Saulus—’n uitverkore vat vir die Here
SAULUS van Tarsus was ’n moorddadige teenstander van Christus se volgelinge. Maar die Here het ’n ander toekoms vir hom in gedagte gehad. Saulus sou ’n uitstekende verteenwoordiger word van die einste saak wat hy vantevore met alle mag teëgestaan het. Jesus het gesê: “Hierdie man [Saulus] is vir my ’n uitverkore vat om my naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra.”—Handelinge 9:15.
Saulus se lewe as “’n geweldenaar” is heeltemal verander toe daar barmhartigheid aan hom bewys is en hy die “uitverkore vat” van die Here Jesus Christus geword het (1 Timoteus 1:12, 13, vgl. AB). Die ywer wat Saulus voorheen beweeg het om aan die steniging van Stefanus en aan ander aanvalle op Jesus se dissipels deel te neem, het hom beweeg om iets heel anders na te streef toe hy die Christenapostel Paulus geword het. Jesus het klaarblyklik goeie eienskappe in Saulus gesien. Watter eienskappe? Wie was Saulus? Hoe het sy agtergrond hom geskik gemaak om in die bevordering van ware aanbidding gebruik te word? Kan ons enigiets uit sy ondervinding leer?
Saulus se familieagtergrond
Toe Stefanus kort ná Pinkster 33 G.J. vermoor is, was Saulus “’n jong man”. Toe hy in ongeveer 60-61 G.J. aan Filemon geskryf het, was hy “’n bejaarde man” (Handelinge 7:58; Filemon 9). Geleerdes meen dat “’n jong man”, volgens die eertydse manier om ouderdomme te bepaal, waarskynlik na iemand tussen die ouderdomme van 24 en 40 verwys het, terwyl “’n bejaarde man” tussen 50 en 56 jaar oud sou wees. Saulus is dus heel waarskynlik net ’n paar jaar ná Jesus gebore.
Jode het toe in baie dele van die wêreld gewoon. Oorwinning, slawerny, ballingskap, handel en vrywillige verhuising was van die redes waarom hulle uit Judea verstrooi is. Hoewel Saulus se familie onder die verstrooide Jode was, beklemtoon hy hulle getrouheid aan die Wet en sê hy hy is “op die agtste dag [besny], uit die geslag van Israel, uit die stam Benjamin, ’n Hebreër gebore uit Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër”. In Hebreeus het Saulus dieselfde naam gehad as ’n vooraanstaande lid van sy stam—die eerste koning van Israel. As ’n Romein van geboorte het Saulus van Tarsus ook ’n Latynse naam, Paulus, gehad.—Filippense 3:5; Handelinge 13:21; 22:25-29.
Die feit dat Saulus as ’n Romein gebore is, beteken dat een van sy manlike voorouers die voorreg van burgerskap verkry het. Hoe? Daar is verskeie moontlikhede. Benewens die feit dat iemand burgerskap kon erf, kon dit aan individue of groepe gegee word vir spesifieke verdienste, bloot as ’n politieke gebaar of as ’n beloning vir die een of ander buitengewone diens aan die Staat. ’n Slaaf wat sy vryheid van ’n Romein kon koop of een wat deur ’n Romeinse burger vrygelaat is, het self ’n Romein word. ’n Veteraan van die leër het ook ’n burger geword nadat hy uit die Romeinse legioene ontslaan is. Mense wat in Romeinse kolonies gewoon het, kon mettertyd burgers word. Na bewering kon burgerskap op sekere tye vir ’n groot som geld gekoop word. Dit is nie bekend hoe Saulus se familie burgerskap verkry het nie.
Ons weet wel dat Saulus afkomstig was uit Tarsus, die vernaamste stad en hoofstad van die Romeinse provinsie Silisië (nou in suidelike Turkye). Hoewel ’n redelike groot Joodse gemeenskap in die gebied gewoon het, sou Saulus daar ook aan die Heidense kultuur blootgestel gewees het. Tarsus was ’n groot, florerende stad wat bekend was as ’n sentrum van Hellenistiese, of Griekse, geleerdheid. Na raming was die eerste-eeuse bevolking daarvan tussen 300 000 en 500 000. Dit was ’n handelsentrum op die hoofweg tussen Klein-Asië, Sirië en Mesopotamië. Tarsus se welvaart kon toegeskryf word aan sy handel en aan die vrugbare grond van die omliggende vlakte, wat hoofsaaklik graan, wyn en linne opgelewer het. Sy bloeiende tekstielbedryf het gesorg vir bokhaarstof waarvan tente gemaak is.
Saulus se opvoeding
Saulus, of Paulus, het op eerlike wyse in sy eie behoeftes voorsien en het homself in die sendingwerk gehou deur tente te maak (Handelinge 18:2, 3; 20:34). Daar was baie tentmakers in sy geboortestad, Tarsus. Saulus is waarskynlik deur sy vader geleer om tente te maak terwyl hy nog jonk was.
Saulus se kennis van tale—veral sy bedrewenheid in Grieks, die omgangstaal van die Romeinse Ryk—was ook vir hom van onskatbare waarde in sy sendingwerk (Handelinge 21:37–22:2). Ontleders van sy geskrifte sê dat sy Grieks uitstekend is. Sy woordeskat is nie klassiek of literêr nie, maar kom eerder ooreen met dié van die Septuagint, die Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat hy dikwels aangehaal of geparafraseer het. Op grond hiervan neem verskeie geleerdes aan dat Saulus ten minste ’n goeie elementêre opvoeding in Grieks gehad het, waarskynlik in ’n Joodse skool. “In die ou tyd kon ’n beter opvoeding—veral ’n Griekse opvoeding—beslis nie verniet verkry word nie; dit het gewoonlik ’n mate van geldelike steun vereis”, sê die geleerde Martin Hengel. Saulus se opvoeding toon dus aan dat hy uit ’n vooraanstaande familie gekom het.
Toe Saulus seker omtrent 13 jaar oud was, het hy verdere skoolopleiding in Jerusalem ontvang, ongeveer 840 kilometer van die huis af. Hy is opgevoed aan die voete van Gamaliël, ’n welbekende en hoogaangeskrewe onderrigter van die Fariseïese tradisie (Handelinge 22:3; 23:6). Daardie studiekursus, wat vandag met ’n universiteitsopleiding vergelyk kan word, het Saulus die geleentheid gebied om groot aansien in Judaïsme te verwerf.a
Vermoëns goed gebruik
Omdat Saulus as lid van ’n Joodse gesin in ’n Hellenistiese en Romeinse stad gebore is, het hy aan drie wêrelde behoort. ’n Kosmopolitiese, veeltalige agtergrond het hom ongetwyfeld gehelp om “alles vir alle soorte mense” te word (1 Korintiërs 9:19-23). Sy Romeinse burgerskap het hom later in staat gestel om sy bediening wetlik te verdedig en om die goeie nuus voor die hoogste gesag in die Romeinse Ryk te verkondig (Handelinge 16:37-40; 25:11, 12). Die verrese Jesus het natuurlik Saulus se agtergrond, opvoeding en persoonlikheid geken en hy het vir Ananias gesê: “Gaan heen, want hierdie man is vir my ’n uitverkore vat om my naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra. Want ek sal hom duidelik toon wat hy alles vir my naam moet ly” (Handelinge 9:13-16). Toe Saulus se ywer in die regte rigting gestuur is, kon hy gebruik word om die Koninkryksboodskap in afgeleë gebiede te verkondig.
Jesus se keuse van Saulus vir ’n spesiale opdrag was ’n unieke gebeurtenis in die Christelike geskiedenis. Maar alle hedendaagse Christene het individueel vermoëns en eienskappe wat doeltreffend gebruik kan word om die goeie nuus te versprei. Toe Saulus verstaan het wat Jesus van hom verlang het, het hy nie geaarsel nie. Hy het alles in sy vermoë gedoen om Koninkryksbelange te bevorder. Kan dit van jou gesê word?
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 15 Julie 1996, bladsye 26-9, oor wat die opvoeding behels het wat Saulus van Gamaliël ontvang het.
[Venster/Prent op bladsy 30]
Registrasie en sertifisering van Romeinse burgerskap
Augustus het twee wette in die jaar 4 en in 9 G.J. uitgevaardig wat bepaal het dat die wettige kinders van Romeinse burgers geregistreer moes word. Registrasie moes binne 30 dae ná die geboorte plaasvind. In die provinsies moes ’n gesin ’n verklaring voor ’n magistraat in die gepaste registrasiekantoor aflê en sê dat die kind wettig is en Romeinse burgerskap het. Die ouers se name, die geslag en naam van die kind en die geboortedatum is ook aangeteken. Selfs voor die instelling van hierdie wette is die registrasie van burgers in alle Romeinse stadsgebiede, kolonies en prefekture elke vyf jaar deur middel van ’n sensus hernieu.
Iemand kon dus sy status deur middel van ’n versameling goed bewaarde dokumente bewys. Gesertifiseerde afskrifte van sulke verslae was beskikbaar in die vorm van draagbare houtdiptieke (voubare skryftablette). Party geleerdes meen dat Paulus moontlik ’n sertifikaat ter bevestiging gehad het om voor te lê toe hy beweer het dat hy Romeinse burgerskap het (Handelinge 16:37; 22:25-29; 25:11). Aangesien Romeinse burgerskap amper as ‘iets heiligs’ beskou is en dit ’n persoon die reg op baie voorregte gegee het, was die vervalsing van sulke dokumente ’n baie ernstige oortreding. Dit was strafbaar met die dood om ’n mens se status verkeerd aan te gee.
[Erkenning]
Historic Costume in Pictures/Dover Publications, Inc., New York
[Venster/Prent op bladsy 31]
Saulus se Romeinse naam
Elke manlike Romeinse burger se naam het uit ten minste drie dele bestaan. Hy het ’n voornaam, ’n familienaam (wat met sy stam, of gens, verband gehou het) en ’n van gehad. Een bekende voorbeeld is Gajus Julius Caesar. Die Bybel gee geen volle Romeinse name nie, maar volgens sekulêre bronne was Agrippa in werklikheid Markus Julius Agrippa. Gallio was Lucius Junius Gallio (Handelinge 18:12; 25:13). Bybelse voorbeelde van die laaste twee name van ’n persoon se drie name is Pontius Pilatus (inskripsie hieronder), Sergius Paulus, Claudius Lisias en Porcius Festus.—Handelinge 4:27; 13:7; 23:26; 24:27.
Dit is nie moontlik om met sekerheid vas te stel of Paulus Saulus se voornaam of sy van was nie. Dit was nie ongewoon dat iemand informeel ’n ander naam gegee is waarby sy familie en vriende hom dalk genoem het nie. ’n Nie-Romeinse naam soos Saulus kon as ’n ander naam gebruik word. “[Saulus] sou nooit geskik wees as ’n Romeinse naam nie”, sê ’n geleerde, “maar as ’n noemnaam wat as ’n signum vir ’n Romeinse burger gegee is, sou dit baie goed deug.” In veeltalige gebiede sou die situasie dalk bepaal het watter een van sy name ’n man verkies het om te gebruik.
[Erkenning]
Foto deur Israelse Museum, ©Israel Antiquities Authority