Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 3/1 bl. 17-23
  • Jehovah se seën op ons “land”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se seën op ons “land”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Rivier vloei in ’n herstelde land
  • Oorvloedige seëninge
  • Die water gee lewe!
  • Die rivier vloei in die Paradys
  • “Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • Glanspunte uit die boek Esegiël—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • “Rig jou hart op” God se tempel!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • “Beskryf die tempel”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 3/1 bl. 17-23

Jehovah se seën op ons “land”

“Alles sal lewe waar die stroom kom.”—ESEGIËL 47:9.

1, 2. (a) Hoe belangrik is water? (b) Wat beeld die water van die rivier in Esegiël se visioen af?

WATER is ’n merkwaardige vloeistof. Alle fisiese lewe is afhanklik daarvan. Nie een van ons kan lank daarsonder klaarkom nie. Ons maak ook daarop staat vir reiniging, aangesien water onsuiwerhede kan oplos en wegspoel. Gevolglik was ons ons liggaam, ons klere en selfs ons kos in water. Deur dit te doen, kan ons ons lewe red.

2 Die Bybel gebruik water om Jehovah se geestelike voorsienings vir lewe af te beeld (Jeremia 2:13; Johannes 4:7-15). Hierdie voorsienings sluit die reiniging van sy volk in deur middel van Christus se losprysofferande en die kennis van God wat in sy Woord gevind word (Efesiërs 5:25-27). In Esegiël se tempelvisioen simboliseer die wonderbaarlike rivier wat vanuit die tempel vloei sulke lewegewende seëninge. Maar wanneer vloei daardie rivier, en wat beteken dit vir ons vandag?

’n Rivier vloei in ’n herstelde land

3. Wat het Esegiël volgens Esegiël 47:2-12 ondervind?

3 As gevangenes in Babilon het Esegiël se volk Jehovah se voorsienings bitter nodig gehad. Hoe bemoedigend moes dit dus tog vir Esegiël gewees het om te sien hoe ’n straaltjie water uit die heiligdom kom en uit die tempel in die visioen vloei! ’n Engel meet die stroom elke 1 000 el. Die diepte van die water neem toe sodat dit eers tot aan die enkels dan tot aan die knieë en dan tot aan die heupe reik en dan ’n sterk stroom word waarin ’n mens moet swem. Die rivier bring lewe en vrugbaarheid (Esegiël 47:2-11). Vir Esegiël word daar gesê: “By die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet” (Esegiël 47:12a). Wanneer die stroom in die Dooie See invloei—’n watermassa sonder enige lewe—word alles lewendig! Dit wemel van visse. ’n Vissersbedryf floreer.

4, 5. Hoe stem Joël se profesie oor ’n rivier met Esegiël s’n ooreen, en waarom is dit betekenisvol?

4 Hierdie pragtige profesie het die Joodse ballinge moontlik herinner aan ’n ander profesie wat meer as twee eeue vroeër opgeteken is: “Uit die huis van Jehovah sal ’n fontein uitgaan, en dit moet die stroomvallei van die Akasiabome besproei” (Joël 3:18, NW).a Joël se profesie, soos Esegiël s’n, voorspel dat ’n rivier uit God se huis, die tempel, sou vloei en lewe aan ’n droë streek sou gee.

5 Die Wagtoring sê al lank dat Joël se profesie in ons tyd vervul word.b Dieselfde kan dan beslis gesê word van Esegiël se soortgelyke visioen. In die herstelde land van God se hedendaagse volk, net soos in eertydse Israel, vloei Jehovah se seëninge inderdaad voort.

Oorvloedige seëninge

6. Waaraan moes die feit dat bloed op die altaar in die visioen gesprinkel is die Jode herinner het?

6 Wat is die bron van die seëninge wat God se herstelde volk ontvang? Wel, let op dat die water uit God se tempel vloei. Die seëninge kom eweneens vandag van Jehovah deur middel van sy groot geestelike tempel—die reëling vir rein aanbidding. Esegiël se visioen voeg ’n belangrike besonderheid by. In die binneste voorhof vloei die stroom verby die altaar, net suid daarvan (Esegiël 47:1). Die altaar is reg in die middel van die tempel in die visioen. Jehovah beskryf dit vir Esegiël tot in die fynste besonderheid en beveel dat die bloed van ’n offerande daarop gesprinkel word (Esegiël 43:13-18, 20). Daardie altaar het groot betekenis vir alle Israeliete gehad. Hulle verbond met Jehovah is lank tevore bekragtig toe Moses bloed op ’n altaar aan die voet van die berg Sinai gesprinkel het (Exodus 24:4-8). Die feit dat bloed op die altaar in die visioen gesprinkel is, moes hulle daaraan herinner dat Jehovah hulle sou seën wanneer hulle na hulle herstelde land terugkeer so lank as wat hulle hulle verbond met hom gestand gedoen het.—Deuteronomium 28:1-14.

7. Wat beteken die simboliese altaar vandag vir Christene?

7 God se volk word eweneens vandag geseën deur ’n verbond—’n beter een, die nuwe verbond (Jeremia 31:31-34). Dit is ook lank gelede deur bloed, dié van Jesus Christus, bekragtig (Hebreërs 9:15-20). Hetsy ons vandag onder die gesalfdes is, wat deelnemers aan daardie verbond is, en of ons onder die “ander skape” is, wat bevoordeeldes daarvan is, die simboliese altaar is vir ons baie betekenisvol. Dit simboliseer God se wil met betrekking tot Christus se offerande (Johannes 10:16; Hebreërs 10:10). Soos die simboliese altaar reg in die middel van die geestelike tempel is, beklee Christus se losprysofferande ook ’n uiters belangrike plek in rein aanbidding. Dit is die grondslag vir die vergifnis van ons sondes en derhalwe vir al ons toekomsverwagtinge (1 Johannes 2:2). Ons probeer dus om volgens die wet te lewe wat met die nuwe verbond geassosieer word, “die wet van die Christus” (Galasiërs 6:2). Solank ons dit doen, sal ons uit Jehovah se voorsienings vir lewe voordeel trek.

8. (a) Wat het in die binneste voorhof van die tempel in die visioen ontbreek? (b) Hoe kon die priesters in die tempel van die visioen hulleself was?

8 Een van hierdie voordele is ’n rein posisie voor Jehovah. In die tempel van die visioen ontbreek iets in die binneste voorhof wat taamlik opvallend in die voorhof van die tabernakel en in Salomo se tempel was—’n groot waskom waarin die priesters hulle moes was en wat later ’n see genoem is (Exodus 30:18-21; 2 Kronieke 4:2-6). Wat kon die priesters in die tempel van Esegiël se visioen gebruik om in te was? Daardie wonderbaarlike stroom wat deur die binneste voorhof vloei! Ja, Jehovah sou hulle seën met die middele om ’n rein, of heilige, posisie voor hom te geniet.

9. Hoe kan die gesalfdes en die groot skare vandag ’n rein posisie voor God hê?

9 Vandag is die gesalfdes eweneens met ’n rein posisie voor Jehovah geseën. Jehovah beskou hulle as heilig en verklaar hulle regverdig (Romeine 5:1, 2). Wat van die “groot skare”, wat deur die niepriesterlike stamme afgebeeld word? Hulle aanbid in die buitenste voorhof, en dieselfde stroom vloei deur daardie deel van die tempel in die visioen. Hoe gepas is dit dan tog dat die apostel Johannes die groot skare in skoon wit gewade gesien het terwyl hulle in die voorhof van die geestelike tempel aanbid! (Openbaring 7:9-14). Ongeag hoe hulle in hierdie verdorwe wêreld behandel is, so lank as wat hulle geloof in Christus se losprysofferande beoefen, kan hulle daarvan verseker wees dat Jehovah hulle as rein en skoon beskou. Hoe beoefen hulle geloof? Deur in die voetstappe van Jesus te volg en ’n vaste vertroue in die losprysofferande te hê.—1 Petrus 2:21.

10, 11. Wat is een belangrike faset van die simboliese water, en hoe hou dit verband met die geweldige uitbreiding van die rivier?

10 Soos reeds genoem is, is daar nog ’n belangrike faset van hierdie simboliese water—kennis. In die herstelde Israel het Jehovah sy volk met skriftuurlike onderrigting deur middel van die priesterdom geseën (Esegiël 44:23). Deur middel van die “koninklike priesterdom” seën Jehovah sy volk vandag eweneens met oorvloedige onderrigting aangaande sy Woord van waarheid (1 Petrus 2:9). Kennis omtrent Jehovah God, sy voornemens vir die mensdom en veral omtrent Jesus Christus en die Messiaanse Koninkryk vloei in hierdie laaste dae in al hoe groter mate. Hoe wonderlik is dit tog om hierdie immer toenemende stroom van geestelike verkwikking te ontvang!—Daniël 12:4.

11 Net soos die rivier wat deur die engel gemeet is al hoe dieper geword het, het die vloei van lewegewende seëninge van Jehovah af geweldig toegeneem om voorsiening te maak vir die instroming van mense in ons geseënde geestelike land. ’n Ander herstellingsprofesie het voorspel: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom” (Jesaja 60:22). Hierdie woorde is bewaarheid—miljoene het ingestroom om by ons in rein aanbidding aan te sluit! Jehovah het oorvloedige “water” beskikbaar gestel aan almal wat na hom kom (Openbaring 22:17). Hy sorg dat sy aardse organisasie Bybels en Bybellektuur in honderde tale oor die hele wêreld versprei. Net so ook word Christelike vergaderinge en byeenkomste wêreldwyd gereël sodat almal van die kristalhelder waters van waarheid voorsien kan word. Watter uitwerking het hierdie voorsienings op mense?

Die water gee lewe!

12. (a) Wat stel die bome in Esegiël se visioen in staat om hulle oes te lewer? (b) Wat word in die laaste dae deur hierdie vrugbare bome afgebeeld?

12 Die rivier in Esegiël se visioen gee lewe en gesondheid. Wanneer Esegiël van die bome hoor wat langs die rivier sal groei, word daar vir hom gesê: ‘Die blare daarvan sal nie verdor en die vrugte sal nie opraak nie. Hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.’ Waarom lewer hierdie bome so ’n merkwaardige oes op? ‘Want die waters waar hulle staan—dit stroom uit die heiligdom’ (Esegiël 47:12b). Hierdie simboliese bome beeld al God se voorsienings af om die mensdom op grond van Jesus se losprysofferande tot volmaaktheid te herstel. Die gesalfde oorblyfsel neem nou die leiding op die aarde in die voorsiening van geestelike voeding en genesing. Nadat die 144 000 almal hulle hemelse beloning ontvang het, sal die voordele wat uit hulle priesterlike diens as medeheersers saam met Christus voortspruit tot in die toekoms voortduur en uiteindelik tot die algehele oorwinning oor Adamitiese dood lei.—Openbaring 5:9, 10; 21:2-4.

13. Watter genesing is in ons tyd teweeggebring?

13 Die rivier in die visioen vloei in die lewelose Dooie See in en genees alles waarmee dit in aanraking kom. Hierdie see beeld ’n geestelik dooie omgewing af. Maar “oral waar die dubbele stroom kom” wemel dit van die lewe (Esegiël 47:9). Oral waar die water van die lewe eweneens in die laaste dae binnegedring het, het mense geestelik lewend geword. Die eerstes wat so herlewe het, was die gesalfde oorblyfsel in 1919. Hulle het geestelik weer lewend geword nadat hulle onbedrywig en as ’t ware dood was (Esegiël 37:1-14; Openbaring 11:3, 7-12). Hierdie lewensbelangrike waters het sedertdien ander geestelike dooies bereik, en hulle het lewend geword en ’n immer toenemende groot skare ander skape gevorm wat lief is vir Jehovah en hom dien. Hierdie voorsiening sal binnekort aan die menigtes verresenes beskikbaar gestel word.

14. Wat word vandag goed toegelig deur die florerende vissersbedryf langs ’n deel van die Dooie See se kus?

14 Geestelike lewenskrag lei tot produktiwiteit. Dit word toegelig deur die vissersbedryf wat floreer op die strande van die see wat voorheen dood was. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Ek sal julle vissers van mense maak” (Matteus 4:19). In die laaste dae het die visserswerk met die insameling van die oorblywende lede van die gesalfdes begin, maar dit het nie daar opgehou nie. Die lewegewende water vanuit Jehovah se geestelike tempel, met inbegrip van die seëning van juiste kennis, het ’n uitwerking op mense van alle nasies. Waar daardie stroom ook al vloei, het dit geestelike lewe tot gevolg.

15. Wat toon dat nie almal God se voorsienings vir lewe sal aanvaar nie, en wat gebeur uiteindelik met sulke mense?

15 Nie almal reageer natuurlik nou gunstig op die boodskap van die lewe nie; en diegene wat gedurende die Duisendjarige Ryk van Christus ’n opstanding kry, sal ook nie almal gunstig reageer nie (Jesaja 65:20; Openbaring 21:8). Die engel sê dat dele van die see nie genees word nie. Hierdie moerasagtige, lewelose plekke word ‘vir sout bestem’ (Esegiël 47:11). Nie almal aanvaar vandag die lewegewende water wat Jehovah hulle aanbied nie (Jesaja 6:10). By Armageddon sal almal wat gekies het om in ’n geestelik lewelose en siek toestand te bly ‘vir sout bestem wees’, dit wil sê vir ewig vernietig word (Openbaring 19:11-21). Maar diegene wat hierdie waters getrou gedrink het, kan verwag om behoue te bly en die finale vervulling van hierdie profesie te sien.

Die rivier vloei in die Paradys

16. Wanneer en hoe sal Esegiël se tempelvisioen sy finale vervulling hê?

16 Soos met ander herstellingsprofesieë vind die finale vervulling van Esegiël se tempelvisioen gedurende die Millennium plaas. Dan sal die priesterlike klas nie meer hier op die aarde wees nie. “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom [in die hemel] as konings heers” (Openbaring 20:6). Hierdie hemelse priesters sal saam met Christus die volle voordele van Christus se losprysofferande aanwend. Sodoende sal regverdige mense gered en tot volmaaktheid herstel word!—Johannes 3:17.

17, 18. (a) Hoe word ’n lewegewende rivier in Openbaring 22:1, 2 beskryf, en wanneer vind die primêre vervulling van daardie visioen plaas? (b) Waarom sal die rivier van die water van die lewe baie groter word in die Paradys?

17 Die rivier wat Esegiël gesien het, sal dan in werklikheid met die kragtigste water van die lewe vloei. Dit is die vernaamste tyd van vervulling vir die profesie in Openbaring 22:1, 2: “Hy het my ’n rivier van water van die lewe gewys, helder soos kristal, wat uit die troon van God en van die Lam uitvloei, al in die middel van sy breë straat af. En aan hierdie kant van die rivier en aan daardie kant was daar bome van die lewe wat twaalf vrugteoeste voortbring, wat elke maand hulle vrugte oplewer. En die blare van die bome was vir die genesing van die nasies.”

18 Gedurende die Millennium sal alle siektes—fisiese, geestes- en emosionele siektes—genees word. Dit word goed voorgestel deur die “genesing van die nasies” deur middel van die simboliese bome. Danksy die voorsienings wat deur Christus en die 144 000 aangewend word, sal ‘geen inwoner sê: Ek is siek nie’ (Jesaja 33:24). En die rivier sal groter as ooit tevore word. Dit sal wyer en dieper moet word om voorsiening te maak vir die miljoene, moontlik miljarde, verresenes wat van hierdie suiwer waters van die lewe sal drink. Die rivier in die visioen het die Dooie See genees en lewe aan alles gegee waar sy waters ook al gevloei het. In die Paradys sal manne en vroue in die volste sin lewend word, genees van oorgeërfde Adamitiese dood indien hulle geloof beoefen in die losprysvoordele wat aan hulle beskikbaar gestel word. Openbaring 20:12 voorspel dat “boekrolle” in daardie dae geopen sal word, wat verdere insig sal verskaf waarby die verresenes sal baat vind. Ongelukkig sal party weier om genees te word, selfs in die Paradys. Hierdie opstandelinge is die persone wat ‘vir sout bestem is’, naamlik ewige vernietiging.—Openbaring 20:15.

19. (a) Hoe sal die verdeling van die land in die Paradys vervul word? (b) Watter kenmerk van die Paradys word deur die stad afgebeeld? (c) Wat word aangedui deur die feit dat die stad ’n ent van die tempel af geleë is?

19 In daardie tyd sal die verdeling van die land in Esegiël se visioen ook sy finale vervulling hê. Esegiël het gesien hoe die land behoorlik verdeel word; elke getroue Christen kan eweneens daarvan seker wees dat hy ’n plek, ’n erfdeel, in die Paradys sal hê. Die begeerte om jou eie huis te hê om in te woon en na om te sien, sal waarskynlik op ’n ordelike wyse bevredig word (Jesaja 65:21; 1 Korintiërs 14:33). Die stad wat Esegiël gesien het, beeld gepas die administratiewe reëling af wat Jehovah vir die nuwe aarde in gedagte het. Die gesalfde priesterlike klas sal nie meer fisies onder die mensdom teenwoordig wees nie. Die visioen gee dit te kenne deur die stad uit te beeld as ’n plek wat op ‘onheilige’ grond, ver van die tempel af geleë is (Esegiël 48:15, NW). Hoewel die 144 000 saam met Christus in die hemel regeer, is die Koning nie sonder verteenwoordigers op die aarde nie. Sy menslike onderdane sal grootliks baat vind by die liefdevolle leiding van die vorsteklas. Die eintlike regeringsetel sal egter nie op die aarde wees nie, maar in die hemel. Almal op aarde, onder andere die vorsteklas, sal aan die Messiaanse Koninkryk onderdanig wees.—Daniël 2:44; 7:14, 18, 22.

20, 21. (a) Waarom is die naam van die stad gepas? (b) Watter vrae moet ons begrip van Esegiël se visioen ons ons laat afvra?

20 Let op die laaste woorde van Esegiël se profesie: “Die naam van die stad sal van daardie dag af wees: Jehovah self is daar” (Esegiël 48:35, NW). Hierdie stad sal nie bestaan om aan mense mag of invloed te gee nie; en dit sal ook nie daar wees om enige mens se wil uit te voer nie. Dit is Jehovah se stad en sal altyd sy denke en liefdevolle, redelike weë weerspieël (Jakobus 3:17). Dit gee ons die hartverblydende versekering dat Jehovah sy georganiseerde “nuwe aarde”-mensegemeenskap tot in die oneindige toekoms sal seën.—2 Petrus 3:13.

21 Maak dit ons nie opgewonde om te dink aan wat voorlê nie? Dit is dus gepas dat ons elkeen ons afvra: ‘Hoe reageer ek op die wonderlike seëninge wat in Esegiël se visioen onthul word? Ondersteun ek getrou die werk wat gedoen word deur liefdevolle opsieners, waaronder diegene van die gesalfde oorblyfsel en die toekomstige lede van die vorsteklas? Draai my hele lewe om rein aanbidding? Maak ek ten volle gebruik van die water van die lewe wat vandag in so ’n oorvloedige mate vloei?’ Mag elkeen van ons voortgaan om dit te doen en ons tot in alle ewigheid in Jehovah se voorsienings verbly!

[Voetnote]

a Hierdie stroomvallei verwys moontlik na die Kidronvallei, wat in ’n suidoostelike rigting van Jerusalem af loop en by die Dooie See eindig. Dit is veral sy benedeloop wat die hele jaar lank sonder water en droog is.

b Sien die Watchtower van 1 Mei 1881 en Die Wagtoring van 15 Augustus 1981.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat beeld die waters af wat uit die tempel vloei?

◻ Watter genesing het Jehovah deur middel van die simboliese rivier teweeggebring, en waarom het die rivier groter geword?

◻ Wat beeld die bome langs die oewers van die rivier af?

◻ Wat sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy deur die stad afgebeeld word, en waarom is die naam van die stad gepas?

[Prente op bladsy 23]

Die rivier van die lewe beeld God se voorsiening vir redding af

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel