’n Koning met rykdom en wysheid
Dink jy dat rykdom jou gelukkig sal maak? Sal jy nie bly wees as iemand vir jou ’n groot som geld gee nie? Jy sal waarskynlik. Jy kan moontlik aan maniere dink om dit te bestee.
DAAR is weliswaar baie dinge te koop wat die lewe geriefliker en genotvoller maak. Geld kan ook as “’n beskutting” dien teen onverwagte probleme, soos siekte of werkloosheid.—Prediker 7:12.
Maar wat is die verband tussen geld en geluk? Dink jy, soos baie mense, dat geluk uit rykdom voortspruit? Dit kan moeilik wees om die antwoorde op hierdie vrae te vind omdat geld maklik gemeet, of getel, kan word, terwyl dit nie die geval met geluk is nie. Jy kan geluk nie op ’n skaal sit en dit weeg nie.
Daarbenewens lyk party ryk mense gelukkig terwyl ander doodongelukkig is. Dieselfde geld vir diegene wat arm is. Nogtans dink die meeste mense—selfs diegene wat alreeds ryk is—dat meer geld hulle gelukkiger sal maak.
Koning Salomo van eertydse Israel was iemand wat oor sulke sake geskryf het. Hy was een van die rykste manne wat nog geleef het. Jy kan ’n beskrywing van sy ontsaglike rykdom in die 10de hoofstuk van die Bybelboek Eerste Konings lees. Let byvoorbeeld op wat vers 14 sê: “Die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was seshonderd-ses-en-sestig talente goud.” (Ons kursiveer.) Daardie syfer is gelyk aan 25 ton goud. Vandag sal soveel goud ver oor die R900 000 000 werd wees!
Salomo was egter nie net ryk nie; God het hom met wysheid geseën. Die Bybel sê: “Koning Salomo [het] dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid. En die hele wêreld het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het” (1 Konings 10:23, 24). Ons kan ook by Salomo se wysheid baat vind, aangesien sy geskrifte deel van die Bybelverslag uitmaak. Kom ons kyk wat hy oor die verband tussen rykdom en geluk gesê het.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Gereproduseer van Die Heilige Schrift - Übersetzt von Dr. Joseph Franz von Allioli. Druck und Verlag von Eduard Hallberger, Stuttgart.