Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 6/1 bl. 28-31
  • Paulus se medewerkers—Wie was hulle?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Paulus se medewerkers—Wie was hulle?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Reisgenote, gashere en gasvrouens
  • ’n Menigte vriende
  • Lojale ondersteuning tydens gevangenskap
  • “Ons is God se medewerkers”
  • Paulus ‘getuig deeglik’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Wees moedig – Jehovah is jou Helper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • ‘Ek is rein van die bloed van alle mense’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Paulus in Rome
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 6/1 bl. 28-31

Paulus se medewerkers—Wie was hulle?

IN DIE Bybelboek Handelinge en in die briewe van Paulus word ongeveer honderd persone genoem, lede van die eerste-eeuse Christengemeente wat kontak met die “apostel vir die nasies” gehad het (Romeine 11:13). Ons weet baie oor ’n hele paar van hulle. Jy is waarskynlik bekend met die bedrywighede van Apollos, Barnabas en Silas. Aan die ander kant sal jy dit heel moontlik moeiliker vind om veel te sê oor Argippus, Claudia, Damaris, Linus, Persis, Pudens en Sopater.

Gedurende Paulus se bediening was daar baie persone wat hom op verskillende tye en in verskillende omstandighede daadwerklik ondersteun het. Sommige van hulle, soos Aristargus, Lukas en Timoteus, het jare lank saam met die apostel gedien. Party was saam met hom toe hy in die gevangenis was of terwyl hy rondgereis het—óf as reisgenote óf as gashere en gasvrouens. Ongelukkig het ander soos Aleksander, Demas, Figelus en Hermogenes nie in die Christelike geloof volhard nie.

Wanneer dit kom by ’n paar van Paulus se ander vriende, soos Asinkritus, Filologus, Hermas of Julia om maar net ’n paar te noem, weet ons nie veel meer omtrent hulle as wat hulle name was nie. In die geval van Nereus se suster of Rufus se moeder of die huisgenote van Chloë ken ons nie eers hulle name nie (Romeine 16:13-15; 1 Korintiërs 1:11). Maar wanneer ons die inligting ondersoek wat ons wel omtrent hierdie ongeveer honderd persone het, kry ons insig in die manier waarop die apostel Paulus gewerk het. Dit leer ons ook iets omtrent die voordele daarvan om deur ’n groot aantal medegelowiges omring te wees en om ten nouste met hulle saam te werk.

Reisgenote, gashere en gasvrouens

Die apostel Paulus het in sy bediening heelwat gereis. Een skrywer bereken die afstand wat hy op land en see afgelê het, soos net in Handelinge opgeteken is, op sowat 16-000 kilometer. In daardie tyd was dit nie net vermoeiend nie, maar ook gevaarlik om te reis. Van die verskillende dinge wat sy lewe in gevaar gestel het, was om skipbreuk te ly, gevare van riviere en van struikrowers, gevare in die wildernis en gevare op see (2 Korintiërs 11:25, 26). Dit is met goeie rede dat Paulus selde alleen van die een plek na die ander gereis het.

Diegene wat Paulus vergesel het, het hom van geselskap, aanmoediging en praktiese hulp in die bediening voorsien. Soms het Paulus hulle agtergelaat sodat hulle na die geestelike behoeftes van nuwe gelowiges kon omsien (Handelinge 17:14; Titus 1:5). Maar metgeselle was waarskynlik nodig vir veiligheid en vir ondersteuning om die uitdagings van die reis die hoof te bied. Individue soos Sopater, Sekundus, Gajus en Trofimus, wat ons weet onder Paulus se reisgenote was, het dus heel moontlik ’n belangrike rol in die sukses van sy bediening gespeel.—Handelinge 20:4.

Die hulp wat gashere en gasvrouens aangebied het, was natuurlik net so welkom. Wanneer Paulus in ’n stad aangekom het waar hy van plan was om ’n predikingsveldtog te begin of bloot wou oornag, was dit belangrik om ’n verblyfplek te vind. Enigiemand wat soveel soos Paulus gereis het, kon nie anders as om in talle verskillende beddens te slaap nie. Hy kon ook in ’n herberg bly, maar hulle is deur geskiedskrywers beskryf as “gevaarlike en ongure plekke”. Paulus het dus waar moontlik by medegelowiges tuisgegaan.

Ons ken die name van party van Paulus se gashere en gasvrouens—Aquila en Prisca, Filemon, Filippus, Gajus, Jason, Lidia en Mnason (Handelinge 16:14, 15; 17:7; 18:2, 3; 21:8, 16; Romeine 16:23; Filemon 1, 22). In Filippi, Tessalonika en Korinte het hierdie huisvesting gedien as ’n plek waarvandaan Paulus sy sendingwerk kon organiseer. In Korinte het Titius Justus ook sy huis vir die apostel oopgestel sodat hy vandaar sy predikingswerk kon doen.—Handelinge 18:7.

