Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 8/15 bl. 14-19
  • Lewe deur geloof in God se beloftes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe deur geloof in God se beloftes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah beperk sy handelinge met mense
  • God tree op om sy wil te volbring
  • God sien in die toekoms
  • ’n Enorme bouprojek
  • Jehovah steun die werk
  • Moet nooit van jou oortuiging afsien nie!
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Volg hulle geloof na
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hy is “met sewe ander veilig bewaar”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Noag se geloof veroordeel die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 8/15 bl. 14-19

Lewe deur geloof in God se beloftes

“Ek [is] God . . . , en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie.”—JESAJA 46:9, 10.

1, 2. Wat is van die verskillende beskouings oor God se betrokkenheid by die aarde se aangeleenthede?

IN WATTER mate is God betrokke by die aarde se aangeleenthede? Daar is verskillende menings hieroor. Een beskouing is dat hy glad nie betrokke is nie. Nadat hy sy skepping hier voltooi het, is hy óf onwillig óf nie in staat om ten behoewe van ons op te tree nie. Volgens hierdie beskouing is God soos ’n vader wat sy seun op ’n nuwe fiets sit, dit regop hou en dan ’n stoot gee sodat sy seun met die pad af kan begin ry. Daarna stap die vader weg. Die seun is op sy eie gelaat; hy sal miskien val of miskien nie. Wat ook al gebeur, die vader kan niks doen om sake te verander nie.

2 Nog ’n beskouing is dat God elke aspek van ons lewe rig en dat hy direk betrokke is by elke gebeurtenis in die ganse skepping. Maar as dit die geval is, sal sommige tot die slotsom kom dat God nie net die goeie dinge laat gebeur nie, maar dat hy ook verantwoordelik is vir die misdaad en tragedies wat die mensdom teister. As ons die waarheid omtrent God se handelinge ken, sal dit ons help om te weet wat ons van hom kan verwag. Dit sal ook ons geloof versterk in die gewisse vervulling van sy beloftes.—Hebreërs 11:1.

3. (a) Hoe weet ons dat Jehovah ’n God met voornemens is? (b) Waarom word daar van Jehovah gesê dat hy aan sy voorneme ‘vorm gee’ en dit formeer?

3 Die feit dat Jehovah ’n God met voornemens is, is die grondslag waarop die kwessie van God se betrokkenheid by menseaangeleenthede berus. Selfs sy naam dui daarop. “Jehovah” beteken “Hy laat word”. Jehovah tree progressief op en laat homself die Vervuller van al sy beloftes word. Gevolglik word daar van Jehovah gesê dat hy aan sy voorneme met betrekking tot toekomstige gebeure of dade ‘vorm gee’ of dit formeer (2 Konings 19:25, NW; Jesaja 46:11, NW). Hierdie terme kom van die Hebreeuse woord ja·tsarʹ, wat verwant is aan die woord wat “pottebakker” beteken (Jeremia 18:4). Net soos ’n vaardige pottebakker ’n pragtige vaas uit ’n stuk klei kan vorm, kan Jehovah dinge vorm, of bewerk, om sy wil te volbring.—Efesiërs 1:11.

4. Hoe het God die aarde voorberei sodat dit deur mense bewoon kon word?

4 God se voorneme was byvoorbeeld dat die aarde ’n baie mooi plek moes wees wat deur volmaakte, gehoorsame mense bewoon sou word (Jesaja 45:18). Lank voordat hy die eerste man en vrou geskep het, het Jehovah liefdevolle voorbereidings vir hulle gemaak. Die eerste hoofstukke van die boek Genesis beskryf hoe Jehovah dag en nag asook die grense van land en see vasgestel het. Daarna het hy die plantegroei en dierelewe geskep. Dit het derduisende jare geneem om die aarde voor te berei sodat mense dit kan bewoon. Die projek is met welslae voltooi. Die eerste man en vrou het hulle lewe begin in Eden, ’n pragtige paradys wat met alles toegerus was sodat hulle die lewe kon geniet (Genesis 1:31). Jehovah was dus direk betrokke by die aarde se aangeleenthede en het sy werke progressief gevorm om sy verhewe voorneme te volbring. Het die uitbreiding van die mensegesin sy betrokkenheid beïnvloed?

Jehovah beperk sy handelinge met mense

5, 6. Waarom beperk God sy handelinge met mense?

5 Hoewel Jehovah die mag het om die mens se bedrywighede in elke opsig te rig en te beheer, doen hy dit nie. Daar is redes hiervoor. Een is dat mense na God se beeld geskep is en wilsvryheid het. Jehovah dwing ons nie om alles te doen wat hy ons beveel nie, en ons is ook nie marionette nie (Deuteronomium 30:19, 20; Josua 24:15). Hoewel hy ons aanspreeklik hou vir ons dade, gee God ons weens sy liefde aansienlike vryheid om te besluit hoe ons ons lewe sal lei.—Romeine 14:12; Hebreërs 4:13.

6 Nog ’n rede waarom God nie alles rig wat gebeur nie, hou verband met die geskil wat Satan in Eden geopper het. Satan het God se soewereiniteit betwis. Hy het Eva iets aangebied wat gelyk het na ’n geleentheid om onafhanklik te wees—’n aanbod wat sy en later haar man, Adam, aanvaar het (Genesis 3:1-6). In reaksie hierop het God mense toegelaat om ’n tyd lank oor hulleself te regeer om te bewys of Satan se uitdaging gegrond was. Om dié rede kan God nie die skuld kry vir die verkeerde dinge wat mense vandag doen nie. Moses het oor opstandige mense geskryf: “Húlle het verderflik gehandel; hulle is nie [God se] kinders nie, die gebrek lê by hulle.”—Deuteronomium 32:5, NW.

7. Wat is Jehovah se voorneme met die aarde en die mensdom?

7 Maar hoewel Jehovah die mens toelaat om keusevryheid te geniet en met onafhanklike heerskappy te eksperimenteer, is dit nie sy beleid om hom glad nie met die aarde se aangeleenthede in te meng nie, wat ons met min hoop sou gelaat het dat hy sy beloftes sal vervul. Hoewel Adam en Eva teen God se soewereiniteit in opstand gekom het, het Jehovah nie sy liefdevolle voorneme met die aarde en die mensdom verander nie. Hy sal beslis die aarde omskep in ’n paradys wat deur volmaakte, gehoorsame en gelukkige mense bewoon sal word (Lukas 23:42, 43). Die Bybelverslag van Genesis tot Openbaring beskryf hoe Jehovah progressief te werk gegaan het om daardie doel te bereik.

God tree op om sy wil te volbring

8. Wat het dit behels om die Israeliete na die Beloofde Land te bring?

8 God het deur sy handelinge met die nasie Israel bewys dat hy sy voorneme sal volbring. Jehovah het Moses byvoorbeeld daarvan verseker dat Hy die Israeliete uit Egipte sou verlos en hulle in die Beloofde Land sou bring, ’n land wat oorloop van melk en heuning (Exodus 3:8). Dit was ’n betekenisvolle en bemoedigende verklaring. Dit sou behels dat daardie Israeliete—wat tesame met hulle metgeselle omtrent driemiljoen mense was—bevry sou word uit die hande van ’n magtige nasie wat hulle glad nie wou laat trek het nie (Exodus 3:19). Die land waarheen hulle geneem sou word, is deur magtige nasies bewoon wat hulle koms sterk sou teëstaan (Deuteronomium 7:1). Tussenin was die woestyn waar die Israeliete voedsel en water nodig sou hê. Dit was ’n situasie wat Jehovah die geleentheid gegee het om sy oppermag en Godheid te openbaar.—Levitikus 25:38.

9, 10. (a) Waarom kon Josua getuig dat God se beloftes betroubaar is? (b) Hoe belangrik is dit dat ons vertroue stel in God se vermoë om sy getroue knegte te beloon?

9 God het die Israeliete deur ’n reeks magtige dade uit Egipte uitgelei. Eerstens het hy tien verwoestende plae oor die Egiptenaars gebring. Daarna het hy die Rooi See verdeel sodat die Israeliete kon ontsnap terwyl die Egiptiese leër agter hulle omgekom het (Psalm 78:12, 13, 43-51). Later het hy vir die Israeliete gesorg tydens hulle 40 jaar in die woestyn deur hulle met manna te voed, hulle van water te voorsien en selfs te sorg dat hulle klere nie verslyt en hulle voete nie swel nie (Deuteronomium 8:3, 4). Nadat die Israeliete die Beloofde Land ingegaan het, het Jehovah hulle die oorwinning oor hulle vyande laat behaal. Josua, wat sterk geloof in Jehovah se beloftes beoefen het, was ’n ooggetuie van al hierdie dinge. Gevolglik kon hy vol vertroue aan die oudstes van sy dag sê: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom.”—Josua 23:14.

10 Soos Josua van die ou tyd, kan Christene van vandag volle vertroue hê dat God gewillig en in staat is om op te tree ten behoewe van diegene wat hom dien. Hierdie oortuiging maak ’n belangrike deel uit van ons geloof. Die apostel Paulus het geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy . . . die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.

God sien in die toekoms

11. Watter faktore stel God in staat om sy beloftes te vervul?

11 Ons het tot dusver gesien dat God die mag sowel as die begeerte het om op te tree om sy voorneme te volbring al laat hy wilsvryheid en onafhanklike menseheerskappy toe. Maar daar is nog ’n faktor wat tot die gewisse vervulling van God se beloftes bydra. Jehovah kan in die toekoms sien (Jesaja 42:9). God het deur sy profeet gesê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9, 10). ’n Ervare plaasboer weet wanneer en waar hy saad moet saai, maar hy is dalk nie heeltemal seker hoe dinge sal afloop nie. “Die Koning van die ewigheid” het egter juiste kennis, sodat hy vooruit kan sien presies wanneer en waar hy moet optree om sy voorneme uit te voer.—1 Timoteus 1:17.

12. Hoe het Jehovah sy voorkennis in die dae van Noag gebruik?

12 Let byvoorbeeld op hoe God sy voorkennis in die dae van Noag gebruik het. Omdat verdorwenheid oral op die aarde voorgekom het, het God hom voorgeneem om die ongehoorsame mense te vernietig. Hy het ’n tyd bepaal wanneer hy dit sou doen, 120 jaar later in die toekoms (Genesis 6:3). Toe Jehovah daardie spesifieke tydperk vasgestel het, het hy nie net die vernietiging van die goddeloses in ag geneem nie, iets wat hy enige tyd kon doen. Jehovah se tydrooster het ook voorsiening gemaak vir die redding van die regverdiges. (Vergelyk Genesis 5:29.) In sy wysheid het God vooruit geweet wanneer om die werk te laat doen wat dit sou verseker. Hy het vir Noag volledige inligting gegee. Noag moes ’n ark bou “tot redding van sy huisgesin”, en die goddeloses sou deur ’n wêreldvloed vernietig word.—Hebreërs 11:7; Genesis 6:13, 14, 18, 19.

’n Enorme bouprojek

13, 14. Waarom was dit ’n uitdaging om die ark te bou?

13 Beskou hierdie toewysing uit Noag se oogpunt. Omdat Noag ’n man van God was, het hy geweet dat Jehovah die goddeloses kon vernietig. Maar voordat dit sou gebeur, was daar ’n werk wat gedoen moes word—’n werk wat geloof vereis het. Dit sou ’n enorme projek wees om die ark te bou. God het presiese afmetings gegee. Die ark sou langer as party hedendaagse sportvelde en so hoog soos ’n vyfverdiepinggebou wees (Genesis 6:15). Die bouers sou onervare en min wees. Hulle sou nie die gesofistikeerde gereedskap en toerusting hê wat vandag beskikbaar is nie. En aangesien Noag nie Jehovah se vermoë gehad het om in die toekoms te sien nie, was dit onmoontlik vir hom om te weet watter situasies met die jare sou ontstaan wat die bouprojek kon aanhelp of belemmer. Noag het waarskynlik oor baie vrae nagedink. Hoe sou hy die boumateriaal versamel? Hoe sou hy die diere bymekaarmaak? Watter voedsel sou nodig wees en hoeveel? Presies wanneer sou die voorspelde Vloed plaasvind?

14 Dan was daar ook die maatskaplike toestande. Goddeloosheid het hoogty gevier. Die magtige Nefilim—die basternageslag van die goddelose engele en vroue—het die aarde met geweld gevul (Genesis 6:1-4, 13). Daarbenewens sou die ark nie in die geheim gebou kon word nie. Mense sou wonder wat Noag doen, en hy sou hulle vertel (2 Petrus 2:5). Sou hulle dit miskien goedkeur? Beslis nie! Jare tevore het die getroue man Henog die vernietiging van die goddeloses verkondig. Sy boodskap was so ongewild dat God “hom weggeneem” het, of sy lewe kortgeknip het, blykbaar om te voorkom dat Sy vyande hom vermoor (Genesis 5:24; Hebreërs 11:5; Judas 14, 15). Noag moes nie net ’n soortgelyke ongewilde boodskap verkondig nie, maar hy moes ook ’n ark bou. Terwyl daardie ark gebou sou word, sou dit ’n kragtige herinnering wees aan Noag se getrouheid te midde van goddelose tydgenote!

15. Waarom het Noag vertroue gehad dat hy sy toewysing kon uitvoer?

15 Noag het geweet dat die projek die almagtige God se steun en seën geniet het. Het Jehovah hom dan nie self die toewysing gegee nie? Jehovah het Noag daarvan verseker dat hy en sy gesin ’n voltooide ark sou binnegaan en deur die wêreldvloed heen behoue sou bly. God het selfs die sekerheid daarvan met ’n plegtige belofte bekragtig (Genesis 6:18, 19). Noag het heel waarskynlik besef dat Jehovah alles wat dit sou behels, vooruitgesien en beoordeel het voordat hy hom die toewysing gegee het. Daarbenewens het Noag geweet dat Jehovah die mag het om in te gryp om hom te help indien nodig. Noag se geloof het hom dus tot dade beweeg. Soos sy nakomeling Abraham, was Noag “heeltemal daarvan oortuig . . . dat [God] ook kon doen wat hy beloof het”.—Romeine 4:21.

16. Hoe is Noag se geloof versterk namate die bou van die ark gevorder het?

16 Namate die jare verbygegaan en die ark vorm aangeneem het, is Noag se geloof versterk. Probleme met die bouwerk, beplanning en organisering is opgelos. Beproewinge het hulle nie verhinder nie. Geen teenstand kon die werk tot stilstand dwing nie. Noag se gesin het Jehovah se ondersteuning en beskerming geniet. Namate Noag voortgegaan het, het ‘die beproefde hoedanigheid van sy geloof volharding bewerk’ (Jakobus 1:2-4). Die ark is eindelik voltooi, die Vloed het gekom en Noag en sy gesin het behoue gebly. Noag het die vervulling van God se beloftes ondervind, soos Josua later gedoen het. Noag se geloof is beloon.

Jehovah steun die werk

17. In watter opsigte kom ons tyd ooreen met die dae van Noag?

17 Jesus het voorspel dat ons dag met die dae van Noag sou ooreenkom. God het hom weer eens voorgeneem om die goddeloses te vernietig, en hy het ’n tyd hiervoor bepaal (Matteus 24:36-39). Hy het ook voorbereidings getref dat die regverdiges gered kan word. Noag moes ’n ark bou, maar God se hedendaagse knegte moet Jehovah se voornemens bekend maak, sy Woord aan ander leer en dissipels maak.—Matteus 28:19.

18, 19. Hoe weet ons dat die verkondiging van die goeie nuus Jehovah se steun geniet?

18 As Jehovah nie saam met Noag was om hom te ondersteun en te onderskraag nie, sou die ark nooit gebou gewees het nie. (Vergelyk Psalm 127:1.) Sonder Jehovah se steun is dit eweneens onwaarskynlik dat die ware Christelike geloof sal bly bestaan, wat nog te sê voorspoedig wees. In die eerste eeu het Gamaliël, ’n hooggeagte Fariseër en onderrigter van die Wet, dit besef. Toe die Joodse Sanhedrin die apostels om die lewe wou bring, het hy daardie hof soos volg gewaarsku: “Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle (want as hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit te gronde gerig word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie te gronde kan rig nie).”—Handelinge 5:38, 39.

19 Die sukses wat in die predikingswerk behaal is, in die eerste eeu en vandag, het bewys dat dit nie ’n werk uit mense is nie, maar uit God. Die volgende artikel sal ’n paar van die opwindende omstandighede en verwikkelinge bespreek wat gehelp het om hierdie werk so ’n reusesukses te maak.

Moet nooit van jou oortuiging afsien nie!

20. Wie se ondersteuning het ons terwyl ons die goeie nuus verkondig?

20 Hoewel ons in ‘kritieke tye lewe wat moeilik is om deur te kom’, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ten volle in beheer van sake is. Hy ondersteun en onderskraag sy volk terwyl hulle werk om die verkondiging van die goeie nuus te voltooi voordat God se vasgestelde tyd aanbreek om ’n einde te maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge (2 Timoteus 3:1; Matteus 24:14). Jehovah nooi ons om sy “medewerkers” te wees (1 Korintiërs 3:9). Ons is ook daarvan seker dat Christus Jesus met ons in hierdie werk is en dat ons op die ondersteuning en leiding van die engele kan staatmaak.—Matteus 28:20; Openbaring 14:6.

21. Van watter oortuiging moet ons nooit afsien nie?

21 Omdat Noag en sy gesin geloof in Jehovah se beloftes beoefen het, het hulle deur die vloedwaters heen behoue gebly. Diegene wat vandag soortgelyke geloof beoefen, sal deur die komende “groot verdrukking” heen gered word (Openbaring 7:14). Ons lewe in tye wat werklik opwindend is. Belangrike gebeure is op hande! God gaan binnekort optree en glorieryke nuwe hemele en ’n nuwe aarde inlui waarin regverdigheid sal woon (2 Petrus 3:13). Moet nooit aste nimmer afsien van jou oortuiging dat God in staat is om te doen wat hy ook al sê nie.—Romeine 4:21.

Punte om te onthou

◻ Waarom beheer Jehovah nie die mens se bedrywighede in elke opsig nie?

◻ Hoe was Jehovah se vermoë om sy voorneme te volbring duidelik te sien in sy handelinge met die Israeliete?

◻ Hoe is Jehovah se vermoë om in die toekoms te sien in Noag se dag geopenbaar?

◻ Watter vertroue kan ons in God se beloftes hê?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel