Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 9/15 bl. 21-26
  • Wat vra Jehovah vandag van ons?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat vra Jehovah vandag van ons?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat Jehovah vra
  • Die belangrikheid van liefde
  • Hoe ons bewys lewer van ons liefde
  • Waarom dit dalk moeilik lyk
  • Sal jy op Jesus se liefde reageer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • ’n Wet van liefde in harte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Liefde en geregtigheid in die Christengemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Is jy onder diegene vir wie God lief is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 9/15 bl. 21-26

Wat vra Jehovah vandag van ons?

“’n Stem uit die wolk [het gesê]: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom.’”—MATTEUS 17:5.

1. Wanneer het die Wet sy doel bereik?

JEHOVAH het die nasie Israel die Wet, met sy talle fasette, gegee. Die apostel Paulus het hieroor geskryf: “Dit was wetlike vereistes wat betrekking gehad het op die vlees en is opgelê tot die vasgestelde tyd om dinge reg te stel” (Hebreërs 9:10). Toe die Wet ’n oorblyfsel van Israeliete gelei het om Jesus as die Messias, of Christus, te aanvaar, het dit sy doel bereik. Paulus het dus gesê: “Christus is die einde van die Wet.”—Romeine 10:4; Galasiërs 3:19-25; 4:4, 5.

2. Wie was onder die Wet, en wanneer is hulle daarvan vrygemaak?

2 Beteken dit dat die Wet vandag nie vir ons bindend is nie? Wel, die grootste deel van die mensdom was in werklikheid nog nooit onder die Wet nie, soos die psalmis verduidelik het: “[Jehovah] maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie” (Psalm 147:19, 20). Toe God die nuwe verbond op grond van Jesus se offerande gesluit het, was selfs die nasie Israel nie meer verplig om die Wet te gehoorsaam nie (Galasiërs 3:13; Efesiërs 2:15; Kolossense 2:13, 14, 16). As die Wet dan nie meer bindend is nie, wat vra Jehovah van diegene wat hom vandag wil dien?

Wat Jehovah vra

3, 4. (a) Wat vra Jehovah basies van ons vandag? (b) Waarom moet ons Jesus se voetstappe noukeurig volg?

3 Gedurende die laaste jaar van Jesus se bediening het sy apostels Petrus, Jakobus en Johannes hom na ’n hoë berg vergesel, waarskynlik ’n uitloper van die berg Hermon. Daar het hulle ’n profetiese visioen van Jesus in luisterryke heerlikheid gesien en gehoor hoe God se eie stem verklaar: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom” (Matteus 17:1-5). Dít is basies wat Jehovah van ons vra—om na sy Seun te luister en sy voorbeeld en leringe te volg (Matteus 16:24). Daarom het die apostel Petrus geskryf: “Christus [het] vir julle gely . . . en vir julle ’n voorbeeld gelaat . . . sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.”—1 Petrus 2:21.

4 Waarom moet ons Jesus se voetstappe noukeurig volg? Want as ons hom navolg, volg ons Jehovah God na. Jesus het die Vader intiem geken, aangesien hy miljarde der miljarde jare saam met hom in die hemel deurgebring het voordat hy na die aarde gekom het (Spreuke 8:22-31; Johannes 8:23; 17:5; Kolossense 1:15-17). Terwyl Jesus op die aarde was, het hy sy Vader lojaal verteenwoordig. Hy het verduidelik: “Net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge.” Trouens, Jesus het Jehovah so presies nagevolg dat hy kon sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 8:28; 14:9.

5. Onder watter wet is Christene, en wanneer het daardie wet van krag geword?

5 Wat behels dit om na Jesus te luister en hom na te volg? Beteken dit dat ons onder ’n wet moet wees? Paulus het geskryf: “Ek [is] self nie onder die wet . . . nie.” Hy het hier na “die ou verbond” verwys, die Wetsverbond wat met Israel gesluit is. Paulus het wel erken dat hy “onder die wet ten opsigte van Christus” was (1 Korintiërs 9:20, 21; 2 Korintiërs 3:14). Toe die ou Wetsverbond tot ’n einde gekom het, het ’n “nuwe verbond” van krag geword en daarmee saam die “wet van die Christus” wat alle hedendaagse knegte van Jehovah verplig is om te gehoorsaam.—Lukas 22:20; Galasiërs 6:2; Hebreërs 8:7-13.

6. Hoe kan “die wet van die Christus” beskryf word, en hoe gehoorsaam ons dit?

6 Jehovah het nie “die wet van die Christus” in die vorm van ’n stel reëls laat opskryf en dit in verskillende kategorieë gerangskik, soos met die ou Wetsverbond die geval was nie. Hierdie nuwe wet vir Christus se volgelinge sluit nie ’n uitvoerige lys moets en moenies in nie. Jehovah het egter in sy Woord vier omvattende verslae van die lewe en leringe van sy Seun bewaar. Daarbenewens het God ’n paar van Jesus se vroeë volgelinge geïnspireer om geskrewe instruksies te voorsien in verband met persoonlike gedrag, gemeentelike sake, gedrag in die gesin en ander sake (1 Korintiërs 6:18; 14:26-35; Efesiërs 5:21-33; Hebreërs 10:24, 25). Wanneer ons ons lewe na die voorbeeld en leringe van Jesus Christus vorm en die raad van geïnspireerde eerste-eeuse Bybelskrywers volg, gehoorsaam ons “die wet van die Christus”. Dit is wat Jehovah van sy hedendaagse knegte vra.

Die belangrikheid van liefde

7. Hoe het Jesus gedurende die laaste Pasga saam met sy apostels die aandag gevestig op die vernaamste aspek van sy wet?

7 Liefde was belangrik onder die Wet, maar dit vorm die kern, of die wese, van die wet van die Christus. Jesus het hierdie feit benadruk toe hy saam met sy apostels vergader het om die Pasga van 33 G.J. te vier. Volgens die apostel Johannes se opsomming van wat daardie aand gebeur het, het Jesus se opregte woorde 28 verwysings na liefde ingesluit. Dit het sy apostels se aandag gevestig op die vernaamste aspek, of gees, van sy wet. Johannes het sy bespreking van die gebeure op daardie betekenisvolle aand interessant genoeg met hierdie woorde ingelei: “Omdat Jesus voor die fees van die pasga geweet het dat sy uur gekom het om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan, het hy, wat dié liefgehad het wat syne was en wat in die wêreld was, hulle tot die einde toe liefgehad.”—Johannes 13:1.

8. (a) Hoe kan ons aflei dat daar ’n voortdurende stryery onder die apostels was? (b) Hoe het Jesus sy apostels ’n les in nederigheid geleer?

8 Jesus het sy apostels liefgehad, al het hy hulle blykbaar sonder veel sukses probeer help om hulle oordrewe begeerte na mag en posisie te oorkom. Maande voor hulle in Jerusalem aangekom het, ‘het hulle onder mekaar geargumenteer oor wie die grootste was’. En net voordat hulle na die stad gekom het vir die Pasga, het hulle weer oor posisie gestry (Markus 9:33-37; 10:35-45). Ons kan aflei dat dit ’n probleem was wat voortdurend opgeduik het as ons kyk na wat gebeur het kort nadat die apostels in die bovertrek ingegaan het om die Pasga te vier wat hulle laaste Pasga saam sou wees. Op daardie tydstip het niemand die geleentheid aangegryp om die gebruiklike, gasvrye diens te verrig om die ander se voete te was nie. Om hulle ’n les in nederigheid te leer, het Jesus self hulle voete gewas.—Johannes 13:2-15; 1 Timoteus 5:9, 10.

9. Hoe het Jesus die situasie hanteer wat ná die laaste Pasga ontstaan het?

9 Let op wat, ondanks daardie les, weer eens gebeur het nadat die Pasga gevier is en Jesus die herdenking van sy naderende dood ingestel het. Lukas se Evangelieverslag sê: “Daar het egter ook ’n driftige woordewisseling onder hulle ontstaan oor wie van hulle blykbaar die grootste was.” Jesus het nie kwaad geword vir die apostels en hulle streng berispe nie, maar hulle eerder vriendelik raad gegee oor die belangrikheid daarvan om anders as die magsugtige heersers van die wêreld te wees (Lukas 22:24-27). Toe het hy voorsien wat die hoeksteen van die wet van die Christus genoem kan word deur te sê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”—Johannes 13:34.

10. Watter gebod het Jesus aan sy dissipels gegee, en wat het dit behels?

10 Later daardie aand het Jesus getoon hoe ver Christelike liefde moet strek. Hy het gesê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen” (Johannes 15:12, 13). Het Jesus bedoel dat sy volgelinge gewillig moet wees om ten behoewe van medegelowiges hulle lewe af te lê as die situasie dit sou vereis? Dit is hoe Johannes, ’n ooggetuie by hierdie geleentheid, dit verstaan het, want hy het later geskryf: “Hieraan het ons die liefde leer ken, omdat daardie een [Jesus Christus] vir ons van sy siel afstand gedoen het; en ons staan onder verpligting om vir ons broers van ons siele afstand te doen.”—1 Johannes 3:16.

11. (a) Hoe vervul ons die wet van die Christus? (b) Watter voorbeeld het Jesus nagelaat?

11 Ons vervul dus nie net die wet van die Christus deur vir ander van hom te leer nie. Ons moet ook soos Jesus lewe en optree. Jesus het weliswaar baie mooi, goed gekose woorde in sy toesprake gebruik. Maar hy het ander ook deur sy voorbeeld geleer. Hoewel Jesus ’n magtige geesskepsel in die hemel was, het hy die geleentheid aangegryp om sy Vader se belange op die aarde te bevorder en te toon hoe ons moet lewe. Hy was nederig, goedhartig en bedagsaam, en hy het mense gehelp wat belas en verdruk was (Matteus 11:28-30; 20:28; Filippense 2:5-8; 1 Johannes 3:8). Jesus het ook sy volgelinge aangespoor om mekaar lief te hê, net soos hy hulle liefgehad het.

12. Waarom kan daar gesê word dat die wet van die Christus nie ’n minder belangrike plek aan liefde vir Jehovah gee nie?

12 Waar pas liefde vir Jehovah—wat die Wet se grootste gebod was—in die wet van Christus in? (Matteus 22:37, 38; Galasiërs 6:2). In die tweede plek? Beslis nie! Liefde vir Jehovah en liefde vir ons mede-Christene is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Iemand kan nie werklik Jehovah liefhê sonder om ook sy broer lief te hê nie, want die apostel Johannes het gesê: “As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie gesien het nie.”—1 Johannes 4:20; vergelyk 1 Johannes 3:17, 18.

13. Watter uitwerking het die dissipels se gehoorsaamheid aan Jesus se nuwe gebod gehad?

13 Toe Jesus vir sy dissipels die nuwe gebod gegee het om mekaar lief te hê soos hy hulle liefgehad het, het hy beskryf watter uitwerking dit sou hê. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is”, het hy gesê, “as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Volgens Tertullianus, wat meer as honderd jaar ná Jesus se dood gelewe het, het die broederliefde van vroeë Christene juis daardie uitwerking gehad. Tertullianus het mense aangehaal wat nie Christene was nie, maar wat van Christus se volgelinge gesê het: ‘Kyk hoe lief is hulle vir mekaar en hoe hulle selfs bereid is om vir mekaar te sterf.’ Ons kan ons afvra: ‘Betoon ek sulke liefde aan mede-Christene waardeur ek bewys lewer dat ek een van Jesus se dissipels is?’

Hoe ons bewys lewer van ons liefde

14, 15. Wat kan dit moeilik maak om die wet van die Christus te gehoorsaam, maar wat kan ons help om dit te doen?

14 Dit is noodsaaklik dat Jehovah se knegte Christelike liefde aan die dag lê. Maar vind jy dit moeilik om mede-Christene lief te hê wat selfsugtige eienskappe openbaar? Wel, soos ons gesien het, het selfs die apostels geargumenteer en hulle eie belange probeer bevorder (Matteus 20:20-24). Die Galasiërs het ook onder mekaar getwis. Nadat Paulus daarop gewys het dat naasteliefde die Wet vervul, het hy hulle gewaarsku: “Pas op dat julle, as julle aanhou om mekaar te byt en te verslind, nie deur mekaar verdelg word nie.” Nadat hy die werke van die vlees met die vrugte van God se gees gekontrasteer het, het Paulus die vermaning bygevoeg: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie.” Toe het die apostel Paulus hulle aangespoor: “Hou aan om mekaar se laste te dra, en vervul só die wet van die Christus.”—Galasiërs 5:14–6:2.

15 Vra Jehovah te veel van ons deur gehoorsaamheid aan die wet van die Christus te vereis? Al is dit dalk moeilik om goedhartig te wees teenoor diegene wat ons kwetsende woorde toegesnou en ons gevoelens seergemaak het, is ons verplig om ‘navolgers van God te word, as geliefde kinders, en voort te gaan om in liefde te wandel’ (Efesiërs 5:1, 2). Ons moet gedurig na die voorbeeld van God kyk, wat “sy eie liefde by ons [aanbeveel] daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). As ons die inisiatief neem om ander te help, met inbegrip van diegene wat ons sleg behandel het, kan ons bevrediging put uit die wete dat ons God navolg en gehoorsaam is aan die wet van die Christus.

16. Hoe bewys ons dat ons God en Christus liefhet?

16 Ons moet in gedagte hou dat ons bewys lewer van ons liefde deur wat ons doen, nie bloot deur wat ons sê nie. Selfs Jesus het dit eenkeer moeilik gevind om ’n aspek van God se wil te aanvaar omdat soveel op die spel was. “Vader, as u wil, neem hierdie beker van my af weg”, het Jesus gebid. Maar hy het vinnig bygevoeg: “Laat nietemin nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:42). Ten spyte van alles wat Jesus gely het, het hy God se wil gedoen (Hebreërs 5:7, 8). Gehoorsaamheid is ’n bewys van ons liefde en toon dat ons God se weg as die beste weg beskou. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, sê die Bybel, “dat ons sy gebooie onderhou” (1 Johannes 5:3). En Jesus het vir sy apostels gesê: “As julle my liefhet, sal julle my gebooie onderhou.”—Johannes 14:15.

17. Watter spesiale opdrag het Jesus aan sy volgelinge gegee, en hoe weet ons dat dit vandag op ons van toepassing is?

17 Watter spesiale opdrag het Christus aan sy volgelinge gegee benewens die opdrag om mekaar lief te hê? Hy het beveel dat hulle die predikingswerk doen waarvoor hy hulle opgelei het. Petrus het gesê: “Hy [het] ons beveel om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” (Handelinge 10:42). Jesus het spesifiek beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Jesus het getoon dat hierdie instruksies ook nou in “die tyd van die einde” op sy volgelinge van toepassing sou wees, want hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Daniël 12:4; Matteus 24:14). Dit is natuurlik God se wil dat ons die predikingswerk doen. Sommige dink egter dat God te veel van ons vra deur te vereis dat ons hierdie werk doen. Maar is dit werklik die geval?

Waarom dit dalk moeilik lyk

18. Wat moet ons onthou wanneer ons ly omdat ons doen wat Jehovah vra?

18 Soos ons gesien het, het Jehovah mense deur die geskiedenis heen gevra om aan verskillende vereistes te voldoen. En net soos hy verskillende dinge van hulle gevra het, het die beproewinge wat hulle ondervind het ook verskil. God se geliefde Seun het die moeilikste beproewinge deurgemaak en is uiteindelik op die wreedste manier doodgemaak omdat hy gedoen het wat God gevra het. Maar wanneer ons ly omdat ons doen wat Jehovah van ons vra, moet ons onthou dat hy nie vir ons beproewinge verantwoordelik is nie (Johannes 15:18-20; Jakobus 1:13-15). Satan se opstand het sonde, lyding en die dood meegebring, en hy is die een wat die omstandighede geskep het wat dit dikwels baie moeilik maak om te doen wat Jehovah van sy knegte vra.—Job 1:6-19; 2:1-8.

19. Waarom is dit ’n voorreg om te doen wat God deur sy Seun van ons vra?

19 Deur sy Seun het Jehovah die opdrag gegee dat Sy knegte in hierdie tyd van die einde regoor die wêreld moet verkondig dat die Koninkryksheerskappy die enigste oplossing vir alle menselyding is. Hierdie regering van God sal alle probleme op aarde—oorlog, misdaad, armoede, veroudering, siekte, dood—uit die weg ruim. Die Koninkryk sal ook ’n glorieryke aardse paradys inlui, waar selfs die dooies opgewek gaan word (Matteus 6:9, 10; Lukas 23:43; Handelinge 24:15; Openbaring 21:3, 4). Wat ’n voorreg is dit tog om die goeie nuus van hierdie dinge bekend te maak! Dit is dus duidelik dat niks wat Jehovah ons vra om te doen te moeilik is nie. Ons ondervind teenstand, maar Satan die Duiwel en sy wêreld is daarvoor verantwoordelik.

20. Hoe kan ons enige uitdaging waarvoor die Duiwel ons te staan laat kom die hoof bied?

20 Hoe kan ons enige uitdaging waarvoor Satan ons te staan laat kom met welslae die hoof bied? Deur hierdie woorde in gedagte te hou: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Jesus het Jehovah van ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien deur die veiligheid van hemelse lewe te verlaat om sy Vader se wil op die aarde te doen (Jesaja 53:12; Hebreërs 10:7). As ’n mens het Jesus elke beproewing wat oor hom gebring is, selfs die dood aan ’n folterpaal, verduur. As ons hom as ons Voorbeeld volg, kan ons ook lyding verduur en doen wat Jehovah van ons vra.—Hebreërs 12:1-3.

21. Hoe voel jy oor die liefde wat Jehovah en sy Seun betoon?

21 Hoeveel liefde het God en sy Seun tog aan ons betoon! Jesus se offerande het die vooruitsig op ewige lewe in die Paradys vir gehoorsame mense moontlik gemaak. Ons moet dus nie toelaat dat enigiets ons hoop laat vervaag nie. Laat ons eerder dit wat Jesus moontlik gemaak het persoonlik ter harte neem, soos Paulus, wat gesê het: “Die Seun van God [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee” (Galasiërs 2:20). En mag ons opregte dankbaarheid betoon teenoor ons liefdevolle God, Jehovah, wat nooit te veel van ons vra nie.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat vra Jehovah vandag van ons?

◻ Hoe het Christus gedurende sy laaste aand saam met sy apostels die belangrikheid van liefde beklemtoon?

◻ Hoe kan ons bewys dat ons God liefhet?

◻ Waarom is dit ’n voorreg om te doen wat Jehovah van ons vra?

[Prent op bladsy 23]

Watter les het Jesus vir sy apostels geleer deur hulle voete te was?

[Prent op bladsy 25]

Die verkondiging van die goeie nuus is ’n wonderlike voorreg, ten spyte van teenstand

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel