Vind baat by die “koring van die hemel”
KORT ná die Israeliete se wonderdadige verlossing uit Egipte het hulle ’n ernstige gebrek aan geloof in hulle Verlosser, Jehovah, geopenbaar. Gevolglik het Jehovah hulle 40 jaar lank in die Sinaiwoestyn laat rondtrek. In daardie hele tyd het die Israeliete en die “menigte mense van gemengde bloed” wat by hulle aangesluit het “volop” geëet en gedrink (Exodus 12:37, 38). Psalm 78:23-25 sê vir ons hoe dit moontlik was: “Hy [Jehovah] het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur.”
Moses, wat van die manna geëet het, het hierdie unieke kossoort beskryf. Hy het geskryf hoe daar in die oggend, “nadat die doulaag opgetrek het, . . . oor die woestyn iets gelê [het] wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond. Toe die kinders van Israel dit sien, sê hulle vir mekaar: Wat is dit?” of letterlik in Hebreeus: “Man hoeʼ?” Hierdie uitdrukking was waarskynlik die oorsprong van die woord “manna”, die naam wat die Israeliete aan die kossoort gegee het. Moses het gesê: “Dit was wit soos koljandersaad, en dit het gesmaak soos heuningkoek.”—Exodus 16:13-15, 31, voetnoot in NW.
Die manna was nie ’n kossoort wat natuurlik daar voorgekom het soos party beweer nie. ’n Bonatuurlike mag het dit voorsien. Dit was byvoorbeeld nie net op sekere plekke en in sekere seisoene beskikbaar nie. As dit oornag gehou is, het wurms daarin uitgebroei en het dit begin stink, maar die dubbele porsie wat elke gesin op die dag voor die weeklikse Sabbat ingesamel het, het nie oornag sleg geword nie en kon dus geëet word op die Sabbat—die dag waarop geen manna voorsien is nie. Die manna was ongetwyfeld ’n wonderdadige voorsiening.—Exodus 16:19-30.
Die feit dat daar in Psalm 78 van “engele” gepraat word, dui daarop dat Jehovah moontlik engele gebruik het om die manna te voorsien (Psalm 78:25). Wat ook al die geval was, die volk het alle rede gehad om God te dank vir sy goedhartigheid. Maar die meeste van hulle was ondankbaar teenoor die Een wat hulle uit slawerny in Egipte verlos het. Ons kan ook Jehovah se voorsienings as vanselfsprekend aanvaar of selfs ondankbaar word as ons nie oor sy liefderyke goedhartigheid peins nie. Ons kan dus dankbaar wees dat Jehovah die verslag van Israel se verlossing en die daaropvolgende gebeure vir “ons onderrigting” laat opteken het.—Romeine 15:4.
’n Les vir Israel waarby Christene baat vind
Toe Jehovah die manna voorsien het, het hy meer in gedagte gehad as om bloot die fisiese behoeftes van die ongeveer driemiljoen Israeliete te bevredig. Hy wou hulle ‘nederig laat word en op die proef stel’ om hulle vir hulle eie beswil te louter en te dissiplineer (Deuteronomium 8:16, NW; Jesaja 48:17). As hulle op daardie loutering en dissipline gereageer het, sou dit Jehovah behaag het om ‘aan hulle goed te doen in hulle latere dae’ deur aan hulle vrede, voorspoed en geluk in die Beloofde Land te gee.
’n Belangrike les wat hulle moes leer, was dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (Deuteronomium 8:3). As God nie die manna voorsien het nie, sou die volk van honger omgekom het—’n feit wat hulle geredelik erken het (Exodus 16:3, 4). Israeliete met waardering is daagliks herinner aan hulle algehele afhanklikheid van Jehovah en is gevolglik nederig gemaak. Wanneer hulle dan later in die Beloofde Land met sy materiële oorvloed gekom het, sou hulle waarskynlik nie maklik van Jehovah en hulle afhanklikheid van hom vergeet het nie.
Soos die Israeliete, moet Christene ook daarvan bewus bly dat hulle van God afhanklik is vir noodsaaklike lewensmiddele—fisies en geestelik (Matteus 5:3; 6:31-33). In antwoord op een van die Duiwel se versoekings het Jesus Christus die woorde van Moses aangehaal wat in Deuteronomium 8:3 gevind word: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan’” (Matteus 4:4). Ja, ware aanbidders van God word gevoed deur Jehovah se uitinge te lees wat in sy Woord opgeteken staan. Daarbenewens word hulle geloof versterk wanneer hulle die heilsame uitwerking van hierdie uitinge in hulle lewe ondervind terwyl hulle met God wandel en sy Koninkryksbelange eerste stel.
Onvolmaakte mense kan hulle waardering verloor vir dinge wat ’n alledaagse deel van hulle lewe word—al is hierdie dinge ’n weerspieëling van Jehovah se liefdevolle besorgdheid. Die Israeliete was byvoorbeeld aan die begin verwonderd en verheug oor die bonatuurlike voorsiening van manna, maar mettertyd het baie van hulle gekla. “Ons siel walg van die ellendige kos”, het hulle oneerbiedig gemurmureer—’n teken dat hulle “van die lewende God [begin] terugtrek” het (Numeri 11:6; 21:5; Hebreërs 3:12). Hulle voorbeeld dien derhalwe as “’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het”.—1 Korintiërs 10:11.
Hoe kan ons hierdie waarskuwende voorbeeld ter harte neem? Een manier is deur nooit toe te laat dat Bybelleringe of die voorsienings wat ons deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas ontvang iets alledaags of doodgewoons word nie (Matteus 24:45). As ons eers Jehovah se gawes as vanselfsprekend begin aanvaar of daarmee verveeld raak, begin ons verhouding met hom afkoel.
Dit is met goeie rede dat Jehovah ons nie met ’n voortdurende stortvloed van opwindende nuwe dinge oorweldig nie. Hy werp eerder geleidelik en progressief meer lig op sy Woord (Spreuke 4:18). Dit gee sy volk ’n kans om die dinge wat hulle leer in te neem en toe te pas. Jesus het sy Vader se voorbeeld gevolg wanneer hy sy vroeë dissipels geleer het. Hy het God se Woord aan hulle verduidelik “vir sover hulle kon luister”, of “verstaan”, soos sommige vertalings dit stel.—Markus 4:33; vergelyk Johannes 16:12.
Vergroot jou waardering vir God se voorsienings
Jesus het ook van herhaling gebruik gemaak. Dit is natuurlik maklik vir die verstand om ’n sekere gedagte—byvoorbeeld ’n Bybelbeginsel—te begryp, maar om dit ter harte te neem en dit deel van die Christelike “nuwe persoonlikheid” te maak, sal dalk ’n bietjie langer neem, veral as die ou wêreldse weë en gesindhede diepgewortel is (Efesiërs 4:22-24). Dit was beslis waar in die geval van Jesus se dissipels wat trots moes oorkom en nederigheid moes aankweek. Jesus moes hulle by verskeie geleenthede omtrent nederigheid leer, en hy het elke keer dieselfde basiese gedagte van ’n ander kant benader sodat dit in hulle hart kon insink, wat wel uiteindelik gebeur het.—Matteus 18:1-4; 23:11, 12; Lukas 14:7-11; Johannes 13:5, 12-17.
In hedendaagse tye volg Christelike vergaderinge en Wagtoringpublikasies Jesus se voorbeeld deur die weldeurdagte gebruik van herhaling. Laat ons dit dus waardeer as ’n bewys van God se liefdevolle besorgdheid oor ons, en laat ons nooit moeg word van die dinge wat ons ontvang, soos die Israeliete moeg geword het vir die manna nie. Trouens, as ons ons geduldig daarop toelê om Jehovah se gereelde herinneringe ons eie te maak, sal ons die goeie vrugte in ons lewe sien (2 Petrus 3:1). So ’n waarderende gesindheid toon inderdaad dat ons in ons hart sowel as in ons verstand ‘die sin begryp’ van God se Woord (Matteus 13:15, 19, 23). Ons het in hierdie verband ’n goeie voorbeeld in die psalmis Dawid wat Jehovah se wette beskryf het as “soeter as heuning en heuningstroop”, al het hy nie die verskeidenheid geestelike voedsel gehad wat ons vandag ontvang nie!—Psalm 19:11.
“Manna” wat ewige lewe moontlik maak
“Ek is die brood van die lewe”, het Jesus vir die Jode gesê. “Julle voorvaders het die manna in die wildernis geëet en tog gesterf. . . . Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het; as iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe . . . Die brood wat ek sal gee[, is] my vlees ten behoewe van die lewe van die wêreld” (Johannes 6:48-51). Letterlike brood of manna het nie ewige lewe moontlik gemaak nie, en kán ook nie. Maar diegene wat geloof in Jesus se losprysofferande beoefen, sal uiteindelik die seëning van ewige lewe geniet.—Matteus 20:28.
Die meeste van dié wat by Jesus se losprys baat vind, sal ewige lewe op ’n paradysaarde geniet. “’n Groot skare” van hulle—wat voorafgeskadu is deur die “menigte mense van gemengde bloed” wat by die Israeliete aangesluit het in hulle uittog uit Egipte—sal die komende “groot verdrukking” oorleef wat die aarde van alle goddeloosheid sal bevry (Openbaring 7:9, 10, 14; Exodus 12:38). Diegene wat die Israeliete self afbeeld, geniet selfs ’n groter beloning. Die apostel Paulus beskryf hierdie persone, wat 144 000 tel, as die geestelike Israel van God. Hulle beloning by die dood is ’n opstanding tot lewe in die hemel (Galasiërs 6:16; Hebreërs 3:1; Openbaring 14:1). Daar sal Jesus aan hulle ’n spesiale soort manna gee.
Die betekenis van “die verborge manna”
“Aan hom wat oorwin, sal ek van die verborge manna gee”, het die verrese Jesus aan geestelike Israel gesê (Openbaring 2:17). Hierdie simboliese verborge manna laat ’n mens dink aan die manna wat God Moses beveel het om in ’n goue kruik in die heilige verbondsark te hou. Die Ark het in die Allerheiligste van die tabernakel gestaan. Daar het dit uit die oog gebly, as ’t ware verborge. Hierdie manna wat bewaar is om as ’n herinnering te dien, het nie bederf terwyl dit in die Ark gebly het nie en sou dus ’n gepaste simbool wees van ’n onbederfbare voedselvoorraad (Exodus 16:32; Hebreërs 9:3, 4, 23, 24). Deur aan die 144 000 die verborge manna te gee, waarborg Jesus dat hulle onsterflikheid en onverganklikheid as geesseuns van God sal ontvang.—Johannes 6:51; 1 Korintiërs 15:54.
“By U [Jehovah] is die fontein van die lewe”, het die psalmis gesê (Psalm 36:10). Hoe goed bevestig die voorsiening van manna—letterlik sowel as simbolies—tog daardie fundamentele waarheid! Die manna wat God eertydse Israel gegee het, die figuurlike manna wat hy in die vorm van Jesus se vlees ten behoewe van ons gegee het en die simboliese verborge manna wat hy deur Jesus aan die 144 000 gee, herinner ons almal aan ons algehele afhanklikheid van God vir lewe (Psalm 39:6, 8). Laat ons hierdie afhanklikheid nederig, beskeie en gereeld erken. Jehovah sal op sy beurt ‘aan ons goed doen in ons latere dae’.—Deuteronomium 8:16, NW.
[Prente op bladsy 26]
Alle mense is afhanklik van “die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het” om die ewige lewe te beërf
[Prent op bladsy 28]
Die bywoning van al die Christelike vergaderinge toon ons waardering vir Jehovah se herinneringe