’n Menigte vriende

Soos ’n mens kan verwag, word Paulus se kennisse om verskillende redes onthou omdat hy hulle onder verskillende omstandighede ontmoet het. Febe, Maria, Persis, Trifena en Trifosa was byvoorbeeld almal vroulike medegelowiges wat vir hulle harde werk geprys is (Romeine 16:1, 2, 6, 12). Paulus het Krispus, Gajus en die huis van Stefanas gedoop. Dionisius en Damaris het in Atene die boodskap van waarheid aanvaar wat hy verkondig het (Handelinge 17:34; 1 Korintiërs 1:14, 16). Andronikus en Junias, “manne van aansien . . . onder die apostels” wat langer as Paulus gelowiges was, word sy “medegevangenes” genoem. Hulle was dalk die een of ander tyd saam met hom in die gevangenis. Paulus het ook van hulle twee, soos van Herodion, Jason, Lucius en Sosipater, gepraat as sy “familielede” (Romeine 16:7, 11, 21). Hoewel die Griekse woord wat hier gebruik word “landgenote” kan beteken, is die grondbetekenis daarvan “bloedverwante van dieselfde geslag”.

Baie van Paulus se vriende het ter wille van die goeie nuus gereis. Buiten sy bekender metgeselle is daar ook Agaïkus, Fortunatus en Stefanas, wat van Korinte na Efese gereis het om Paulus te raadpleeg oor die geestelike toestand van hulle gemeente. Artemas en Tigikus was gewillig om te reis om Titus te ontmoet, wat op die eiland Kreta gedien het, en Senas sou saam met Apollos ’n reis onderneem.—1 Korintiërs 16:17; Titus 3:12, 13.

Daar is diegene oor wie Paulus die een of ander klein en fassinerende besonderheid gee. Ons word byvoorbeeld ingelig dat Epenetus “’n eersteling van Asië” was, dat Erastus “die stadsbestuurder” in Korinte was, dat Lukas ’n geneesheer was, dat Lidia ’n purperverkoopster was en dat Tertius deur Paulus gebruik is om sy brief aan die Romeine te skryf (Romeine 16:5, 22, 23; Handelinge 16:14; Kolossense 4:14). Vir enigiemand wat graag meer oor hierdie individue wil weet, is hierdie brokkies inligting net genoeg om ’n mens se belangstelling te prikkel omdat hulle so kort is.

Van Paulus se ander metgeselle het persoonlike boodskappe ontvang wat nou in die Bybel opgeteken staan. In Paulus se brief aan die Kolossense het hy Argippus byvoorbeeld vermaan: “Let voortdurend op die bediening wat jy in die Here aanvaar het, dat jy dit vervul” (Kolossense 4:17). Euodia en Sintige het klaarblyklik die een of ander persoonlike geskil gehad wat hulle moes uitstryk. Paulus het hulle dus deur middel van ’n naamlose “jukgenoot” in Filippi vermaan “om eendersdenkend te wees in die Here” (Filippense 4:2, 3). Dit is beslis goeie raad vir almal van ons.

Lojale ondersteuning tydens gevangenskap

Paulus was ’n hele paar keer in die gevangenis (2 Korintiërs 11:23). By hierdie geleenthede het die plaaslike Christene, as daar enige Christene was, seker alles in hulle vermoë gedoen om sy ondervinding draagliker te maak. Toe Paulus die eerste keer in Rome in gevangenskap was, is hy toegelaat om twee jaar lank sy eie huis te huur en kon sy vriende hom besoek (Handelinge 28:30). Gedurende daardie tydperk het hy briewe aan die gemeentes in Efese, Filippi en Kolosse geskryf, asook aan Filemon. Hierdie briewe vertel ons baie van diegene wat na aan Paulus was gedurende sy gevangenskap.

Ons leer byvoorbeeld dat Onesimus, Filemon se wegloperslaaf, Paulus in Rome teëgekom het, en so ook Tigikus, wat Onesimus vergesel het op sy reis terug na sy meester toe (Kolossense 4:7-9). Ook was daar Epafroditus, wat die lang reis van Filippi af onderneem het om ’n geskenk van hulle gemeente te bring en toe siek geword het (Filippense 2:25; 4:18). Aristargus, Markus en Jesus wat Justus genoem word, het ten nouste saam met Paulus in Rome gewerk, en Paulus het van hulle gesê: “Net hulle is my medewerkers vir die koninkryk van God, en juis húlle het vir my ’n versterkende hulp geword” (Kolossense 4:10, 11). Saam met al hierdie getroues was daar die meer bekende Timoteus en Lukas, sowel as Demas, wat Paulus later verlaat het weens liefde vir die wêreld.—Kolossense 1:1; 4:14; 2 Timoteus 4:10; Filemon 24.

Blykbaar was nie een van hulle van Rome nie, en tog was hulle daar aan Paulus se sy. Party het moontlik gegaan met die spesifieke doel om hom by te staan gedurende sy gevangenskap. Sommige het ongetwyfeld vir hom takies verrig, ander is op ver sendings gestuur en vir nog ander het Paulus briewe gedikteer. Wat ’n sprekende bewys tog van die intense liefde en lojaliteit wat al hierdie mense vir Paulus en God se werk gehad het!

Uit die slot van party van Paulus se briewe kan ons sien dat hy waarskynlik omring was deur ’n groot groep Christenbroers en -susters wat baie meer is as die paar name wat ons ken. By verskillende geleenthede het hy geskryf: “Al die heiliges stuur vir julle groete” en: “Almal wat by my is, stuur vir jou groete.”—2 Korintiërs 13:13; Titus 3:15; Filippense 4:22.

Gedurende Paulus se kritieke tweede gevangenskap in Rome, kort voor hy ’n marteldood sou sterf, het hy baie aan sy medewerkers gedink. Hy het nog oor die bedrywighede van ten minste ’n paar van hulle toesig gehou en dit gekoördineer. Titus en Tigikus is op sendings gestuur, Kressens het na Galasië gegaan, Erastus het in Korinte gebly, Trofimus is in Milete siek agtergelaat, maar Markus en Timoteus moes na hom toe kom. Lukas was egter aan Paulus se sy, en toe die apostel sy tweede brief aan Timoteus geskryf het, was verskeie ander gelowiges, waaronder Eubulus, Pudens, Linus en Claudia, daar om ook hulle groete te stuur. Hulle het ongetwyfeld gedoen wat hulle kon om Paulus te help. Terselfdertyd het Paulus sy groete gestuur aan Prisca en Aquila en die huis van Onesiforus. Maar ongelukkig het Demas hom in daardie moeilike tyd verlaat, en Aleksander het hom baie kwaad aangedoen.—2 Timoteus 4:9-21.

“Ons is God se medewerkers”

Paulus was selde alleen gedurende sy predikingswerk. “Ons kry die indruk”, sê die kommentator E. Earle Ellis, “dat hy ’n sendeling was met baie medewerkers. Trouens, ons vind Paulus baie selde sonder metgeselle.” Onder leiding van God se heilige gees kon Paulus baie mense tot werke aanspoor en doeltreffende sendingreise organiseer. Hy was omring deur hegte vriende, tydelike assistente, party met sterk persoonlikhede en talle nederige knegte. Maar hulle was nie net medewerkers nie. Ongeag in watter mate hulle met Paulus saamgewerk of hoeveel hulle met hom te doen gehad het, die band van Christelike liefde en persoonlike vriendskap is onmiskenbaar.

Die apostel Paulus het gehad wat al die “besondere gawe om vriendskappe te sluit” genoem is. Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die verkondiging van die goeie nuus aan die nasies, maar hy het dit nie alleen probeer doen nie. Hy het met die georganiseerde Christengemeente saamgewerk en ten volle daarvan gebruik gemaak. Paulus het hom nie enige eer toegeëien vir die resultate wat bereik is nie, maar het nederig erken dat hy ’n slaaf is en dat alle eer God toekom as die een wat verantwoordelik is vir die groei.—1 Korintiërs 3:5-7; 9:16; Filippense 1:1.

Al was Paulus se tyd anders as ons s’n moet niemand in die hedendaagse Christengemeente dink dat hy onafhanklik kan of moet wees nie. Ons moet eerder altyd met God se organisasie, ons plaaslike gemeente en ons medegelowiges saamwerk. Ons het hulle hulp, ondersteuning en bemoediging in goeie tye en in moeilike tye nodig. Ons het die kosbare voorreg om deel te wees van ’n ‘hele gemeenskap van broers in die wêreld’ (1 Petrus 5:9). As ons getrou en in liefde sy aan sy met hulle almal saamwerk, dan kan ons, net soos Paulus, ook sê dat ‘ons God se medewerkers is’.—1 Korintiërs 3:9.

[Prente op bladsy 31]

APOLLOS

ARISTARGUS

BARNABAS

LIDIA

ONESIFORUS

TERTIUS

TIGIKUS

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel