Almal sal vry wees
“Ek [reken] dat die lyding van die teenswoordige tyd niks beteken in vergelyking met die heerlikheid wat in ons geopenbaar gaan word nie. Want die reikhalsende verwagting van die skepping wag op die openbaring van die seuns van God. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê. Want ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly.”—ROMEINE 8:18-22.
IN HIERDIE deel van sy brief aan Christene in Rome gee die apostel Paulus ’n uitstekende samevatting van waarom mense nie ware vryheid het nie en waarom hulle lewe so dikwels deur leegheid en pyn gekenmerk word. Hy verduidelik ook hoe ons ware vryheid kan verkry.
“Die lyding van die teenswoordige tyd”
Paulus beskou “die lyding van die teenswoordige tyd” nie as gering wanneer hy sê dat dit “niks beteken in vergelyking met die heerlikheid wat in ons geopenbaar gaan word nie”. Gedurende Paulus se tyd en ook later het Christene geweldig gely onder die wrede totalitêre bewind van die Romeinse owerheid, wat hulle min gesteur het aan menseregte. Toe Rome eers begin glo het dat Christene vyande van die Staat is, het hulle hulle aan wrede onderdrukking onderwerp. Die geskiedskrywer J. M. Roberts sê: “Baie Christene in die hoofstad [Rome] het beslis op ’n verskriklike manier in die arena gesterf of is lewendig verbrand” (Shorter History of the World). ’n Ander verslag sê van hierdie slagoffers van Nero se vervolging: “Party is gekruisig, party is in dierevelle toegewerk en deur honde gejag, party is met pik besmeer en aan die brand gesteek om as lewende fakkels te dien wanneer dit donker geword het.”—New Testament History, deur F. F. Bruce.
Daardie vroeë Christene sou beslis vryheid van sulke onderdrukking wou hê, maar hulle was nie bereid om die leringe van Jesus Christus te oortree om dit te verkry nie. Hulle het byvoorbeeld heeltemal neutraal gebly in die stryd tussen die Romeinse regeringsowerheid en Joodse vryheidsvegters soos die Selote (Johannes 17:16; 18:36). Vir die Selote “het die huidige krisis nie vereis dat mense net sê dat hulle op God moes wag nie”. Wat nodig was, het hulle gesê, was “gewelddadige optrede teen die vyand”, Rome (New Testament History). Die vroeë Christene het anders gevoel. ‘Om op God te wag’ was vir hulle die enigste realistiese opsie. Hulle was daarvan oortuig dat net Goddelike ingryping “die lyding van die teenswoordige tyd” vir goed sou beëindig en ware, blywende vryheid sou bring (Miga 7:7; Habakuk 2:3). Maar voordat ons bespreek hoe dit gaan gebeur, kom ons kyk waarom die skepping in die eerste plek ‘aan nietigheid onderwerp is’.
“Aan nietigheid onderwerp”
Hier, sê Benjamin Wilson in The Emphatic Diaglott, beteken die woord “skepping” nie “die dierlike en lewelose skepping” soos sommiges aan die hand doen nie, maar eerder “die hele mensdom”. (Vergelyk Kolossense 1:23.) Dit verwys na die hele mensegesin—ons almal wat na vryheid hunker. Ons is “aan nietigheid onderwerp” weens die optrede van ons oorspronklike ouers. Dit was “nie uit [ons] eie wil” of as gevolg van persoonlike individuele keuse wat dit gebeur het nie. Ons het ons toestand geërf. Uit ’n skriftuurlike oogpunt was Rousseau verkeerd toe hy gesê het dat ‘die mens vry gebore is’. Elkeen van ons is in slawerny van sonde en onvolmaaktheid gebore, as ’t ware slawe van ’n stelsel vol frustrasie en nietigheid.—Romeine 3:23.
Waarom is dit die geval? Omdat ons oorspronklike ouers, Adam en Eva, “soos God” wou wees, sodat hulle algehele selfbeskikking kon hê en self kon besluit wat goed is en wat sleg is (Genesis 3:5). Hulle het een noodsaaklike faktor omtrent vryheid geïgnoreer. Net die Skepper kan algehele vryheid hê. Hy is die Universele Soewerein (Jesaja 33:22; Openbaring 4:11). Menslike vryheid moet vryheid binne perke beteken. Dit is waarom die dissipel Jakobus Christene van sy dag aangemoedig het om gerig te word deur “die volmaakte wet . . . wat tot vryheid behoort”.—Jakobus 1:25.
Jehovah het Adam en Eva tereg uit sy universele gesin gesit, en hulle het gevolglik gesterf (Genesis 3:19). Maar wat van hulle nakomelinge? Uit barmhartigheid het Jehovah hulle nog toegelaat om kinders voort te bring, hoewel hulle nou net onvolmaaktheid, sonde en die dood aan hulle kon oordra. Dus het “die dood . . . tot alle mense deurgedring” (Romeine 5:12). In daardie sin het God die skepping “aan nietigheid onderwerp”.
“Die openbaring van die seuns van God”
Jehovah het die skepping aan nietigheid onderwerp “op grond van hoop” dat die mensdom eendag weer vryheid sou verkry deur wat “die seuns van God” gaan doen. Wie is hierdie “seuns van God”? Hulle is dissipels van Jesus Christus wat, soos die res van “die [menslike] skepping”, gebore is as slawe van sonde en onvolmaaktheid. Omdat hulle só gebore word, het hulle geen reg op ’n plek in God se rein, volmaakte universele gesin nie. Maar Jehovah doen iets merkwaardigs vir hulle. Deur die losprysofferande van Jesus Christus bevry Hy hulle van slawerny van oorgeërfde sonde en verklaar hulle “regverdig”, of geestelik rein (1 Korintiërs 6:11). Dan neem hy hulle as “seuns van God” aan en bring hulle terug in sy universele gesin.—Romeine 8:14-17.
As Jehovah se aangenome seuns sal hulle ’n glorieryke voorreg hê. Hulle sal “priesters vir ons God [wees], en hulle gaan as konings oor die aarde heers” saam met Jesus Christus as deel van God se hemelse Koninkryk, of regering (Openbaring 5:9, 10; 14:1-4). Dit is ’n regering wat stewig gevestig is op beginsels van vryheid en geregtigheid—nie op onderdrukking en tirannie nie (Jesaja 9:5, 6; 61:1-4). Die apostel Paulus sê dat hierdie seuns van God deelgenote is saam met Jesus, die langverwagte ‘saad van Abraham’ (Galasiërs 3:16, 26, 29). As sodanig speel hulle ’n sleutelrol in die vervulling van ’n belofte wat God aan sy vriend Abraham gemaak het. ’n Deel van hierdie belofte is dat in Abraham se nageslag (of saad) “al die nasies van die aarde geseën [sal] word”.—Genesis 22:18.
Watter seëning bring hulle vir die mensdom mee? Die seuns van God het ’n aandeel daaraan om die hele mensdom van die verskriklike gevolge van Adamitiese sonde te bevry en om die mensdom tot volmaaktheid te herstel. Mense “uit alle nasies en stamme en volke” kan geseën word deur geloof in die losprysofferande van Jesus Christus te beoefen en deur hulle aan sy liefdevolle Koninkryksheerskappy te onderwerp (Openbaring 7:9, 14-17; 21:1-4; 22:1, 2; Matteus 20:28; Johannes 3:16). Op hierdie manier sal “die hele skepping” weer eens “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet. Dit sal nie die een of ander beperkte, tydelike politieke vryheid wees nie, maar sal eerder vryheid wees van alles wat pyn en ellende vir die mensdom veroorsaak het sedert Adam en Eva God se soewereiniteit verwerp het. Dit is geen wonder dat die apostel Paulus kon sê dat “die lyding van die teenswoordige tyd niks beteken” in vergelyking met die glorieryke diens wat getroues sal verrig nie!
Wanneer begin “die openbaring van die seuns van God”? Binnekort, wanneer Jehovah duidelik aan almal toon wie die seuns van God is. Dit sal wees wanneer hierdie “seuns”, wat in die geesteryk opgewek is, by God se oorlog van Har–Magedon saam met Jesus Christus hierdie aarde van boosheid en onderdrukking gaan reinig (Daniël 2:44; 7:13, 14, 27; Openbaring 2:26, 27; 16:16; 17:14; 19:11-21). Ons sien om ons toenemende bewyse dat ons diep in “die laaste dae” is, wanneer opstand en die gevolglike goddeloosheid wat God so lank geduld het tot ’n einde sal kom.—2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:3-31.
Ja, dit is waar dat, soos die apostel Paulus sê, “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly”—maar nie meer vir baie lank nie. Miljoene wat nou lewe, sal die “herstel [sien] van alle dinge waarvan God by monde van sy heilige profete van die ou tyd gespreek het”, wat ’n herstel van vrede, vryheid en geregtigheid vir die hele mensdom insluit.—Handelinge 3:21.
Uiteindelik ware vryheid
Wat moet jy doen om hierdie “glorieryke vryheid van die kinders van God” te geniet? Jesus Christus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Dít is die sleutel tot vryheid—om te leer van Christus se gebooie en leringe en dit dan te gehoorsaam. Dit bring selfs nou ’n mate van vryheid. In die nabye toekoms sal dit algehele vryheid onder die heerskappy van Christus Jesus bring. Dit is die verstandige weg om Jesus se “woord” te leer ken deur ’n studie van die Bybel (Johannes 17:3). Gaan, soos die vroeë Christene, om met die gemeente van Christus se ware dissipels. Sodoende kan jy baat vind by die bevrydende waarhede wat Jehovah deur sy hedendaagse organisasie beskikbaar stel.—Hebreërs 10:24, 25.
Terwyl jy “wag op die openbaring van die seuns van God” kan jy die vertroue opbou wat die apostel Paulus gehad het in Christus se beskermende sorg en steun, selfs wanneer lyding en ongeregtighede byna ondraaglik lyk. Nadat Paulus die openbaring van die seuns van God bespreek het, het hy gevra: “Wie sal ons van die liefde van die Christus skei? Sal verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” (Romeine 8:35). Christene in Paulus se dag was natuurlik nog, om Rousseau se woorde te gebruik, “in kettings” van die een of ander soort onderdrukkende mag. Hulle is “die hele dag lank doodgemaak” soos “slagskape” (Romeine 8:36). Het hulle toegelaat dat dit hulle oorweldig?
“Inteendeel,” skryf Paulus, “in al hierdie dinge is ons heeltemal seëvierend deur hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37). Seëvierend ten spyte van alles wat die vroeë Christene moes verduur? Hoe so? “Ek is daarvan oortuig”, antwoord hy, “dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Romeine 8:38, 39). Jy kan ook ‘seëvierend wees’ oor watter “verdrukking of benoudheid of vervolging” jy ook al intussen moet verduur. God se liefde waarborg dat ons eersdaags—ja, binnekort—“van [alle] slawerny . . . vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”.
[Prente op bladsy 6]
‘Die hele skepping kreun voortdurend saam en ly voortdurend saam pyn tot nou toe’
[Prent op bladsy 7]
‘Die skepping sal van alle slawerny vrygemaak word en die glorieryke vryheid van die kinders van God hê’