Wees waaksaam en wees ywerig!
“Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—MATTEUS 25:13.
1. Waarna het die apostel Johannes uitgesien?
IN DIE laaste gesprek in die Bybel het Jesus belowe: “Ek kom gou.” Sy apostel Johannes het geantwoord: “Amen! Kom, Here Jesus.” Die apostel het glad nie getwyfel dat Jesus sou kom nie. Johannes was een van die apostels wat vir Jesus gevra het: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid [Grieks, pa·rou·siʹa] en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Ja, Johannes het vol vertroue uitgesien na Jesus se toekomstige teenwoordigheid.—Openbaring 22:20; Matteus 24:3.
2. Wat is die situasie in die kerke wat Jesus se teenwoordigheid betref?
2 Deesdae is sulke vertroue skaars. Baie kerke het ’n amptelike leer oor Jesus se “koms”, maar min van hulle lede verwag dit werklik. En hulle lewe getuig daarvan. Die boek The Parousia in the New Testament sê: “Die Parousia-hoop het min positiewe invloed op die lewe, denke en werk van die kerk. . . . Die intense dringendheid waarmee die kerk sy werke van berou en die verkondiging van die evangelie deur sendingwerk doen, het afgeneem of bestaan glad nie meer nie.” Maar dit is nie met almal die geval nie!
3. (a) Hoe voel ware Christene oor die pa·rou·siʹa? (b) Waarna gaan ons nou spesifiek kyk?
3 Jesus se ware dissipels wag gretig op die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge. Terwyl ons dit lojaal doen, moet ons die regte beskouing behou van alles wat by Jesus se teenwoordigheid betrokke is en in ooreenstemming hiermee optree. Dit sal ons in staat stel om ‘tot die einde toe te volhard en gered te word’ (Matteus 24:13). Terwyl Jesus die profesie gegee het wat ons in Matteus hoofstukke 24 en 25 vind, het hy wyse raad gegee wat ons tot ons blywende voordeel kan toepas. Hoofstuk 25 bevat gelykenisse wat jy waarskynlik ken, onder andere die een oor tien maagde (die verstandige en dwase maagde) en die gelykenis van die talente (Matteus 25:1-30). Hoe kan ons by hierdie illustrasies baat vind?
Wees waaksaam, soos die vyf maagde!
4. Wat is die hoofgedagte van die gelykenis van die maagde?
4 Jy kan die gelykenis van die maagde in Matteus 25:1-13 gerus weer lees. Die agtergrond is ’n deftige Joodse troue waartydens die bruidegom na die huis van die bruid se vader gaan om haar na die bruidegom se huis (of na sy vader s’n) te vergesel. So ’n optog kan musikante en sangers insluit, en niemand sou presies weet wanneer hulle daar sou aankom nie. In die gelykenis het tien maagde tot laat in die nag op die bruidegom se aankoms gewag. Vyf van hulle was dwaas en het nie genoeg lampolie saamgeneem nie en moes dus weggaan om nog te koop. Die ander vyf was verstandig en het ekstra olie in houers saamgeneem sodat hulle, indien nodig, weer hulle lampe kon volmaak terwyl hulle gewag het. Slegs hierdie vyf was teenwoordig en gereed toe die bruidegom opgedaag het. Hulle was gevolglik die enigstes wat toegelaat is om na die fees in te gaan. Toe die vyf dwase maagde teruggekeer het, was dit te laat vir hulle om in te gaan.
5. Watter tekste werp lig op die figuurlike betekenis van die gelykenis van die maagde?
5 Baie aspekte van hierdie gelykenis het ’n simboliese betekenis. Die Skrif praat byvoorbeeld van Jesus as ’n bruidegom (Johannes 3:28-30). Jesus het homself met ’n koning se seun vergelyk vir wie ’n huweliksfees voorberei is (Matteus 22:1-14). En die Bybel vergelyk Christus met ’n eggenoot (Efesiërs 5:23). Dit is interessant dat daar nie in die gelykenis van ’n bruid gepraat word nie, hoewel gesalfde Christene op ander plekke as Christus se “bruid” beskryf word (Johannes 3:29; Openbaring 19:7; 21:2, 9). Maar dit praat wel van tien maagde, en die gesalfdes word op ander plekke vergelyk met ’n maagd wat aan Christus in die huwelik beloof is.—2 Korintiërs 11:2.a
6. Watter vermaning het Jesus gegee toe hy die gelykenis van die maagde afgesluit het?
6 Benewens sulke besonderhede en enige profetiese toepassings, is daar beslis uitstekende beginsels wat ons uit hierdie gelykenis kan leer. Let byvoorbeeld op dat Jesus dit met die woorde afgesluit het: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.” Die gelykenis beklemtoon dus hoe belangrik dit vir elkeen van ons is om waaksaam te wees, om gereed te wees vir die naderende einde van hierdie goddelose stelsel. Hierdie einde kom beslis, al weet ons nie presies wanneer nie. Let op die gesindhede wat die twee groepe maagde in hierdie opsig geopenbaar het.
7. In watter sin was vyf van die maagde in die gelykenis dwaas?
7 Jesus het gesê: “Vyf van hulle was dwaas.” Was dit omdat hulle nie geglo het dat die bruidegom kom nie? Het hulle plesier gaan soek? Of is hulle bedrieg? Glad nie. Jesus het gesê dat hierdie vyf “uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet”. Hulle het geweet dat hy kom, en hulle wou betrokke wees, selfs aan die “huweliksfees” deelneem. Maar was hulle goed genoeg daarop voorbereid? Hulle het ’n rukkie gewag, tot “in die middel van die nag”, maar hulle was nie gereed vir sy aankoms wanneer dit ook al sou wees nie—hetsy dit vroeër of later sou wees as wat hulle aanvanklik verwag het.
8. Hoe het vyf van die maagde in die gelykenis getoon dat hulle verstandig was?
8 Die ander vyf—wat Jesus verstandig genoem het—het ook met brandende lampe uitgegaan en op die bruidegom se aankoms gewag. Hulle moes ook wag, maar hulle was “verstandig”. Die Griekse woord wat met “verstandig” vertaal word, kan die gedagte van “versigtigheid, oordeelkundigheid, praktiese wysheid” oordra. Hierdie vyf het bewys dat hulle verstandig was deur houers met ekstra olie saam te neem om hulle lampe weer vol te maak indien nodig. Trouens, hulle was so daarop ingestel om gereed te wees vir die bruidegom dat hulle nie hulle olie wou weggee nie. Sulke waaksaamheid was nie ongepas nie, soos gesien kan word uit die feit dat hulle teenwoordig en ten volle voorbereid was toe die bruidegom opgedaag het. Diegene wat “gereed was, het saam met hom na die huweliksfees ingegaan; en die deur is gesluit”.
9, 10. Wat is die punt van die gelykenis van die maagde, en watter vrae moet ons ons afvra?
9 Jesus het nie ’n les gegee oor wat betaamlik is by ’n bruilof nie, en hy het ook nie raad oor mededeelsaamheid gegee nie. Sy punt was: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.” Vra jou af: ‘Is ek werklik waaksaam wat Jesus se teenwoordigheid betref?’ Ons glo dat Jesus nou in die hemel regeer, maar in watter mate is ons ingestel op die werklikheid dat ‘die Seun van die mens binnekort met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sal kom’? (Matteus 24:30). Teen “die middel van die nag” was die bruidegom se aankoms beslis nader as toe die maagde aanvanklik uitgegaan het om hom te ontmoet. Net so is die Seun van die mens se koms om die huidige goddelose stelsel te vernietig nader as toe ons na sy koms begin uitsien het (Romeine 13:11-14). Is ons nog net so waaksaam of selfs waaksamer namate daardie tyd nader kom?
10 Om gehoorsaam te wees aan die bevel om ‘aan te hou waak’, vereis dat ons voortdurend waaksaam moet bly. Vyf maagde het toegelaat dat hulle olie opraak en het weggegaan om nog te gaan koop. ’n Christen se aandag kan eweneens vandag afgetrek word sodat hy nie ten volle op Jesus se naderende koms voorbereid is nie. Dit het met sommige eerste-eeuse Christene gebeur. Dit kan vandag met sommige van ons gebeur. Laat ons ons dus afvra: ‘Gebeur dit met my?’—1 Tessalonisense 5:6-8; Hebreërs 2:1; 3:12; 12:3; Openbaring 16:15.
Wees ywerig namate die einde nader kom
11. Watter gelykenis het Jesus vervolgens vertel, en waarmee het dit ooreengekom?
11 In Jesus se volgende gelykenis het hy nie net sy volgelinge aangespoor om waaksaam te wees nie. Nadat hy oor die verstandige en dwase maagde gepraat het, het hy die illustrasie van die talente vertel. (Lees Matteus 25:14-30.) Hierdie gelykenis kom in baie opsigte ooreen met die vroeëre gelykenis van die minas, wat Jesus vertel het omdat baie “gedink [het] dat die koninkryk van God hom oombliklik gaan vertoon”.—Lukas 19:11-27.
12. Wat is die hoofgedagte van die gelykenis van die talente?
12 In die gelykenis van die talente het Jesus van ’n man vertel wat drie slawe ontbied het voordat hy na die buiteland gereis het. Vir die een het hy vyf talente, vir die ander twee en vir die laaste slaaf een talent gegee—“vir elkeen volgens sy eie vermoë”. Dit was waarskynlik ’n silwertalent, ’n vaste bedrag wat destyds gelykstaande was aan wat ’n arbeider in 14 jaar sou verdien—inderdaad ’n groot som geld! Toe die man terugkeer, het hy die slawe rekenskap laat gee van wat hulle gedoen het gedurende die “lang tyd” wat hy weg was. Die eerste twee slawe het dít wat aan hulle toevertrou is, verdubbel. Hy het “mooi so” gesê, elkeen meer verantwoordelikheid beloof en afgesluit met die woorde: “Gaan in die vreugde van jou heer in.” Die slaaf met die een talent het gesê dat die heer baie veeleisend was en het daarom nie die talent gebruik om enige wins te maak nie. Hy het die geld weggesteek en dit nie eers by die bankiers gedeponeer sodat dit rente kon verdien nie. Die heer het hom ’n “goddelose en trae slaaf” genoem omdat hy teen sy heer se belange gewerk het. Gevolglik is die talent van hom af weggeneem, en hy is uitgegooi waar “sy gehuil en die gekners van sy tande” sal wees.
13. Hoe is Jesus soos die heer in die gelykenis?
13 Besonderhede van hierdie gelykenis kan ook in simboliese sin verstaan word. Jesus, wat deur die man afgebeeld word wat na die buiteland reis, sou byvoorbeeld sy dissipels verlaat, hemel toe gaan en ’n lang tyd wag voordat hy koninklike mag ontvang (Psalm 110:1-4; Handelinge 2:34-36; Romeine 8:34; Hebreërs 10:12, 13).b Maar ons kan weer eens ’n breër les of beginsel onderskei wat ons almal in ons lewe behoort toe te pas. Wat is dit?
14. Watter lewensbelangrike vereiste beklemtoon die gelykenis van die talente?
14 Hetsy ons die hoop op onsterflike lewe in die hemel of op ewige lewe op ’n paradysaarde het, Jesus se gelykenis maak dit duidelik dat ons ons in Christelike bedrywighede behoort in te span. Trouens, die les van hierdie gelykenis kan in een woord opgesom word: ywer. Die apostels het van Pinkster 33 G.J. af die voorbeeld gestel. Ons lees: “Met baie ander woorde het [Petrus] deeglik getuig en hulle bly vermaan en gesê: ‘Laat julle uit hierdie krom geslag red’” (Handelinge 2:40-42). En watter uitstekende resultate het sy pogings tog opgelewer! Ander wat mettertyd by die apostels aangesluit het, was ook ywerig in die Christelike predikingswerk, en die goeie nuus het ‘in die hele wêreld toegeneem’.—Kolossense 1:3-6, 23; 1 Korintiërs 3:5-9.
15. Op watter spesiale manier behoort ons die hoofpunt in die gelykenis van die talente toe te pas?
15 Hou die konteks van hierdie gelykenis in gedagte—’n profesie oor Jesus se teenwoordigheid. Ons het oorvloedige bewys dat ons nou in die tyd van Jesus se pa·rou·siʹa lewe en dat dit binnekort ’n klimaks sal bereik. Onthou hoe Jesus “die einde” verbind het met die werk wat Christene moet doen: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Met die oog hierop, kan ons vra: Watter soort slaaf is ek? Vra jou af: ‘Is daar rede om te dink dat ek soos die slaaf is wat die talent weggesteek het wat aan hom toevertrou is, terwyl hy moontlik na sy eie persoonlike belange omgesien het? Of is dit duidelik dat ek soos die slawe is wat goed en getrou was? Is ek heeltemal daartoe verbind om die Heer se belange by elke geleentheid te vermeerder?’
Waaksaam en ywerig gedurende sy teenwoordigheid
16. Watter punt is vir jou treffend in die twee gelykenisse wat ons bespreek het?
16 Ja, benewens hulle figuurlike en profetiese betekenis, gee hierdie twee gelykenisse ons duidelike aanmoediging wat uit die mond van Jesus self kom. Sy punt is: Wees waaksaam; wees ywerig, veral wanneer die teken van Christus se pa·rou·siʹa gesien word. Dit is nóú. Is ons dus werklik waaksaam en ywerig?
17, 18. Watter raad het die dissipel Jakobus in verband met Jesus se teenwoordigheid gegee?
17 Jesus se halfbroer Jakobus was nie op die Olyfberg om Jesus se profesie te hoor nie; maar hy het later daarvan gehoor en duidelik die betekenis daarvan gesnap. Hy het geskryf: “Beoefen dus geduld, broers, tot die teenwoordigheid van die Here. Kyk! Die boer bly wag vir die kosbare vrug van die aarde en beoefen geduld ten opsigte daarvan tot hy die vroeë reën en die laat reën kry. Julle moet ook geduld beoefen; maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here het naby gekom.”—Jakobus 5:7, 8.
18 Nadat Jakobus die versekering gegee het dat God diegene wat hulle rykdom misbruik, ongunstig sal oordeel, het hy Christene aangespoor om nie ongeduldig te wees terwyl hulle op Jehovah wag om op te tree nie. ’n Ongeduldige Christen kan wraaksugtig word, asof hy self die onregte wat gepleeg is, moet regstel. Maar dit behoort nie so te wees nie, want die oordeelstyd sal beslis aanbreek. Die voorbeeld van ’n boer lig dit toe, soos Jakobus verduidelik het.
19. Watter soort geduld kon ’n Israelitiese boer beoefen?
19 ’n Israelitiese boer wat saad gesaai het, moes wag, eers vir die halm om te verskyn, dan vir die plant om ryp te word en uiteindelik vir die oes (Lukas 8:5-8; Johannes 4:35). Gedurende daardie maande was daar tyd en miskien rede om bekommerd te wees. Sou die vroeë reën kom en sou dit genoeg wees? Wat van die laatreën? Sal insekte of ’n storm die plante vernietig? (Vergelyk Joël 1:4; 2:23-25.) ’n Israelitiese boer kon nietemin oor die algemeen op Jehovah en die natuurlike siklusse vertrou wat hy in werking gestel het (Deuteronomium 11:14; Jeremia 5:24). Die boer se geduld kon in werklikheid neerkom op ’n vaste verwagting. Hy het in geloof geweet dat dít waarop hy wag, sou kom. Dit sou werklik kom!
20. Hoe kan ons in ooreenstemming met Jakobus se raad geduld beoefen?
20 Hoewel ’n boer min of meer weet wanneer die oes gaan plaasvind, kon eerste-eeuse Christene nie bereken wanneer Jesus se teenwoordigheid sou wees nie. Maar dit sou beslis kom. Jakobus het geskryf: “Die teenwoordigheid [Grieks, pa·rou·siʹa] van die Here het naby gekom.” Toe Jakobus hierdie woorde opgeteken het, was die grootskaalse, of wêreldwye, teken van Christus se teenwoordigheid nog nie waarneembaar nie. Maar dit is nou! Hoe moet ons dus in hierdie tyd voel? Die teken is inderdaad sigbaar. Ons sien dit. Ons kan met sekerheid sê: ‘Ek sien hoe die teken vervul word.’ Ons kan met vertroue sê: ‘Die teenwoordigheid van die Here is hier, en die klimaks daarvan is op hande.’
21. Wat is ons heeltemal vasbeslote om te doen?
21 Aangesien dit die geval is, het ons veral dwingende rede om die basiese lesse van Jesus se twee gelykenisse wat ons bespreek het ter harte te neem en toe te pas. Hy het gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie” (Matteus 25:13). Nou is dit ongetwyfeld die tyd vir ons om ywerig in ons Christelike diens te wees. Laat ons daagliks in ons lewe toon dat ons Jesus se punt verstaan. Laat ons waaksaam wees! Laat ons ywerig wees!
[Voetnote]
a Sien God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached, bladsy 169-211, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir besonderhede oor die simboliese betekenis van die gelykenis.
b Sien God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached, bladsye 212-56.
Onthou jy?
◻ Watter belangrike les het jy uit die gelykenis van die verstandige en dwase maagde geleer?
◻ Watter belangrike raad gee Jesus jou deur middel van die gelykenis van die talente?
◻ In watter sin is jou geduld met betrekking tot die pa·rou·siʹa soos dié van ’n Israelitiese boer?
◻ Waarom is die tyd waarin ons lewe veral opwindend en vol uitdagings?
[Prente op bladsy 23]
Watter lesse leer jy uit die gelykenisse van die maagde en van die talente?