons nie teen hom in opstand kom of verbitterd raak omdat hy toelaat dat ons ontberinge verduur nie. Ons sal eerder ons onkreukbaarheid handhaaf en sodoende uiteindelik groot seëninge ontvang. Die psalmis het van Jehovah gesê: “Teenoor iemand wat lojaal is‚ sal u lojaal handel.”—Psalm 18:25, NW.
Voordat Job genees is, het Jehovah vereis dat hy bid ten behoewe van diegene wat teen hom gesondig het. Wat ’n goeie voorbeeld vir ons! Jehovah vereis dat ons diegene vergewe wat teen ons sondig voor ons eie sondes vergewe kan word (Matteus 6:12; Efesiërs 4:32). Kan ons met reg verwag dat Jehovah barmhartig teenoor ons moet wees as ons nie bereid is om ander te vergewe wanneer daar goeie rede daarvoor is nie?—Matteus 18:21-35.
Ons almal kom die een of ander tyd voor beproewinge te staan (2 Timoteus 3:12). Maar soos Job kan ons ons onkreukbaarheid handhaaf. As ons dit doen, sal ons ’n groot beloning ontvang. Jakobus het geskryf: “Kyk! Ons noem dié wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is.”—Jakobus 5:11.
[Voetnote]
a Die waarde van “’n geldstuk” (Hebreeus, qesi·tahʹ) kan nie bepaal word nie. Maar in Jakob se dag kon ’n mens vir “honderd geldstukke” ’n groot stuk land koop (Josua 24:32). Derhalwe was “’n geldstuk” van elke besoeker waarskynlik meer as net ’n geringe ou geskenkie.
b Die geslag van die esels word waarskynlik genoem weens hulle waarde as teeldiere.