Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 7/15 bl. 9-14
  • Pas op vir ’n gebrek aan geloof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir ’n gebrek aan geloof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom sulke streng raad?
  • Iemand groter as Moses
  • ‘Moenie julle harte verhard nie’
  • ’n Les vir ons
  • Moenie die wedloop om die lewe gewonne gee nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Bybelboek nommer 58—Hebreërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Brief wat ons kan help om getrou te volhard tot die einde toe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Laat ons die soort wees wat geloof het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 7/15 bl. 9-14

Pas op vir ’n gebrek aan geloof

“Pas op, broers, uit vrees dat daar ooit in enigeen van julle ’n goddelose, ongelowige hart sal ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek.”—HEBREËRS 3:12.

1. Watter skokkende werklikheid bring Paulus se woorde aan die Hebreeuse Christene onder ons aandag?

WAT ’n verskriklike gedagte—dat mense wat vroeër ’n persoonlike verhouding met Jehovah geniet het ’n ‘goddelose hart’ kan ontwikkel en hulle “van die lewende God [kan] terugtrek”! En wat ’n waarskuwing is dit tog! Hierdie woorde van die apostel Paulus is nie tot ongelowiges gerig nie, maar tot mense wat hulle lewe aan Jehovah toegewy het op grond van geloof in die losprysofferande van Jesus Christus.

2. Watter vrae moet ons ondersoek?

2 Hoe kon iemand wat in so ’n geseënde geestelike posisie was ooit “’n goddelose, ongelowige hart” ontwikkel? Trouens, hoe kon enigiemand wat God se liefde en onverdiende goedhartigheid gesmaak het hom opsetlik van God terugtrek? En kan dit met enigeen van ons gebeur? Hierdie gedagtes stem ’n mens tot nadenke, en ons behoort ondersoek in te stel na die rede vir hierdie waarskuwing.—1 Korintiërs 10:11.

Waarom sulke streng raad?

3. Beskryf die omstandighede wat eerste-eeuse Christene in en om Jerusalem geraak het.

3 Paulus het sy brief aan die Hebreeuse Christene in Judea vermoedelik in 61 G.J. geskryf. ’n Geskiedskrywer het opgemerk dat dit ’n tyd was toe “daar geen vrede of veiligheid vir enige verstandige, eerlike mens in die stad Jerusalem of op enige ander plek in die hele provinsie was nie”. Dit was ’n tyd van wetteloosheid en geweld wat veroorsaak is deur die gekombineerde effek van die onderdrukkende Romeinse militêre teenwoordigheid, die bravade van die anti-Romeinse Joodse Selote en die kriminele bedrywighede van diewe wat uit die chaotiese tye munt geslaan het. Al hierdie dinge het dit baie moeilik gemaak vir die Christene, wat hard probeer het om nie by sulke sake betrokke te raak nie (1 Timoteus 2:1, 2). Trouens, weens hulle neutrale posisie het sommige hulle as asosiaal, selfs as opstandig, beskou. Christene is dikwels mishandel, en hulle het persoonlike verliese gely.—Hebreërs 10:32-34.

4. Aan watter godsdiensdruk is die Hebreeuse Christene onderwerp?

4 Hebreeuse Christene was ook onder intense godsdiensdruk. Die ywer van Jesus se getroue dissipels en die vinnige uitbreiding van die Christengemeente wat dit tot gevolg gehad het, het die jaloesie en toorn van die Jode opgewek—veral van hulle godsdiensleiers. Hulle het nie toegelaat dat enigiets hulle keer om die volgelinge van Jesus Christus te mishandel en te vervolg niea (Handelinge 6:8-14; 21:27-30; 23:12, 13; 24:1-9). Al is party Christene nie openlik vervolg nie, is hulle nogtans deur die Jode geminag en bespot. Die Christelike geloof is verag as ’n nuwe godsdiens wat nie die grootsheid van Judaïsme gehad het nie, aangesien dit geen tempel, geen priesterdom, geen feeste, geen amptelike offerandes, ensovoorts gehad het nie. Selfs hulle leier, Jesus, is as ’n veroordeelde misdadiger doodgemaak. Christene moes geloof, moed en volharding hê om hulle godsdiens te beoefen.

5. Waarom was dit noodsaaklik vir Christene in Judea om geestelik wakker te bly?

5 Die Hebreeuse Christene in Judea het bowenal in ’n kritieke tyd in die geskiedenis van daardie nasie gelewe. Baie van die dinge wat hulle Heer, Jesus Christus, gesê het ’n kenmerk van die einde van die Joodse stelsel van dinge sou wees, het toe reeds plaasgevind. Die einde kon nie ver weg wees nie. As Christene dit wou oorleef, moes hulle geestelik wakker bly en gereed wees om ‘na die berge te vlug’ (Matteus 24:6, 15, 16). Sou hulle die nodige geloof en geestelike uithouvermoë hê om onmiddellik op te tree, soos Jesus beveel het? Daar het blykbaar twyfel bestaan.

6. Wat het die Christene in Judea dringend nodig gehad?

6 Gedurende die laaste dekade voor die einde van die hele Joodse stelsel van dinge was Hebreeuse Christene ongetwyfeld onder intense druk van binne en buite die gemeente. Hulle het bemoediging nodig gehad. Maar hulle het ook raad en leiding nodig gehad wat hulle sou help om te sien dat die weg wat hulle gekies het die regte weg was en dat hulle nie tevergeefs gely en volhard het nie. Gelukkig was Paulus opgewasse vir die taak en het hy hulle te hulp gekom.

7. Waarom moet ons belangstel in wat Paulus aan die Hebreeuse Christene geskryf het?

7 Wat Paulus aan die Hebreeuse Christene geskryf het, behoort vir ons van die uiterste belang te wees. Waarom? Omdat ons in ’n tyd lewe wat met hulle s’n ooreenkom. Ons voel elke dag die druk van die wêreld wat onder Satan se beheer is (1 Johannes 5:19). Ons sien hoe Jesus en die apostels se profesieë oor die laaste dae en “die voleinding van die stelsel van dinge” vervul word (Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5; 2 Petrus 3:3, 4; Openbaring 6:1-8). Ons moet bowenal geestelik wakker bly sodat ons “daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur”.—Lukas 21:36.

Iemand groter as Moses

8. Wat het Paulus sy mede-Christene met sy woorde in Hebreërs 3:1 aangespoor om te doen?

8 Paulus het ’n baie belangrike punt genoem toe hy geskryf het: “Beskou die apostel en hoëpriester wat ons bely—Jesus” (Hebreërs 3:1). Om te “beskou” beteken “om duidelik te sien . . . , om ten volle te verstaan, noukeurig te beskou” (Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words). Paulus het sy medegelowiges dus aangespoor om hulle ywerig in te span om ’n juiste begrip te verkry van die rol wat Jesus in hulle geloof en redding speel. Sodoende sou hulle hulle voorneme versterk om vas te staan in die geloof. Wat was Jesus se rol dus, en waarom moet ons hom “beskou”?

9. Waarom het Paulus na Jesus as “apostel” en “hoëpriester” verwys?

9 Paulus het die woorde “apostel” en “hoëpriester” op Jesus toegepas. ’n “Apostel” is iemand wat uitgestuur word en het hier betrekking op God se middel om met die mensdom te kommunikeer. ’n “Hoëpriester” is iemand deur wie mense God kan nader. Hierdie twee voorsienings is noodsaaklik vir ware aanbidding, en Jesus dien in albei hoedanighede. Hy is die een wat van die hemel gestuur is om die mensdom die waarheid oor God te leer (Johannes 1:18; 3:16; 14:6). Jesus is ook die een wat as die antitipiese Hoëpriester in Jehovah se geestelike tempelreëling aangestel is om sondes te vergewe (Hebreërs 4:14, 15; 1 Johannes 2:1, 2). As ons werklik waardering het vir die seëninge wat ons deur middel van Jesus kan ontvang, sal ons die moed en vasbeslotenheid hê om in die geloof te bly vasstaan.

10. (a) Hoe het Paulus Hebreeuse Christene gehelp om te verstaan dat die Christelike godsdiens voortrefliker as Judaïsme is? (b) Watter algemene waarheid het Paulus aangehaal om sy punt te staaf?

10 Paulus het die waarde van Christelike geloof beklemtoon deur Jesus te vergelyk met Moses, wat die Jode as die grootste profeet onder hulle voorouers beskou het. As die Hebreeuse Christene ten volle kon verstaan dat Jesus groter as Moses is, sou hulle geen rede hê om te twyfel dat die Christelike godsdiens voortrefliker as Judaïsme is nie. Hoewel Moses waardig geag is om sorg te dra vir God se “huis”—die nasie, oftewel die vergadering, van Israel—het Paulus daarop gewys dat Moses slegs ’n getroue dienaar, of kneg, was (Numeri 12:7, NW). Daarenteen was Jesus die Seun, die meester oor die huis (1 Korintiërs 11:3; Hebreërs 3:2, 3, 5). Om hierdie punt te staaf, haal Paulus ’n algemene waarheid aan: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Niemand sal ontken dat God groter as almal is nie, want hy is die Bouer, of Skepper, van almal. Aangesien Jesus God se medewerker was, is dit dan net logies dat hy groter as alle ander skepsele, met inbegrip van Moses, moet wees.—Spreuke 8:30; Kolossense 1:15-17.

11, 12. Waaraan het Paulus die Hebreeuse Christene aangespoor om “tot die einde toe stewig” vas te hou, en hoe kan ons sy raad toepas?

11 Die Hebreeuse Christene was waarlik in ’n hoogs begunstigde posisie. Paulus het hulle daaraan herinner dat hulle “deelgenote van die hemelse roeping” is, ’n voorreg wat meer gekoester moes word as enigiets wat die Joodse stelsel kon aanbied (Hebreërs 3:1). Paulus se woorde moes daardie gesalfde Christene dankbaar gemaak het dat hulle in aanmerking gekom het vir ’n nuwe erfenis eerder as om spyt te voel dat hulle dinge prysgegee het wat met hulle Joodse erfenis verband gehou het (Filippense 3:8). Om hulle aan te spoor om vas te hou aan hulle voorreg en dit nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, het Paulus gesê: “Christus was getrou as ’n Seun oor die huis van [God]. Ons is die huis van daardie Een, as ons tot die einde toe stewig aan ons vrymoedigheid van spraak en ons geroem oor die hoop vashou.”—Hebreërs 3:6.

12 Ja, as Hebreeuse Christene die naderende einde van die Joodse stelsel van dinge wou oorleef, moes hulle “tot die einde toe stewig” aan hulle godgegewe hoop vashou. Ons moet vandag dieselfde doen as ons die einde van hierdie stelsel wil oorleef (Matteus 24:13). Ons moenie toelaat dat die sorge van die lewe, mense se onverskilligheid of ons eie onvolmaakte neigings ons laat wankel in ons geloof in God se beloftes nie (Lukas 21:16-19). Laat ons aandag skenk aan Paulus se verdere woorde om te sien hoe ons ons kan versterk.

‘Moenie julle harte verhard nie’

13. Watter waarskuwing het Paulus gegee, en hoe het hy Psalm 95 toegepas?

13 Nadat Paulus die begunstigde posisie van die Hebreeuse Christene bespreek het, gee hy hierdie waarskuwing: “Net soos die heilige gees sê: ‘Vandag as julle na sy stem luister, moet julle julle harte nie verhard soos die keer toe bitter toorn veroorsaak is nie, soos in die dag toe die beproewing in die wildernis gedoen is’” (Hebreërs 3:7, 8). Paulus het uit die 95ste Psalm aangehaal en kon gevolglik sê “die heilige gees sê”b (Psalm 95:7, 8; Exodus 17:1-7). God het die Skrif deur middel van sy heilige gees geïnspireer.—2 Timoteus 3:16.

14. Hoe het die Israeliete gereageer op wat Jehovah vir hulle gedoen het, en waarom?

14 Nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry is, het hulle die groot eer ontvang om in ’n verbondsverhouding met Jehovah te tree (Exodus 19:4, 5; 24:7, 8). Maar in plaas van waardering te toon vir wat God vir hulle gedoen het, het hulle kort daarna opstandig opgetree (Numeri 13:25–14:10). Hoe kon dit gebeur het? Paulus het die rede gegee: hulle het hulle harte verhard. Maar hoe raak harte verhard wat vatbaar en ontvanklik vir God se Woord is? En wat moet ons doen om dit te voorkom?

15. (a) Hoe is ‘God se stem’ in die verlede gehoor en hoe word dit vandag gehoor? (b) Watter vrae moet ons ons aangaande ‘God se stem’ afvra?

15 Paulus het sy waarskuwing begin met die voorwaardelike gedagte “as julle na sy stem luister”. God het deur Moses en ander profete met sy volk gepraat. Daarna het Jehovah deur middel van sy Seun, Jesus Christus, met hulle gepraat (Hebreërs 1:1, 2). Vandag het ons God se volledige geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel. Ons het ook “die getroue en verstandige slaaf”, wat deur Jesus aangestel is om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien (Matteus 24:45-47). God praat dus nog steeds met ons. Maar luister ons? Hoe reageer ons byvoorbeeld op raad oor kleredrag en persoonsversorging of ons keuse van vermaak en musiek? “Luister” ons, dit wil sê, skenk ons aandag aan en is ons gehoorsaam aan dit wat gehoor word? As ons die gewoonte het om verskonings te maak of teen die raad beswaar te maak, stel ons ons aan die subtiele gevaar bloot om ons harte te verhard.

16. Wat is een manier waarop ons hart verhard kan word?

16 Ons hart kan ook verhard word as ons nie doen wat ons kan en moet doen nie (Jakobus 4:17). Ten spyte van alles wat Jehovah vir die Israeliete gedoen het, het hulle nie geloof beoefen nie, teen Moses in opstand gekom, gekies om ’n slegte berig oor Kanaän te glo en geweier om die Beloofde Land binne te gaan (Numeri 14:1-4). Jehovah het gevolglik beveel dat hulle 40 jaar in die wildernis deurbring—lank genoeg sodat die trouelose lede van daardie geslag sou uitsterf. Omdat God ’n afkeer van hulle gekry het, het hy gesê: “‘Hulle dwaal altyd in hulle harte af, en hulle het my weë nie leer ken nie.’ Ek het dus in my toorn gesweer: ‘Hulle sal in my rus nie ingaan nie’” (Hebreërs 3:9-11). Sien ons ’n les hierin vir ons?

’n Les vir ons

17. Waarom het die Israeliete ’n gebrek aan geloof gehad, al het hulle Jehovah se magtige dade gesien en sy verklarings gehoor?

17 Die geslag Israeliete wat uit Egipte gekom het, het die magtige dade van Jehovah met hulle eie oë gesien en sy verklarings met hulle eie ore gehoor. Hulle het nogtans geen geloof gehad dat God hulle veilig tot in die Beloofde Land kon lei nie. Waarom nie? “Hulle het my weë nie leer ken nie”, het Jehovah gesê. Hulle het geweet wat Jehovah gesê en gedoen het, maar hulle het nie vertroue opgebou in sy vermoë om vir hulle te sorg nie. Hulle was so behep met wat húlle nodig gehad het en met wat húlle wou hê dat hulle nie veel aandag geskenk het aan God se weë en voorneme nie. Ja, hulle het ’n gebrek aan geloof in sy belofte gehad.

18. Watter handelswyse sal volgens Paulus tot “’n goddelose, ongelowige hart” lei?

18 Hierdie verdere woorde aan die Hebreërs geld ook vir ons: “Pas op, broers, uit vrees dat daar ooit in enigeen van julle ’n goddelose, ongelowige hart sal ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek” (Hebreërs 3:12). Paulus het tot die kern van die saak deurgedring deur daarop te wys dat ’n mens “’n goddelose, ongelowige hart” ontwikkel deur ‘van die lewende God terug te trek’. Vroeër in hierdie brief het hy gesê dat ons weens nalatigheid kan “wegdryf” (Hebreërs 2:1). Maar die Griekse woord wat as “terugtrek” vertaal word, beteken “om weg te staan” en is verwant aan die woord “apostasie”, oftewel dan geloofsversaking. Die woord dui op ’n opsetlike en doelbewuste weerstand, onttrekking asook afwyking, en dit sluit ook die gedagte van veragting in.

19. Hoe kan dit ernstige gevolge hê as ons nie na raad luister nie? Lig dit toe.

19 Die les is dus dat ons hart weldra gevoelloos, verhard, sal word as ons in die gewoonte verval om nie ‘na sy stem te luister’ nie deur raad te ignoreer wat Jehovah deur sy Woord en die ‘getroue slaaf’-klas gee. ’n Ongetroude paartjie kan byvoorbeeld ’n bietjie te intiem raak. Sê nou hulle ignoreer eenvoudig die saak? Sal dit hulle beskerm sodat hulle dit nie weer doen nie, of sal dit dan net makliker vir hulle wees om dit weer te doen? Wanneer die slaafklas ons eweneens raad gee wat toon hoe belangrik dit is om selektief te wees in ons keuse van musiek en vermaak, ensovoorts, neem ons dit met dankbaarheid aan en maak ons die nodige aanpassings? Paulus het ons aangespoor om ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’ (Hebreërs 10:24, 25). Ondanks hierdie raad het party ’n traak-my-nieagtige beskouing van Christelike vergaderinge. Hulle meen dalk dat dit ’n kleinigheid is om van sommige vergaderinge weg te bly of sekeres selfs nooit by te woon nie.

20. Waarom is dit noodsaaklik dat ons positief op skriftuurlike raad reageer?

20 As ons nie positief op Jehovah se “stem” reageer wat duidelik in die Skrif en Bybelpublikasies gehoor word nie, sal ons kort voor lank “van die lewende God terugtrek”. Passiewe verontagsaming van raad kan maklik in aktiewe verkleinering, kritisering en weerstand verander. As daar nie iets aan gedoen word nie, is die gevolg “’n goddelose, ongelowige hart”, en dit is gewoonlik baie moeilik om so ’n situasie reg te stel. (Vergelyk Efesiërs 4:19.) Jeremia het gepas geskryf: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Paulus het sy Hebreeuse medegelowiges derhalwe aangespoor: “Hou aan om mekaar elke dag te vermaan, solank dit ‘Vandag’ genoem kan word, uit vrees dat enigeen van julle deur die bedrieglike krag van die sonde verhard sal word.”—Hebreërs. 3:13.

21. Wat word ons almal aangespoor om te doen, en watter vooruitsigte het ons?

21 Hoe bly is ons tog dat Jehovah nog steeds vandag deur sy Woord en sy organisasie met ons praat! Ons is dankbaar dat “die getroue en verstandige slaaf” voortgaan om ons te help om “tot die einde toe stewig [vas te hou] aan die vertroue wat ons aan die begin gehad het” (Hebreërs 3:14). Dit is nou die tyd vir ons om op God se liefde en leiding te reageer. Terwyl ons dit doen, kan ons nog een van Jehovah se wonderlike beloftes geniet—naamlik om ‘in sy rus in te gaan’ (Hebreërs 4:3, 10). Dit is die volgende onderwerp wat Paulus met die Hebreeuse Christene bespreek, en dit is ook wat ons in die volgende artikel sal ondersoek.

[Voetnote]

a Josefus het berig dat Ananus (Ananias) van die sekte van die Sadduseërs kort ná Festus se dood hoëpriester geword het. Hy het Jakobus, Jesus se halfbroer, en ander dissipels voor die Sanhedrin gebring en hulle ter dood laat veroordeel en laat stenig.

b Paulus het klaarblyklik aangehaal uit die Griekse Septuagint, wat die Hebreeus vir “Meriba” en “Massa” onderskeidelik as “rusie” en “beproewing” vertaal. Sien bladsye 350 en 379 in Deel 2 van Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Kan jy verduidelik?

◻ Waarom het Paulus sulke streng raad aan Hebreeuse Christene geskryf?

◻ Hoe het Paulus Hebreeuse Christene gehelp om te verstaan dat hulle iets beters as lewe onder Judaïsme gehad het?

◻ Hoe raak ’n mens se hart verhard?

◻ Wat moet ons doen om te voorkom dat ons “’n goddelose, ongelowige hart” ontwikkel?

[Prent op bladsy 10]

Beoefen jy geloof in Jesus, die Grotere Moses?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel