Hulle het Jehovah se wil gedoen
Vergifnis baan die weg tot redding
DIE tien seuns van Jakob wat voor die eerste minister van Egipte gestaan het, het ’n verskriklike geheim gedeel. Jare tevore het hulle hulle halfbroer Josef as ’n slaaf verkoop en beplan om vir hulle vader te sê dat hy deur ’n wilde dier doodgemaak is.—Genesis 37:18-35.
Nou, ongeveer 20 jaar later, het ’n kwaai hongersnood hierdie tien mans gedwing om na Egipte te kom om graan te koop. Maar sake het nie vlot verloop nie. Die eerste minister, wat ook die voedseladministrateur was, het hulle daarvan beskuldig dat hulle spioene is. Hy het een van hulle in die tronk gesit en geëis dat die res van hulle huis toe moet gaan en hulle jongste broer, Benjamin, moet terugbring. Toe hulle dit gedoen het, het die eerste minister ’n plan uitgevoer om Benjamin te laat arresteer.—Genesis 42:1–44:12.
Juda, een van Jakob se seuns, het beswaar gemaak. ‘As ons sonder Benjamin teruggaan huis toe’, het hy gesê, ‘sal ons vader sterf.’ Toe het iets gebeur wat nóg Juda nóg enigeen van sy medereisigers verwag het. Nadat die eerste minister almal behalwe die seuns van Jakob beveel het om die vertrek te verlaat, het hy hard gehuil. Toe hy weer tot verhaal gekom het, het hy gesê: “Ek is Josef.”—Genesis 44:18–45:3.
Begenadiging en verlossing
“Leef my vader nog?” het Josef sy halfbroers gevra. Daar was geen antwoord nie. Josef se halfbroers het in werklikheid nie geweet wat om te sê nie. Moes hulle in ekstase wees of moes hulle benoud wees? Hulle het per slot van rekening, toe hulle 20 jaar jonger was, hierdie man as ’n slaaf verkoop. Josef het die gesag gehad om hulle in die tronk te sit, hulle sonder kos huis toe te stuur of—nog erger—hulle tereg te stel! Dit was met goeie rede dat Josef se halfbroers “hom nie [kon] antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom”.—Genesis 45:3.
Josef het hierdie mans gou gerusgestel. “Kom tog nader na my”, het hy gesê. Hulle het nader gekom. Toe het hy gesê: “Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.”—Genesis 45:4, 5.
Josef se barmhartigheid is nie sonder grondslag aan hulle bewys nie. Hy het reeds bewyse van hulle berou gesien. Toe Josef byvoorbeeld sy halfbroers daarvan beskuldig het dat hulle spioene is, het hy gehoor hoe hulle onder mekaar sê: “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, . . . daarom kom hierdie benoudheid oor ons” (Genesis 42:21). Juda het ook aangebied om ’n slaaf in Benjamin se plek te word sodat die jong man na sy vader toe teruggeneem kon word.—Genesis 44:33, 34.
Josef kon gevolglik met goeie rede barmhartigheid aan hulle bewys. Trouens, hy het besef dat dit die verlossing van sy hele familie tot gevolg kon hê. Josef het derhalwe vir sy halfbroers gesê om na hulle vader, Jakob, terug te gaan en vir hom te sê: “So spreek u seun Josef: God het my ’n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. En ek sal u daar onderhou.”—Genesis 45:9-11.
Die Grotere Josef
Jesus Christus kan die Grotere Josef genoem word, want daar is treffende ooreenkomste tussen hierdie twee mans. Soos Josef, is Jesus deur sy broers, diegene wat ook afstammelinge van Abraham was, mishandel. (Vergelyk Handelinge 2:14, 29, 37.) En tog het albei mans ’n buitengewone ommekeer ondervind. Mettertyd is Josef se status as ’n slaaf verander na dié van eerste minister en was hy slegs ondergeskik aan Farao. Jehovah het Jesus eweneens uit die dood opgewek en hom tot ’n hoër posisie, “tot die regterhand van God”, verhef.—Handelinge 2:33; Filippense 2:9-11.
As eerste minister kon Josef voedsel aan almal gee wat na Egipte toe gekom het om graan te koop. Vandag het die Grotere Josef ’n “getroue en verstandige slaaf”-klas op aarde waardeur hy geestelike voedsel “op die regte tyd” gee (Matteus 24:45-47; Lukas 12:42-44). Diegene wat na Jesus kom, sal beslis “nie meer honger of dors wees nie, . . . want die Lam, wat in die middel van die troon is, sal as herder oor hulle optree en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei”.—Openbaring 7:16, 17.
’n Les vir ons
Josef is ’n voortreflike voorbeeld van barmhartigheid. Streng geregtigheid sou vereis het dat hy diegene straf wat hom as ’n slaaf verkoop het. Aan die ander kant kon sentiment hom beweeg het om hulle oortreding bloot oor die hoof te sien. Josef het nie een van die twee dinge gedoen nie. Hy het eerder sy halfbroers se berou getoets. Toe hy sien dat hulle werklik spyt was, het hy hulle vergewe.
Ons kan Josef navolg. Wanneer iemand wat teen ons gesondig het opregte berou toon, moet ons hom vergewe. Ons moet natuurlik nooit toelaat dat blote sentiment ons blind maak vir ernstige oortredinge nie. Aan die ander kant moet ons nie toelaat dat gegriefdheid ons blind maak vir dade wat getuig van opregte berou nie. Laat ons dus aanhou “om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kolossense 3:13). Sodoende sal ons ons ‘vergewensgesinde’ God, Jehovah, navolg.—Psalm 86:5; Miga 7:18, 19.