Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 7/15 bl. 21-23
  • Goeie kommunikasie—’n sleutel tot ’n gelukkige huwelik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goeie kommunikasie—’n sleutel tot ’n gelukkige huwelik
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat goeie kommunikasie behels
  • Struikelblokke in die weg van goeie kommunikasie
  • Hoe om goeie kommunikasie te bevorder
  • Kommunikasie in die gesin en in die gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Versterk julle huwelik deur goeie kommunikasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Maak julle huwelik ’n blywende verbintenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Sleutels tot goeie kommunikasie met jou maat
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 7/15 bl. 21-23

Goeie kommunikasie—’n sleutel tot ’n gelukkige huwelik

In 1778 het Robert Barron ’n tuimelaarslot gepatenteer, en die moderne sleutelslot werk nog steeds volgens dieselfde beginsels. Hy het dit so ontwerp dat die slot se twee tuimelaars saam opgelig kon word deur slegs een sleutel te gebruik.

’N SUKSESVOLLE huwelik hang eweneens daarvan af dat ’n man en vrou in eenheid saamwerk. As ’n mens die kosbare vreugdes van ’n gelukkige huwelik wil geniet, is goeie kommunikasie onontbeerlik.

Wat goeie kommunikasie behels

Wat behels goeie kommunikasie? ’n Woordeboek definieer kommunikasie as “die oordra of uitwisseling van gedagtes, menings of inligting deur te gesels, te skryf of deur gebare”. Kommunikasie beteken dus om uiting te gee aan gevoelens en idees. En goeie kommunikasie sluit dinge in wat opbouend, verkwikkend, vol deug, lofwaardig en bemoedigend is.—Efesiërs 4:29-32; Filippense 4:8.

Goeie kommunikasie word deur vertroue en wedersydse begrip moontlik gemaak. Hierdie eienskappe is die gevolg wanneer die huwelik beskou word as ’n lewenslange verhouding en daar ’n werklike vasbeslotenheid is om dit te laat werk. Die agtiende-eeuse skrywer Joseph Addison het oor so ’n verhouding kommentaar gelewer en geskryf: “Twee mense wat mekaar gekies het uit al die ander mense, met die doel om mekaar op te beur en gelukkig te maak, het hulle met daardie aksie daartoe verbind om goedgesind teenoor mekaar te wees, vriendelik, verstandig, vergewensgesind, geduldig en vreugdevol wat die ander een se swak en sterk punte betref, tot die einde van hulle lewe.” Wat ’n gelukkige verbintenis tog! En hierdie juweelagtige eienskappe kan jóú huwelik versier, want jy kan dit jou eie maak deur middel van goeie kommunikasie.

Struikelblokke in die weg van goeie kommunikasie

Die meeste paartjies betree die huwelik met optimisme, selfs euforie. Maar vir baie verdwyn die euforie en optimisme spoedig. Versekerdheid word dalk vervang deur ’n bitter mengsel van frustrasie, woede, vyandigheid, selfs ’n sterk weersin. Die huwelik word dan ’n situasie waar die twee mekaar bloot verdra “tot die dood [hulle] skei”. Sekere struikelblokke moet dus oorkom word om die goeie kommunikasie wat vir ’n gelukkige huwelik nodig is te verbeter of te handhaaf.

Dit kan ’n groot struikelblok in die weg van goeie kommunikasie wees as een huweliksmaat bang is vir hoe die ander sal reageer op sekere inligting of op ’n begeerte wat hy wil uitspreek. Vrees vir verwerping kan byvoorbeeld ontstaan wanneer ’n mens uitvind dat jy besig is om ’n ernstige liggaamsgebrek te ontwikkel. Hoe verduidelik jy aan jou huweliksmaat dat ’n komende operasie jou voorkoms of vermoë om dinge te doen grootliks sal verander? In sulke gevalle is openhartige kommunikasie en deeglike beplanning vir die toekoms meer nodig as ooit tevore. As jy jou maat verseker dat jy hom nog steeds sal liefhê en as jy hom gedurig teer behandel, sal jy bewys dat jy werklik in hom persoonlik belangstel, en dit sal help om ’n werklik bevredigende huwelik te bevorder. In die huwelik behoort hierdie spreuk veral waar te wees: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17, NW.

Nog ’n struikelblok in die weg van goeie kommunikasie is om ’n wrok te koester. Daar is al tereg gesê dat ’n gelukkige huwelik die verbintenis tussen twee goeie vergewers is. Om aan daardie beskrywing te beantwoord, sal ’n egpaar alles in hulle vermoë doen om die apostel Paulus se praktiese raad te volg: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Dit vereis beslis nederige kommunikasie om eerder hierdie raad toe te pas as om kwade gevoelens of ’n wrok te koester. Egpare wat gelukkig getroud is, sal nie gedurig woedend word, stry en ’n wrok koester nie (Spreuke 30:33). Hulle probeer God navolg wat nie wrokke koester nie (Jeremia 3:12). Trouens, hulle vergewe mekaar uit die hart.—Matteus 18:35.

’n Besliste struikelblok in die weg van enige soort kommunikasie is stilswye. Dit kan dinge insluit soos ’n nors gesigsuitdrukking, swaar sugte, werktuiglike optrede en een huweliksmaat wat weier om te praat. ’n Huweliksmaat wat so optree, gee sy misnoeë oor iets te kenne. Maar om ’n mens se gevoelens op ’n eerlike en liefdevolle manier uit te druk, dra veel meer by tot ’n beter huwelik as om stil en stuurs te bly.

As ’n mens nie goed luister of glad nie luister wanneer jou maat praat nie, vorm dit nog ’n hindernis wat oorkom moet word vir goeie kommunikasie in ’n verhouding so heg soos die huwelik. Miskien is ons te moeg of net te besig om die verstandelike en emosionele energie bymekaar te skraap wat nodig is om goed na mekaar te luister. Rusies kan ontstaan weens misverstande oor reëlings wat die een maat gedink het hy duidelik uitgespel het, maar wat die ander een volhou hy nog nooit van gehoor het nie. Dit is duidelik dat swak kommunikasie vir sulke probleme verantwoordelik is.

Hoe om goeie kommunikasie te bevorder

Hoe belangrik is dit tog om tyd in te ruim vir liefdevolle, goeie kommunikasie! Party bring soveel tyd voor die TV deur en kyk hoe ander mense lewe dat hulle min tyd vir hulle eie lewe het. Daarom is ’n noodsaaklike stap tot goeie kommunikasie dikwels om die televisie af te skakel.

Maar net soos daar ’n regte tyd is om te praat, is daar ook ’n tyd om stil te bly. Die wyse man het gesê: “Alles het sy bepaalde uur, . . . ’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek.” Trouens, ’n mens moet ook die regte woorde sê. “’n Woord op die regte tyd—o, hoe goed is dit!” sê ’n spreuk (Prediker 3:1, 7; Spreuke 15:23, NW). Bepaal dus wanneer dit die beste tyd is om jou punt te stel of om te sê wat op jou hart is. Vra jou af: ‘Is my maat moeg of voel hy ontspanne en in ’n gemoedelike stemming? Kan die onderwerp wat ek wil aanroer moontlik tot ’n uitbarsting lei? Wat omtrent my woordkeuse het my maat ontstel toe ons laas oor hierdie saak gesels het?’

Dit is goed om in gedagte te hou dat mense gunstiger reageer wanneer hulle kan sien hoe hulle daarby sal baat vind as hulle ’n versoek toestaan of hulle samewerking gee. As ’n mate van spanning tussen huweliksmaats opgebou het, sal een van hulle dalk wil sê: “Iets kwel my, en ons gaan dit op die daad uitstryk!” Die presiese woorde sal natuurlik van die omstandighede afhang, maar dit sal moontlik beter wees om iets te sê soos: “Skat, ek het gedink oor wat ons vroeër bespreek het en hoe ons die saak dalk kan oplos.” Watter benadering sal jou maat heel waarskynlik meer waardeer?

Ja, hoe ’n mens iets sê, is baie belangrik. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout” (Kolossense 4:6). Probeer ’n aangename stemtoon gebruik en jou woorde mooi kies. Hou in gedagte dat “vriendelike woorde . . . soos ’n heuningkoek [is]: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente”.—Spreuke 16:24.

Vir sommige egpare skep dit ’n goeie atmosfeer vir kommunikasie wanneer hulle saamwerk aan projekte by die huis. Sulke samewerking kan ’n samehorigheidsgevoel in die hand werk terwyl dit tyd voorsien vir goeie kommunikasie. Ander huweliksmaats vind dat ’n stil tyd wat hulle alleen saam deurbring sonder om te probeer werk vir hulle beter is en meer bevorderlik vir goeie kommunikasie is.

’n Mens kan dikwels baie leer deur op te let hoe huweliksmaats wat goed bymekaar pas met mekaar kommunikeer. Hoe het hulle dit reggekry? Hulle eensgesindheid en die gemak waarmee hulle kommunikeer, is heel waarskynlik die gevolg van persoonlike inspanning, geduld en liefdevolle bedagsaamheid. Hulle moes ongetwyfeld self baie leer, want gelukkige huwelike kom nie vanself nie. Hoe belangrik is dit tog om jou maat se sienswyse in ag te neem, te verstaan wat sy of haar behoeftes is en potensieel gespanne situasies met ’n wyse woord te ontlont (Spreuke 16:23). As jy getroud is, lê jou dan daarop toe om ’n aangename mens te wees om mee saam te leef en iemand vir wie jou maat maklik om verskoning kan vra. Dit sal beslis help om jou huwelik gelukkig te maak.

Jehovah God wil hê dat mense gelukkige, blywende huwelike moet geniet (Genesis 2:18, 21). Maar die sleutel tot so ’n huwelik is in die hande van diegene wat in die huwelik verbind is. Dit vereis twee liefdevolle mense wat werklik saam werk om die deur tot ’n suksesvolle huwelik oop te sluit deur die kuns van goeie kommunikasie aan te leer.

[Prent op bladsy 22]

Deur die TV af te skakel, het ’n mens meer tyd om te kommunikeer

[Prente op bladsy 23]

Goeie kommunikasie help om harte in ’n blywende band van liefde saam te bind

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel