Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 6/15 bl. 29-30
  • Waarom het Saulus die Christene vervolg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom het Saulus die Christene vervolg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die steniging van Stefanus
  • Vername vegter teen die Christene
  • Ywer kan misplaas wees
  • Die vervolger sien ’n groot lig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jesus kies Saulus
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Saulus ontmoet ou vriende en voormalige vyande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die gemeente het “’n tydperk van vrede ingegaan”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 6/15 bl. 29-30

Waarom het Saulus die Christene vervolg?

‘EK HET WERKLIK GEDINK DAT EK baie vyandige dade teen die naam van Jesus die Nasarener behoort te doen; wat ek dan ook in Jerusalem gedoen het. Ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, waartoe ek volmag van die hoofpriesters ontvang het. Wanneer die dissipels tereggestel moes word, het ek my stem teen hulle uitgebring. Deur hulle baie kere in al die sinagoges te straf, het ek hulle probeer dwing om ’n herroeping te doen. Aangesien ek uitermate rasend teenoor hulle was, het ek sover gegaan dat ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg het.’—Handelinge 26:9-11.

DIT is wat Saulus van Tarsus gesê het, wat ook as die apostel Paulus bekend staan. Teen die tyd wat hy dit gesê het, was hy natuurlik ’n nuwe mens. Hy was nou nie meer ’n teenstander van die Christelike godsdiens nie, maar een van die ywerigste voorstanders daarvan. Maar wat het Saulus vroeër gemotiveer om die Christene te vervolg? Waarom het hy gedink dat hy sulke dade “behoort te doen”? En is daar ’n les wat ons uit hierdie verhaal kan leer?

Die steniging van Stefanus

Saulus word die eerste keer in die Bybel genoem saam met dié wat Stefanus doodgemaak het. “Nadat hulle [Stefanus] buite die stad uitgewerp het, het hulle hom met klippe begin gooi. En die getuies het hulle boklere by die voete van ’n jong man met die naam Saulus neergelê.” “Wat Saulus betref, hy het die moord op hom goedgekeur” (Handelinge 7:58; 8:1). Wat het tot daardie aanval aanleiding gegee? Jode, waaronder sommige van Silisië, het met Stefanus geredetwis, maar hulle was nie opgewasse teen hom nie. Daar word nie gesê of Saulus, wat ook ’n Silisiër was, onder hulle was nie. In elk geval, hulle het valse getuies gebruik om Stefanus van godslastering aan te kla en het hom voor die Sanhedrin gesleep (Handelinge 6:9-14). Hierdie vergadering, wat deur die hoëpriester gelei is, het as die Joodse hoër hof gedien. As die hoogste godsdiensgesag het die lede daarvan ook dit wat hulle as geloofsuiwerheid beskou het, beskerm. Na hulle mening het Stefanus die dood verdien. Hy het dit gewaag om hulle daarvan te beskuldig dat hulle nie die Wet nakom nie, het hy nie? (Handelinge 7:53). Húlle sou hom wys hoe dit nagekom moes word!

Die feit dat Saulus daardie mening goedgekeur het, was ’n logiese gevolg van sy oortuiging. Hy was ’n Fariseër. Hierdie invloedryke sekte het vereis dat wette en tradisies streng onderhou moet word. Die Christelike godsdiens is as die vyand van daardie leerstellings beskou omdat hulle ’n nuwe weg tot redding deur Jesus verkondig het. Eerste-eeuse Jode het verwag dat die Messias ’n glorieryke Koning sou wees wat hulle van die gehate juk van Romeinse oorheersing sou bevry. Dit was dus heeltemal vreemd, onaanvaarbaar en afstootlik volgens hulle denke dat die een wat deur die Groot Sanhedrin op ’n aanklag van godslastering veroordeel is en daarna soos ’n vervloekte misdadiger aan ’n folterpaal genael is die Messias kon wees.

Die Wet het gesê dat ’n man wat aan ’n paal opgehang is “deur God vervloek” is (Deuteronomium 21:22, 23; Galasiërs 3:13). Uit Saulus se standpunt “was hierdie woorde onteenseglik op Jesus van toepassing”, sê Frederick F. Bruce. “Hy het onder die vervloeking van God gesterf, en daarom was dit ondenkbaar dat hy die Messias kon wees op wie die seën van God, volgens die definisie van die titel, in ongeëwenaarde mate gerus het. Om te beweer dat Jesus die Messias was, was dus godslasterlik; diegene wat so ’n verregaande bewering gemaak het, het verdien om as godslasteraars te ly.” Soos Saulus self later erken het, was die blote gedagte aan die “Christus wat aan die paal gehang is, vir die Jode ’n oorsaak tot struikeling”.—1 Korintiërs 1:23.

Saulus het op hierdie lering gereageer deur dit met alle mag teë te staan. Selfs brute krag sou gebruik word om dit te probeer uitwis. Hy was seker dat God dit so wou hê. Saulus het sy gesindheid soos volg beskryf: “Wat ywer betref, [was ek] ’n vervolger van die gemeente; wat regverdigheid betref wat deur middel van die wet is, iemand wat hom onberispelik betoon het.” “Ek [het] die gemeente van God uitermate bly vervolg en verwoes . . . , en ek het groter vooruitgang in die Judaïsme gemaak as talle van my eie ouderdom in my ras, aangesien ek baie yweriger vir die oorleweringe van my vaders was.”—Filippense 3:6; Galasiërs 1:13, 14.

Vername vegter teen die Christene

Ná Stefanus se dood is Saulus nie meer net ’n medepligtige aan vervolging nie, maar ’n vername vegter teen die Christene. As sodanig moes hy in ’n mate berug geword het, aangesien die dissipels, selfs ná sy bekering toe hy by hulle probeer aansluit het, “almal bang [was] vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy ’n dissipel is nie”. Toe dit duidelik word dat hy werklik ’n Christen was, het sy bekering ’n rede tot blydskap en danksegging onder die dissipels geword, want hulle het gehoor dat dit nie sommer net enige voormalige teenstander was wat ’n gemoedsverandering ondergaan het nie, maar eerder dat “die man wat ons vroeër vervolg het, . . . nou die goeie nuus bekend [maak] oor die geloof wat hy vroeër verwoes het”.—Handelinge 9:26; Galasiërs 1:23, 24.

Damaskus was sowat 220 kilometer—’n sewe of agt dae lange reis te voet—van Jerusalem af. Maar Saulus, wat ‘dreiging en moord teen die dissipels geblaas het’, het na die hoëpriester gegaan en briewe aan die sinagoges in Damaskus van hom gevra. Waarom? Sodat Saulus almal wat hy sou vind wat tot “Die Weg” behoort geboeid na Jerusalem kon bring. Met amptelike goedkeuring het hy ‘gewelddadig teen die gemeente begin optree en die een huis na die ander binnegedring en manne sowel as vroue uitgesleep om hulle aan die gevangenis oor te lewer’. Ander het hy ‘in die sinagoges laat slaan’, en hy ‘het sy stem’ (letterlik, sy “stemklippie”) ten gunste van hulle teregstelling uitgebring.—Handelinge 8:3; 9:1, 2, 14; 22:5, 19; 26:10, voetnoot in naslaanuitgawe.

Na aanleiding van die opleiding wat Saulus onder Gamaliël ontvang en die mag wat hy nou uitgeoefen het, meen sommige geleerdes dat hy gevorder het van ’n blote student van die Wet tot by die punt waar hy ’n mate van gesag in Judaïsme uitgeoefen het. Een van hulle het byvoorbeeld gereken dat Saulus moontlik ’n leermeester in ’n sinagoge in Jerusalem geword het. Maar ons kan nie met sekerheid sê wat bedoel word deur die feit dat Saulus ‘sy stem uitgebring het’ nie—of dit nou was as ’n lid van ’n hof of as iemand wat aangedui het dat hy die teregstellings van Christene sedelik steun nie.a

Aangesien alle Christene aanvanklik Jode of Joodse bekeerlinge was, het Saulus klaarblyklik gemeen dat die Christelike godsdiens ’n afvallige beweging binne Judaïsme was, en hy het dit die plig van amptelike Judaïsme geag om die volgelinge daarvan tereg te wys. “Dit is onwaarskynlik”, sê die geleerde Arland J. Hultgren, “dat Paulus die vervolger die Christelike godsdiens sou teëgestaan het omdat hy dit as ’n godsdiens apart van Judaïsme, ’n mededinger, gesien het. Die Christelike beweging sou nog steeds volgens hom en ander aan Joodse gesag onderworpe wees.” Sy oogmerk was dus om van alle beskikbare middele gebruik te maak om weerspannige Jode te dwing om hulle aan die Christelike godsdiens te onttrek en na ortodoksie terug te keer (Handelinge 26:11). Een metode wat hy kon gebruik, was gevangeneming. ’n Ander was om hulle in die sinagoges te slaan, wat ’n algemene vorm van dissipline was wat deur enige plaaslike hof met drie regters as tugtiging vir ongehoorsaamheid aan rabbynse gesag toegedien kon word.

Jesus se verskyning aan Saulus op die pad na Damaskus het dit natuurlik alles stopgesit. Saulus het skielik van ’n verwoede vyand van die Christelike godsdiens na ’n ywerige voorstander daarvan verander, en dit was nie lank voordat die Jode in Damaskus hom wou dood hê nie (Handelinge 9:1-23). Vreemd genoeg, as ’n Christen sou Saulus baie van die beproewinge verduur wat hy self as ’n vervolger oor ander gebring het, sodat hy jare later kon sê: “Vyf keer het ek van die Jode op een na veertig houe ontvang.”—2 Korintiërs 11:24.

Ywer kan misplaas wees

“Ek [was] vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n onbeskaamde man”, het Saulus ná sy bekering geskryf, toe hy beter bekend was as Paulus. “Nietemin is barmhartigheid aan my bewys, omdat ek onkundig was en in ongeloof opgetree het” (1 Timoteus 1:13). Om opreg en bedrywig in jou godsdiens te wees, is dus geen waarborg dat jy God se goedkeuring wegdra nie. Saulus was ywerig en het in ooreenstemming met sy gewete opgetree, maar dit het nie beteken dat hy reg was nie. Sy vurige ywer was misplaas. (Vergelyk Romeine 10:2, 3.) Dit behoort ons te laat dink.

Baie is vandag vas daarvan oortuig dat God net goeie gedrag van hulle vereis. Maar is dit? Dit sal goed wees as elkeen van ons na Paulus se vermaning luister: “Maak seker van alle dinge; hou vas aan wat voortreflik is” (1 Tessalonisense 5:21). Dit beteken dat ons tyd moet neem om juiste kennis van God se Woord van waarheid in te neem en om dan heeltemal in ooreenstemming daarmee te leef. As ons uit ons studie van die Bybel besef dat ons veranderinge moet maak, dan moet ons dit beslis so gou as moontlik doen. Min van ons was miskien tot dieselfde mate as Saulus godslasteraars, vervolgers of onbeskaamde mense. Ons kan nietemin slegs God se guns verkry as ons, soos hy, in geloof en volgens juiste kennis optree.—Johannes 17:3, 17.

[Voetnoot]

a Volgens die boek The History of the Jewish People in the Age of Jesus Christ (175 B.C.–A.D. 135), deur Emil Schürer, bevat die Misjna geen rekord van hoe die Groot Sanhedrin, of Sanhedrin van Een-en-Sewentig, gewerk het nie, maar dit beskryf wel in die fynste besonderhede die prosedures van die kleiner Sanhedrins, met 23 lede. Studente van die Wet kon hofsake bywoon waar halsmisdade deur die kleiner Sanhedrins verhoor is, waar hulle net toegelaat is om die aangeklaagde te verdedig en hom nie te beskuldig nie. In sake waar geen halsmisdaad betrokke was nie, kon hulle albei doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel