Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 6/1 bl. 4-7
  • God is nie traag om sy belofte te vervul nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God is nie traag om sy belofte te vervul nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Maat van ongeregtigheid wat gevul moet word
  • Dit is nou God se tyd om op te tree
  • Tyd vir jou om op te tree
  • Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • God se oordele—Was dit wreed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Wat is die Oordeelsdag?
    Ontwaak!—2010
  • Die oordeelsdag—’n tyd van hoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 6/1 bl. 4-7

God is nie traag om sy belofte te vervul nie

“HOE lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie?” Dit is die woorde van die Hebreeuse profeet Habakuk, wat in die sewende eeu v.G.J. gelewe het. Maar dit klink bekend, nie waar nie? Dit is die menslike natuur om die dinge wat ons innig begeer onmiddellik of so gou as moontlik te wil hê. En dit is veral die geval in ons tyd van onmiddellike bevrediging.—Habakuk 1:2.

In die eerste eeu was daar mense wat blykbaar gemeen het dat God sy beloftes gouer moes vervul. Hulle het so ongeduldig geword dat hulle selfs gedink het dat God traag of laat is. Derhalwe moes die apostel Petrus hulle daaraan herinner dat God se beskouing van tyd heeltemal anders is as ons s’n. Petrus skryf: “Laat hierdie een feit . . . nie julle aandag ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by Jehovah soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”—2 Petrus 3:8.

As ’n mens tyd op hierdie manier bereken, het ’n 80-jarige persoon net ongeveer twee uur gelewe en het die hele mensdom se geskiedenis net sowat ses dae geduur. Wanneer ons dinge uit hierdie oogpunt beskou, word dit vir ons makliker om God se handelinge met ons te verstaan.

Maar dit is nie asof God hom nie aan tyd steur nie. Inteendeel, hy is baie bewus van tyd (Handelinge 1:7). Petrus sê dus voorts: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Anders as mense is God nie aan druk onderhewig om dinge te doen asof die tyd vir hom min word nie. As die “Koning van die ewigheid” het hy ’n wonderlike geheelbeeld en kan hy bepaal wanneer in die tydstroom sy dade die beste sal wees vir almal wat daarby betrokke is.—1 Timoteus 1:17.

Nadat Petrus die rede vir God se skynbare traagheid verduidelik het, gee hy hierdie waarskuwing: “Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom.” Dit wil sê die dag van afrekening sal kom juis wanneer mense dit nie verwag nie. Dan, in die volgende verse, toon Petrus watter wonderlike vooruitsig diegene het wat “heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” openbaar, naamlik dat hulle tot in God se beloofde “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” behoue kan bly.—2 Petrus 3:10-13.

Dit behoort ons des te meer dankbaar te laat voel dat God se oordeel nog nie gekom het nie. Sy geduld het dit moontlik gemaak dat ons van sy voorneme kon leer en ons lewens kon verander ten einde sy beloofde seëninge te ontvang. Behoort ons nie “die geduld van ons Here as redding” te beskou, soos Petrus aanvoer nie? (2 Petrus 3:15). Daar is egter nog ’n faktor wat God se geduld betref.

’n Maat van ongeregtigheid wat gevul moet word

As ons God se handelinge met die mensdom in die verlede bestudeer, sien ons dat hy dikwels sy oordeel teruggehou het totdat daar glad nie meer hoop op verbetering was nie. In verband met God se oordeel oor die Kanaäniete het hy byvoorbeeld lank voor die tyd Abraham se aandag op hulle sondes gevestig. Maar dit was nog nie die bestemde tyd vir die voltrekking van sy oordeel nie. Waarom nie? Die Bybel sê: “Want die ongeregtigheid van die Amoriete [Kanaäniete] is tot nog toe nie vol nie”, of soos die Knox-vertaling dit stel: “Die goddeloosheid van die Amoriete het [toe] nog nie die volle termyn daarvan bereik nie.”—Genesis 15:16.a

Maar ongeveer 400 jaar later het God sy oordeel voltrek, en Abraham se nakomelinge, die Israeliete, het die land ingeneem. ’n Paar Kanaäniete, soos Ragab en die Gibeoniete, is gered weens hulle gesindheid en dade, maar in die meeste gevalle was hulle uiters onrein, soos hedendaagse argeologiese opgrawings getoon het. Hulle het falliese aanbidding en tempelprostitusie beoefen en kinderofferandes gebring. Halley’s Bible Handbook sê: “Argeoloë wat in die puin van die Kanaänitiese stede uitgrawings doen, is verbaas dat God hulle nie vroeër vernietig het nie.” Op die ou end het die Kanaäniete se “sonde die volle maat bereik”; hulle goddeloosheid het “die volle termyn daarvan bereik”. Niemand kon God met reg daarvan beskuldig dat hy onregverdig was toe hy die land laat reinig het terwyl hy diegene gespaar het wat ’n regte gesindheid geopenbaar het nie.

Daar was ’n soortgelyke situasie in Noag se dag. Hoewel die mense voor die Vloed goddeloos was, het God op barmhartige wyse besluit dat hulle tyd nog 120 jaar sou voortduur. ’n Deel van daardie tyd het Noag as “’n prediker van regverdigheid” gedien (2 Petrus 2:5). Namate tyd verloop het, het hulle goddeloosheid blykbaar erger geword. “Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe” (Genesis 6:3, 12). Hulle ‘sonde het die volle maat bereik’; met verloop van tyd het hulle verkeerde neigings ’n toppunt bereik. Toe God opgetree het, was dit heeltemal geregverdig. Net agt mense was in God se oë regverdig, en hy het hulle gered.

Dieselfde patroon kan gesien word in die manier waarop God Israel behandel het. Ten spyte daarvan dat hulle ontrou en verdorwe was, was God honderde jare lank met hulle geduldig. Die verslag sê: “Die HERE . . . het vroeg en laat na hulle gestuur deur . . . sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk . . . gehad. Maar hulle het . . . sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie” (2 Kronieke 36:15, 16). Die volk het ’n punt bereik waar verbetering nie meer moontlik was nie. Net Jeremia en ’n paar ander kon gered word. God kon nie onregverdig genoem word toe hy eindelik oordeel aan die res voltrek het nie.

Dit is nou God se tyd om op te tree

Uit hierdie voorbeelde kan ons sien dat God oordeel oor die huidige stelsel van dinge net terughou totdat die tyd daarvoor ryp is. Dít blyk duidelik uit die bevel wat aan God se simboliese skerpregter gegee is: “‘Steek jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword.’ En die engel het sy sekel in die aarde ingesteek en die wingerdstok van die aarde geoes, en hy het dit in die groot wynpers van die toorn van God geslinger.” Let daarop dat die mensdom se goddeloosheid “ryp geword” het, dit wil sê dit het ’n punt bereik waar daar geen moontlikheid op verbetering is nie. Wanneer God sy oordeel voltrek, sal daar geen twyfel wees dat sy ingryping geregverdig was nie.—Openbaring 14:18, 19.

In die lig van die bogenoemde is dit duidelik dat God se oordeel oor die wêreld naby moet wees, aangesien die wêreld dieselfde kenmerke het wat God se oordeel in die verlede geregverdig het. Waar ons ook al kyk, is die aarde vol geweld, net soos dit voor die Vloed van Noag se dag was. Mense se gesindhede word al hoe meer soos in Genesis 6:5 beskryf word: “Al die versinsels wat hy [die mens] in sy hart bedink, [was] altyddeur net sleg.” Selfs die growwe sondes wat God se oordeel oor die Kanaäniete gebring het, word vandag algemeen bedryf.

Die mensdom het veral sedert die Eerste Wêreldoorlog skrikwekkende veranderinge ondervind. Hulle het gesien hoe die aarde met die bloed van miljoene deurweek word. Oorlog, volksmoord, terrorisme, misdaad en wetteloosheid het wêreldwyd uitgebreek. Ons almal op aarde word bedreig deur hongersnood, siekte en onsedelikheid. Al die getuienis dui daarop dat ons nou te midde van die goddelose geslag lewe waarvan Jesus gesê het: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie” (Matteus 24:34). Die wêreld vul nou sy ‘maat van sonde’. “Die trosse van die wingerdstok van die aarde” word ryp om geoes te word.

Tyd vir jou om op te tree

Daar is vir die apostel Johannes gesê dat twee soorte rypwordings sou plaasvind namate die tyd van oordeel nader kom. Aan die een kant, ‘laat wie onregverdigheid doen steeds onregverdigheid doen; en laat die vuile steeds vuil gemaak word’. Maar aan die ander kant, “laat die regverdige steeds regverdigheid doen, en laat die heilige steeds heilig gemaak word” (Openbaring 22:10, 11). Hierdie laasgenoemde verwikkeling vind plaas in verband met die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk wat deur Jehovah se Getuies gedoen word. Die doel van hierdie werk is om mense te leer wat God van hulle vereis sodat hulle as waardig geag kan word om die ewige lewe te ontvang. Hierdie werk word nou in 233 lande deur ongeveer 87 000 gemeentes gedoen.

God is nie traag nie. Hy het mense geduldig die tyd gegee om hulle ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee’ sodat hulle in aanmerking kan kom vir sy beloftes (Efesiërs 4:24). Vandag wag God nog steeds, ten spyte van die toestande in die wêreld wat voortdurend versleg. Jehovah se Getuies regoor die wêreld doen alles in hulle vermoë om die kennis wat tot die ewige lewe lei aan hulle naaste oor te dra (Johannes 17:3, 17). Dit is verblydend dat meer as 300 000 mense elke jaar daarop reageer en gedoop word.

Met die ewige lewe in die vooruitsig is dit nóú die tyd, nie om te wag nie, maar om op te tree. Want ons gaan binnekort die vervulling van Jesus se belofte sien: “Elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie.”—Johannes 11:26.

[Voetnoot]

a ’n Voetnoot oor hierdie vers in The Soncino Chumash sê: “Om verdrywing te verdien, aangesien God nie ’n nasie straf totdat hulle sonde die volle maat bereik het nie.”

[Prent op bladsy 6]

God se skerpregter is aangesê om die sekel in te steek wanneer die wingerdstok van die aarde ryp geword het

[Prent op bladsy 7]

Jehovah se Getuies regoor die wêreld help mense om in aanmerking te kom vir God se ewige seëninge

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel