Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 9/15 bl. 16-21
  • Vra Jehovah te veel van ons?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vra Jehovah te veel van ons?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat Jehovah in die verlede vereis het
  • Jehovah se wet aan Israel
  • Was Jehovah se wet te swaar?
  • Wat Jehovah werklik vra
  • Dit is nie te veel nie
  • ’n Trotse man word nederig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die soldaat en die dogtertjie
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Hy was koppig maar het uiteindelik geluister
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Sy wou help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 9/15 bl. 16-21

Vra Jehovah te veel van ons?

“Wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”—MIGA 6:8.

1. Wat is moontlik die rede waarom party Jehovah nie dien nie?

JEHOVAH vra iets van sy volk. Maar nadat jy die woorde hierbo gelees het wat uit Miga se profesie aangehaal word, kom jy heel moontlik tot die slotsom dat God se vereistes redelik is. En tog is daar baie wat nie ons Grootse Skepper dien nie, en party wat hom voorheen gedien het, maar hom nou nie meer dien nie. Waarom? Omdat hulle dink dat God te veel van ons vra. Is dit waar? Of lê die probleem dalk by die persoon se gesindheid teenoor Jehovah se vereistes? ’n Geskiedkundige verslag gee vir ons insig in hierdie saak.

2. Wie was Naäman, en wat het Jehovah se profeet hom gevra om te doen?

2 Die Siriese leërowerste Naäman was melaats, maar daar is vir hom gesê dat daar in Israel ’n profeet van Jehovah is wat hom gesond kon maak. Naäman en sy gevolg het dus na Israel gereis en uiteindelik by die huis van God se profeet Elisa aangekom. In plaas van uit sy huis te kom om sy hooggeplaaste besoeker te ontmoet, het Elisa ’n dienskneg gestuur om vir Naäman te sê: “Was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees.”—2 Konings 5:10.

3. Waarom het Naäman aanvanklik geweier om te doen wat Jehovah gevra het?

3 As Naäman voldoen het aan die vereiste wat God se profeet gestel het, sou hy van ’n verskriklike siekte genees word. Het Jehovah dus te veel van hom gevra? Nie werklik nie. Maar Naäman was nie bereid om te doen wat Jehovah vereis het nie. “Is Abana en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie?” het hy beswaar gemaak. “Kon ek my nie daarin was en rein word nie?” Naäman het toe vererg weggery.—2 Konings 5:12.

4, 5. (a) Wat was die beloning vir Naäman se gehoorsaamheid, en hoe het hy gereageer toe hy dit ontvang het? (b) Wat gaan ons nou ondersoek?

4 Wat was in werklikheid Naäman se probleem? Dit was nie dat die vereiste te moeilik was om na te kom nie. Naäman se diensknegte het taktvol gesê: “As die profeet u ’n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word?” (2 Konings 5:13). Die probleem het by Naäman se gesindheid gelê. Hy het gevoel dat hy nie behandel is met die waardigheid wat hy verdien het nie en dat hy gevra is om iets te doen wat hy blykbaar as ondoeltreffend en vernederend beskou het. Maar Naäman het op die taktvolle raad van sy diensknegte ag geslaan en hom sewe keer in die water van die Jordaanrivier gedompel. Stel jou sy blydskap voor toe ‘sy vlees teruggekeer het soos die vlees van ’n jong seun, en hy rein geword het’! Hy is met dankbaarheid vervul. Wat meer is, Naäman het gesê dat hy van daardie tyd af geen ander god as Jehovah sou aanbid nie.—2 Konings 5:14-17.

5 Deur die mensegeskiedenis heen het Jehovah mense gevra om verskillende voorskrifte na te kom. Ons nooi jou om ’n paar hiervan te ondersoek. Terwyl jy dit doen, vra jou gerus af hoe jy sou gereageer het as Jehovah vereis het dat jy daardie dinge doen. Ons sal later ondersoek wat Jehovah vandag van ons vra.

Wat Jehovah in die verlede vereis het

6. Wat is die eerste mensepaar gevra om te doen, en hoe sou jy op sulke instruksies gereageer het?

6 Jehovah het die eerste mensepaar, Adam en Eva, beveel om kinders groot te maak, die aarde te onderwerp en oor die diere te heers. Die man en sy vrou is ook met ’n ruim parkagtige tuiste geseën (Genesis 1:27, 28; 2:9-15). Maar daar was ’n beperking. Hulle moes nie eet van ’n sekere boom nie, een van die talle vrugtebome in die tuin van Eden (Genesis 2:16, 17). Dit was nie te veel gevra nie, of hoe? Sou jy dit nie geniet het om so ’n toewysing uit te voer, met die vooruitsig op ewige lewe in volmaakte gesondheid nie? Al het ’n verleier in die tuin verskyn, sou jy nie sy redenasie verwerp het nie? En sal jy nie saamstem dat Jehovah die reg gehad het om die mens die een eenvoudige beperking op te lê nie?—Genesis 3:1-5.

7. (a) Watter toewysing het Noag ontvang, en watter teenstand het hy ondervind? (b) Hoe beskou jy dit wat Jehovah van Noag gevra het?

7 Later het Jehovah Noag gevra om ’n ark te bou wat as ’n middel tot redding deur ’n wêreldvloed heen sou dien. Te oordeel na die grootte van die ark was dit nie ’n maklike taak nie, en hy het dit waarskynlik te midde van baie bespotting en groot vyandigheid gedoen. Maar wat ’n voorreg was dit tog vir Noag om sy huisgesin te kon red, om nie eens van al die diere te praat nie! (Genesis 6:1-8, 14-16; Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5). Sou jy, as jy so ’n toewysing ontvang het, hard gewerk het om dit uit te voer? Of sou jy tot die slotsom gekom het dat Jehovah te veel van jou vra?

8. Wat is Abraham gevra om te doen, en wat is deur sy gehoorsaamheid toegelig?

8 God het Abraham gevra om iets baie moeilik te doen toe hy vir hom gesê het: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer” (Genesis 22:2). Aangesien Jehovah beloof het dat Isak, wat op daardie stadium kinderloos was, ’n nageslag sou hê, is Abraham se geloof in God se vermoë om Isak weer lewend te maak op die proef gestel. Toe Abraham Isak probeer offer het, het God die jong man van die dood gered. Dit het toegelig hoe God sy eie Seun vir die mensdom sou offer en hom later sou opwek.—Genesis 17:19; 22:9-18; Johannes 3:16; Handelinge 2:23, 24, 29-32; Hebreërs 11:17-19.

9. Waarom kan ons sê dat Jehovah nie te veel van Abraham gevra het nie?

9 Party dink dalk dat Jehovah God te veel van Abraham gevra het. Maar het hy? Is dit werklik liefdeloos van ons Skepper, wat die dooies kan opwek, om ons te vra om gehoorsaam te wees al sou dit beteken dat ons tydelik in die dood moet slaap? Jesus Christus en sy vroeë volgelinge het nie so gedink nie. Hulle was bereid om fisiese mishandeling, selfs die dood, te verduur om God se wil te doen (Johannes 10:11, 17, 18; Handelinge 5:40-42; 21:13). As omstandighede dit vereis, sal jy gewillig wees om dieselfde te doen? Kom ons kyk na van die dinge wat Jehovah vereis het van diegene wat ingestem het om sy volk te wees.

Jehovah se wet aan Israel

10. Wie het beloof om alles te doen wat Jehovah gevra het, en wat het hy hulle gegee?

10 Abraham se afstammelinge deur sy seun Isak en kleinseun Jakob, of Israel, het die nasie Israel geword. Jehovah het die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos (Genesis 32:28; 46:1-3; 2 Samuel 7:23, 24). Kort daarna het hulle beloof om te doen wat God ook al van hulle gevra het. Hulle het gesê: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:8). In ooreenstemming met die Israeliete se begeerte om deur Jehovah regeer te word, het hy die nasie meer as 600 wette gegee, waaronder die Tien Gebooie. Mettertyd het hierdie wette van God, wat deur middel van Moses gegee is, bloot as die Wet bekend gestaan.—Esra 7:6; Lukas 10:25-27; Johannes 1:17.

11. Wat was een doel van die Wet, en wat is van die voorskrifte wat gehelp het om hierdie doel te bereik?

11 Een doel van die Wet was om die Israeliete te beskerm deur nuttige voorskrifte te gee wat hulle sou lei in sake soos geslagsedelikheid, saketransaksies en kindersorg (Exodus 20:14; Levitikus 18:6-18, 22-24; 19:35, 36; Deuteronomium 6:6-9). Reëls oor die behandeling van hulle naaste sowel as diere is voorsien (Levitikus 19:18; Deuteronomium 22:4, 10). Vereistes wat betrekking gehad het op jaarlikse feeste en samekomste vir aanbidding het gehelp om die volk geestelik te beskerm.—Levitikus 23:1-43; Deuteronomium 31:10-13.

12. Wat was die vernaamste doel van die Wet?

12 ’n Vername doel van die Wet is deur die apostel Paulus beskryf toe hy gesê het: “Dit is bygevoeg om oortredings openbaar te maak, totdat die saad [Christus] sou kom aan wie die belofte gedoen is” (Galasiërs 3:19). Die Wet het die Israeliete daaraan herinner dat hulle onvolmaak is. Hulle het dus logieserwys ’n volmaakte offerande nodig gehad wat hulle sondes heeltemal sou wegneem (Hebreërs 10:1-4). Die Wet was derhalwe bedoel om die volk voor te berei om Jesus, wat die Messias, of Christus, was te aanvaar. Paulus het geskryf: “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus toe lei, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word.”—Galasiërs 3:24.

Was Jehovah se wet te swaar?

13. (a) Hoe het onvolmaakte mense die Wet beskou, en waarom? (b) Was die Wet werklik te swaar?

13 Hoewel die Wet “heilig en regverdig en goed” was, het baie dit as te swaar beskou (Romeine 7:12). Omdat die Wet volmaak was, kon die Israeliete nie aan die hoë standaard daarvan voldoen nie (Psalm 19:8). Daarom het die apostel Petrus dit “’n juk” genoem “wat nóg ons voorvaders nóg ons kon dra” (Handelinge 15:10). Die Wet was op sigself natuurlik nie te swaar nie, en gehoorsaamheid daaraan het die volk tot voordeel gestrek.

14. Wat is ’n paar voorbeelde wat toon dat die Wet van groot nut vir die Israeliete was?

14 Onder die Wet is ’n dief byvoorbeeld nie in die tronk gesit nie, maar hy moes werk om dubbel of meer te betaal om te vergoed vir wat hy gesteel het. Die slagoffer het dus geen verlies gely nie, en ’n las is ook nie op hardwerkende mense gelê om ’n gevangeniswese te ondersteun nie (Exodus 22:1, 3, 4, 7). Gevaarlike voedsel is verbied. Varkvleis wat nie heeltemal gaar is nie, kan triginose oordra, en haasvleis kan knaagdierpes oordra (Levitikus 11:4-12). Die Wet het eweneens as ’n beskerming gedien deur die hantering van lyke te verbied. As iemand aan ’n lyk geraak het, moes hy homself sowel as sy klere was (Levitikus 11:31-36; Numeri 19:11-22). Ontlasting moes begrawe word, sodat die volk beskerm kon word teen die verspreiding van kieme, wat wetenskaplikes eers in onlangse eeue uitgevind het wel bestaan.—Deuteronomium 23:13.

15. Wat was wel ’n las vir die Israeliete?

15 Die Wet het nie te veel van die volk vereis nie. Maar dieselfde kan nie gesê word van die mense wat as uitlêers van die Wet begin optree het nie. Aangaande die reëls wat hulle neergelê het, sê A Dictionary of the Bible, wat deur James Hastings geredigeer is: “Elke Bybelse gebod was omring deur ’n netwerk van beuselagtige regulasies. . . . ’n Poging is dus aangewend om elke denkbare geval binne die raamwerk van die Wet te plaas, en elke aspek van die mens se gedrag met meedoënlose logika deur streng, praktiese reëls te beheer. . . . Die stem van die gewete is onderdruk; die lewende krag van die Goddelike woord is geneutraliseer en gesmoor onder ’n magdom eksterne reëls.”

16. Wat het Jesus oor die swaar reëls en tradisies van godsdiensleiers gesê?

16 Jesus Christus het die godsdiensleiers wat ’n magdom reëls neergelê het, veroordeel deur te sê: “Hulle bind swaar vragte saam en sit dit op die skouers van die mense, maar self is hulle nie bereid om dit met hulle vinger te verroer nie” (Matteus 23:2, 4). Hy het daarop gewys dat hulle deur hulle swaar mensgemaakte reëls en tradisies, waaronder oordadige reinigingsprosedures, “die woord van God kragteloos” gemaak het (Markus 7:1-13; Matteus 23:13, 24-26). Maar selfs voordat Jesus na die aarde toe gekom het, het die godsdiensonderrigters in Israel dit wat Jehovah werklik vereis het verkeerd voorgestel.

Wat Jehovah werklik vra

17. Waarom het Jehovah nie behae gehad in die brandoffers van die ontroue Israeliete nie?

17 Deur middel van die profeet Jesaja het Jehovah gesê: “Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie” (Jesaja 1:10, 11). Waarom het God geen behae gehad in offerandes wat hy self in die Wet vereis het nie? (Levitikus 1:1–4:35). Omdat die volk oneerbiedig teenoor hom was. Hulle is gevolglik vermaan: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee” (Jesaja 1:16, 17). Help dit ons nie om te verstaan wat Jehovah van sy knegte verwag nie?

18. Wat het Jehovah werklik van die Israeliete gevra?

18 Jesus het getoon wat God werklik verwag. Hy het dit gedoen toe hy die vraag gevra is: “Watter is die grootste gebod in die Wet?” Jesus het geantwoord: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete” (Matteus 22:36-40; Levitikus 19:18; Deuteronomium 6:4-6). Die profeet Moses het dieselfde punt gestel toe hy gevra het: “Wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge?”—Deuteronomium 10:12, 13; 15:7, 8.

19. Hoe het die Israeliete heilig probeer voorkom, maar wat het Jehovah vir hulle gesê?

19 Ten spyte van hulle verkeerde dade wou die Israeliete heilig voorkom. Hoewel die Wet vereis het dat daar slegs op die jaarlikse Versoendag gevas moet word, het hulle begin om dikwels te vas (Levitikus 16:30, 31). Maar Jehovah het hulle bestraf deur te sê: “Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?”—Jesaja 58:3-7.

20. Waaroor het Jesus die godsdienshuigelaars bestraf?

20 Daardie eiegeregtige Israeliete het dieselfde probleem gehad as die godsdienshuigelaars vir wie Jesus gesê het: “Julle gee die tiende van die kruisement en die dille en die komyn, maar julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid. Dit was verpligtend om hierdie dinge te doen, maar sonder om die ander te verontagsaam” (Matteus 23:23; Levitikus 27:30). Help Jesus se woorde ons nie om te verstaan wat Jehovah werklik van ons verwag nie?

21. Hoe het die profeet Miga opgesom wat Jehovah van ons vra en nie vra nie?

21 Om duidelik te toon wat Jehovah van ons vereis en wat hy nie vereis nie, het God se profeet Miga gevra: “Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ’n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”—Miga 6:6-8.

22. Wat het Jehovah veral verwag van diegene onder die Wet?

22 Wat het Jehovah dus veral vereis van diegene wat onder die Wet gelewe het? Hulle moes Jehovah God natuurlik liefhê. Die apostel Paulus het verder gesê: “Die hele Wet word in een gesegde vervul, naamlik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Galasiërs 5:14). Paulus het eweneens vir Christene in Rome gesê: “Hy wat sy medemens liefhet, het die wet vervul. . . . Die liefde [is] die vervulling van die wet.”—Romeine 13:8-10.

Dit is nie te veel nie

23, 24. (a) Waarom moet dit nooit vir ons te veel wees om te doen wat Jehovah vra nie? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

23 Word ons nie diep geraak deur die feit dat Jehovah so ’n liefdevolle, bedagsame, barmhartige God is nie? Sy enigverwekte Seun, Jesus Christus, het na die aarde gekom om God se groot liefde bekend te maak—om mense te laat besef hoe kosbaar hulle vir Jehovah is. Jesus het God se liefde toegelig deur van eenvoudige mossies te sê: “Nie een van hulle [sal] sonder julle Vader se wete op die grond val nie.” Toe het hy gesê: “Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31). Dit moet seer seker nooit vir ons te veel wees om te doen wat so ’n liefdevolle God ook al van ons vra nie!

24 Maar wat vra Jehovah vandag van ons? En waarom dink party blykbaar dat God te veel vra? As ons hierdie vrae ondersoek, behoort ons te kan sien waarom dit ’n wonderlike voorreg is om te doen wat Jehovah ook al vra.

Kan jy antwoord?

◻ Waarom wil party mense Jehovah nie dien nie?

◻ Hoe het Jehovah se vereistes deur die jare heen verskil?

◻ Wat was van die doelstellings van die Wet?

◻ Waarom kan ons sê dat Jehovah nie te veel van ons vra nie?

[Prent op bladsy 18]

Mensgemaakte reëls, soos oordadige reinigingsprosedures, het aanbidding swaar gemaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel