“Jehovah” of “Jahweh”?
“’N BASTERWOORD”, “hibride”, “iets gruweliks”. Waarom het geleerdes van Bybelse Hebreeus sulke kras woorde gebruik? Die twispunt is of God se naam in Engels “Jehovah” uitgespreek moet word. Hierdie geskil bestaan al meer as honderd jaar. Vandag verkies die meeste geleerdes blykbaar die tweesillabige “Jahweh”. Maar is die uitspraak “Jehovah” werklik so “gruwelik”?
Die oorsprong van die geskil
Volgens die Bybel het God self sy naam aan die mens geopenbaar (Exodus 3:15, NW). Skriftuurlike getuienis toon dat God se eertydse knegte hierdie naam vryelik gebruik het (Genesis 12:8 NW; Rut 2:4, NW). Ander nasies het ook God se naam geken (Josua 2:9, NW). Dit was veral waar nadat die Jode wat uit ballingskap in Babilon teruggekeer het met mense van baie nasies in aanraking gekom het (Psalm 96:2-10, NW; Jesaja 12:4, NW; Maleagi 1:11, NW). The Interpreter’s Dictionary of the Bible sê: “Daar is heelwat getuienis dat baie uitlanders in die tyd ná die ballingskap tot die godsdiens van die Jode aangetrokke was.” Maar teen die eerste eeu G.J. het ’n bygeloof in verband met God se naam ontstaan. Uiteindelik het die Joodse nasie nie net opgehou om God se naam openlik te gebruik nie, maar party het selfs gesê dat dit glad nie uitgespreek mag word nie. Die regte uitspraak het dus verlore gegaan—of het dit?
Wat steek daar in ’n naam?
In die Hebreeuse taal word God se naam יהוה geskryf. Hierdie vier letters, wat van regs na links gelees word, staan oor die algemeen bekend as die Tetragrammaton. Baie name van mense en plekke wat in die Bybel genoem word, bevat ’n verkorte vorm van die Goddelike naam. Is dit moontlik dat hierdie eiename ons ’n leidraad kan gee oor hoe God se naam uitgespreek was?
Volgens George Buchanan, emeritus professor by Wesley- Teologiese Kweekskool, Washington, DC, VSA, is die antwoord ja. Professor Buchanan verduidelik: “In die ou tyd het ouers hulle kinders dikwels na hulle gode vernoem. Dit beteken dat hulle hulle kinders se name uitgespreek het soos die god se naam uitgespreek is. Die Tetragrammaton is in mense se name gebruik, en hulle het altyd die middelste klinker gebruik.”
Kyk na ’n paar voorbeelde van eiename wat in die Bybel gevind word en ’n verkorte vorm van God se naam bevat. Jonatan, wat as Jo·na·thanʹ of Jeho·na·thanʹ in die Hebreeuse Bybel verskyn, beteken “Jaho of Jahowah het gegee”, sê professor Buchanan. Die profeet Elia se naam is ʼE·li·jahʹ of ʼE·li·jaʹhoe in Hebreeus. Volgens professor Buchanan beteken die naam: “My God is Jahoe of Jahoe-wah.” Net so is die Hebreeuse naam vir Josafat Jeho-sja·fatʹ, wat beteken “Jaho het geoordeel.”
’n Tweesillabige uitspraak van die Tetragrammaton as “Jahweh” sal dit nie moontlik maak dat die klinker o ’n deel van God se naam kan uitmaak nie. Maar in die tientalle Bybelse name wat die Goddelike naam bevat, verskyn hierdie middelste klinker in die oorspronklike sowel as in die verkorte vorm, soos in Jehonatan en Jonatan. Professor Buchanan sê dus aangaande die Goddelike naam: “Onder geen omstandighede word die klinker oe of o weggelaat nie. Die woord is soms afgekort as ‘Ja’, maar nooit as ‘Ja-weh’ nie. . . . Wanneer die Tetragrammaton as een sillabe uitgespreek is, was dit ‘Jah’ of ‘Jo’. Wanneer dit in drie sillabes uitgespreek is, sou dit ‘Jahowah’ of ‘Jahoewah’ gewees het. As dit ooit tot twee sillabes afgekort is, sou dit ‘Jaho’ gewees het.”—Biblical Archaeology Review.
Hierdie kommentare help ons om die stelling te verstaan wat die 19de-eeuse Hebreeuse geleerde Gesenius in sy Hebrew and Chaldee Lexicon to the Old Testament Scriptures gemaak het: “Diegene wat meen dat יְהוָֹה [Je-ho-wah] die oorspronklike uitspraak [van God se naam] was se mening is nie heeltemal ongegrond nie. Sodoende kan die afgekorte sillabes יְהוֹ [Je-ho] en יוֹ [Jo], waarmee baie eiename begin, bevredigender verduidelik word.”
In die inleiding tot sy onlangse vertaling van The Five Books of Moses sê Everett Fox nietemin: “Ou sowel as nuwe pogings om uit te vind wat die ‘regte’ uitspraak van die Hebreeuse naam [van God] was, was onsuksesvol; nie ‘Jehovah’ wat soms gehoor word of ‘Jahweh’ wat algemeen deur geleerdes gebruik word, kan met sekerheid bewys word nie.”
Die debat van die geleerdes sal ongetwyfeld voortduur. Die Jode het opgehou om die naam van die ware God uit te spreek voor die Masorete die vokalisasiestelsel ontwikkel het. Daar is dus geen spesifieke manier om te bewys watter klinkers saam met die medeklinkers JHWH (יהוה) gebruik is nie. Maar die name van Bybelkarakters—waarvan die uitspraak nooit verlore gegaan het nie—gee tasbare leidrade oor hoe God se naam in die ou tyd uitgespreek is. As gevolg hiervan stem party geleerdes saam dat die uitspraak “Jehovah” glad nie so “gruwelik” is nie.
[Prente op bladsy 31]
“Jehovah” is die algemeenste uitspraak van God se naam