Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 4/1 bl. 23-27
  • My soeke na ’n paradys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My soeke na ’n paradys
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek leef van die land
  • Geloof in God ontwikkel
  • Die antwoord op my gebede
  • Geestelike vooruitgang
  • Hulp in ’n tyd van nood
  • Ek streef iets beters na
  • Bethel—’n wonderlike geestelike paradys
  • Kan jy jou beskikbaar stel?
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Kan dit die beste loopbaan vir jou wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Ek het nooit ophou leer nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 4/1 bl. 23-27

My soeke na ’n paradys

SOOS VERTEL DEUR PASCAL STISI

Dit was laat een aand, en die strate van die dorp Béziers, in suidelike Frankryk, was leeg. Ek en my vriend het na die pas geverfde muur van ’n boekwinkel vir geestelike lektuur gegaan en in groot swart letters die woorde van die Duitse filosoof Nietzsche daarop geskryf: ‘Die gode is dood. Lank leef die Supermens!’ Wat het my egter hiertoe gedryf?

EK IS in 1951 in Frankryk uit ’n Katolieke gesin van Italiaanse afkoms gebore. Gedurende my kinderjare het ons altyd in die suide van Italië gaan vakansie hou. Daar het elke dorpie sy beeld van die Maagd Maria gehad. Ek en my oupa het in eindelose optogte deur die berge agter hierdie enorme geklede beelde geloop—maar sonder dat ek enigsins daaraan geglo het. Ek het my skoolopleiding voltooi aan ’n kerkskool wat deur Jesuïete bestuur is. Maar ek kan nie onthou dat ek enigiets gehoor het wat werklik my geloof in God opgebou het nie.

Dit was eers toe ek aan ’n universiteit in Montpellier ingeskryf het om geneeskunde te studeer dat ek oor die doel van die lewe begin nadink het. Ma pa is tydens die oorlog beseer en het maar altyd mediese sorg nodig gehad. Sou dit nie beter wees om ’n einde aan oorlog te maak as om soveel tyd en moeite daaraan te bestee om mense te genees wat weens die verskriklike gevolge daarvan ly nie? En tog het die Viëtnamese Oorlog toe gewoed. Vir my was die enigste logiese manier om byvoorbeeld longkanker te behandel, om weg te doen met die hoofoorsaak daarvan—tabak. En wat van die siektes wat veroorsaak word deur ondervoeding in ontwikkelende lande en dié wat veroorsaak word deur oormatige etery in welvarende lande? Sou dit nie beter wees om die oorsake uit die weg te ruim in plaas van die pynlike gevolge te probeer regstel nie? Waarom was daar soveel lyding op die aarde? Ek het gevoel dat daar baie groot fout was met hierdie selfvernietigende samelewing, en ek het die regerings verantwoordelik gehou.

My gunstelingboek is deur ’n anargis geskryf, en ek het sinne daaruit op mure geskryf. Ek het geleidelik ook ’n anargis geword, sonder geloof of sedewette, wat geen God of meester wou hê nie. Vir my was God en godsdiens die versinsels van die rykes en magtiges sodat hulle die res van ons kon oorheers en uitbuit. Dit was asof hulle gesê het: ‘Werk hard vir ons op aarde en julle beloning sal groot wees in die paradys in die hemel.’ Maar die tyd van die gode was verby. Mense moes ingelig word. Graffiti was een manier om hulle in te lig.

My studies moes gevolglik die tweede plek inneem. Ek het intussen ingeskryf om aardrykskunde en ekologie te studeer aan ’n ander universiteit in Montpellier waar opstand geheers het. Hoe meer ek ekologie gestudeer het, hoe meer het die besoedeling van ons pragtige planeet my ontstel.

Elke jaar gedurende die somervakansie het ek geryloop, en só duisende kilometers deur die hele Europa afgelê. Terwyl ek saam met honderde bestuurders gereis en met hulle gesels het, het ek met my eie oë die boosheid en verdorwenheid van die mensegemeenskap gesien. Eenkeer het ek, tydens my soeke na ’n paradys, by pragtige strande langs die idilliese eiland Kreta gekom en gevind dat dit met olie besoedel is. Dit het my bedruk laat voel. Was daar dan nêrens op die aarde eers ’n stukkie paradys oor nie?

Ek leef van die land

In Frankryk het ekoloë die idee bevorder om van die land te leef as ’n oplossing vir die samelewing se probleme. Ek wou graag met my hande werk. Daarom het ek ’n ou kliphuis in ’n klein dorpie aan die voet van die Cévennes-gebergte in suidelike Frankryk gekoop. Op die deur het ek geskryf: “Paradys Nou”, die slagspreuk van die Amerikaanse hippies. ’n Jong Duitse meisie wat deur die gebied gereis het, het by my ingetrek. Dit was buite die kwessie om voor die burgemeester, ’n verteenwoordiger van die stelsel, te trou. En in die kerk? Nooit!

Ons het die meeste van die tyd kaalvoet geloop, en ek het lang hare en ’n onversorgde baard gehad. Ek het dit geniet om vrugte en groente te kweek. In die somer was die lug blou en die sonbesies het gesing. Die veldblomme het so lekker geruik en die Mediterreense vrugte wat ons gekweek het—druiwe en vye—was so sappig! Dit het gelyk of ons ons plekkie in die paradys gevind het.

Geloof in God ontwikkel

Ek het sellulêre biologie, embriologie en anatomie aan die universiteit gestudeer, en ek is diep beïndruk deur die ingewikkeldheid en harmonie van al hierdie meganismes. Noudat ek elke dag die skepping kon aanskou, het die prag en potensiaal daarvan my met bewondering vervul. Dag na dag het die boek van die skepping tot my gespreek. Eendag, tydens ’n lang wandeling in die heuwels en nadat ek diep oor die lewe nagedink het, het ek tot die slotsom gekom dat daar ’n Skepper moet wees. Ek het in my hart besluit om aan God te glo. Voorheen het ek ’n leemte in my hart gevoel, ’n knaende eensaamheid. Die dag dat ek aan God begin glo het, het ek by myself gesê: ‘Pascal, jy sal nooit weer alleen wees nie.’ Dit was ’n buitengewone sensasie.

Kort daarna het ek en my vriendin ’n babadogtertjie—Amandine—gehad. Sy was my oogappel. Noudat ek aan God geglo het, het ek die paar sedewette wat ek geken het, begin respekteer. Ek het nie meer gesteel en leuens vertel nie, en ek het spoedig besef dat dit my gehelp het om baie probleme met mense om my te vermy. Ja, ons het ons probleme gehad, en my paradys was nie heeltemal soos ek gehoop het dit sou wees nie. Die plaaslike wynboere het insekdoders en onkruiddoders gebruik wat ook my oeste besoedel het. My vraag oor die oorsaak van goddeloosheid was nog onbeantwoord. Wat meer is, hoewel ek baie oor gesinslewe gelees het, het dit nie voorkom dat ek en my vriendin verskriklik gestry het nie. Ons het min vriende gehad, en dié wat ons gehad het, was vals; party wou selfs my vriendin sover kry om ontrou aan my te wees. Daar moes eenvoudig ’n beter paradys wees.

Die antwoord op my gebede

Ek het op my manier dikwels tot God gebid om my in die lewe te lei. Een Sondagoggend het ’n vriendelike vrou, Irène Lopez, en haar seuntjie na ons deur gekom. Sy was een van Jehovah se Getuies. Ek het geluister na wat sy gesê het en ingestem dat hulle my weer kon besoek. Twee mans het my kom besoek. Uit ons gesprek het ek twee dinge onthou—die Paradys en God se Koninkryk. Ek het daardie gedagtes in my hart bewaar, en in die volgende paar maande het ek besef dat ek my lewe eendag na God se standaarde sou moes skik as ek ’n skoon gewete en ware geluk wou hê.

My vriendin het aanvanklik ingestem om met my te trou sodat ons ons lewe in ooreenstemming met die Woord van God kon bring. Maar toe het sy met slegte vriende begin omgaan wat God en sy wette bespot het. Toe ek een lenteaand by die huis kom, het ek ’n groot skok gekry. Ons huis was leeg. My vriendin het my verlaat en ons driejarige dogtertjie saam met haar geneem. Ek het dae lank gewag vir hulle om terug te kom—maar tevergeefs. Ek het nie God hiervoor blameer nie, maar eerder tot hom gebid om my te help.

Kort daarna het ek die Bybel geneem, onder my vyeboom gaan sit en begin lees. Ek het die woorde as ’t ware ingedrink. Hoewel ek allerhande boeke van psigoanaliste en sielkundiges gelees het, het ek nog nooit sulke wysheid teëgekom nie. Hierdie boek moes sekerlik deur God geïnspireer gewees het. Jesus se leringe en sy begrip van die menslike natuur het my verbaas. Die Psalms het my vertroos en die praktiese wysheid van die Spreuke het my verstom. Ek het gou besef dat die studie van die skepping wel uitstekend is om ’n mens nader aan God te bring, maar dat dit net “die rande van sy weë” kan openbaar.—Job 26:14, NW.

Die Getuies het ook die boeke Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou by my gelaat.a Toe ek dit lees, het my oë oopgegaan. Die Waarheid-boek het my gehelp om te verstaan waarom die mens met wydverspreide besoedeling, oorloë, toenemende geweld en die bedreiging van ’n kernvernietiging te kampe het. En net soos ek geweet het dat dit die volgende dag mooi weer sal wees wanneer die lug rooi is, het hierdie gebeure bewys dat God se Koninkryk op hande is. Wat die Gesinslewe-boek betref, ek het gewens ek kon dit vir my vriendin wys en vir haar sê dat ons gelukkig kan wees deur die Bybel se raad toe te pas. Maar dit was nie meer moontlik nie.

Geestelike vooruitgang

Ek wou graag meer weet; daarom het ek Robert, ’n Getuie, gevra om my te besoek. Tot sy groot verbasing het ek hom vertel dat ek gedoop wou word, en hy het dus ’n Bybelstudie met my begin. Ek het onmiddellik met ander begin praat oor die dinge wat ek geleer het en die publikasies begin versprei wat ek by die Koninkryksaal gekry het.

Ek het ’n messelwerkkursus begin volg om my te help om ’n bestaan te maak. Aangesien ek geweet het hoe nuttig God se Woord vir ’n mens is, het ek elke geleentheid aangegryp om informeel vir medestudente en onderwysers te getuig. Een aand het ek Serge in ’n gang ontmoet. Hy het ’n paar tydskrifte in sy hand gehad. “Ek sien jy hou van lees”, het ek gesê. “Ja, maar ek is verveeld hiermee.” “Wil jy iets hê wat regtig interessant is om te lees?” het ek gevra. Ons het ’n aangename gesprek oor God se Koninkryk gehad, waarna hy Bybellektuur geneem het. Die daaropvolgende week het hy saam met my na die Koninkryksaal gegaan, en ’n Bybelstudie is met hom begin.

Eendag het ek Robert gevra of ek van huis tot huis kan getuig. Hy het na sy klerekas gegaan en ’n pak klere vir my uitgehaal. Die volgende Sondag het ek my eerste dag in die bediening saam met hom deurgebring. Later, op 7 Maart 1981, het ek my toewyding in die openbaar aan Jehovah God gesimboliseer deur my te laat doop.

Hulp in ’n tyd van nood

Intussen het ek uitgevind waar in die buiteland Amandine en haar ma gewoon het. Tot my groot ontsteltenis het ek uitgevind dat haar ma—ten volle in ooreenstemming met die wette van die land waar sy gewoon het—my verbied om my dogter te sien. Ek was verpletter. Amandine se ma het getrou, en my wanhoop het ’n nuwe laagtepunt bereik toe ek amptelik in kennis gestel is dat haar man my dogter aangeneem het—heeltemal sonder my toestemming. Ek het alle regte as vader verloor. Ten spyte van regstappe kon ek nie besoekregte kry nie. Dit het vir my gevoel asof ek die hele wêreld op my skouers dra, so erg was my pyn.

Maar Jehovah se Woord het my op etlike maniere onderskraag. Eendag, toe ek baie neerslagtig was, het ek die woorde van Spreuke 24:10 (NW) oor en oor gesê: “Het jy getoon dat jy ontmoedig is op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” Hierdie vers het my gehelp om nie moed op te gee nie. By ’n ander geleentheid, ná ’n mislukte poging om my dogter te sien, het ek in die bediening uitgegaan en die handvatsel van my velddienstas so styf as wat ek kon, vasgehou. In sulke moeilike tye het ek gesien hoe Psalm 126:6 (NAV) bewaarheid word, wat sê: “Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.” ’n Belangrike les wat ek geleer het oor wanneer ’n mens ernstige beproewinge verduur, is dit: nadat jy alles gedoen het wat jy kon om probleme op te los, moet jy dit daarby laat en met vasbeslotenheid in Jehovah se diens voortbeur. Dit is die enigste manier om jou vreugde te behou.

Ek streef iets beters na

Toe my dierbare ouers die veranderinge sien wat ek in my lewe aangebring het, het hulle aangebied om my te help om my studies aan die universiteit voort te sit. Ek het hulle bedank, maar nou het ek ’n ander doelwit gehad. Die waarheid het my vrygemaak van menslike filosofieë, mistisisme en astrologie. Ek het nou ware vriende gehad wat nooit mekaar in oorloë sou doodmaak nie. En ek het uiteindelik die antwoorde gehad op my vrae oor waarom daar soveel lyding op aarde is. Uit dankbaarheid wou ek God met al my krag dien. Jesus het hom op sy bediening toegelê, en ek wou sy voorbeeld volg.

In 1983 het ek my messelwerkonderneming opgegee om ’n voltydse bedienaar te word. In antwoord op my gebede het ek ’n deeltydse werk in ’n park gekry sodat ek myself kon onderhou. Wat ’n vreugde was dit tog om die pionierskool by te woon saam met Serge, die jong man vir wie ek in die messelwerkskool getuig het! Ná drie jaar as ’n gewone pionier het ek die begeerte gehad om selfs meer in Jehovah se diens te doen. In 1986 is ek dus aangestel as ’n spesiale pionier in die skilderagtige dorp Provins, nie ver van Parys nie. Baie maal, wanneer ek in die aand by die huis gekom het, het ek in gebed gekniel om Jehovah te dank vir die wonderlike dag wat ek gehad het om met ander oor hom te praat. Om die waarheid te sê, my twee grootste vreugdes in die lewe is om met God en oor God te praat.

Nog ’n groot vreugde vir my was toe my 68-jarige ma gedoop is. Sy het in Cébazan, ’n klein dorpie in die suide van Frankryk, gewoon. Toe my ma die Bybel begin lees het, het ek intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! vir haar gestuur. Sy was ’n denkende persoon en het spoedig die klank van waarheid herken in wat sy gelees het.

Bethel—’n wonderlike geestelike paradys

Toe die Wagtoringgenootskap besluit het om die getal spesiale pioniers te verminder, het ek aansoek gedoen vir die Bedieningsopleidingskool en vir Bethel, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Frankryk. Ek wou dit aan Jehovah oorlaat om te besluit hoe ek hom die beste kon dien. ’n Paar maande later, in Desember 1989, is ek na Bethel in Louviers, noordwestelike Frankryk, genooi. Dit het baie goed uitgewerk, aangesien die ligging my in staat gestel het om my broer en skoonsuster te help om vir my ouers te sorg toe hulle baie siek geword het. Ek sou dit nie kon gedoen het as ek in sendingdiens duisende kilometers daarvandaan was nie.

My ma het my ’n hele paar keer by Bethel kom besoek. Al was dit vir haar ’n opoffering om nie naby my te woon nie, het sy dikwels vir my gesê: “Bly by Bethel, Seun. Ek is bly dat jy Jehovah op hierdie manier dien.” Ongelukkig is albei my ouers nou oorlede. Hoe sien ek tog daarna uit om hulle weer te sien op ’n aarde wat in ’n letterlike paradys omskep is!

Ek glo werklik dat Bethel—die “Huis van God”—meer as enige ander huis die beskrywing “Paradys Nou” verdien—want die ware paradys is bowenal geestelik, en geestelikheid heers in Bethel. Ons het die geleentheid om die vrug van die gees aan te kweek (Galasiërs 5:22, 23). Die ryk geestelike voedsel wat ons gedurende die daaglikse bespreking van die dagteks en die gesin se studie van Die Wagtoring ontvang, help om my vir Betheldiens te versterk. Ook maak omgang met geestelikgesinde broers en susters wat Jehovah al dekades lank getrou dien van Bethel ’n unieke plek vir geestelike groei. Hoewel ek nou al 17 jaar van my dogter geskei is, het ek talle ywerige jongmense by Bethel gevind wat ek as my kinders beskou en wie se geestelike vooruitgang vir my groot blydskap verskaf. Oor die afgelope agt jaar het ek sewe verskillende toewysings gehad. Hoewel hierdie veranderinge nie altyd maklik was nie, is sulke opleiding op die lange duur voordelig.

Ek het in die verlede ’n soort boontjie gekweek wat honderdvoudig voortbring. Ek het eweneens ondervind dat as ’n mens slegte dinge saai, jy ’n honderd maal erger dinge maai—en nie net een oes nie. Ondervinding is ’n skool waar die lesse baie duur is. Ek sou verkies het om nooit in daardie skool te wees nie, maar om eerder in Jehovah se weë te kon opgroei. Wat ’n voorreg het daardie jongmense tog wat deur Christenouers grootgemaak word! Dit is ongetwyfeld beter om te saai wat goed is in Jehovah se diens en honderd maal meer vrede en bevrediging te maai.—Galasiërs 6:7, 8.

Toe ek ’n pionier was, het ek soms by die boekwinkel verbygegaan waar ek die anargis se slagspreuk op die muur geskryf het. Ek was al selfs in die winkel en het met die eienaar oor die lewende God en sy voorneme gepraat. Ja, God lewe! Wat meer is, Jehovah, die enigste ware God, is ’n getroue Vader wat nooit sy kinders in die steek laat nie (Openbaring 15:4). Mag nog menigtes uit alle nasies nóú die geestelike paradys vind—asook die herstelde Paradys wat op hande is—deur die lewende God, Jehovah, te dien en te loof!

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prente op bladsy 26]

Die wonders van die skepping het my in my hart laat besluit om aan God te glo. (Regs) In Betheldiens vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel