Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 2/15 bl. 13-18
  • Christus se losprys—God se middel tot redding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christus se losprys—God se middel tot redding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sonde en die dood tot niet gemaak
  • Die prys van sonde word gedek
  • “’n Ooreenstemmende losprys”
  • Die waarde van ’n volmaakte menselewe
  • Hoe ons by Christus se losprys baat vind
  • Die losprys—’n blyk van liefde
  • Die losprys – God se grootste geskenk
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Die losprys—God se grootste geskenk
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Jehovah voorsien “’n losprys in ruil vir baie”
    Kom nader aan Jehovah
  • Wat beteken Jesus se dood vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 2/15 bl. 13-18

Christus se losprys—God se middel tot redding

“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—JOHANNES 3:16.

1, 2. Beskryf die netelige situasie waarin die mensdom beland het.

STEL jou voor dat jy ’n siekte het waaraan jy beslis sal sterf tensy jy geopereer word. Hoe sou jy voel as die operasie baie meer kos as wat jy kan bekostig? Sê nou al die geld wat jou familie en vriende kan bymekaarskraap, kan nie daarvoor betaal nie? Dit sou frustrerend wees om jou in so ’n lewensgevaarlike situasie te bevind!

2 Dit lig ’n situasie toe waarin die mensdom beland het. Ons eerste ouers, Adam en Eva, is volmaak geskep (Deuteronomium 32:4). Hulle het die vooruitsig gehad om vir ewig te lewe en God se voorneme te vervul: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). Adam en Eva het egter teen hulle Skepper in opstand gekom (Genesis 3:1-6). Adam en Eva se ongehoorsaamheid het nie net sonde oor hulleself gebring nie, maar ook oor hulle ongebore nakomelinge. Die getroue man Job het later gesê: “Ag, kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine—nie een nie!”—Job 14:4.

3. Hoe het die dood tot alle mense deurgedring?

3 Sonde is dus soos ’n siekte wat elkeen van ons besmet het, want die Bybel sê dat ‘almal gesondig het’. Hierdie toestand het noodlottige gevolge. Ja, “die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 3:23; 6:23). Nie een van ons kan dit vryspring nie. Alle mense sondig, en daarom sterf alle mense. As nakomelinge van Adam is ons in hierdie toestand gebore (Psalm 51:7). “Deur een mens”, het Paulus geskryf, het “die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en [het] die dood só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Maar dit beteken nie dat ons geen hoop op redding het nie.

Sonde en die dood tot niet gemaak

4. Waarom kan mense nie siekte en die dood op hulle eie tot niet maak nie?

4 Wat sou dit verg om sonde en die gevolg daarvan, die dood, tot niet te maak? Ongetwyfeld iets meer as wat enige mens kan voorsien. Die psalmis het gesê: “Die prys vir ’n menselewe is te groot. Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees om hom uit die graf te hou, om hom vir ewig te laat lewe nie” (Psalm 49:8, 9, Today’s English Version). Ons kan weliswaar deur ’n gesonde dieet en mediese sorg ons lewe met ’n paar jaar verleng, maar nie een van ons kan ’n einde maak aan ons oorgeërfde sondige toestand nie. Nie een van ons kan die aftakelende gevolge van veroudering ongedaan maak en ons liggaam tot die volmaakte toestand herstel wat God oorspronklik daarvoor in gedagte gehad het nie. Paulus het beslis nie oordryf toe hy geskryf het dat die menseskepping weens Adam se sonde “aan nietigheid onderwerp” is nie—of soos The Jerusalem Bible dit stel, “ongeskik gemaak is om sy doel te bereik” (Romeine 8:20). Maar gelukkig het die Skepper ons nie aan ons lot oorgelaat nie. Hy het voorsiening gemaak om sonde en die dood vir altyd te verwyder. Hoe?

5. Hoe het die Wet wat aan Israel gegee is hoë agting vir geregtigheid weerspieël?

5 Jehovah “het geregtigheid en reg lief” (Psalm 33:5). Die Wet wat hy aan Israel gegee het, weerspieël die hoë agting wat hy vir balans en onpartydige geregtigheid het. In hierdie stel wette lees ons byvoorbeeld dat ’n ‘lewe vir ’n lewe gegee moet word’. Met ander woorde, as ’n Israeliet iemand vermoor het, moes sý lewe geneem word in die plek van die lewe wat hy geneem het (Exodus 21:23; Numeri 35:21). Sodoende sou die skaal van Goddelike geregtigheid gebalanseer word.—Vergelyk Exodus 21:30.

6. (a) In watter sin kan Adam ’n moordenaar genoem word? (b) Watter soort lewe het Adam verloor, en watter soort offerande sou nodig wees om die skaal van geregtigheid te laat balanseer?

6 Toe Adam gesondig het, het hy ’n moordenaar geword. In watter sin? In die sin dat hy sy sondige toestand—en gevolglik die dood—aan al sy nakomelinge oorgedra het. Dit is as gevolg van Adam se ongehoorsaamheid dat ons liggame nou agteruitgaan en ons uiteindelik sterf (Psalm 90:10). Die sonde van Adam het selfs ’n ernstiger implikasie gehad. Ons moet onthou dat Adam nie ’n gewone lewe van ongeveer 70 of 80 jaar vir homself en sy nakomelinge verloor het nie. Hy het volmaakte lewe—ja, ewige lewe—verloor. Watter soort lewe moes derhalwe gegee word om aan die vereistes van geregtigheid in hierdie geval te voldoen as ’n ‘lewe vir ’n lewe gegee moet word’? Dit sou logieserwys ’n volmaakte menselewe moes wees—’n lewe wat, soos Adam s’n, die potensiaal gehad het om volmaakte mense voort te bring. As ’n volmaakte menselewe as ’n offerande gebring sou word, sou dit nie net die skaal van geregtigheid laat balanseer nie, maar ook die algehele verwydering van sonde en die gevolg daarvan, die dood, moontlik maak.

Die prys van sonde word gedek

7. Verduidelik die betekenis van die woord “losprys”.

7 Die prys wat betaal moes word om ons van sonde los te koop, word in die Bybel ’n “losprys” genoem (Psalm 49:8). In Afrikaans kan hierdie woord verwys na die geld wat ’n ontvoerder eis in ruil vir iemand wat hy ontvoer het. Die losprys wat Jehovah voorsien het, hou natuurlik geensins met ’n ontvoering verband nie. Die gedagte dat ’n prys betaal word, bly dieselfde. Trouens, die werkwoordvorm van die Hebreeuse woord wat met “losprys” vertaal word, beteken letterlik “om te bedek”. Om versoening vir sondes te doen, moet die losprys presies ooreenstem met wat dit veronderstel is om te bedek—Adam se volmaakte menselewe.

8. (a) Verduidelik die beginsel van terugkoping. (b) Hoe is die beginsel van terugkoping op ons as sondaars van toepassing?

8 Dit is in ooreenstemming met ’n beginsel in die Mosaïese Wet—die beginsel van terugkoping. As ’n Israeliet tot armoede verval het en homself as ’n slaaf aan ’n nie-Israeliet verkoop het, kon ’n familielid hom terugkoop (of loskoop) deur ’n prys te betaal wat gelyk sou wees aan die waarde van die slaaf (Levitikus 25:47-49, NW). Die Bybel sê dat ons as onvolmaakte mense “slawe van die sonde” is (Romeine 6:6; 7:14, 25). Wat sou dit kos om ons terug te koop? Soos ons gesien het, sou die verlies van ’n volmaakte menselewe die betaling van ’n volmaakte menselewe vereis—niks meer en niks minder nie.

9. Hoe het Jehovah voorsiening gemaak om sonde te bedek?

9 Ons as mense word natuurlik onvolmaak gebore. Nie een van ons is gelyk aan Adam nie; nie een van ons kan die losprys betaal wat deur geregtigheid vereis word nie. Soos aan die begin gemeld is, is dit asof ons ’n lewensgevaarlike siekte het en nie kan bekostig om vir die operasie te betaal wat dit kan genees nie. Sou ons nie in so ’n situasie dankbaar wees as iemand namens ons die koste dek nie? Dit is presies wat Jehovah gedoen het! Hy het voorsiening daarvoor gemaak om ons eens en vir altyd van sonde te bevry. Ja, hy is bereid om aan ons te gee wat ons nooit op ons eie sou kon bekostig het nie. Hoe? “Die gawe wat God gee,” het Paulus geskryf, “is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Johannes het Jesus beskryf as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). Kom ons kyk hoe Jehovah sy geliefde Seun gebruik het om die losprys te betaal.

“’n Ooreenstemmende losprys”

10. Hoe het profesieë in verband met ’n “saad” uiteindelik die aandag op Josef en Maria gevestig?

10 Onmiddellik ná die opstand in Eden het Jehovah sy voorneme bekend gemaak om ’n “saad”, of nakomeling, voort te bring wat die mensdom van sonde sou loskoop (Genesis 3:15). Deur ’n reeks Goddelike openbarings het Jehovah die geslagslyn geïdentifiseer waardeur hierdie saad sou kom. Mettertyd het hierdie openbarings die aandag gevestig op Josef en Maria, ’n verloofde paartjie wat in Palestina gewoon het. Josef is in ’n droom meegedeel dat Maria deur heilige gees swanger was. Die engel het gesê: “Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom die naam Jesus gee, want hy sal sy volk van hulle sondes red”.—Matteus 1:20, 21.

11. (a) Hoe het Jehovah gereël dat sy Seun as ’n volmaakte mens gebore word? (b) Waarom kon Jesus “’n ooreenstemmende losprys” voorsien?

11 Dit was geensins ’n gewone swangerskap nie, want Jesus het ’n voormenslike bestaan in die hemel gehad (Spreuke 8:22-31; Kolossense 1:15). Sy lewe is deur Jehovah se wonderdadige krag na die baarmoeder van Maria oorgedra, wat dit vir hierdie geliefde Seun van God moontlik gemaak het om as ’n mens gebore te word (Johannes 1:1-3, 14; Filippense 2:6, 7). Jehovah het sake gerig sodat Jesus nie deur Adam se sonde besmet is nie. Trouens, Jesus is volmaak gebore. Hy het dus gehad wat Adam verloor het—volmaakte menselewe. Uiteindelik was daar ’n mens wat die prys van sonde kon dek! En dit is presies wat Jesus op 14 Nisan 33 G.J. gedoen het. Op daardie geskiedkundige dag het Jesus toegelaat dat sy teenstanders hom doodmaak, waardeur hy “’n ooreenstemmende losprys” voorsien het.—1 Timoteus 2:6.

Die waarde van ’n volmaakte menselewe

12. (a) Verduidelik watter belangrike verskil daar bestaan tussen Jesus se dood en dié van Adam. (b) Hoe het Jesus die “Ewige Vader” van gehoorsame mense geword?

12 Daar is ’n verskil tussen Jesus se dood en dié van Adam—’n verskil wat die waarde van die losprys beklemtoon. Adam het verdien om te sterf omdat hy opsetlik ongehoorsaam was aan sy Skepper (Genesis 2:16, 17). In teenstelling hiermee was Jesus se dood heeltemal onverdiend, want “hy het geen sonde gepleeg nie” (1 Petrus 2:22). Toe Jesus dus gesterf het, het hy iets van onskatbare waarde gehad wat die sondaar Adam nie by sy dood gehad het nie—die reg op volmaakte menselewe. Jesus se dood het derhalwe offerwaarde gehad. Toe hy as ’n geespersoon na die hemel opgevaar het, het hy die waarde van sy offerande aan Jehovah aangebied (Hebreërs 9:24). Jesus het sodoende die sondige mensdom gekoop en hulle nuwe Vader geword, ’n plaasvervanger vir Adam (1 Korintiërs 15:45). Jesus word tereg die “Ewige Vader” genoem (Jesaja 9:5). Dink net wat dit beteken! Adam, ’n sondige vader, het die dood aan al sy nakomelinge oorgedra. Jesus, ’n volmaakte Vader, gebruik die waarde van sy offerande om die ewige lewe aan gehoorsame mense te gee.

13. (a) Lig toe hoe Jesus die skuld uitgedelg het wat Adam gemaak het. (b) Waarom bedek Jesus se offerande nie die sonde van ons eerste ouers nie?

13 Maar hoe kon die dood van slegs een mens die sondes van baie bedek? (Matteus 20:28). Ons het ’n paar jaar gelede die losprys soos volg in ’n artikel toegelig: “Stel jou ’n groot fabriek voor met honderde werknemers. ’n Oneerlike fabrieksbestuurder maak die onderneming bankrot; die fabriek maak toe. Honderde is nou werkloos en kan nie hulle rekeninge betaal nie. Hulle huweliksmaats, kinders en, ja, skuldeisers ly almal vanweë daardie een man se korrupsie! Dan kom ’n ryk weldoener en betaal die maatskappy se skuld af en maak die fabriek weer oop. Die uitdelging van daardie een skuld bring op sy beurt volkome verligting aan die talle werknemers, hulle gesinne en die skuldeisers. Maar deel die oorspronklike bestuurder in die nuwe voorspoed? Nee, hy is in die tronk en het dus sy werk permanent verloor! Die uitdelging van Adam se een skuld bevoordeel eweneens miljoene van sy nakomelinge—maar nie Adam nie.”

14, 15. Waarom kan Adam en Eva opsetlike sondaars genoem word, en hoe verskil ons situasie van hulle s’n?

14 Dit is regverdig. Onthou dat Adam en Eva opsetlike sondaars was. Hulle het gekies om ongehoorsaam aan God te wees. In teenstelling hiermee word ons in sonde gebore. Ons het geen keuse nie. Ongeag hoe hard ons probeer, ons kan sonde nie heeltemal vermy nie (1 Johannes 1:8). Soms voel ons miskien soos Paulus wat geskryf het: “Wanneer ek wil doen wat reg is, [is] die slegte by my aanwesig . . . . Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is. Ellendige mens wat ek is!”—Romeine 7:21-24.

15 Maar weens die losprys het ons hoop! Jesus is die saad deur middel van wie “al die nasies van die aarde hulleself gewis [sal] seën”, soos God belowe het (Genesis 22:18; Romeine 8:20). Jesus se offerande maak wonderlike vooruitsigte moontlik vir diegene wat geloof in hom beoefen. Kom ons kyk na ’n paar hiervan.

Hoe ons by Christus se losprys baat vind

16. Watter voordele kan ons nou weens Jesus se losprys geniet, al is ons in ’n sondige toestand?

16 Die Bybelskrywer Jakobus erken dat ‘ons almal baie kere struikel’ (Jakobus 3:2). Maar danksy Christus se losprys kan ons sondes vergewe word. Johannes skryf: “As iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenofferande vir ons sondes” (1 Johannes 2:1, 2). Ons moet natuurlik nie sonde ligtelik opneem nie. (Judas 4; vergelyk 1 Korintiërs 9:27.) Maar as ons sondig, kan ons ons hart voor Jehovah uitstort met die vertroue dat hy “vergewensgesind” is (Psalm 86:5; 130:3, 4; Jesaja 1:18; 55:7; Handelinge 3:19). Die losprys stel ons dus in staat om God met ’n skoon gewete te dien en maak dit moontlik vir ons om hom in die naam van Jesus Christus in gebed te nader.—Johannes 14:13, 14; Hebreërs 9:14.

17. Watter toekomstige seëninge is moontlik danksy die losprys?

17 Christus se losprys maak die verwesenliking van God se voorneme moontlik—dat gehoorsame mense vir ewig in die Paradys op aarde lewe (Psalm 37:29). Paulus het geskryf: “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van hom [Jesus] Ja geword” (2 Korintiërs 1:20). Ja, die dood het “as koning geheers” (Romeine 5:17). Die losprys voorsien ’n grondslag vir God om hierdie “laaste vyand” uit te wis (1 Korintiërs 15:26; Openbaring 21:4). Jesus se losprys kan selfs vir diegene wat gesterf het seëninge inhou. “Die uur kom”, het Jesus gesê, “waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29; 1 Korintiërs 15:20-22.

18. Watter tragiese uitwerking het sonde op die mensdom gehad, en hoe sal dit in God se nuwe wêreld ongedaan gemaak word?

18 Dink net hoe genotvol dit sal wees om te lewe soos ons veronderstel was om te lewe—vry van die sorge waarmee ons vandag belas is! Sonde het nie net ons verhouding met God skade aangedoen nie, maar ook ons verstand, hart en liggaam. Die Bybel belowe egter dat daar in God se nuwe wêreld “geen inwoner sal [wees wat] sê: Ek is siek nie”. Ja, liggaamlike en emosionele siektes sal die mensdom nie meer teister nie. Waarom nie? Jesaja antwoord: “Aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.”—Jesaja 33:24.

Die losprys—’n blyk van liefde

19. Hoe moet ons individueel op Christus se losprys reageer?

19 Liefde het Jehovah beweeg om sy geliefde Seun uit te stuur (Romeine 5:8; 1 Johannes 4:9). Liefde het Jesus weer beweeg om “vir elke mens die dood [te] smaak” (Hebreërs 2:9; Johannes 15:13). Paulus het tereg geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons . . . Hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). As ons waardeer wat Jesus vir ons gedoen het, sal ons iets daaromtrent doen. Die losprys maak dit per slot van rekening vir ons moontlik om van die dood gered te word! Ons sal beslis nie deur ons dade te kenne wil gee dat ons die offerande van Jesus van gewone waarde ag nie.—Hebreërs 10:29.

20. Wat is van die maniere waarop ons Jesus se “woord” onderhou?

20 Hoe kan ons opregte waardering vir die losprys toon? Kort voor Jesus se inhegtenisname het hy gesê: “As iemand my liefhet, sal hy my woord onderhou” (Johannes 14:23). Jesus se “woord” sluit sy bevel in dat ons ywerig moet deelneem aan die uitvoering van die opdrag: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle” (Matteus 28:19). Gehoorsaamheid aan Jesus vereis ook dat ons liefde aan ons geestelike broers betoon.—Johannes 13:34, 35.

21. Waarom moet ons die Gedenkmaalviering op 1 April bywoon?

21 Een van die beste maniere waarop ons waardering vir die losprys kan toon, is deur die herdenking van Christus se dood, wat hierdie jaar op 1 April gehou sal word, by te woon.a Dit is ook deel van Jesus se “woord”, want toe Jesus hierdie viering ingestel het, het hy sy volgelinge beveel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19). As ons hierdie allerbelangrike gebeurtenis bywoon en noukeurig op al Christus se bevele ag slaan, sal ons toon dat dit ons vaste oortuiging is dat Jesus se losprys God se middel tot redding is. Daar is werklik “geen redding in enigiemand anders nie”.—Handelinge 4:12.

[Voetnoot]

a Hierdie jaar stem 1 April ooreen met 14 Nisan 33 G.J., die dag waarop Jesus gesterf het. Vind by Jehovah se Getuies in jou omgewing uit hoe laat en waar die Gedenkmaalviering gehou sal word.

Kan jy onthou?

◻ Waarom kan mense nie vir hulle sondige toestand versoening doen nie?

◻ In watter sin is Jesus “’n ooreenstemmende losprys”?

◻ Hoe het Jesus sy reg op volmaakte menselewe tot ons voordeel gebruik?

◻ Watter seëninge ontvang die mensdom danksy Christus se losprys?

[Prent op bladsy 15]

Slegs ’n volmaakte mens—Adam se gelyke—kon die skaal van geregtigheid laat balanseer

[Prent op bladsy 16]

Aangesien Jesus die reg op volmaakte menselewe gehad het, het sy dood offerwaarde gehad

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel