Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 8/1 bl. 3-4
  • Is ongeregtigheid onvermydelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is ongeregtigheid onvermydelik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wreedheid van ongeregtigheid
  • Maak ongeregtigheid werklik soveel saak?
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Jy kan onreg verwerk!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Sal God ooit iets omtrent ongeregtigheid doen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 8/1 bl. 3-4

Is ongeregtigheid onvermydelik?

“Ten spyte van alles glo ek nog steeds dat mense in hulle binneste eintlik goed is. Ek kan eenvoudig nie my hoop op ’n grondslag van verwarring, ellende en die dood bou nie.”—Anne Frank.

ANNE FRANK, ’n jong Joodse meisie van 15, het daardie roerende woorde kort voor haar dood in haar dagboek geskryf. Haar gesin is meer as twee jaar in ’n solderkamer in Amsterdam versteek. Haar hoop op ’n beter wêreld is verpletter toe ’n informant hulle skuilplek aan die Nazi’s bekend gemaak het. Die volgende jaar, 1945, het Anne in die Bergen-Belsenkonsentrasiekamp aan tifus gesterf. Sesmiljoen ander Jode het ’n soortelyke lot gehad.

Hitler se duiwelse plan om ’n hele volk uit te roei, is moontlik die ergste geval van rasseongeregtigheid wat in ons eeu plaasgevind het, maar dit is nie die enigste geval nie. In 1994 is meer as ’n halfmiljoen Tutsi’s in Rwanda uitgemoor, bloot omdat hulle aan die “verkeerde” stam behoort het. En gedurende die Eerste Wêreldoorlog is ongeveer ’n miljoen Armeniërs in ’n etniese suiwering dood.

Die wreedheid van ongeregtigheid

Volksmoord is nie die enigste aspek van ongeregtigheid nie. Maatskaplike ongeregtigheid dompel omtrent ’n vyfde van die mensdom in ’n lewe van nypende armoede. Nog erger, die menseregtegroep Anti-Slawerny Internasionaal bereken dat meer as 200 000 000 mense in slawerny is. Daar is vandag heel moontlik meer slawe in die wêreld as gedurende enige ander tyd in die geskiedenis. Hulle word dalk nie op openbare veilings verkoop nie, maar hulle werksomstandighede is dikwels erger as dié van die meeste slawe in vorige tye.

Geregtelike ongeregtigheid beroof miljoene van hulle basiese regte. “Feitlik elke dag word menseregte iewers in die wêreld geskend”, sê Amnestie Internasionaal in sy verslag vir 1996. “Die armes en minderbevoorregtes, veral vroue, kinders, bejaardes en vlugtelinge, is die kwesbaarste.” Die verslag het gesê: “In party lande het die strukture van die staat feitlik in duie gestort, sodat geen wetlike gesag agtergelaat is om die swakkes teen die sterkes te beskerm nie.”

Gedurende 1996 is tienduisende in meer as honderd lande aangehou en gemartel. En in die laaste jare het honderdduisende mense eenvoudig verdwyn, blykbaar ontvoer deur óf die veiligheidsmagte óf deur terroristegroepe. Baie van hulle is vermoedelik dood.

Oorloë is natuurlik uiteraard onregverdig, maar hulle word al hoe erger. Moderne oorlogvoering het as teiken burgerbevolkings, waaronder vroue en kinders. En dit is nie net as gevolg van die blindelingse bombardering van stede nie. Vroue en meisies word gereeld tydens oorloë verkrag, en baie rebellegroepe ontvoer kinders om hulle as moordenaars op te lei. Die Verenigde Nasies se verslag “Die uitwerking van gewapende konflik op kinders” lewer kommentaar oor sulke neigings en sê: “Die wêreld sak al hoe dieper in ’n moeras van volslae sedeloosheid.”

Dit ly geen twyfel nie dat hierdie sedeloosheid tot ’n wêreld gelei het waarin ongeregtigheid heers—hetsy dit rasse-, maatskaplike, geregtelike of militêre ongeregtigheid is. Dit is natuurlik niks nuuts nie. Meer as tweeduisendvyfhonderd jaar gelede het ’n Hebreeuse profeet gekla: “Die wet is swak en nutteloos, en geregtigheid geskied nooit. Bose mense kry die oorhand oor die regverdiges, en so word geregtigheid verdraai” (Habakuk 1:4, Today’s English Version). Hoewel ongeregtigheid nog altyd iets algemeens was, moet die 20ste eeu uitstaan as die eeu toe die vlak van ongeregtigheid nuwe hoogtes bereik het.

Maak ongeregtigheid werklik soveel saak?

Dit maak saak wanneer jy persoonlik as gevolg van ongeregtigheid ly. Dit maak saak omdat dit die grootste deel van die mensdom van hulle reg op geluk beroof. En dit maak ook saak omdat ongeregtigheid dikwels bloedige konflikte laat opvlam, wat weer die vlamme van ongeregtigheid voed.

Vrede en geluk is onlosmaaklik verbonde aan geregtigheid, maar ongeregtigheid verydel hoop en verpletter optimisme. Soos Anne Frank op tragiese wyse ontdek het, kan mense nie hulle hoop bou op ’n grondslag van verwarring, ellende en die dood nie. Ons almal smag, soos sy, na iets beters.

Hierdie begeerte het daartoe gelei dat opregte mense probeer het om ’n mate van geregtigheid in die mensegemeenskap tot stand te bring. Met daardie doel sê die Universele Verklaring van Menseregte, wat in 1948 deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aanvaar is: “Alle mense word vry gebore en het gelyke waardigheid en regte. Hulle het verstand en ’n gewete en moet in ’n gees van broederskap teenoor mekaar optree.”

Dit is beslis edele woorde, maar daardie gekoesterde doelwit—’n regverdige gemeenskap waarin almal gelyke regte geniet en elkeen sy medemens soos sy broer behandel—is nog ver buite die bereik van die mensdom. Die verwesenliking van hierdie doel, soos die inleiding van die VN-Verklaring beklemtoon, sou as “die grondslag van vryheid, geregtigheid en vrede in die wêreld” dien.

Is ongeregtigheid so diep in die mensegemeenskap ingewortel dat dit nooit uitgeroei sal word nie? Of sal ’n stewige grondslag vir vryheid, geregtigheid en vrede op die een of ander manier gelê word? Indien wel, wie kan dit teweegbring en seker maak dat almal daarby baat sal vind?

[Foto-erkenning op bladsy 3]

UPI/Corbis-Bettmann

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel