Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 3/15 bl. 15-20
  • Onderrig met insig en oorredingskrag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onderrig met insig en oorredingskrag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees ’n goeie luisteraar
  • Die waarde van eenvoud
  • Die doeltreffende gebruik van vrae
  • Prente wat die hart bereik
  • Hoe om tekste met vaardigheid te lees
  • Volg die Groot Onderrigter na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • ‘Julle behoort leraars te wees’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Leersame illustrasies
    Leer hoe om beter te lees en onderrig
  • “Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 3/15 bl. 15-20

Onderrig met insig en oorredingskrag

“Die hart van die wyse laat sy mond insig toon, en by sy lippe voeg dit oorredingskrag.”—SPREUKE 16:23, NW.

1. Waarom behels dit meer as om net inligting oor te dra wanneer ons uit God se Woord onderrig?

ONS doel as onderrigters van God se Woord is nie net om die verstande nie, maar ook die harte van ons studente te verlig (Efesiërs 1:18). Onderrigting behels dus meer as om net inligting oor te dra. Spreuke 16:23 (NW) sê: “Die hart van die wyse laat sy mond insig toon, en by sy lippe voeg dit oorredingskrag.”

2. (a) Wat beteken dit om te oorreed? (b) Hoe is dit vir alle Christene moontlik om met oorreding te onderrig?

2 Die apostel Paulus het beslis hierdie beginsel in sy onderrigtingswerk toegepas. Toe hy in Korinte was, het hy “elke sabbat ’n toespraak in die sinagoge gehou en Jode en Grieke oorreed” (Handelinge 18:4). Volgens een kenner beteken die Griekse woord wat hier met “oorreed” vertaal word “om ’n verandering in denke deur middel van redenering of sedelike oorwegings teweeg te bring”. Paulus kon deur middel van oortuigende argumente mense beweeg om selfs hulle denkwyse te verander. Hy het mense met soveel vaardigheid oorreed dat sy vyande hom gevrees het (Handelinge 19:24-27). Maar Paulus se onderrigting was nie ’n vertoon van menslike vermoë nie. Hy het vir die Korintiërs gesê: “Wat ek gesê het en wat ek gepreek het, was nie met oorredende woorde van wysheid nie, maar met ’n betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in mense se wysheid sou wees nie, maar in God se krag” (1 Korintiërs 2:4, 5). Aangesien alle Christene die hulp van Jehovah God se gees ontvang, kan hulle almal onderrigters word wat met oorredingskrag onderrig. Maar hoe? Kom ons kyk na ’n paar doeltreffende onderrigmetodes.

Wees ’n goeie luisteraar

3. Waarom is insig nodig wanneer ons ander onderrig, en hoe kan ons ’n Bybelstudent se hart bereik?

3 Die eerste onderrigmetode hou nie verband met wat ons sê nie, maar met hoe ons luister. Soos Spreuke 16:23 (NW) sê, moet ons insig hê as ons oorredingskrag wil hê. Jesus het die mense wat hy onderrig het, beslis verstaan. Johannes 2:25 sê: “Hy het self geweet wat in die mens is.” Maar hoe kan ons weet wat in die harte is van diegene wat ons onderrig? Een manier is om ’n goeie luisteraar te wees. Jakobus 1:19 sê: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat.” Dit is so dat nie alle mense maklik sê wat hulle op die hart het nie. Namate ons Bybelstudente oortuig word van ons opregte belangstelling in hulle, sal hulle dalk meer geneig wees om hulle ware gevoelens uit te spreek. Vriendelike maar oordeelkundige vrae kan ons dikwels help om die hart te bereik sodat ons kan uitvind hoe hulle oor sake voel.—Spreuke 20:5.

4. Waarom moet Christen- ouer manne goeie luisteraars wees?

4 Dit is veral belangrik dat Christen- ouer manne goeie luisteraars moet wees. Dit is slegs dan dat hulle werklik sal “weet hoe [hulle] elkeen ’n antwoord behoort te gee” (Kolossense 4:6). Spreuke 18:13 waarsku: “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ’n sotheid en ’n skande wees.” Twee welmenende broers het eenkeer vir ’n suster raad oor wêreldsheid gegee omdat sy ’n paar vergaderinge oorgeslaan het. Dit het die suster baie seergemaak omdat hulle haar nie gevra het waarom sy nie by die vergaderinge was nie. Sy het kort tevore ’n operasie ondergaan en was besig om aan te sterk. Hoe belangrik is dit dus dat ons luister voordat ons raad gee!

5. Hoe kan ouer manne geskille hanteer wat tussen broers ontstaan?

5 Die onderrigtingswerk van ouer manne behels dikwels dat hulle ander raad gee. In hierdie verband is dit ook belangrik om ’n goeie luisteraar te wees. Dit is veral noodsaaklik om te luister wanneer daar geskille tussen mede-Christene ontstaan. Slegs nadat ouer manne geluister het, kan hulle ‘die Vader navolg wat onpartydig oordeel’ (1 Petrus 1:17). Mense is dikwels baie emosioneel in sulke situasies, en dit is goed as ’n ouer man die raad in Spreuke 18:17 in gedagte hou: “Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.” ’n Bekwame onderrigter sal na albei partye luister. Deur ’n gebed te doen, help hy om ’n kalm atmosfeer te skep (Jakobus 3:18). As emosies begin opvlam, kan hy voorstel dat elke broer direk vir hom sê wat hom kwel, pleks dat die twee broers met mekaar stry. Met behulp van gepaste vrae kan die ouer man ’n duidelike begrip kry van die geskille onder bespreking. In baie gevalle is swak kommunikasie, en nie kwaadwilligheid nie, die oorsaak van geskille. Maar as Bybelbeginsels geskend is, kan ’n liefdevolle onderrigter nou met insig onderrig, aangesien hy albei kante van die saak gehoor het.

Die waarde van eenvoud

6. Hoe het Paulus en Jesus ’n voorbeeld in eenvoudige onderrigting gestel?

6 Nog ’n waardevolle vaardigheid in die onderrigtingswerk is die vermoë om dinge eenvoudig te hou. Ons wil weliswaar hê dat Bybelstudente “heeltemal in staat [moet] wees om saam met al die heiliges verstandelik te begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid is (Efesiërs 3:18). Daar is aspekte van Bybelleerstellings wat fassinerend en dikwels moeilik is om te verstaan (Romeine 11:33). Maar toe Paulus vir Grieke getuig het, het hy die aandag gevestig op die eenvoudige boodskap dat ‘Christus aan ’n paal genael is’ (1 Korintiërs 2:1, 2). Jesus het ook op ’n duidelike wyse gepreek wat byval by mense gevind het. Hy het ’n eenvoudige woordeskat in sy Bergpredikasie gebruik. En tog bevat dit van die diepste waarhede wat nog geuiter is.—Matteus hoofstukke 5-7.

7. Hoe kan ons dinge eenvoudig hou wanneer ons Bybelstudies hou?

7 Ons kan ook ons onderrigting eenvoudig hou wanneer ons tydens Bybelstudies onderrig. Hoe? Deur die klem op “die belangriker dinge” te laat val (Filippense 1:10). Wanneer ons moeilike onderwerpe bespreek, moet ons eenvoudige taal probeer gebruik. In plaas van elke teksverwysing in ’n publikasie te probeer lees en te bespreek, moet ons liewer die aandag op sleuteltekste vestig. Dit vereis dat ons goed voorberei. Ons moenie die student met fyn besonderhede oorweldig nie en nie toelaat dat ons deur minder belangrike kwessies afgelei word nie. As ’n student ’n vraag het wat nie direk met die les verband hou nie, kan ons taktvol voorstel dat dit aan die einde van die les bespreek word.

Die doeltreffende gebruik van vrae

8. Hoe het Jesus vrae doeltreffend gebruik?

8 Nog ’n nuttige onderrigvaardigheid behels die gebruik van doeltreffende vrae. Jesus Christus het dikwels vrae gebruik wanneer hy onderrig het. Jesus het byvoorbeeld vir Petrus gevra: “‘Wat dink jy, Simon? Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?’ Toe hy sê: ‘Van die vreemdelinge’, het Jesus vir hom gesê: ‘Dan is die seuns mos vrygestel van belasting’” (Matteus 17:24-26). As die enigverwekte Seun van die Een wat by die tempel aanbid is, was Jesus in werklikheid nie verplig om tempelbelasting te betaal nie. Maar Jesus het hierdie waarheid deur die doeltreffende gebruik van vrae oorgedra. Jesus het Petrus sodoende gehelp om op grond van wat hy reeds geweet het tot die regte gevolgtrekking te kom.

9. Hoe kan ons vrae tydens Bybelstudies gebruik?

9 Ons kan goed gebruik maak van vrae wanneer ons Bybelstudies hou. As ’n student ’n verkeerde antwoord gee, kom ons dalk in die versoeking om die regte antwoord te gee, maar sal hy werklik die inligting onthou? Dit is dikwels beter om die student met behulp van vrae tot die regte gevolgtrekking te lei. As hy dit byvoorbeeld moeilik vind om te verstaan waarom hy die Goddelike naam moet gebruik, kan ons vra: ‘Is jou naam belangrik vir jou? . . . Waarom? . . . Hoe sal jy voel as iemand weier om jou naam te gebruik? . . . Is dit nie redelik van God om te vereis dat ons sy persoonlike naam gebruik nie?’

10. Hoe kan ouer manne vrae gebruik wanneer hulle mense help wat emosionele letsels opgedoen het?

10 Ouer manne kan vrae ook goed gebruik wanneer hulle herderswerk doen. Baie in die gemeente het emosionele letsels in Satan se wêreld opgedoen en voel dalk vuil en dat niemand hulle ooit kan liefhê nie. ’n Ouer man kan met so ’n persoon redeneer en sê: ‘Hoe voel Jehovah oor jou, al sê jy dat jy onrein voel? Beteken die feit dat ons liefdevolle hemelse Vader toegelaat het dat sy Seun sterf en ’n losprys vir jou voorsien nie dat God jou liefhet nie?’—Johannes 3:16.

11. Wat is die doel van retoriese vrae, en hoe kan hulle gebruik word wanneer ons ’n gehoor toespreek?

11 Retoriese vrae is nog ’n nuttige onderrigmetode. Dit is nie ’n vraag waarop die gehoor verwag word om hardop te antwoord nie, maar mense word daardeur gehelp om oor sake te redeneer. Die profete van die ou tyd het dikwels sulke vrae gebruik om hulle luisteraars diep te laat dink (Jeremia 18:14, 15). Jesus het retoriese vrae doeltreffend gebruik (Matteus 11:7-11). Sulke vrae is veral doeltreffend wanneer ons ’n gehoor toespreek. In plaas van bloot vir ’n gehoor te sê dat hulle heelhartig moet wees om Jehovah te behaag, is dit dalk doeltreffender om te vra: ‘Sal ons Jehovah behaag as ons nie werklik heelhartig in ons diens is nie?’

12. Waarom is dit nuttig om beskouingsvrae te vra?

12 Beskouingsvrae is nuttig as ’n mens wil vasstel of ’n Bybelstudent werklik glo wat hy leer (Matteus 16:13-16). ’n Student antwoord dalk heel tereg dat hoerery verkeerd is. Maar vra gerus ook vrae soos: Hoe voel jy persoonlik oor God se sedelikheidstandaard? Dink jy dat dit te beperkend is? Sou jy sê dit maak werklik saak of ons God se standaarde nakom of nie?

Prente wat die hart bereik

13, 14. (a) Wat beteken dit om iets te illustreer? (b) Waarom is goeie illustrasies doeltreffend?

13 ’n Ander manier om die hart van luisteraars en Bybelstudente te bereik, is deur doeltreffende illustrasies. Die Griekse uitdrukking wat met “illustrasie” vertaal word, beteken letterlik “om langsaan of bymekaar te plaas”. Wanneer jy iets illustreer, verduidelik jy dit deur dit ‘langs’ iets soortgelyks ‘te plaas’. Jesus het byvoorbeeld gevra: “Waarmee sal ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter illustrasie sal ons dit uiteensit?” In antwoord hierop het Jesus die bekende mosterdsaadjie genoem.—Markus 4:30-32.

14 God se profete het talle kragtige illustrasies gebruik. Toe die Assiriërs, wat as God se instrument gedien het om die Israeliete te straf, hulle aan genadelose wreedheid skuldig gemaak het, het Jesaja hulle vermetelheid met hierdie illustrasie aan die kaak gestel: “Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek?” (Jesaja 10:15). Wanneer Jesus ander onderrig het, het hy eweneens baie illustrasies gebruik. Daar word berig dat hy ‘sonder ’n illustrasie glad nie tot hulle gespreek het nie’ (Markus 4:34). Goeie illustrasies is doeltreffend omdat hulle tot die verstand sowel as die hart spreek. Hulle maak dit vir luisteraars moontlik om nuwe inligting maklik in te neem deur dit met iets te vergelyk waarmee hulle reeds vertroud is.

15, 16. Wat sal illustrasies uiters doeltreffend maak? Gee voorbeelde.

15 Hoe kan ons illustrasies gebruik wat werklik die hart bereik? ’n Illustrasie moet eerstens min of meer ooreenstem met wat verduidelik word. As die vergelyking nie werklik pas nie, sal die illustrasie luisteraars nie verlig nie, maar eerder hulle aandag aftrek. ’n Welmenende spreker het eenkeer die gesalfde oorblyfsel se onderdanigheid aan Jesus Christus probeer verduidelik deur hulle met ’n getroue hond te vergelyk. Maar is so ’n verlagende vergelyking werklik gepas? Die Bybel dra dieselfde gedagte op ’n baie aantrekliker en waardiger wyse oor. Dit vergelyk Jesus se 144 000 gesalfde volgelinge met “’n bruid wat vir haar man versier is”.—Openbaring 21:2.

16 Illustrasies is uiters doeltreffend as hulle met mense se lewens verband hou. Natan se illustrasie van die geslagte lam het koning Dawid se hart geraak omdat hy lief was vir skape, aangesien hy in sy jeug ’n herder was (1 Samuel 16:11-13; 2 Samuel 12:1-7). As ’n bul in die illustrasie gebruik is, sou dit miskien nie naastenby so doeltreffend gewees het nie. Illustrasies wat eweneens op wetenskaplike verskynsels of onbekende geskiedkundige gebeure gebaseer is, sal dalk min waarde vir ons luisteraars hê. Jesus het sy illustrasies op alledaagse dinge gebaseer. Hy het oor algemene dinge gepraat, soos ’n lamp, die voëls van die hemel en die lelies van die veld (Matteus 5:15, 16; 6:26, 28). Diegene wat na Jesus geluister het, kon hulle hierdie dinge maklik voorstel.

17. (a) Waarop kan ons ons illustrasies baseer? (b) Hoe kan ons illustrasies wat in ons publikasies gebruik word by die omstandighede van ons studente aanpas?

17 In ons bediening het ons baie geleenthede om eenvoudige en tog doeltreffende illustrasies te gebruik. Wees oplettend (Handelinge 17:22, 23). ’n Illustrasie kan miskien op ’n huisbewoner se kinders, huis, werk of stokperdjie gebaseer wees. Of ons kan ons persoonlike kennis van ’n Bybelstudent gebruik om voort te bou op die illustrasie wat reeds in ons studiemateriaal voorsien word. Neem byvoorbeeld die doeltreffende illustrasie wat in paragraaf 14 van hoofstuk 8 in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei gebruik word. Dit vertel van ’n liefdevolle ouer wat deur ’n buurman belaster word. Ons kan gerus ’n bietjie nadink oor hoe ons daardie illustrasie kan aanpas by die omstandighede van ’n Bybelstudent wat self ’n ouer is.

Hoe om tekste met vaardigheid te lees

18. Waarom moet ons daarna streef om vlot lesers te wees?

18 Paulus het Timoteus aangespoor: “[Gaan voort] om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting” (1 Timoteus 4:13). Aangesien die Bybel die grondslag van ons onderrigting is, is dit goed om dit vlot te kan lees. Die Leviete het die voorreg gehad om die Mosaïese Wet vir God se volk te lees. Het hulle oor hulle woorde gestruikel terwyl hulle gelees het of met ’n eentonige stem gelees? Nee, die Bybel sê in Nehemia 8:8 (NW): “Hulle het bly voorlees uit die boek, uit die wet van die ware God; dit is uitgelê en betekenis is daaraan gegee; en hulle het wat voorgelees is deurentyd verstaanbaar gemaak.”

19. Hoe kan ons beter lesers van die Skrif word?

19 Party Christenmans wat vlot sprekers is, skiet tekort wanneer hulle moet lees. Hoe kan hulle verbeter? Deur te oefen. Ja, deur oor en oor hardop te lees totdat hulle dit vlot kan doen. Indien oudiokassette van die Bybel in jou taal beskikbaar is, is dit goed om na die leser se beklemtoning en modulasie te luister en aandag te skenk aan hoe name en ongewone woorde uitgespreek word. Diegene wat die Nuwe Wêreld-vertaling in hulle taal het, kan ook baat vind by die uitspraakhulpmiddele daarin.a Met oefening kan selfs name soos Maherʹ-Salalʹ-Has-Bas redelik maklik gelees word.—Jesaja 8:1, NW.

20. Hoe kan ons ‘op ons onderrigting let’?

20 Wat ’n voorreg het ons tog as Jehovah se volk om as onderrigters gebruik te word! Laat elkeen van ons dus daardie verantwoordelikheid ernstig opneem. Mag ons ‘voortdurend op onsself en op ons onderrigting let’ (1 Timoteus 4:16). Ons kan goeie onderrigters wees deur goeie luisteraars te wees, deur dinge eenvoudig te hou, deur gedagteprikkelende vrae te stel, deur doeltreffende illustrasies te gebruik en deur tekste met vaardigheid te lees. Mag ons almal baat vind by die opleiding wat Jehovah deur sy organisasie voorsien, want dit kan ons help om ‘die tong te hê van dié wat geleer is’ (Jesaja 50:4, NW). As ons ten volle gebruik maak van al die instrumente wat vir ons bediening voorsien word, onder meer brosjures, oudio- en videokassette, kan ons leer om met insig en oorredingskrag te onderrig.

[Voetnoot]

a Party eiename het ’n aksentteken. Die klem val op die lettergreep met die aksentteken. As die lettergreep op ’n vokaal eindig, word dit as ’n lang vokaal uitgespreek. As ’n lettergreep op ’n konsonant eindig, is die vokaal ’n kort vokaal.

Onthou jy?

◻ Hoe kan dit ons in ons onderrigting help as ons goeie luisteraars is?

◻ Hoe kan ons Paulus en Jesus navolg deur ons onderrigting eenvoudig te hou?

◻ Watter soort vrae kan ons gebruik wanneer ons ander onderrig?

◻ Watter soort illustrasies is die doeltreffendste?

◻ Hoe kan ons ons vermoë as openbare lesers verbeter?

[Prent op bladsy 16]

’n Goeie onderrigter luister sodat hy insig kan verkry

[Prente op bladsy 18]

Jesus het sy illustrasies op alledaagse dinge gebaseer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel