Jehovah berei die weg
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal . . . verkondig word.”—Matteus 24:14.
1. Wat is in die eerste sowel as in die 20ste eeu deur die predikingswerk bereik?
OMDAT Jehovah ’n God van liefde is, is dit sy wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Dit het vereis dat ’n internasionale predikings- en onderrigtingsveldtog onderneem moes word. In die eerste eeu het hierdie predikingswerk die Christengemeente “’n pilaar en stut van die waarheid” gemaak (1 Timoteus 3:15). Daarna het ’n lang tydperk van afvalligheid gevolg waarin die lig van waarheid verflou het. In onlangse tye, gedurende “die tyd van die einde”, het die “ware kennis” weer oorvloedig geword, en dit bied aan miljoene mense ’n Bybelse hoop op ewige redding.—Daniël 12:4, NW.
2. Wat het Jehovah ten opsigte van die predikingswerk gedoen?
2 Ten spyte van Satan se voortdurende pogings om God se voorneme te verydel, is daar in die eerste sowel as in die 20ste eeu groot welslae in die predikingswerk behaal. Dit laat ’n mens dink aan die profesie van Jesaja. Aangaande die terugkeer van Joodse ballinge na Juda in die sesde eeu v.G.J. het Jesaja geskryf: “Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ’n gelykte en die rotsagtige plekke ’n laagte word” (Jesaja 40:4). Jehovah het ook die weg vir die groot predikingsveldtogte van die eerste sowel as die 20ste eeu berei en gelykgemaak.
3. Op watter maniere kan Jehovah sy voornemens volbring?
3 Dit beteken nie dat Jehovah direk by elke gebeurtenis op aarde betrokke was om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder nie; en dit beteken ook nie dat Jehovah sy voorkennis gebruik het om tot in die fynste besonderheid te weet wat sal gebeur nie. Hy is weliswaar in staat om toekomstige gebeure vooruit te sien en daaraan vorm te gee (Jesaja 46:9-11). Maar hy kan ook optree terwyl gebeure plaasvind. Soos ’n ervare herder wat weet hoe om sy kudde te lei en te beskerm, rig Jehovah sy volk. Hy lei hulle na redding, beskerm hulle geestelikheid en beweeg hulle om gebruik te maak van situasies en verwikkelinge wat die suksesvolle verkondiging van die goeie nuus wêreldwyd bevorder.—Psalm 23:1-4.
’n Moeilike toewysing
4, 5. Waarom was die verkondiging van die goeie nuus nog altyd ’n groot uitdaging?
4 Net soos die bouwerk aan die ark in Noag se dag, is die Koninkrykspredikingswerk ’n enorme projek—dit was in die eerste eeu en is ook in hedendaagse tye die geval. Dit is reeds ’n moeilike taak om alle mense met enige boodskap te bereik, maar hierdie taak was veral ’n groot uitdaging. In die eerste eeu was die dissipels betreklik min. Hulle Leier, Jesus, is as ’n vermeende opstoker tereggestel. Die Joodse godsdiens was goed gevestig. ’n Luisterryke tempel het in Jerusalem gestaan. Nie-Joodse godsdienste in die Mediterreense gebied was ook goed gevestig, met tempels en priesterdomme. Toe “die tyd van die einde” in 1914 begin het, was die gesalfde Christene eweneens min, en volgelinge van ander godsdienste wat beweer dat hulle God dien, was baie.—Daniël 12:9.
5 Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat hulle vervolg sou word. Hy het gesê: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Benewens hierdie probleme sou Christene hulle veral in “die laaste dae” in ‘kritieke tye bevind wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Die omvang van die werk, die sekerheid van vervolging en die moeilike tye het die predikingswerk ’n uitdaging en ’n moeilike taak gemaak. Groot geloof was nodig.
6. Watter versekering van sukses het Jehovah sy volk gegee?
6 Hoewel Jehovah geweet het dat daar probleme sou wees, het hy ook geweet dat niks die werk kon keer nie. Die sukses daarvan is in ’n welbekende profesie voorspel wat ’n merkwaardige vervulling in die eerste en die 20ste eeu gehad het: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word.”—Matteus 24:14.
7. Hoe omvattend was die predikingswerk in die eerste eeu?
7 God se knegte in die eerste eeu het vol geloof en heilige gees uitgegaan om hulle opdrag uit te voer. Omdat Jehovah met hulle was, het hulle veel groter sukses behaal as wat hulle dalk verwag het. Teen die tyd dat Paulus, omtrent 27 jaar ná die dood van Jesus, aan die Kolossense geskryf het, kon hy sê dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). En aan die einde van die 20ste eeu word die goeie nuus in 233 lande verkondig.
8. Onder watter soort omstandighede het baie mense die goeie nuus aangeneem? Gee voorbeelde.
8 Miljoene het die goeie nuus in die laaste dekades aangeneem. Baie het dit onder ongunstige omstandighede gedoen—gedurende tye van oorlog, verbooie en hewige vervolging. Dit was ook die geval in die eerste eeu. By een geleentheid is Paulus en Silas byvoorbeeld erg geslaan met stokke en in die gevangenis gegooi. Wat ’n onwaarskynlike situasie om dissipels te maak! Maar Jehovah het die situasie gebruik om juis dit te doen. Paulus en Silas is vrygelaat, en die tronkbewaarder sowel as sy gesin het gelowiges geword (Handelinge 16:19-33). Sulke ondervindinge toon dat die goeie nuus nie gestuit kan word deur diegene wat dit teëstaan nie (Jesaja 54:17). Die Christelike geloof het nietemin nie ’n geskiedenis van eindelose teëspoed en vervolging nie. Kom ons kyk nou na ’n paar gunstige verwikkelinge wat gehelp het om die weg gelyk te maak sodat die verkondiging van die goeie nuus in die eerste en die 20ste eeu welslae kon behaal.
Die godsdienstige klimaat
9, 10. Hoe het Jehovah in die eerste en die 20ste eeu afwagting gewek vir die verkondiging van die goeie nuus?
9 Dink aan wanneer die wêreldwye predikingsveldtogte plaasgevind het. Wat die eerste eeu betref, die profesie van die 70 weke van jare, wat in Daniël 9:24-27 opgeteken staan, het die jaar aangedui wanneer die Messias sou verskyn—29 G.J. Hoewel eerste-eeuse Jode nie verstaan het hoe die presiese tydsbepaling van gebeure werk nie, het hulle in afwagting van die Messias verkeer (Lukas 3:15). Die Franse Manuel Biblique sê: “Mense het geweet dat die sewentig weke van jare wat deur Daniël bepaal is ten einde loop; niemand was verbaas om te hoor hoe Johannes die Doper aankondig dat die koninkryk van God naby gekom het nie.”
10 Wat van hedendaagse tye? Wel, ’n uiters belangrike gebeurtenis was die troonsbestyging van Jesus in die hemel, wat die begin van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag aangedui het. Bybelprofesie toon dat dit in 1914 plaasgevind het (Daniël 4:13-17). Party godsdienstige mense in hedendaagse tye het ook in afwagting verkeer omdat hulle na hierdie gebeurtenis uitgesien het. Selfs die opregte Bybelstudente wat hierdie tydskrif in 1879 as Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence begin uitgee het, het in afwagting verkeer. In die eerste eeu sowel as in hedendaagse tye het godsdiensverwagtinge dus die regte klimaat vir die verkondiging van die goeie nuus geskep.a
11. Watter godsdiensgrondslag is gelê om met die verkondiging van die goeie nuus te help?
11 Nog ’n faktor wat die werk van Christene in albei eras bevorder het, was die feit dat baie mense met die Heilige Skrif vertroud was. In die eerste eeu is verstrooide Joodse gemeenskappe in al die omliggende nie-Joodse nasies gevind. Hierdie gemeenskappe het sinagoges gehad waar mense gereeld vergader het om te luister hoe die Skrif gelees en bespreek word. Die vroeë Christene kon gevolglik voortbou op die godsdienskennis wat mense reeds gehad het (Handelinge 8:28-36; 17:1, 2). Vroeg in ons era het Jehovah se volk in baie lande ’n soortgelyke situasie gehad. Die Bybel was alom beskikbaar in Christenlande, veral in Protestantse lande. Dit is in baie kerke gelees; miljoene het hulle eie eksemplaar gehad. Die Bybel was reeds in mense se hande, maar hulle moes gehelp word om te verstaan wat hulle in hulle besit gehad het.
Die voordele van wetgewing
12. Hoe was die Romeinse wet oor die algemeen ’n beskerming in die eerste eeu?
12 Die Christelike predikingswerk is al dikwels deur landswette bevorder. Die Romeinse Ryk het die eerste-eeuse wêreld oorheers, en sy geskrewe wette het ’n baie groot uitwerking op die daaglikse lewe gehad. Hierdie wette het beskerming voorsien, en die vroeë Christene het daarby baat gevind. Paulus het hom byvoorbeeld op die Romeinse wet beroep, wat daartoe gelei het dat hy uit die gevangenis vrygelaat is en nie geslaan is nie (Handelinge 16:37-39; 22:25, 29). Toe daar na die voorsiening van die Romeinse regstelsel verwys is, het dit gehelp dat ’n woedende skare in Efese tot bedaring kom (Handelinge 19:35-41). Paulus is eenkeer in Jerusalem van ’n gewelddadige aanval gered omdat hy ’n Romeinse burger was (Handelinge 23:27). Later het Romeinse wetgewing hom in staat gestel om sy geloof voor Caesar te verdedig (Handelinge 25:11). Hoewel verskeie keisers tiranne was, het die wette in die eerste eeu oor die algemeen voorsiening gemaak vir “die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”.—Filippense 1:7.
13. Hoe is die predikingswerk in ons tyd dikwels deur wetgewing bevorder?
13 Vandag is dit ook in baie lande die geval. Hoewel daar mense is wat “moeilikheid deur verordening beraam”, word godsdiensvryheid in die geskrewe wette van die meeste lande as ’n basiese reg beskou (Psalm 94:20, NW). Omdat baie regerings besef dat Jehovah se Getuies geen bedreiging vir die maatskaplike orde inhou nie, het hulle wetlike erkenning aan ons werk verleen. In die Verenigde State, waar ’n groot deel van die Getuies se drukwerk gedoen word, het bestaande wette dit moontlik gemaak dat Die Wagtoring 120 jaar lank sonder enige onderbreking gedruk kon word en wêreldwyd gelees word.
Tye van vrede en verdraagsaamheid
14, 15. Hoe het die relatiewe maatskaplike stabiliteit wat in die eerste eeu bestaan het die predikingswerk tot voordeel gestrek?
14 Tye van relatiewe vrede het ook die predikingswerk bevoordeel. Hoewel Jesus akkuraat voorspel het dat ‘nasie teen nasie sou opstaan’ gedurende die tye wat ons hier bespreek, was daar nou en dan tye van stabiliteit wat intensiewe Koninkryksprediking moontlik gemaak het (Matteus 24:7). Die eerste-eeuse Christene het onder die Pax Romana, of Romeinse Vrede, gelewe. ’n Geskiedkundige skryf: “Rome het die volke van die Mediterreense wêreld so totaal onderwerp dat dit vir hulle ’n einde gemaak het aan eeue van byna onophoudelike oorlogvoering.” Hierdie stabiliteit het vroeë Christene in staat gestel om in betreklike veiligheid deur die hele Romeinse wêreld te reis.
15 Die Romeinse Ryk het daarna gestreef om volke onder sy sterk hand te verenig. Hierdie beleid het nie net reise, verdraagsaamheid en die uitwisseling van idees bevorder nie, maar ook die gedagte van internasionale broederskap. Die boek On the Road to Civilization sê: “Die eenheid van die [Romeinse] Ryk het die veld [vir Christelike predikingswerk] ryp gemaak. Landsgrense is verwyder. ’n Romeinse burger was ’n burger van die wêreld. . . . Daarbenewens kon ’n godsdiens wat geleer het dat die mensdom ’n broederskap moet wees, verstaan word in ’n staat wat die idee van universele burgerskap voorgestaan het.”—Vergelyk Handelinge 10:34, 35; 1 Petrus 2:17.
16, 17. Waarom is pogings aangewend om vrede in hedendaagse tye te bevorder, en tot watter slotsom het baie mense gekom?
16 Wat van ons tyd? Die 20ste eeu het die mees verwoestende oorloë in die geskiedenis gehad, en streekoorloë woed voort in party lande (Openbaring 6:4). Maar daar was ook tye van relatiewe vrede. Die groot wêreldmoondhede het meer as 50 jaar laas ’n volskaalse oorlog met mekaar gevoer. Hierdie situasie het die verkondiging van die goeie nuus in daardie lande grootliks bevorder.
17 Die gruwels van 20ste-eeuse oorlogvoering het baie mense laat besef dat daar ’n behoefte aan ’n wêreldregering bestaan. Vrees vir ’n wêreldoorlog het tot die stigting van die Volkebond sowel as die Verenigde Nasies gelei (Openbaring 13:14). ’n Verklaarde oogmerk van albei organisasies was om internasionale samewerking en vrede te bevorder. Mense wat die behoefte hieraan sien, reageer dikwels gunstig op die goeie nuus van die wêreldregering wat ware en blywende vrede sal bring—God se Koninkryk.
18. Watter gesindheid teenoor godsdiens was bevorderlik vir die predikingswerk?
18 Hoewel Christene soms hewig vervolg is, was daar in die eerste sowel as in die 20ste eeu tydperke van godsdiensverdraagsaamheid (Johannes 15:20; Handelinge 9:31). Die Romeine het die gode en godinne van die volke wat hulle verower het geredelik aanvaar en aanbid. Professor Rodney Stark het geskryf: “In baie opsigte is die mate van godsdiensvryheid wat in Rome toegelaat is eers weer ná die Amerikaanse Revolusie gesien.” In hedendaagse tye is mense in baie lande meer onbevooroordeeld wat ander se beskouings betref, met die gevolg dat hulle bereid is om na die Bybelboodskap te luister wat Jehovah se Getuies bring.
Die rol van tegnologie
19. Hoe het vroeë Christene van die kodeks gebruik gemaak?
19 Laastens kan ons kyk na hoe Jehovah sy volk in staat gestel het om tegnologiese vooruitgang te benut. Hoewel die vroeë Christene nie in ’n tydperk van groot tegnologiese vooruitgang geleef het nie, is een uitvinding waarvan hulle wel gebruik gemaak het die kodeks, of boek met blaaie. Die kodeks het die boekrol vervang wat so moeilik was om te hanteer. Die boek The Birth of the Codex sê: “In teenstelling met die stadige en geleidelike proses waardeur die kodeks die boekrol in sekulêre literatuur vervang het, lyk dit of die Christene die kodeks byna oombliklik en universeel begin gebruik het.” Hierdie naslaanwerk sê ook: “Die gebruik van die kodeks deur Christene is so universeel in die tweede eeu dat dit seker lank voor 100 n.C. in gebruik geneem is.” Die kodeks was makliker om te gebruik as ’n boekrol. Tekste kon vinniger gevind word. Dit het ongetwyfeld die vroeë Christene gehelp wat, soos Paulus, nie net die Skrif verduidelik het nie, maar ook die dinge wat hulle ander geleer het “deur verwysings bewys” het.—Handelinge 17:2, 3.
20. Hoe het God se volk van moderne tegnologie gebruik gemaak in die wêreldwye predikingswerk, en waarom?
20 In ons eeu is verstommende vooruitgang op tegnologiese gebied gemaak. Sneldrukperse het die gelyktydige publikasie van Bybellektuur in baie tale moontlik gemaak. Moderne tegnologie het die werk van Bybelvertaling bespoedig. Vragmotors, treine, skepe en vliegtuie maak dat Bybellektuur vinnig regoor die aarde vervoer kan word. Telefone en faksmasjiene het onmiddellike kommunikasie ’n werklikheid gemaak. Jehovah het deur middel van sy gees sy knegte beweeg om hierdie tegnologiese middele prakties te gebruik om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig. Hulle doen dit nie omdat hulle net van al die jongste uitvindings in hierdie wêreld wil weet en dit wil gebruik nie. Wat egter vir hulle van die allergrootste belang is, is watter middele hulle sal help om hulle predikingsopdrag op die doeltreffendste manier moontlik uit te voer.
21. Waarvan kan ons seker wees?
21 “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word”, het Jesus voorspel (Matteus 24:14). Net soos vroeë Christene ’n vervulling van hierdie profesie gesien het, sien ons vandag ’n grootskaalse vervulling daarvan. Ten spyte van die feit dat die verkondiging van die goeie nuus ’n enorme en moeilike werk is, word en is dit gedoen in gunstige en ongunstige tye, te midde van veranderende wette en gesindhede, in oorlogstyd en in vredestyd, asook te midde van allerhande tegnologiese uitvindings. Vervul dit jou nie met ontsag vir Jehovah se wysheid en wonderlike voorkennis nie? Ons kan absoluut seker daarvan wees dat die predikingswerk voltooi sal word volgens Jehovah se tydrooster en dat sy liefdevolle voorneme volbring sal word tot die seën van die regverdiges. Hulle sal die aarde besit en vir ewig daarop lewe (Psalm 37:29; Habakuk 2:3). As ons ons lewe in ooreenstemming met Jehovah se voornemens bring, sal ons onder hulle wees.—1 Timoteus 4:16.
[Voetnoot]
a Sien die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, bladsye 36, 97 en 98-107, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n breedvoeriger verduideliking van hierdie twee Messiaanse profesieë.
Punte ter hersiening
◻ Waarom is die verkondiging van die goeie nuus ’n moeilike taak?
◻ Hoe het regerings en relatiewe maatskaplike stabiliteit die werk van Christene tot voordeel gestrek?
◻ Van watter toekomstige verwikkelinge verseker Jehovah se seën op die predikingswerk ons?