Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 4/15 bl. 18-22
  • Hoe om ’n geestelike swakheid te herken en te oorkom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n geestelike swakheid te herken en te oorkom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ondersoek jou geestelike wapenrusting
  • Hoe om die simptome te herken
  • Positiewe stappe om geestelike swakhede te oorkom
  • Bly nou geestelik sterk
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
  • “Hou aan om krag te verkry in die Here”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 4/15 bl. 18-22

Hoe om ’n geestelike swakheid te herken en te oorkom

VOLGENS GRIEKSE MITOLOGIE WAS AGILLES DIE DAPPERSTE GRIEKSE kryger in die Trojaanse Oorlog, ’n krygstog teen die stad Troje. Agilles is volgens oorlewing deur sy moeder in die water van die Styx-rivier gedompel toe hy ’n baba was, wat hom dus onkwesbaar gemaak het behalwe waar sy moeder hom vasgehou het—die spreekwoordelike Agilleshiel. Dit is presies waar die dodelike pyl van Paris, die seun van koning Priamos van Troje, Agilles getref en gedood het.

Christene is soldate van Christus wat in ’n geestelike oorlogvoering gewikkel is (2 Timoteus 2:3). “Ons het ’n worstelstryd,” verduidelik die apostel Paulus, “nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke.” Ja, ons vyande is niemand anders as Satan die Duiwel en die demone nie.—Efesiërs 6:12.

Dit sou natuurlik ’n eensydige geveg gewees het as ons nie hulp ontvang het van Jehovah God, wat as ’n “krygsman” beskryf is nie (Exodus 15:3). Om onsself teen ons bose vyande te beskerm, word daar aan ons ’n geestelike wapenrusting gegee. Daarom spoor die apostel ons aan: “Trek die volledige wapenrusting aan wat van God kom, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel.”—Efesiërs 6:11.

Die wapenrusting wat Jehovah God voorsien, is ongetwyfeld van die beste gehalte en kan ons teen enige soort geestelike aanval beskerm. Kyk net na die lys wat Paulus gegee het: gordel van waarheid, borsplaat van regverdigheid, die goeie nuus as skoene aan ons voete, groot skild van geloof, helm van redding en swaard van die gees. Wat meer kan ’n mens vra? Met so ’n wapenrusting het ’n Christensoldaat alle rede om sukses te behaal, al staan hy voor ’n oorweldigende oormag.—Efesiërs 6:13-17.

Hoewel die geestelike wapenrusting van Jehovah van die hoogste gehalte is en ’n bron van veiligheid vir ons is, moet ons nie dinge as vanselfsprekend aanvaar nie. Het ons miskien ook ’n swak plek, ’n geestelike Agilleshiel, soos die skynbaar onoorwinlike Agilles? Dit kan rampspoedig wees as ons onverwags oorval word.

Ondersoek jou geestelike wapenrusting

’n Ysskaatser wat twee keer ’n Olimpiese goue medalje gewen het en wat blykbaar blakend gesond was, het skielik gedurende ’n oefensessie ineengestort en gesterf. Kort daarna het ’n insiggewende berig in The New York Times verskyn: “Die helfte van die 600-000 Amerikaners wat elke jaar hartaanvalle kry, het geen simptome voor die tyd nie.” Dit is duidelik dat ons gesondheid nie bloot bepaal kan word deur hoe ons voel nie.

Dieselfde geld vir ons geestelike welstand. Die Bybel se raad is: “Hy wat dink dat hy staan, [moet] oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12). Al is ons geestelike wapenrusting die beste wat ’n mens kan kry, kan swakheid ontwikkel. Dit is omdat ons in sonde gebore is en ons sondige en onvolmaakte natuur maklik kan maak dat ons nie ons voorneme om God se wil te doen uitvoer nie (Psalm 51:7). Ten spyte van ons goeie bedoelings kan ons bedrieglike hart ons mislei deur slim redenasies of verskonings te versin, sodat ons maklik ons swakheid oor die hoof sien en onsself begin bedrieg deur te dink dat ons nog goed doen.—Jeremia 17:9; Romeine 7:21-23.

Daarbenewens lewe ons in ’n wêreld waarin die gevoel vir wat reg en verkeerd is dikwels verward en verwronge is. Mense besluit of iets reg of verkeerd is na aanleiding van hoe hulle voel. Hierdie soort denke word deur advertensies, gewilde vermaak en die media bevorder. As ons nie versigtig is nie, kan ons natuurlik ook stadig maar seker so begin dink, en ons geestelike wapenrusting kan begin verswak.

In plaas van in so ’n gevaarlike situasie te beland, moet ons eerder ag slaan op die Bybel se raad: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). As ons dit doen, sal ons enige swakhede kan raaksien wat dalk ontwikkel het en die nodige stappe kan doen om dit reg te stel voordat ons vyande dit raaksien en ons aanval. Maar hoe doen ons so ’n toets? Wat is van die simptome waarna ons op die uitkyk moet wees in hierdie selfondersoek?

Hoe om die simptome te herken

’n Algemene simptoom wat ’n swak plek in ons geestelikheid kan aandui, is dat ons minder persoonlike studie doen. Party besef dat hulle meer moet studeer, maar hulle kom net nie daarby uit nie. In vandag se besige lewe is dit maklik om in so ’n slegte situasie te beland. Maar wat erger is, is dat mense dikwels rasionaliseer dat hulle nie so sleg doen nie, aangesien hulle Bybelpublikasies lees wanneer hulle kan en wel van die Christelike vergaderinge bywoon.

Hierdie redenasie is ’n vorm van selfbedrog. Dit is soos ’n man wat dink dat hy té besig is om te gaan sit en ’n behoorlike maaltyd te eet; daarom eet hy vinnig ’n stukkie hier en ’n stukkie daar terwyl hy hom van een punt na die ander haas. Hoewel hy nie honger ly nie, sal hy vroeër of later gesondheidsprobleme begin ondervind. As ons nie gereeld heilsame geestelike voedsel inneem nie, sal dit moontlik nie lank wees voordat ons eweneens swak plekke in ons geestelike wapenrusting ontwikkel nie. En aangesien ons voortdurend deur wêreldse propaganda en gesindhede gebombardeer word, kan ons maklik voor Satan se dodelike aanvalle swig.

Nog ’n simptoom van geestelike swakheid is dat ons die gevoel van dringendheid in ons geestelike oorlogvoering verloor. ’n Soldaat voel in vredestyd nie die spanning en gevaar van oorlog nie. Daarom dink hy miskien nie dat dit noodsaaklik is om gereed te wees nie. As hy skielik opgeroep word, sal hy heel waarskynlik onvoorbereid wees. Dit is dieselfde op geestelike gebied. As ons toelaat dat ons gevoel van dringendheid afneem, sal ons dalk nie voorbereid wees om aanvalle af te weer nie.

Hoe sal ons egter weet of ons in hierdie situasie is? Ons kan ons ’n paar vrae afvra wat die ware toedrag van sake kan openbaar: Is ek net so gretig om aan die bediening deel te neem as wat ek is om op ’n uitstappie te gaan? Is ek net so gewillig om tyd aan voorbereiding vir vergaderinge af te staan as wat ek is om inkopies te doen of TV te kyk? Verlang ek terug na dinge waarna ek gestrewe het of geleenthede wat ek prysgegee het toe ek ’n Christen geword het? Begeer ek die sogenaamde lekker lewe wat ander lei? Dit is vrae wat selfondersoek aanmoedig, en dit help ons om enige swak plek in ons geestelike wapenrusting op te spoor.

Aangesien die beskermende wapenrusting wat ons het geestelik van aard is, is dit belangrik dat God se gees vryelik in ons lewe vloei. Dit word weerspieël in die mate waarin ons die vrugte van God se gees in al ons bedrywighede aan die dag lê. Word jy maklik omgekrap of selfs kwaad wanneer ander iets doen of sê waarvan jy nie hou nie? Vind jy dit moeilik om raad te aanvaar of dink jy dat ander altyd op jou pik? Vervul ander se seëninge of suksesse jou met afguns? Vind jy dit moeilik om met ander oor die weg te kom, veral jou portuurs? ’n Eerlike selfondersoek sal ons help om te sien of ons lewe met die vrugte van God se gees gevul is en of die werke van die vlees stadigaan begin kop uitsteek.—Galasiërs 5:22-26; Efesiërs 4:22-27.

Positiewe stappe om geestelike swakhede te oorkom

Dit is een ding om die simptome van geestelike swakheid te herken, maar dit is ’n heeltemal ander saak om dit onder die oë te sien en daarvan werk te maak. Ongelukkig is baie geneig om verskonings te maak, te rasionaliseer, die probleem te verklein of te ontken dat dit daar is. Hoe gevaarlik is dit tog—dit is soos om na die slagveld te gaan sonder jou volle mondering aan! As ons so ’n weg inslaan, is ons heeltemal blootgestel aan Satan se aanvalle. Ons moet eerder so gou moontlik positiewe stappe doen om enige gebreke wat ons opmerk reg te stel. Wat kan ons doen?—Romeine 8:13; Jakobus 1:22-25.

Aangesien ons gewikkel is in ’n geestelike oorlogvoering—’n stryd waarin beheer oor die Christen se verstand en hart betrokke is—moet ons alles in ons vermoë doen om ons geestesvermoëns te beskerm. Hou in gedagte dat “die borsplaat van regverdigheid”, wat ons hart beskerm, en “die helm van redding”, wat ons verstand beskerm, deel van ons geestelike wapenrusting uitmaak. As ons leer om hierdie voorsienings doeltreffend te gebruik, kan dit die verskil tussen oorwinning en ’n nederlaag beteken.—Efesiërs 6:14-17; Spreuke 4:23; Romeine 12:2.

As ons “die borsplaat van regverdigheid” reg wil dra, moet ons onsself gedurig ondersoek wat ons liefde vir regverdigheid en haat vir wetteloosheid betref (Psalm 45:7, NW; 97:10; Amos 5:15). Het ons standaarde saam met dié van die wêreld gedaal? Vind ons dat dinge wat ons voorheen skokkend of aanstootlik gevind het—hetsy in die werklike lewe of wat op TV en in rolprente, boeke en tydskrifte uitgebeeld word—nou vir ons vermaaklik is? Liefde vir regverdigheid sal ons help om te sien dat dinge wat in die wêreld as vryheid en gesofistikeerdheid verheerlik word in werklikheid ’n dekmantel vir promiskuïteit en verwaandheid kan wees.—Romeine 13:13, 14; Titus 2:12.

Om “die helm van redding” op te sit, behels dat ons die wonderlike seëninge wat op hande is helder in gedagte hou en nie toelaat dat die glans en betowering van die wêreld ons aandag aftrek nie (Hebreërs 12:2, 3; 1 Johannes 2:16). As ons hierdie beskouing het, sal dit ons help om geestelike belange voor materiële strewes of persoonlike belange te stel (Matteus 6:33). Om dus seker te wees dat ons hierdie deel van die wapenrusting behoorlik aanhet, moet ons ons eerlik afvra: Wat streef ek in die lewe na? Het ek spesifieke geestelike doelwitte? Wat doen ek om dit te bereik? Of ons nou van die oorblywende gesalfde Christene of van die talryke “groot skare” is, ons moet Paulus navolg wat gesê het: “Ek meen nog nie dat ek dit vasgegryp het nie; maar een ding staan vas: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel.”—Openbaring 7:9; Filippense 3:13, 14.

Paulus se beskrywing van ons geestelike wapenrusting sluit af met hierdie vermaning: ‘Hou aan om met elke vorm van gebed en smeking by elke geleentheid in gees te bid. En bly met dié doel wakker met alle standvastigheid en met smeking ten behoewe van al die heiliges’ (Efesiërs 6:18). Dit dui op twee positiewe stappe wat ons kan neem om enige geestelike swakheid te oorkom of te voorkom: Bou ’n goeie verhouding met God op, en kweek ’n hegte band met mede-Christene aan.

As dit ons gewoonte is om Jehovah te nader met “elke vorm” van gebed (belydenis van sonde, smekinge om vergifnis, versoeke om leiding, danksegging vir seëninge, lof uit die hart) en “by elke geleentheid” (in die openbaar, privaat, persoonlik, spontaan) bou ons ’n hegtheid met Jehovah op. Dit is die grootste beskerming wat ons kan hê.—Romeine 8:31; Jakobus 4:7, 8.

Daarbenewens word ons aangespoor om “ten behoewe van al die heiliges”, dit wil sê vir ons mede-Christene, te bid. Ons kan vir ons geestelike broers in ver lande bid wat vervolg word of ander beproewinge verduur. Maar wat van Christene saam met wie ons dag na dag werk en omgaan? Dit is gepas om ook ten behoewe van hulle te bid, soos Jesus vir sy dissipels gebid het (Johannes 17:9; Jakobus 5:16). Sulke gebede bring ons nader aan mekaar en versterk ons om die aanvalle van “die bose” te weerstaan.—2 Tessalonisense 3:1-3.

Laastens moet ons die apostel Petrus se liefdevolle aansporing goed in gedagte hou: “Die einde van alle dinge het naby gekom. Wees dus gesond van verstand en wees waaksaam met die oog op gebede. Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes” (1 Petrus 4:7, 8). Dit is so maklik om toe te laat dat menslike onvolmaakthede—dié van ander mense en ons eie—hindernisse, struikelblokke, in ons hart en verstand word. Satan ken hierdie menslike swakheid goed. Een van sy listige metodes is om te verdeel en te oorwin. Ons moet derhalwe gou wees om sulke sondes met intense liefde vir mekaar te bedek en ‘nie plek toe te laat vir die Duiwel nie’.—Efesiërs 4:25-27.

Bly nou geestelik sterk

Wat doen jy as jy opmerk dat jou hare deurmekaar is of dat jou das skeef hang? Jy sal dit waarskynlik so gou moontlik regmaak. Min mense sal dit eenvoudig so los en dink dat hulle slordige voorkoms nie saak maak nie. Laat ons net so vinnig reageer wanneer dit by ons geestelike swakhede kom. As iets met jou fisiese voorkoms verkeerd is, sal mense jou dalk snaaks aankyk, maar as geestelike foute nie reggestel word nie, kan dit jou Jehovah se misnoeë op die hals haal.—1 Samuel 16:7.

Jehovah het ons op liefdevolle wyse alles gegee wat ons nodig het om van enige geestelike swakheid ontslae te raak en geestelik sterk te bly. Deur middel van Christelike vergaderinge, Bybelpublikasies sowel as ryp en liefdevolle mede-Christene gee hy ons voortdurend herinneringe en leiding oor wat ons moet doen. Dit hang van ons af of ons dit gaan aanvaar en toepas. Dit verg inspanning en selfdissipline. Maar onthou die apostel Paulus se eerlike woorde: ‘Die manier waarop ek hardloop, is nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie; maar ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.’—1 Korintiërs 9:26, 27.

Wees waaksaam, en moet nooit toelaat dat ’n geestelike Agilleshiel ontwikkel nie. Laat ons eerder nou nederig en moedig doen wat nodig is om enige geestelike swakheid wat ons het te herken en te oorkom.

[Lokteks op bladsy 19]

“TOETS VOORTDUREND OF JULLE IN DIE GELOOF IS, STEL JULLESELF VOORTDUREND OP DIE PROEF.”—2 Korintiërs 13:5.

[Lokteks op bladsy 21]

“WEES WAAKSAAM MET DIE OOG OP GEBEDE. BO ALLES MOET JULLE INTENSE LIEFDE VIR MEKAAR HÊ, WANT DIE LIEFDE BEDEK ’N MENIGTE SONDES.”—1 Petrus 4:7, 8.

[Venster/Prent op bladsy 20]

VRA JOU AF . . .

◆ Is ek net so gretig om tyd af te staan om vir vergaderinge voor te berei as wat ek is om inkopies te doen of TV te kyk?

◆ Is ek afgunstig op die sogenaamde lekker lewe wat ander lei?

◆ Word ek maklik omgekrap wanneer ander iets doen of sê waarvan ek nie hou nie?

◆ Vind ek dit moeilik om raad te aanvaar of dink ek dat ander altyd op my pik?

◆ Vind ek dit moeilik om met ander oor die weg te kom?

◆ Het my standaarde saam met dié van die wêreld gedaal?

◆ Het ek spesifieke geestelike doelwitte?

◆ Wat doen ek om my geestelike doelwitte te bereik?

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Agilles: Uit die boek Great Men and Famous Women; Romeinse soldate en bladsy 21: Historic Costume in Pictures/Dover Publications, Inc., New York

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel