“Die tempel” en “die vors” vandag
“Die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.”—ESEGIËL 46:10.
1, 2. Watter belangrike waarheid help ons om die betekenis van Esegiël se tempelvisioen in groot mate te ontsluit?
PARTY eertydse rabbi’s was nie heeltemal gelukkig met die boek Esegiël nie. Volgens die Talmoed het sommige van hulle dit selfs oorweeg om die boek uit die kanon van die Heilige Geskrifte weg te laat. Hulle het die tempelvisioen veral moeilik gevind om te verstaan en het verklaar dat dit bo die mens se begrip is. Ander Bybelgeleerdes kan geen verduideliking vind vir Esegiël se visioen van Jehovah se tempel nie. Wat van ons?
2 Sedert die herstel van rein aanbidding het Jehovah sy volk met baie flitse van geestelike insig geseën, onder andere die vermoë om te onderskei wat God se geestelike tempel is—Jehovah se reëling vir rein aanbidding wat deur die tempel afgebeeld word.a Hierdie belangrike waarheid help ons om die betekenis van Esegiël se tempelvisioen in groot mate te ontsluit. Kom ons doen ’n nadere ondersoek van die vier elemente van hierdie visioen—die tempel, die priesterdom, die vors en die land. Wat beteken dit vandag?
Die tempel en jy
3. Wat leer ons wanneer ons na die hoë plafon en muurreliëfs in die ingange van die tempel kyk?
3 Stel jou voor dat ons op ’n toer van hierdie tempel in die visioen is. Ons klim met sewe trappies op na een van die groot poorte. Wanneer ons in die voorportaal kom en opkyk, word ons met ontsag vervul. Die plafon is meer as 30 meter hoog! Ons word dus daaraan herinner dat die standaarde om deel van Jehovah se reëling vir aanbidding te word verhewe is. Ligstrale wat deur die vensters skyn, verlig die muurreliëfs van palmbome wat in die Skrif gebruik word om regskapenheid voor te stel (Psalm 92:13; Esegiël 40:14, 16, 22). Hierdie heilige plek is vir diegene wat sedelik en geestelik regskape is. Ons wil in ooreenstemming hiermee regskape bly sodat ons aanbidding vir Jehovah aanneemlik kan wees.—Psalm 11:7.
4. Wie word toegang tot die tempel geweier, en wat leer dit ons?
4 Aan elke kant van die gang is daar drie sykamers. Sal die wagte ons in die tempel toelaat? Jehovah sê vir Esegiël dat geen uitlander wat “onbesnede van hart” is mag ingaan nie (Esegiël 40:10; 44:9). Wat beteken dit? God aanvaar as aanbidders slegs diegene wat sy wette liefhet en daarvolgens lewe (Jeremia 4:4; Romeine 2:29). Hy verwelkom sulke mense in sy geestelike tent, sy huis van aanbidding (Psalm 15:1-5). Sedert rein aanbidding in 1919 herstel is, het Jehovah se aardse organisasie sy sedewette gehandhaaf en al hoe duideliker gemaak. Diegene wat opsetlik weier om dit te gehoorsaam, is nie meer welkom om met sy volk om te gaan nie. Vandag help die Bybelse gebruik om onberouvolle oortreders uit te sit ons om ons aanbidding rein te hou.—1 Korintiërs 5:13.
5. (a) Watter ooreenkomste is daar tussen Esegiël se visioen en Johannes se visioen in Openbaring 7:9-15? (b) Wie word deur die 12 stamme in Esegiël se visioen afgebeeld wat in die buitenste voorhof aanbid?
5 Die gang loop op die buitenste voorhof uit, waar die volk Jehovah aanbid en loof. Dit herinner ons aan die apostel Johannes se visioen van die “groot skare” wat Jehovah ‘dag en nag in sy tempel’ aanbid. Palmbome kom in albei visioene voor. In Esegiël se visioen versier hulle die mure van die ingang. In Johannes se visioen het die aanbidders palmtakke in hulle hande, wat ’n simbool is van hulle vreugde om Jehovah te loof en om Jesus as hulle Koning te verwelkom (Openbaring 7:9-15). In die konteks van Esegiël se visioen beeld die 12 stamme van Israel die “ander skape” af. (Johannes 10:16; vergelyk Lukas 22:28-30.) Is jy ook een van diegene wat vreugde daaruit put om Jehovah te loof deur sy Koninkryk te verkondig?
6. Wat was die doel van die eetkamers in die buitenste voorhof, en aan watter voorreg herinner dit lede van die ander skape?
6 Terwyl ons die buitenste voorhof besigtig, sien ons die 30 eetkamers waar die volk hulle vrywillige offerandes eet (Esegiël 40:17). Vandag bring die ander skape nie diereofferandes nie, maar hulle kom nie met leë hande na die geestelike tempel nie. (Vergelyk Exodus 23:15.) Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons deur [Jesus] altyd aan God ’n lofofferande bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak. Moet bowendien nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik” (Hebreërs 13:15, 16; Hosea 14:3). Dit is ’n groot voorreg om sulke offerandes aan Jehovah te bring.—Spreuke 3:9, 27.
7. Waarvan verseker die meting van die tempel ons?
7 Esegiël sien hoe ’n engel hierdie tempel in die visioen meet (Esegiël 40:3). Daar is eweneens vir die apostel Johannes gesê: “Staan op en meet die tempelheiligdom van God en die altaar en dié wat daarin aanbid” (Openbaring 11:1). Wat beteken hierdie meting? In albei gevalle het dit blykbaar as ’n waarborg of teken gedien dat niks Jehovah kan keer om sy voornemens in verband met rein aanbidding te vervul nie. Vandag kan ons ook daarvan verseker wees dat niks—nie eens kwaai teenstand van magtige regerings—die herstel van rein aanbidding kan keer nie.
8. Wie gaan die poorte na die binneste voorhof binne, en waaraan herinner hierdie poorte ons?
8 Terwyl ons oor die buitenste voorhof loop, sien ons dat daar drie poorte is wat na die binneste voorhof lei; die binneste poorte is in lyn met, asook dieselfde grootte as, die buitenste poorte (Esegiël 40:6, 20, 23, 24, 27). Net priesters kan in die binneste voorhof ingaan. Die binneste poorte herinner ons daaraan dat die gesalfdes volgens Goddelike standaarde en wette moet leef, maar dieselfde wette en standaarde rig alle ware Christene. Maar watter werk doen die priesters, en wat beteken dit vandag?
’n Getroue priesterdom
9, 10. Hoe voorsien die “koninklike priesterdom”, wat deur die priesterlike klas in Esegiël se visioen afgebeeld word, geestelike onderrigting?
9 In voor-Christelike tye het die priesters hard gewerk by die tempel. Dit was ’n fisies veeleisende werk om die offerdiere te slag, hulle op die altaar te offer en hulle medepriesters en die volk te bedien. Maar hulle het ander belangrike werk gehad. Jehovah het in verband met die priesters beveel: “Hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is.”—Esegiël 44:23; Maleagi 2:7.
10 Waardeer jy die harde werk en nederige diens wat die gesalfdes as ’n liggaam, “’n koninklike priesterdom”, ten behoewe van rein aanbidding verrig? (1 Petrus 2:9). Soos die Levitiese priesterdom van die ou tyd neem hulle die leiding in geestelike onderrigting en help hulle mense om te verstaan watter dinge rein en aanneemlik in God se oë is en watter dinge nie (Matteus 24:45). Sulke onderrigting, wat deur Bybelpublikasies sowel as Christelike vergaderinge en byeenkomste voorsien word, het al miljoene gehelp om met God versoen te raak.—2 Korintiërs 5:20.
11. (a) Hoe het Esegiël se visioen die belangrikheid van reinheid aan die kant van die priesters beklemtoon? (b) Hoe is die gesalfdes in die laaste dae in geestelike sin gereinig?
11 Maar die priesters moet nie net vir ander leer om rein te wees nie; hulle moet self ook rein wees. Daarom het Esegiël vooruitgesien dat Israel se priesterdom gelouter sou word (Esegiël 44:10-16). Die geskiedenis toon dat Jehovah eweneens in 1918 “as ’n louteraar” in sy geestelike tempel gesit het en die gesalfde priesterlike klas ondersoek het (Maleagi 3:1-5, NW). Diegene wat as geestelik rein beskou is of wat berou getoon het oor vroeëre afgodediens is toegelaat om hulle diensvoorreg in die geestelike tempel voort te sit. Nietemin kan individuele gesalfdes, soos enigiemand anders, geestelik en sedelik onrein word (Esegiël 44:22, 25-27). Hulle moes hulle nog altyd inspan om “sonder vlek van die wêreld” te bly.—Jakobus 1:27; vergelyk Markus 7:20-23.
12. Waarom moet ons die werk van die gesalfdes waardeer?
12 Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Waardeer ek die voorbeeld wat die gesalfdes gedurende hulle jarelange getroue diens gestel het? Volg ek hulle geloof na?’ Dit is goed vir lede van die groot skare om in gedagte te hou dat hulle nie altyd die gesalfdes saam met hulle hier op aarde sal hê nie. Jehovah het oor die priesters in Esegiël se visioen gesê: “Julle mag aan hulle geen [grond as] besitting in Israel gee nie: Ek is hulle besitting” (Esegiël 44:28). Die gesalfdes het eweneens nie ’n ewige plek op die aarde nie. Hulle het ’n hemelse erfenis, en die groot skare beskou dit as ’n voorreg om hulle te ondersteun en aan te moedig terwyl hulle nog hier op aarde is.—Matteus 25:34-40; 1 Petrus 1:3, 4.
Die vors—Wie is hy?
13, 14. (a) Waarom moet die vors van die ander skape wees? (b) Wie word deur die vors afgebeeld?
13 Nou ontstaan ’n interessante vraag. Wie word dan deur die vors afgebeeld? Aangesien daar van hom as ’n individu sowel as ’n groep gepraat word, kan ons aanneem dat hy ’n klas mense afbeeld (Esegiël 44:3; 45:8, 9). Maar wie? Beslis nie die gesalfdes nie. In die visioen werk hy ten nouste saam met die priesterdom, maar hy is nie een van hulle nie. Anders as die priesterlike klas, kry hy ’n erfdeel in die land en het hy dus ’n toekoms hier op die aarde, nie in die hemel nie (Esegiël 48:21). En Esegiël 46:10 sê: “Die vors moet tussen hulle ingaan as hulle [die niepriesterlike stamme] ingaan [in die tempel se buitenste voorhof in]; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.” Hy gaan nie in die binneste voorhof nie, maar aanbid in die buitenste voorhof en gaan saam met die volk in en uit die tempel. Hierdie faktore plaas die vors beslis onder die groot skare ander skape.
14 Dit is duidelik dat die vors ’n verantwoordelike posisie onder God se volk het. In die buitenste voorhof sit hy in die voorportaal van die Oostelike Poort (Esegiël 44:2, 3). Dit dui op ’n posisie van toesig wat soortgelyk is aan dié van die oudstes in Israel wat by die stadspoort gesit en regspraak gelewer het (Rut 4:1-12; Spreuke 22:22). Wie van die ander skape beklee vandag posisies van toesig? Geesaangestelde ouer manne met ’n aardse hoop (Handelinge 20:28). Die vorsteklas word dus nou opgelei met die vooruitsig om later in ’n administratiewe hoedanigheid in die nuwe wêreld te dien.
15. (a) Hoe werp Esegiël se visioen lig op die verhouding tussen ouer manne wat lede van die groot skare is en die gesalfde priesterlike klas? (b) Hoe het gesalfde ouer manne die leiding in God se aardse organisasie geneem?
15 Maar wat is vandag die verhouding tussen die gesalfde priesterlike klas en hierdie ouer manne wat, as deel van die groot skare, in posisies van toesig dien? Esegiël se visioen gee te kenne dat die ouer manne wat lede van die groot skare is ’n ondersteunende en ondergeskikte rol beklee terwyl die gesalfdes die geestelike leiding neem. Hoe so? Hou in gedagte dat die priesters in die visioen die verantwoordelikheid gegee is om die volk in geestelike sake te onderrig. Daar is ook vir hulle gesê om as regters in regsake op te tree. Daarbenewens is die Leviete in “poste van toesig” in die tempelpoorte aangestel (Esegiël 44:11, 23, 24, NW). Dit is duidelik dat die vors hom aan die geestelike dienste en leierskap van die priesters moes onderwerp. Dit is dus gepas dat die gesalfdes in hedendaagse tye die leiding in rein aanbidding neem. Die lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is byvoorbeeld uit hulle geledere gekies. Hierdie getroue gesalfde ouer manne lei die ontwikkelende vorsteklas al dekades lank op en berei toekomstige lede van hierdie klas voor vir die dag wanneer hulle hulle volle gesag in God se komende nuwe wêreld sal ontvang.
16. Hoe moet alle ouer manne volgens Jesaja 32:1, 2 optree?
16 Maar watter soort opsieners is hierdie manne wat as die vorsteklas in aanmerking sal kom vir groter verantwoordelikhede? Die profesie in Jesaja 32:1, 2 sê: “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg. En elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag.” Hierdie profesie word vandag vervul terwyl Christen- ouer manne—van die gesalfdes en ander skape—hulle inspan om die kudde te beskerm teen “stortreën” soos vervolging en ontmoediging.
17. Hoe moet Christenherders hulleself beskou, en hoe moet die kudde hulle beskou?
17 Die woorde “prins” en “vors”, wat soortgelyke betekenisse in Hebreeus het, word nie as titels gebruik wat bedoel is om mense te verhoog nie. Dit beskryf eerder die verantwoordelikheid wat hierdie manne het om vir God se skape te sorg. Jehovah gee ’n ernstige waarskuwing: “Dit is nou genoeg, o vorste van Israel! Verwyder geweld en verdrukking, en doen reg en geregtigheid” (Esegiël 45:9). Dit is vandag vir alle ouer manne raadsaam om hierdie raad ter harte te neem (1 Petrus 5:2, 3). Die kudde erken op hulle beurt dat Jesus herders as “gawes in die vorm van mense” voorsien het (Efesiërs 4:8). Hulle kwalifikasies word in God se geïnspireerde Woord uiteengesit (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Christene volg derhalwe die ouer manne se leiding.—Hebreërs 13:7.
18. Wat is sommige van die verantwoordelikhede wat die toekomstige vorsteklas nou moet nakom, en watter verantwoordelikheid sal hulle in die toekoms hê?
18 In Bybeltye het party vorste groot gesag gehad terwyl ander minder gesag gehad het. Vandag het ouer manne van die groot skare ’n groot verskeidenheid verantwoordelikhede. Party dien in een gemeente; ander bedien baie gemeentes as reisende opsieners; ander bedien hele lande as Takkomiteelede; ander verleen regstreekse hulp aan verskillende komitees van die Bestuursliggaam. In die nuwe wêreld sal Jesus “vorste in die hele land” aanstel om die leiding te neem onder Jehovah se aanbidders op aarde (Psalm 45:17). Hy sal ongetwyfeld baie van hulle uit die getroue ouer manne van vandag kies. Aangesien hierdie manne hulle nou reeds bewys, sal hy aan baie selfs groter voorregte in die toekoms toevertrou wanneer hy die rol van die vorsteklas in die nuwe wêreld bekend maak.
Die land van God se hedendaagse volk
19. Wat beeld die land in Esegiël se visioen af?
19 Esegiël se visioen beeld ook die herstelde land van Israel uit. Wat stel hierdie deel van die visioen voor? Ander herstellingsprofesieë het voorspel dat die land, Israel, ’n paradys soos Eden sou wees (Esegiël 36:34, 35). Vandag geniet ons ’n herstelde “land”, en dit is ook in sekere sin soos Eden. Ons praat eweneens dikwels van ons geestelike paradys. Die Wagtoring het al ons “land” gedefinieer as “die bedrywigheidsfeer” van God se uitverkore volk.b Ongeag waar ’n kneg van Jehovah is, hy is in daardie herstelde land so lank as wat hy ware aanbidding probeer handhaaf deur in Christus Jesus se voetstappe te volg.—1 Petrus 2:21.
20. Watter beginsel leer ons uit “die heilige offergawe” in Esegiël se visioen, en hoe kan ons hierdie beginsel toepas?
20 Wat van die deel van die land wat “die heilige offergawe” genoem word? Dit was die volk se bydrae om in die onderhoud van die priesterdom en die stad te voorsien. Net so ook moes “al die mense van die land” ’n stuk grond aan die vors skenk. Wat beteken dit vandag? Natuurlik nie dat God se volk belas moet word met ’n besoldigde geestelikeklas nie (2 Tessalonisense 3:8). Die ondersteuning wat aan die ouer manne gegee word, is eerder hoofsaaklik van ’n geestelike aard. Dit behels dat ons help met die werk wat gedoen moet word en dat ons ’n gees van samewerking en onderdanigheid aan die dag lê. Maar, soos in Esegiël se dag, word hierdie offergawe ‘aan Jehovah’ gegee, nie aan enige mens nie.—Esegiël 45:1, 7, 16, NW.
21. Wat kan ons leer uit die verdeling van die land in Esegiël se visioen?
21 Dit is nie net die vors en die priesterdom wat toegewese plekke in hierdie herstelde land het nie. Die verdeling van die land toon dat elkeen van die 12 stamme ’n gewaarborgde erfdeel het (Esegiël 47:13, 22, 23). Lede van die groot skare het derhalwe nie net ’n plek in die geestelike paradys vandag nie, maar hulle sal ook grondgebied toegewys word wanneer hulle ’n plek in die aardse ryk van God se Koninkryk beërf.
22. (a) Wat beeld die stad in Esegiël se visioen af? (b) Wat kan ons leer uit die feit dat die stad poorte aan alle kante het?
22 Laastens, wat beeld die stad in die visioen af? Dit is nie ’n hemelse stad nie, want dit is in die middel van “onheilige” land geleë (Esegiël 48:15-17, NW). Dit moet dus iets op aarde wees. Wel, wat is ’n stad? Dra dit nie die gedagte oor van mense wat saamkom as ’n groep en ’n georganiseerde geheel vorm nie? Ja. Die stad stel dus blykbaar die aardse administrasie voor wat almal bevoordeel wat die regverdige aardse gemeenskap sal uitmaak. Dit sal in die komende “nuwe aarde” ten volle in werking wees (2 Petrus 3:13). Die stad se poorte aan alle kante, een vir elke stam, lig goed toe dat die stad oop is. God se volk is nie vandag onder die een of ander geheimsinnige, ondergrondse administrasie nie. Broers in posisies van verantwoordelikheid moet genaakbaar wees; almal is goed vertroud met die beginsels wat hulle rig. Die feit dat mense van alle stamme die land bewerk wat die stad onderhou, herinner ons daaraan dat die ander skape, selfs op materiële wyse, steun verleen aan die administratiewe reëlings wat vir God se volk regoor die wêreld gemaak word.—Esegiël 48:19, 30-34.
23. Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?
23 Maar wat van die rivier wat uit die tempelheiligdom vloei? Wat dit vandag en in die toekoms afbeeld, sal die onderwerp van die derde en laaste artikel van hierdie reeks wees.
[Voetnote]
a Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsy 64, paragraaf 22, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Gedagtes ter hersiening
◻ Wat beeld die tempel in Esegiël se visioen af?
◻ Wie word afgebeeld deur die priesters wat by die tempel dien?
◻ Wat is die vorsteklas, en wat is sommige van hulle verantwoordelikhede?
◻ Wat is die land in Esegiël se visioen, en in watter sin word dit onder die 12 stamme verdeel?
◻ Wat beeld die stad af?
[Diagram/Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die verdeling van die land soos dit in Esegiël se visioen uitgebeeld word
DIE TWAALF STAMME
Die Groot See
See van Galilea
Jordaanrivier
Soutsee
DAN
ASER
NAFTALI
MANASSE
EFRAIM
RUBEN
JUDA
DIE VORS
BENJAMIN
SIMEON
ISSASKAR
SEBULON
GAD
[Diagram]
VERGROTING VAN DIE HEILIGE OFFERGAWE
A. “Jehovah self is daar” (Jehovah- Sjammah); B. stad se landbougrond
Die Leviete se deel
Jehovah se heiligdom
Priesters se deel
B A B