Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 8/1 bl. 4-6
  • Uiteindelik—geregtigheid vir almal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uiteindelik—geregtigheid vir almal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Betroubare belofte
  • Ongeregtigheid kan oorkom word
  • Saai die saad van regverdigheid
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Jehovah—die bron van ware geregtigheid en regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Al sy weë is geregtigheid”
    Kom nader aan Jehovah
  • Volg Jehovah na—Beoefen geregtigheid en regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 8/1 bl. 4-6

Uiteindelik—geregtigheid vir almal

“Ons sal daarna streef om op nuwe maniere te luister . . . na die verontregte stemme, die besorgde stemme, die stemme wat moed opgegee het dat hulle ooit gehoor sal word. . . . Wat oorbly, is om lewe te gee aan wat in die wet is: om uiteindelik seker te maak dat, net soos almal gelyk in waardigheid voor God gebore word, almal gelyk in waardigheid voor mense gebore word.”—Amerikaanse president Richard Milhous Nixon, intreerede, 20 Januarie 1969.

WANNEER konings, presidente en eerste ministers aan die bewind kom, praat hulle gewoonlik oor geregtigheid. Richard Nixon, voormalige president van die Verenigde State, was geen uitsondering nie. Maar sy mooi woorde verloor hulle bekoring wanneer hulle in die lig van die harde feite van die geskiedenis beskou word. Hoewel Nixon plegtig belowe het ‘om lewe aan die wet te gee’, is hy later skuldig bevind aan wetsverbreking en is hy gedwing om van sy amp afstand te doen. Drie dekades later roep ‘verontregte, besorgde en moedelose stemme’ nog steeds uit om gehoor te word.

Dit is nie maklik om na sulke stemme te luister en iets omtrent hulle griewe te doen nie, soos tallose welmenende leiers ontdek het. ‘Geregtigheid vir almal’ is ’n ontwykende doel. Nietemin is daar baie eeue gelede ’n belofte gemaak wat ons aandag verdien—’n unieke belofte aangaande geregtigheid.

Deur sy profeet Jesaja het God sy volk verseker dat hy vir hulle ’n “kneg” sou stuur wat hy self sou kies. “Ek het my Gees op Hom gelê”, het Jehovah vir hulle gesê. “Hy sal die reg na die nasies uitbring” (Jesaja 42:1-3). Geen menseheerser sou dit waag om so ’n omvattende aankondiging, een wat blywende geregtigheid vir elke nasie sal beteken, te doen nie. Kan ons ons vertroue op hierdie belofte stel? Kan so ’n uitsonderlike doelwit ooit behaal word?

’n Betroubare belofte

’n Belofte is net so betroubaar soos die persoon wat dit maak. In hierdie geval is dit niemand anders nie as die almagtige God wat verklaar dat sy “kneg” geregtigheid oor die hele wêreld tot stand gaan bring. Anders as politici maak Jehovah nie ligweg beloftes nie. ‘Dit is onmoontlik vir hom om te lieg’, verseker die Bybel ons (Hebreërs 6:18). “Soos ek my voorgeneem het, so sal dit wees”, verklaar God nadruklik.—Jesaja 14:24, NAV.

Ons vertroue in daardie belofte word ook versterk deur wat God se gekose “kneg”, Jesus Christus, in die verlede gedoen het. Hy wat geregtigheid tot stand moet bring, moet geregtigheid liefhê en ’n regverdige lewe lei. Jesus het ’n vlekkelose lewe gelei as ’n man wat ‘regverdigheid liefgehad en wetteloosheid gehaat het’ (Hebreërs 1:9). Wat hy gesê het, hoe hy gelewe het, en selfs hoe hy gesterf het, het alles bewys dat hy waarlik ’n regverdige man was. By Jesus se dood is ’n Romeinse leëroffisier, wat blykbaar ’n ooggetuie van Jesus se verhoor en teregstelling was, beweeg om te sê: “Waarlik, hierdie man was regverdig.”—Lukas 23:47.

Afgesien van die feit dat Jesus self ’n regverdige lewe gelei het, het hy die ongeregtighede teëgestaan wat so algemeen in sy dag was. Hy het dit nie deur ondermyning of opstand gedoen nie, maar deur almal wat geluister het ware geregtigheid te leer. Sy Bergpredikasie is ’n meesterlike verduideliking van hoe ware geregtigheid en regverdigheid beoefen moet word.—Matteus, hoofstukke 5-7.

Jesus se woorde en dade het ooreengestem. Hy het nie ongelukkige melaatses, die “onaanraakbares” van die Joodse gemeenskap, verag nie. Hy het eerder met hulle gepraat, hulle aangeraak en hulle selfs genees (Markus 1:40-42). Al die mense wat hy ontmoet het, selfs die armes en die verdruktes, was vir hom belangrik (Matteus 9:36). “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik”, het hy vir hulle gesê.—Matteus 11:28.

Jesus het bowenal nie toegelaat dat die ongeregtighede om hom hom verdorwe of verbitterd maak nie. Hy het nooit kwaad met kwaad vergeld nie (1 Petrus 2:22, 23). Selfs toe hy intense pyn verduur het, het hy tot sy hemelse Vader gebid ten behoewe van die einste soldate wat hom aan die paal gehang het. “Vader, vergewe hulle”, het hy gepleit, “want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Jesus het beslis ‘aan die nasies duidelik gemaak wat geregtigheid is’ (Matteus 12:18). Watter groter bewys het ons van God se begeerte om ’n regverdige wêreld tot stand te bring as die lewende voorbeeld van sy eie Seun?

Ongeregtigheid kan oorkom word

Daar is ook in vandag se wêreld lewende bewys dat ongeregtigheid oorkom kan word. As individue, sowel as ’n organisasie, streef Jehovah se Getuies daarna om vooroordeel, partydigheid, rassisme en geweld te oorwin. Beskou die volgende voorbeeld.

Pedroa het geglo dat ondermynende optrede die enigste manier is om geregtigheid tot stand te bring in die Baskiese provinsies, die streek van Spanje waar hy gewoon het. Met hierdie doel voor oë het hy ’n lid van ’n terroristeorganisasie geword wat hom paramilitêre opleiding in Frankryk gegee het. Toe sy opleiding voltooi is, is hy beveel om ’n terroriste-eenheid te vorm en ’n polisiebarak op te blaas. Sy span was alreeds besig om die plofstof gereed te kry toe die polisie hom in hegtenis neem. Hy het 18 maande in die gevangenis deurgebring, maar selfs agter tralies het hy sy politieke bedrywighede voortgesit deur aan eetstakings deel te neem, en by een geleentheid het hy selfs sy polse gesny.

Pedro het geglo dat hy vir geregtigheid veg. Toe het hy Jehovah en sy voornemens leer ken. Terwyl Pedro in die gevangenis was, het sy vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en toe hy vrygelaat is, het sy hom genooi om een van hulle vergaderinge by te woon. Hy het dit soveel geniet dat hy ’n Bybelstudie gevra het, ’n studie wat daartoe gelei het dat hy groot veranderinge in sy lewensbeskouing en lewenswyse aangebring het. Uiteindelik, in 1989, is Pedro en sy vrou gedoop.

“Ek dank Jehovah dat ek gedurende my jare as ’n terroris niemand doodgemaak het nie”, sê Pedro. “Nou gebruik ek die swaard van God se gees, die Bybel, om ’n boodskap van ware vrede en geregtigheid—die goeie nuus van God se Koninkryk—aan mense oor te dra.” Nie lank gelede nie het Pedro, wat nou ’n ouer man van Jehovah se Getuies is, dieselfde barak besoek wat hy van plan was om te vernietig. Hierdie keer het hy gegaan met die doel om ’n boodskap van vrede te verkondig aan die gesinne wat daar woon.

Jehovah se Getuies bring hierdie veranderinge aan omdat hulle na ’n regverdige wêreld smag (2 Petrus 3:13). Hoewel hulle vaste vertroue stel in God se belofte om dit teweeg te bring, besef hulle dat dit ook hulle verantwoordelikheid is om in ooreenstemming met geregtigheid te lewe. Die Bybel maak dit baie duidelik dat God van ons verwag om ons deel te doen.

Saai die saad van regverdigheid

Wanneer ons met ongeregtigheid te kampe het, voel ons dalk geneig om uit te roep: “Waar is die God van geregtigheid?” Dit was die uitroep van die Jode van Maleagi se dag (Maleagi 2:17, NW). Het God hulle klagte ernstig opgeneem? Dit het hom “vermoei” omdat hulle onder andere ontrou was aan hulle vrouens wat oud geword het en dat hulle onder die flouste voorwendsels van hulle vrouens geskei het. Jehovah het sy besorgdheid uitgespreek oor ‘die vrouens van hulle jeug aan wie hulle ontrou geword het, terwyl hulle tog hulle metgesel was en die vrouens van hulle verbond’.—Maleagi 2:14.

Kan ons met reg oor ongeregtigheid kla as ons self onregverdig optree? As ons daarenteen probeer om Jesus na te volg deur vooroordeel en rassisme uit ons hart uit te wis, deur onpartydig en liefdevol teenoor almal te wees en deur nie kwaad met kwaad te vergeld nie, toon ons dat ons waarlik geregtigheid liefhet.

As ons regverdigheid wil maai, spoor die Bybel ons aan om ‘geregtigheid te saai’ (Hosea 10:12). Elke persoonlike oorwinning oor ongeregtigheid is belangrik, ongeag hoe klein dit dalk lyk. Dit is soos Martin Luther King jr. in sy Letter From Birmingham Jail geskryf het: “Enige ongeregtigheid is ’n bedreiging vir alle geregtigheid.” Diegene wat ‘geregtigheid soek’ is die mense wat God kies om sy regverdige nuwe wêreld wat binnekort gaan kom te beërf.—Sefanja 2:3.

Ons kan nie ons hoop op geregtigheid bou op die onbetroubare grondslag van mensebeloftes nie, maar ons kan die woord van ons liefdevolle Skepper vertrou. Dit is waarom Jesus vir sy volgelinge gesê het om aan te hou bid dat God se Koninkryk moet kom (Matteus 6:9, 10). Jesus, die aangewese Koning van daardie Koninkryk, “sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.”—Psalm 72:12, 13.

Dit is duidelik dat ongeregtigheid nie iets is wat altyd hier gaan wees nie. Christus se heerskappy oor die hele aarde sal ongeregtigheid vir ewig oorwin, soos God ons deur sy profeet Jeremia verseker: “Die tyd kom wanneer ek die belofte gaan nakom wat ek gemaak het . . . Dan sal ek ’n regverdige nakomeling van Dawid as koning kies. Daardie koning sal doen wat reg en geregtigheid in die hele land laat geskied.”—Jeremia 33:14, 15, Today’s English Version.

[Voetnoot]

a Die naam is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel