Leer die uitnemende weg van liefde
Kosowo, Libanon en Ierland. Dit is name wat in die laaste jare dikwels in die nuus was. Hulle laat beelde by mense opkom van bloedvergieting, bomaanvalle en slagtings. Gewelddadige konflikte wat deur godsdiens-, rasse-, etniese of ander verskille veroorsaak word, is natuurlik niks nuuts nie. Trouens, geskiedenisverslae is vol daarvan, en dit het eindelose lyding vir die mensdom meegebring.
AANGESIEN daar deur die geskiedenis heen oorloë was, het baie tot die gevolgtrekking gekom dat oorloë in werklikheid onvermydelik is en dat dit vir mense natuurlik is om mekaar te haat. Sulke beskouings is egter heeltemal in stryd met die leringe van God se Woord, die Bybel. Die Skrif sê onomwonde: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8). Dit is duidelik dat die Skepper wil hê mense moet mekaar liefhê.
Die Bybel toon ook dat die mens na God se beeld geskep is (Genesis 1:26, 27). Dit beteken dat die mens die vermoë het om God se eienskappe te weerspieël, waarvan liefde die vernaamste is. Aangesien dit die geval is, waarom het mense deur die geskiedenis heen so hopeloos gefaal om liefde aan mekaar te betoon? Die Bybel gee ons weer eens insig in hierdie verband. Dit is omdat die eerste mensepaar, Adam en Eva, teen God in opstand gekom het en in sonde verval het. Gevolglik het al hulle nakomelinge sonde en onvolmaaktheid geërf. Romeine 3:23 verduidelik: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God.” Ons godgegewe vermoë om lief te hê, word nadelig beïnvloed deur ons oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid. Beteken dit dat mense nie meer in staat is om mekaar lief te hê nie? Watter hoop is daar dat ons ooit ’n vreedsame, liefdevolle verhouding met ons medemens sal geniet?
Ons moet leer om God lief te hê
Jehovah God weet dat die mens ten spyte van alles nog steeds in staat is om liefde te betoon. Daarom vereis hy van almal wat hom wil behaag om na die beste van hulle vermoë liefde te openbaar. God se Seun, Jesus Christus, het hierdie vereiste duidelik gestel toe hy gevra is wat die grootste gebod is in die Wet wat aan Israel gegee is. Hy het gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod.” Toe het hy bygevoeg: “Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet.”—Matteus 22:37-40.
Baie mense meen egter dat dit baie moeilik is om iemand lief te hê wat hulle nie kan sien nie, en mense kan Jehovah God nie sien nie, want hy is ’n Gees (Johannes 4:24). Ons word nietemin elke dag geraak deur wat God doen, aangesien ons almal afhanklik is van die talle goeie dinge wat hy tot ons voordeel geskep het. Die apostel Paulus het hierna verwys toe hy gesê het: “[God het] homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat . . . nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul.”—Handelinge 14:17.
Al vind almal op die een of ander manier baat by die Skepper se voorsienings, is daar betreklik min wat dankbaar teenoor hom is of selfs beweeg word om hom te dank. Ons moet derhalwe al die goeie dinge wat God vir ons gedoen het in oënskou neem en peins oor sy wonderlike eienskappe wat weerspieël word in alles wat hy doen. As ons dit doen, behoort dit ons in staat te stel om die ontsagwekkende wysheid en krag van ons Grootse Skepper te begryp (Jesaja 45:18). Dit sal ons bowenal help om te sien wat ’n liefdevolle God hy is, aangesien hy ons nie net die lewe gegee het nie, maar dit ook vir ons moontlik gemaak het om alles in die lewe te geniet.
Dink byvoorbeeld aan die groot verskeidenheid pragtige blomme wat God op die aarde geskep het. Hoe wonderlik is dit tog dat hy ons die vermoë gegee het om hierdie pragtige skeppingswerke te sien en groot genot daaruit te put! God het ook allerhande voedsame kossoorte voorsien om ons aan die lewe te hou. Hoe bedagsaam was dit tog van hom om ons met ’n smaaksin te skep sodat ons dit geniet om te eet! Is dit nie treffende bewyse dat God ons werklik liefhet en ons belange op die hart dra nie?—Psalm 145:16, 17; Jesaja 42:5, 8.
Die Skepper openbaar homself nie net aan ons deur die “boek van die natuur” nie, maar deur sy Woord, die Bybel toon hy ook vir ons watter soort God hy is. In die Bybel is baie van die liefdevolle dade opgeteken wat Jehovah God in die verlede gedoen het asook die talle seëninge wat hy belowe om binnekort oor die mens uit te stort (Genesis 22:17, 18; Exodus 3:17; Psalm 72:6-16; Openbaring 21:4, 5). Bowenal toon die Bybel aan ons wat die grootste blyk van God se liefde aan die mensdom is—dat hy sy enigverwekte Seun gegee het om ons Loskoper te wees sodat ons van slawerny aan sonde en die dood bevry kan word (Romeine 5:8). Trouens, hoe meer ons aangaande ons liefdevolle Skepper leer, hoe meer word ons beweeg om hom uit ons hart lief te hê.
Ons moet leer om ons medemens lief te hê
Benewens die feit dat ons God met ons hele hart, siel en verstand moet liefhê, het Jesus getoon dat ons ook ons naaste moet liefhê soos onsself. Trouens, die liefde van God plaas ons onder verpligting om ons medemens lief te hê. Die apostel Johannes het verduidelik: “Geliefdes, as dit is hoe God ons liefgehad het, dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê.” Hy beklemtoon verder: “As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie gesien het nie. En hierdie gebod het ons van hom, dat die een wat God liefhet ook sy broer moet liefhê.”—1 Johannes 4:11, 20, 21.
Vandag lewe ons in ’n wêreld waar die meeste mense ’n “ek eerste”-gesindheid openbaar, want hulle is “liefhebbers van hulleself”, net soos die Bybel voorspel het (2 Timoteus 3:2). As ons die uitnemende weg van liefde wil leer, moet ons ons dus kragtig inspan om ons verstand te hervorm en om ons liefdevolle Skepper na te volg en nie die selfsugtige weë van mense oor die algemeen te volg nie (Romeine 12:2; Efesiërs 5:1). God is selfs “goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses”, en hy ‘laat sy son opgaan oor goddeloses en goeies en laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’. Aangesien ons hemelse Vader so ’n uitstekende voorbeeld vir ons stel, moet ons goedhartig en behulpsaam teenoor almal probeer wees. Sodoende kan ons toon dat ons ‘seuns van ons liefdevolle hemelse Vader is’.—Lukas 6:35; Matteus 5:45.
Soms lei sulke liefdevolle dade daartoe dat mense gehelp kan word om aanbidders van die ware God te word. ’n Paar jaar gelede het ’n huisvrou wat een van Jehovah se Getuies is haar buurvrou meer omtrent die Bybel se boodskap probeer vertel, maar sy het haar laat verstaan dat sy beslis nie belangstel nie. Die vrou se reaksie het haar egter nie ontmoedig nie. Sy het eerder goedhartigheid bly betoon en aan haar buurvrou hulp probeer verleen. Op ’n keer het sy haar buurvrou gehelp om na ’n ander huis te trek. By ’n ander geleentheid het sy gereël dat iemand saam met die vrou na die lughawe gaan om haar familielede te gaan ontmoet. Later het die vrou tot ’n Bybelstudie ingestem en uiteindelik ’n ywerige Christen geword ondanks hewige vervolging deur haar man. Ja, daardie blyke van liefde het die grondslag gelê vir ewige seëninge.
As ons eerlik wil wees, sal ons erken dat God nie vir ons lief is omdat ons soveel bewonderenswaardige eienskappe het nie. Inteendeel, hy het ons lief al het ons baie foute en tekortkominge. Aangesien dit die geval is, moet ons eweneens leer om ons medemens lief te hê ten spyte van al hulle tekortkominge. As ons leer om die goeie eienskappe van ander raak te sien en te waardeer in plaas van op hulle foute te let, sal ons dit baie makliker vind om vir hulle lief te wees. Die gevoel wat ons vir hulle het, sal moontlik selfs verder strek as beginselvaste liefde en die innige toegeneentheid en gehegtheid insluit wat tussen intieme vriende bestaan.
Laat jou liefde toeneem
Liefde en vriendskap moet gekoester en aangekweek word, en opregtheid en eerlikheid is belangrike eienskappe wat daartoe bydra. Party probeer hulle tekortkominge wegsteek sodat hulle ’n gunstige indruk kan maak op mense met wie hulle vriende wil wees. Maar dit boemerang dikwels, want ander vind uiteindelik die waarheid uit en word deur sulke oneerlikheid afgestoot. Daarom moet ons nie bang wees om ander toe te laat om ons te leer ken soos ons werklik is nie—al het ons tekortkominge wat ons probeer oorkom. Dit kan dit makliker maak om met hulle vriende te maak.
’n Bejaarde Getuiesuster in ’n gemeente in die Verre-Ooste het byvoorbeeld baie min skoolopleiding gehad. Maar sy probeer dit nooit vir ander wegsteek nie. Sy erken byvoorbeeld openlik dat sy nie vir ander kan wys hoe om deur middel van Bybelprofesieë en die geskiedenis uit te werk dat die Heidense Tye in 1914 geëindig het nie.a Maar sy stel vir die broers so ’n goeie voorbeeld van ywer in die bediening en van liefde en vrygewigheid dat hulle met liefde na haar verwys as die juweel van die gemeente.
In party kulture word die openlike betoning van toegeneentheid afgekeur; mense word geleer om hoflik en formeel in hulle handelinge met ander te wees. Hoewel dit altyd goed is om beleef en bedagsaam te wees, moet ons nie toelaat dat ons beleefdheid ons gevoel vir ander smoor of verberg nie. Jehovah was nie skaam om sy gevoelens vir sy uitverkore volk, eertydse Israel, uit te druk toe hy gesê het nie: “Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde” (Jeremia 31:3). Die apostel Paulus het eweneens vir sy medegelowiges in Tessalonika gesê: “Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons geliefd geword” (1 Tessalonisense 2:8). Terwyl ons dus probeer om opregte toegeneentheid vir ons medemens aan te kweek, is dit meer in ooreenstemming met Bybelleringe om op natuurlike wyse aan sulke gevoelens uiting te gee as om dit te onderdruk.
Voortgesette inspanning nodig
Dit is ’n aanhoudende leerproses om ander lief te hê en aan hulle liefde te betoon. Dit vereis baie inspanning van ons kant om dit te doen, want ons moet hard werk om ons eie onvolmaakthede te oorkom en ook die sterk invloed van hierdie liefdelose wêreld teë te staan. Maar die ryk seëninge wat dit meebring, maak dit werklik die moeite werd.—Matteus 24:12.
Selfs in hierdie uiters onvolmaakte wêreld kan ons beter verhoudings met ons medemens geniet, wat tot groot vreugde, vrede en tevredenheid vir ons en ander lei. Deur ons hiervoor in te span, kan ons toon dat ons die wonderlike hoop om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe waardig is. As ons die uitnemende weg van liefde leer, sal ons moontlik die goedkeuring en seën van ons liefdevolle Skepper verkry, nou sowel as in alle ewigheid!
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 132-5, vir besonderhede.
[Prente op bladsy 10]
Christelike liefde kan betoon word deur dade van goedhartigheid
[Foto-erkenning op bladsy 8]
UN PHOTO 186226/M. Grafman