Eunice en Loïs-voorbeeldige opvoeders
As Jehovah se knegte weet ons dat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is om ons kinders ’n goeie godsdiensopvoeding te gee. Selfs in gunstige tye kan hierdie taak met allerhande struikelblokke en probleme gepaardgaan. Dit geld selfs meer wanneer ’n Christenouer daardie uitdaging in ’n godsdienstig verdeelde huis die hoof moet bied. Hierdie soort situasie is nie iets nuuts nie. Die Skrif vertel ons van ’n ouer in die eerste eeu G.J. wat haar in ’n soortgelyke situasie bevind het.
Die gesin van ’n vrou met die naam Eunice het in Listra, ’n stad in die streek Likaonië in die suidsentrale deel van Klein-Asië, gewoon. Listra was ’n klein, onbeduidende provinsiestad. Dit was ’n Romeinse kolonie wat Julia Felix Gemina Lustra genoem is en deur Augustus Caesar gestig is om die bedrywighede van rowers in omliggende gebiede teë te werk. Eunice was ’n Joodse Christen wat in ’n godsdienstig verdeelde huis gewoon het met haar Griekse man, haar seun Timoteus en haar moeder Loïs.—Handelinge 16:1-3.
Daar was waarskynlik min Jode in Listra, aangesien die Bybel geen melding maak van ’n sinagoge daar nie, hoewel daar wel ’n Joodse bevolking in Ikonium, sowat 30 kilometer daarvandaan, was (Handelinge 14:19). Dit moes dus vir Eunice moeilik gewees het om haar geloof te beoefen. Die feit dat Timoteus nie ná sy geboorte besny is nie, het party geleerdes tot die slotsom laat kom dat Eunice se man teen daardie idee gekant was.
Eunice het egter nie alleen gestaan wat haar opvattings betref nie. Dit wil voorkom of Timoteus sy onderrigting in “die heilige geskrifte” van sy moeder sowel as van sy ouma aan moederskant, Loïs, ontvang het.a Die apostel Paulus het Timoteus aangespoor: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo, aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het en dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte geken het, wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus.”—2 Timoteus 3:14, 15.
Opvoeding “van kleintyd af”
Toe Paulus gesê het dat Timoteus “van kleintyd af” in “die heilige geskrifte” opgevoed is, het hy blykbaar bedoel vandat hy ’n baba was. Dit strook met sy gebruik van ’n Griekse woord (breʹfos) wat oor die algemeen na ’n pasgebore baba verwys. (Vergelyk Lukas 2:12, 16.) Eunice het dus haar godgegewe verpligting ernstig opgeneem en het dadelik begin om Timoteus die opleiding te gee wat hom sou help om ’n toegewyde kneg van God te word.—Deuteronomium 6:6-9; Spreuke 1:8.
Timoteus is “oortuig” om skriftuurlike waarhede te glo. Volgens een Griekse leksikon beteken die woord wat Paulus hier gebruik het “om vas oortuig te word van; om verseker te word van” iets. Dit het ongetwyfeld baie tyd en moeite geverg om so ’n sterk oortuiging in Timoteus se hart te laat posvat en om hom te help om oor God se Woord te redeneer en geloof daarin te beoefen. Dit is dus duidelik dat beide Eunice en Loïs hard gewerk het om Timoteus in die Skrif te onderrig. En watter beloning het daardie godvrugtige vroue tog ontvang! Paulus kon van Timoteus skryf: “Ek herinner my die geloof wat sonder enige huigelary in jou is, en wat eers in jou grootmoeder Loïs en jou moeder Eunice gewoon het, maar waarvan ek die vaste vertroue het dat dit ook in jou is.”—2 Timoteus 1:5.
Wat ’n belangrike rol het Eunice en Loïs tog in Timoteus se lewe gespeel! In hierdie verband sê die skrywer David Read: “As die apostel gemeen het dat niks van groter belang was as hoe Timoteus self ’n bekeerling geword het nie, sou hy hom onmiddellik daaraan herinner het. Maar die eerste ding wat hy oor Timoteus se geloof sê, is dat dit reeds ‘lewend in Loïs . . . en Eunice’ was.” Paulus se stelling aangaande die geloof van Loïs, Eunice en Timoteus toon dat die vroeë skriftuurlike opvoeding wat tuis deur ouers en selfs grootouers gegee word dikwels van die allergrootste belang is om ’n jong persoon se toekomstige geestelike vooruitsigte te bepaal. Behoort dit gesinslede nie ernstig te laat nadink oor wat hulle doen om hierdie verantwoordelikheid teenoor God sowel as hulle kinders na te kom nie?
Miskien het Paulus ook aan die soort huislike milieu gedink wat Loïs en Eunice geskep het. Die apostel het moontlik by hulle huis aangedoen gedurende sy eerste besoek aan Listra, ongeveer 47/48 G.J. Die twee vroue het hulle waarskynlik in daardie tyd tot die Christelike godsdiens bekeer (Handelinge 14:8-20). Miskien het die hartlike, gelukkige verhouding wat in daardie gesin bestaan het Paulus se woordkeuse beïnvloed toe hy na Loïs as Timoteus se “grootmoeder” verwys het. Volgens die geleerde Ceslas Spicq is die Griekse woord wat hy gebruik het (mamʹme, in teenstelling met die klassieke en eerbiedige teʹthe) “’n kind se troetelnaam” vir sy ouma, wat in hierdie konteks ’n “nuanse van gemeensaamheid en geneentheid” oordra.
Timoteus se vertrek
Dit is nie duidelik wat Eunice se huwelikstaat was toe Paulus Listra ’n tweede keer (ongeveer 50 G.J.) besoek het nie. Baie geleerdes neem aan dat sy ’n weduwee was. Hoe dit ook al sy, onder leiding van sy moeder en grootmoeder het Timoteus ’n voortreflike jong man geword, wat moontlik teen daardie tyd ongeveer 20 jaar oud was. Hy is “gunstig vermeld deur die broers in Listra en Ikonium” (Handelinge 16:2). ’n Begeerte om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, is blykbaar in Timoteus se hart geplant, want hy het Paulus se uitnodiging aanvaar om saam met hom en Silas op hulle sendingreis te gaan.
Stel jou voor hoe Eunice en Loïs gevoel het toe Timoteus gereed was om te vertrek! Hulle het geweet dat Paulus tydens sy eerste besoek aan die stad gestenig en vir dood agtergelaat is (Handelinge 14:19). Dit was dus seker nie vir hulle maklik om jong Timoteus te laat gaan nie. Hulle het waarskynlik gewonder hoe lank hy weg sou wees en of hy veilig sou terugkom. Ten spyte van sulke vrese wat hulle moontlik gehad het, het sy moeder en grootmoeder hom ongetwyfeld aangemoedig om hierdie spesiale voorreg te aanvaar wat hom in staat sou stel om Jehovah in voller mate te dien.
Waardevolle lesse
’n Mens kan baie leer uit ’n noukeurige ondersoek van Eunice en Loïs se voorbeeld. Geloof het hulle beweeg om Timoteus ’n goeie geestelike opvoeding te gee. Die volwasse, bestendige voorbeeld van godvrugtige toegewydheid wat grootouers vir hulle kleinkinders en ander stel, kan beslis vir die hele Christengemeente voordelig wees (Titus 2:3-5). Eunice se voorbeeld herinner moeders met ongelowige mans eweneens aan die verantwoordelikheid en belonings wat dit meebring om geestelike onderrigting aan hulle kinders te voorsien. Dit verg dalk by tye baie moed om dit te doen, veral as die vader nie goedgesind teenoor die godsdiensopvattings van sy vrou is nie. Dit vereis ook takt, aangesien die Christenvrou haar man se hoofskap moet eerbiedig.
Die geloof, inspanning en selfverloëning van Loïs en Eunice is beloon namate hulle gesien het hoe Timoteus geestelik vooruitgang maak tot die punt waar hy ’n uitstekende sendeling en opsiener geword het (Filippense 2:19-22). Vandag verg dit eweneens tyd, geduld en vasbeslotenheid om ons kinders skriftuurlike waarhede te leer, maar ’n goeie uiteinde maak al die inspanning waarlik die moeite werd. Talle voorbeeldige Christenjongmense wat ‘die heilige geskrifte van kleintyd af’ geleer is in ’n godsdienstig verdeelde huis verskaf hulle godvrugtige ouer groot vreugde. En hoe waar is die spreuk tog wat sê: ‘Laat sy wat ’n wyse baar, juig’!—Spreuke 23:23-25.
Die apostel Johannes het van sy geestelike kinders gesê: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Dit ly geen twyfel nie dat daardie woorde die gevoel oordra van baie wat soos Eunice en Loïs is, twee voorbeeldige opvoeders.
[Voetnoot]
a Die feit dat Loïs nie Timoteus se ouma aan vaderskant was nie, blyk uit die Siriese vertaling “jou moeder se moeder” in 2 Timoteus 1:5.