Jerusalem—is dit ‘bo jou hoogste vreugde verhef’?
“Laat my tong kleef aan my verhemelte . . . as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.”—PSALM 137:6.
1. Wat was die gesindheid van baie Joodse ballinge teenoor God se uitverkore stad?
BYNA sewe dekades het verloop sedert die eerste Joodse ballinge in 537 v.G.J. na Jerusalem teruggekeer het. God se tempel is herbou, maar die stad was nog in puin. Intussen het ’n nuwe geslag in ballingskap grootgeword. Baie van hulle het ongetwyfeld soos die psalmis gevoel wat gesing het: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!” (Psalm 137:5). Party het meer gedoen as om Jerusalem net te onthou; hulle het deur hulle dade getoon dat dit ‘bo hulle hoogste vreugde’ verhef was.—Psalm 137:6.
2. Wie was Esra, en hoe is hy geseën?
2 Neem byvoorbeeld die priester Esra. Selfs voordat hy na sy tuisland teruggekeer het, het hy ywerig gewerk om rein aanbidding in Jerusalem te bevorder (Esra 7:6, 10). Esra is ryklik daarvoor geseën. Jehovah God het die hart van die Persiese koning beweeg om aan Esra die voorreg te gee om ’n tweede groep terugkerende ballinge na Jerusalem te lei. Daarbenewens het die koning hulle ’n groot bydrae in goud en silwer gegee ‘om die huis van die HERE te versier’.—Esra 7:21-27.
3. Hoe het Nehemia getoon dat Jerusalem vir hom van die grootste belang was?
3 Ongeveer 12 jaar later was daar nog ’n Jood wat daadwerklik opgetree het—naamlik Nehemia. Hy het in die Persiese paleis in Susan gedien. Hy het ’n vername posisie as koning Artasasta se skinker gehad, maar dit was nie Nehemia se “hoogste vreugde” nie. Dit was eerder sy verlange om Jerusalem te gaan herbou. Nehemia het maande lank hieroor gebid, en Jehovah God het hom daarvoor geseën. Toe die Persiese koning uitvind wat Nehemia kwel, het hy ’n leërmag tot sy beskikking gestel en hom magtigingsbriewe gegee om Jerusalem te herbou.—Nehemia 1:1–2:9.
4. Hoe kan ons toon dat die aanbidding van Jehovah verhef is bo enige ander vreugde wat ons moontlik het?
4 Esra, Nehemia en baie Jode wat met hulle saamgewerk het, het ongetwyfeld getoon dat Jehovah se aanbidding, met sy setel in Jerusalem, belangriker as enigiets anders was—dat dit ‘bo hulle hoogste vreugde verhef was’, met ander woorde bo enigiets anders waaroor hulle hulle dalk kon verheug. Wat ’n aanmoediging is sulke persone tog vir almal wat Jehovah, sy aanbidding en sy geesgerigte organisasie vandag op dieselfde manier beskou! Is dit waar van jou? Toon jy deur jou volharding in godvrugtige werke dat jou hoogste vreugde die voorreg is om Jehovah saam met sy toegewyde volk te aanbid? (2 Petrus 3:11). Kom ons ondersoek die goeie resultate wat Esra se reis na Jerusalem gelewer het om ons verder aan te moedig om dit te doen.
Seëninge en verantwoordelikhede
5. Watter ryk seëninge het die inwoners van Juda in die dae van Esra ontvang?
5 Die groep van sowat 6000 ballinge wat saam met Esra teruggekeer het, het bydraes van goud en silwer vir Jehovah se tempel gebring. Teen die huidige koers was dit ongeveer 177 miljoen rand werd. Dit was nagenoeg sewe keer soveel goud en silwer as wat die eerste ballinge kon terugbring. Hoe dankbaar moes die inwoners van Jerusalem en Juda tog teenoor Jehovah gewees het om al hierdie steun in die vorm van mense en materiële gawes te ontvang! Maar ryk seëninge van God bring ook verantwoordelikheid mee.—Lukas 12:48.
6. Wat het Esra in sy tuisland ontdek, en hoe het hy daarop gereageer?
6 Esra het gou ontdek dat baie Jode, selfs party priesters en oudstes, God se Wet gebreek het deur met heidense vrouens te trou (Deuteronomium 7:3, 4). Hy was tereg baie ontsteld oor hierdie skending van God se Wetsverbond. “Toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur . . . en verslae neergesit” (Esra 9:3). Esra het toe, in die teenwoordigheid van die angstige Israeliete, sy hart in gebed tot Jehovah uitgestort. Ten aanhore van almal het Esra ’n oorsig gegee van Israel se vroeëre ongehoorsaamheid en God se waarskuwing van wat sou gebeur as hulle met die heidense inwoners van die land trou. Hy het ten slotte gesê: “HERE, God van Israel, U is regverdig; want ons het as vrygeraaktes oorgebly soos dit vandag is. Hier is ons in ons skuld voor u aangesig, want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie.”—Esra 9:14, 15.
7. (a) Watter goeie voorbeeld het Esra gestel in die manier waarop hy oortreding hanteer het? (b) Hoe het skuldiges in Esra se dag gereageer?
7 Esra het die woord “ons” gebruik. Ja, hy het homself ingesluit, al was hy nie self skuldig nie. Esra se diepe ontsteltenis tesame met sy nederige gebed het die hart van die volk geraak en hulle beweeg om werke te doen wat by berou pas. Hulle het ’n pynlike oplossing voorgestel—almal wat God se Wet geskend het, moes die vreemde vroue sowel as die kinders wat vir hulle gebore is na hulle tuislande terugstuur. Esra het tot hierdie maatreël ingestem en het die skuldiges aangespoor om hulle daaraan te onderwerp. Met die gesag wat Esra van die Persiese koning ontvang het, het hy die reg gehad om alle wetsoortreders tereg te stel of hulle uit Jerusalem en Juda te ban (Esra 7:12, 26). Maar dit lyk nie asof dit nodig was nie. “Die hele vergadering” het gesê: “Só, volgens u woorde, is ons verplig om te handel.” Daarbenewens het hulle bely: “Ons het in hierdie saak swaar oortree” (Esra 10:11-13). Esra hoofstuk 10 bevat ’n lys van name van 111 mans wat die besluit deurgevoer het deur hulle vreemde vrouens en die kinders wat vir hulle gebore is, weg te stuur.
8. Waarom was die drastiese optrede om vreemde vrouens weg te stuur in die belang van die hele mensdom?
8 Hierdie optrede was nie net in die belang van Israel nie, maar ook van die hele mensdom. As niks gedoen is om die saak reg te stel nie, kon die Israeliete in die nasies rondom hulle opgeneem geword het. As dit gebeur het, sou die geslagslyn na die Beloofde Saad waardeur die hele mensdom geseën sou word, nie suiwer gewees het nie (Genesis 3:15; 22:18). Dit sou moeilik gewees het om die identiteit van die Beloofde Saad as ’n nakomeling van koning Dawid van die stam van Juda te bepaal. Ongeveer 12 jaar later het hierdie belangrike saak weer aandag geniet toe “die afstammelinge van Israel . . . hulle afgesonder het van al die uitlanders”.—Nehemia 9:1, 2; 10:29, 30.
9. Watter goeie raad gee die Bybel aan Christene wat met ’n ongelowige getroud is?
9 Wat kan Jehovah se hedendaagse knegte uit hierdie verslag leer? Wel, Christene is nie onder die Wetsverbond nie (2 Korintiërs 3:14). Hulle gehoorsaam eerder “die wet van die Christus” (Galasiërs 6:2). ’n Christen wat met ’n ongelowige getroud is, gee dus gehoor aan Paulus se raad: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:12). Daarbenewens is ’n Christen wat met ’n ongelowige getroud is skriftuurlik verplig om ’n sukses van hulle huwelik te probeer maak (1 Petrus 3:1, 2). Gehoorsaamheid aan hierdie goeie raad het al dikwels ’n seëning tot gevolg gehad deurdat die ongelowige huweliksmaat se gesindheid teenoor ware aanbidding verander het. Party het selfs getroue gedoopte Christene geword.—1 Korintiërs 7:16.
10. Watter les kan Christene leer by die 111 Israelitiese mans wat hulle vreemde vrouens weggestuur het?
10 Die geval van die Israeliete wat hulle vreemde vrouens weggestuur het, bevat nogtans ’n goeie les vir ongetroude Christene. Hulle moenie lede van die teenoorgestelde geslag wat ongelowiges is die hof begin maak nie. Dit kan moeilik, selfs pynlik, wees om so ’n verhouding te vermy, maar dit is die beste weg as ’n mens God se voortgesette seën wil geniet. Christene word beveel: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14). Enige ongetroude Christen wat graag wil trou, moet hom voorneem om met ’n opregte medegelowige te trou.—1 Korintiërs 7:39.
11. Hoe kan ons, soos die Israelitiese mans, met betrekking tot ons rede tot vreugde getoets word?
11 Christene het ook in baie ander opsigte aanpassings gemaak wanneer dit onder hulle aandag gebring is dat hulle op ’n onskriftuurlike weg afstuur (Galasiërs 6:1). Hierdie tydskrif identifiseer van tyd tot tyd onskriftuurlike gedrag wat iemand ongeskik sal maak om deel van God se organisasie te bly. In 1973 het Jehovah se volk byvoorbeeld ten volle begryp dat dwelmmisbruik en die gebruik van tabak ernstige sondes is. As ons ’n godvrugtige weg wil volg, moet ons “ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig” (2 Korintiërs 7:1). Heelparty het hierdie Bybelraad ter harte geneem; hulle was bereid om onttrekkingsimptome te verduur sodat hulle deel van God se rein volk kon bly. Duidelike skriftuurlike riglyne is ook al gegee in verband met seksuele sake, kleredrag, persoonsversorging en hoe om wyse keuses ten opsigte van werk, vermaak en musiek te maak. Mag ons, soos die 111 Israelitiese mans, gereed wees om ‘reggehelp te word’ ongeag watter skriftuurlike beginsels daar onder ons aandag gebring word (2 Korintiërs 13:11). Dit sal toon dat die voorreg om Jehovah saam met sy heilige volk te aanbid ‘bo ons hoogste vreugde verhef is’.
12. Wat het in 455 v.G.J. gebeur?
12 Nadat die Bybel ons van die voorval met die vreemde vrouens vertel, sê dit nie vir ons wat gedurende die volgende 12 jaar in Jerusalem gebeur het nie. Israel se bure het ongetwyfeld vyandiger geword weens die ontbinding van talle huwelike. In 455 v.G.J. het Nehemia onder militêre geleide in Jerusalem aangekom. Hy is as goewerneur van Juda aangestel en het briewe van die Persiese koning gebring wat hom gemagtig het om die stad te herbou.—Nehemia 2:9, 10; 5:14.
Teenstand van afgunstige bure
13. Watter gesindheid het die Jode se heidense bure aan die dag gelê, en hoe het Nehemia hierop gereageer?
13 Heidense bure het die doel van Nehemia se koms teëgestaan. Hulle leiers het hom gedreig deur te vra: “Wil julle teen die koning rebelleer?” Met geloof in Jehovah het Nehemia geantwoord: “Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie” (Nehemia 2:19, 20). Toe die herstelwerk aan die muur begin is, het dieselfde vyande gespot: ‘Wat maak die magtelose Jode? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak? As ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!’ Nehemia het nie op hierdie aanmerkings reageer nie, maar eerder gebid: “Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug” (Nehemia 4:2-4). Nehemia het hierdie goeie voorbeeld van vertroue op Jehovah gehandhaaf!—Nehemia 6:14; 13:14.
14, 15. (a) Hoe het Nehemia die bedreiging van vyandelike geweld die hoof gebied? (b) Wat het Jehovah se Getuies in staat gestel om ten spyte van kwaai teenstand hulle geestelike bouwerk voort te sit?
14 Jehovah se Getuies vertrou ook vandag op God sodat hulle hulle belangrike predikingswerk kan uitvoer. Teenstanders probeer hierdie werk verhinder deur hulle te spot. Soms gee persone wat in die Koninkryksboodskap belangstel op omdat hulle nie die spot kan verduur nie. As bespotting nie werk nie, raak teenstanders dalk kwaad en dreig hulle om geweld te gebruik. Dit is waarmee die bouers van Jerusalem se mure te doen gekry het. Maar Nehemia het hom nie laat intimideer nie. Hy het die bouers eerder teen vyandelike aanvalle gewapen en hulle geloof versterk deur te sê: “Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.”—Nehemia 4:13, 14.
15 Soos in die dae van Nehemia is Jehovah se Getuies goed toegerus om hulle geestelike bouwerk ten spyte van kwaai teenstand voort te sit. “Die getroue en verstandige slaaf” voorsien geloofversterkende geestelike voedsel, wat God se volk in staat stel om produktief te wees, selfs waar die werk verbied word (Matteus 24:45). As gevolg hiervan het Jehovah voortgegaan om sy volk regoor die aarde met vermeerdering te seën.—Jesaja 60:22.
Interne probleme
16. Watter interne probleme het die gees van die bouers van Jerusalem se muur bedreig?
16 Namate die herbouing van Jerusalem se muur gevorder het en die muur hoër geword het, het die werk al moeiliker geraak. Dit is toe dat daar ’n probleem kop uitgesteek het wat die gees van die sukkelende bouers bedreig het. Weens voedseltekorte het party Jode dit moeilik gevind om hulle gesinne te voed en hulle belasting aan die Persiese regering te betaal. Welgestelder Jode het voedsel en geld aan hulle geleen. Maar die armer Israeliete moes, in stryd met God se wet, hulle grond en kinders verpand as waarborg dat hulle die geld met rente sou terugbetaal (Exodus 22:25; Levitikus 25:35-37; Nehemia 4:6, 10; 5:1-5). Die skuldeisers het nou gedreig om hulle grond te neem en hulle te dwing om hulle kinders as slawe te verkoop. Nehemia was woedend oor hierdie liefdelose, materialistiese gesindheid. Hy het gou opgetree om Jehovah se voortgesette seën op die herbouingswerk van Jerusalem se muur te verseker.
17. Wat het Nehemia gedoen om Jehovah se voortgesette seën op die bouwerk te verseker, en met watter gevolg?
17 “’n Groot vergadering” is gereël, en Nehemia het duidelik vir die welgestelder Israeliete getoon dat hulle optrede Jehovah mishaag. Hy het toe ’n beroep gedoen op die skuldiges, wat sommige priesters ingesluit het, om al die rente terug te gee wat hulle geneem het sowel as die grond wat hulle wederregtelik geneem het van diegene wat dit nie kon bekostig om rente te betaal nie. Die skuldiges se antwoord is prysenswaardig: “Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het.” Dit was nie leë woorde nie, want die Bybel sê dat ‘die volk volgens Nehemia se woorde gehandel’ het. En die hele vergadering het Jehovah geprys.—Nehemia 5:7-13.
18. Vir watter gesindheid het Jehovah se Getuies bekend geword?
18 Wat van ons dag? Jehovah se Getuies buit nie ander uit nie, maar is eerder oral bekend vir hulle vrygewigheid teenoor medegelowiges en ander wat deur teenspoed getref is. Soos in Nehemia se dag het dit tot talle dankbetuigings van lof tot Jehovah gelei. Maar terselfdertyd het “die getroue en verstandige slaaf” dit nodig gevind om skriftuurlike raad te gee oor sakeaangeleenthede en oor hoe belangrik dit is om die hebsugtige uitbuiting van ander te vermy. In sommige lande is dit algemeen om ’n buitensporige bruidsprys te vra, maar die Bybel waarsku duidelik dat gierigaards en afpersers nie God se Koninkryk sal beërf nie (1 Korintiërs 6:9, 10). Die goeie reaksie van die meeste Christene op sulke raad herinner ons aan hoe daardie Jode besef het dat dit verkeerd is om hulle armer broers uit te buit.
Jerusalem se muur voltooi
19, 20. (a) Watter uitwerking het die voltooiing van Jerusalem se muur op godsdiensteenstanders gehad? (b) Watter oorwinning het Jehovah se Getuies in baie lande behaal?
19 Ondanks al die teenstand is Jerusalem se muur binne 52 dae voltooi. Watter uitwerking het dit op die teenstanders gehad? Nehemia het gesê: “Toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bevrees geword en neerslagtig gevoel, en hulle het erken dat hierdie werk deur onse God gedoen is.”—Nehemia 6:16.
20 Vyandelike teenstand teen God se werk duur vandag op verskeie maniere en plekke voort. Maar miljoene mense het al gesien hoe vergeefs dit is om Jehovah se Getuies teë te staan. Neem byvoorbeeld pogings wat in die verlede aangewend is om die predikingswerk in Nazi-Duitsland, Oos-Europa en baie Afrikalande te stuit. Al hierdie pogings het misluk, en baie mense erken nou dat ‘ons werk deur God gedoen word’. Wat ’n beloning is dit tog vir getroue ouer broers en susters wat Jehovah se aanbidding ‘bo hulle hoogste vreugde in sulke lande verhef’ het!
21. Watter belangrike gebeure sal in die volgende artikel bespreek word?
21 In die volgende artikel sal ons belangrike gebeure hersien wat tot die vreugdevolle inwyding van Jerusalem se herboude muur gelei het. Ons sal ook bespreek hoe die voltooiing van ’n baie luisterryker stad tot voordeel van die hele mensdom nader kom.
Onthou jy?
◻ Hoe het Esra en ander hulle oor Jerusalem verheug?
◻ Watter foute het Esra en Nehemia baie Jode help regstel?
◻ Watter lesse kan jy leer uit die verslae oor Esra en Nehemia?
[Prent op bladsy 15]
Vir Nehemia was Jerusalem, en nie sy vername werk in Susan nie, van die grootste belang
[Prente op bladsy 16, 17]
Soos Nehemia moet ons bid vir Jehovah se leiding en vir krag om in ons allerbelangrike predikingswerk voort te gaan