Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 10/15 bl. 23-27
  • Kan jy in ’n ander land dien?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy in ’n ander land dien?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die regte beweegredes nodig
  • Bereken die koste
  • Die grootste uitdaging
  • Wat van verlange huis toe?
  • Wat van die kinders?
  • Seëninge as ’n mens verhuis
  • Wat van jou?
  • Kan jy ‘oorkom na Masedonië’?
    Ons Koninkryksbediening—2011
  • Hulle het hulle gewillig aangebied—in Ecuador
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Kan jy oorkom na Masedonië?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Maniere om jou bediening uit te brei
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 10/15 bl. 23-27

Kan jy in ’n ander land dien?

“DIT was altyd een van my drome om sendingwerk te doen. Toe ek nog ongetroud was, het ek in Texas, VSA, gedien waar meer verkondigers nodig was. Nadat ek getroud is, het my vrou by my aangesluit. Toe ons dogter gebore is, het ek gedink: ‘Wel, dis die einde van daardie drome.’ Maar Jehovah laat drome bewaarheid word, veral as dit in ooreenstemming met sy wil is.”—Jesse, wat tans saam met sy vrou en drie kinders in Ecuador dien.

“Ek het nooit gedink dat ek so iets kon doen sonder om aan die Gileadsendingskool opgelei te word nie. Wanneer ek gesien het hoe een van my Bybelstudente ’n toespraak hou of die predikingswerk doen, het dit my hart baie bly gemaak en het ek Jehovah gedank dat hy my hierdie geleentheid gegee het.”—Karen, ’n ongetroude vrou wat agt jaar in Suid-Amerika as pionier gedien het.

“Nadat ons 13 jaar aan die voltydse bediening in die Verenigde State deelgeneem het, het ek en my vrou gevoel dat ons ’n nuwe uitdaging nodig het. Ons is nou gelukkiger as ooit tevore; dit is waarlik ’n wonderlike lewenswyse.”—Tom, wat saam met sy vrou, Linda, in die Amasonestreek pionierdiens doen.

Hierdie woorde van waardering kom van mense wie se omstandighede hulle nie toegelaat het om sendingopleiding aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead te ontvang nie. Hulle geniet nietemin die vreugdes en uitdagings van diens in die buiteland. Hoe het dit gebeur? Kan jy aan hierdie diens deelneem?

Die regte beweegredes nodig

Om sukses te behaal in ’n vreemde land, vereis meer as avontuurlustigheid. Diegene wat daarin volhard het, het dit met die regte beweegredes gedoen. Soos die apostel Paulus beskou hulle hulleself as skuldenaars, nie net teenoor God nie maar ook teenoor mense (Romeine 1:14). Hulle kon die Goddelike opdrag om te preek, nagekom het deur in hulle tuisgebied aan die bediening deel te neem (Matteus 24:14). Maar hulle het gevoel dat hulle dit verskuldig is aan diegene wat selde die geleentheid kry om die goeie nuus te hoor, en dit het hulle gedring om hulp aan te bied.

Die begeerte om in ’n vrugbaarder gebied te werk, is dikwels nog ’n beweegrede—en heel tereg ook. Wie van ons sal nie, wanneer ons sien dat ’n ander hengelaar meer visse vang, nader aan daardie deel van die dam beweeg nie? Net so ook het die hartverblydende verslae van buitengewone vermeerderings in ander lande baie aangespoor om te gaan na waar daar “’n groot menigte visse” is.—Lukas 5:4-10.

Bereken die koste

In baie lande word buitelanders wat vrywillig sendingwerk doen, nie toegelaat om sekulêre werk te doen nie. Diegene wat dus graag in ’n ander land wil dien, moet gewoonlik finansieel onafhanklik wees. Hoe is hierdie ekonomiese uitdaging al die hoof gebied? Baie het hulle huise verkoop of verhuur om die nodige fondse te verkry. Ander het hulle sakeondernemings verkoop. Party het gespaar om daardie doelwit te bereik. Nog ander dien ’n jaar of twee in ’n ander land, gaan terug na hulle vaderland om te werk en geld te spaar, en keer dan weer terug om verder te dien.

’n Besliste voordeel van diens in ’n ontwikkelende land is dat die lewenskoste gewoonlik aansienlik laer as in ’n meer ontwikkelde land is. Dit het party in staat gestel om met ’n beskeie pensioen ’n redelik goeie bestaan te maak. ’n Mens se lewenskoste sal natuurlik grootliks afhang van die lewenstandaard wat jy kies. Selfs in ontwikkelende lande is daar uiters gerieflike verblyfplekke, maar dit kos veel meer.

’n Mens moet natuurlik eers die koste bereken voordat jy verhuis. Maar dit behels meer as om net die ekonomiese koste te bereken. Die kommentare van party wat in Suid-Amerika gedien het, sal dalk insiggewend wees.

Die grootste uitdaging

“Om Spaans te leer praat, was vir my ’n groot stryd”, sê Markku, van Finland. “Omdat ek nie die taal geken het nie, het ek aangeneem dat dit nog lank sou wees voordat ek as ’n bedieningskneg kon dien. Hoe verbaas was ek tog toe ek ná net twee maande gevra is om ’n boekstudie te hou! Daar was natuurlik baie kere dat ek in die verleentheid was. Ek het veral met name gesukkel. Eendag het ek broer Sancho ‘broer Chancho (vark)’ genoem, en ek sal nooit vergeet hoe ek suster Salamea ‘Malasea (goddeloos)’ genoem het nie. Gelukkig was die broers en susters baie geduldig.” Markku het op die ou end agt jaar lank in daardie land as ’n kringopsiener saam met sy vrou, Celine, gedien.

Chris, die vrou van Jesse wat vroeër aangehaal is, vertel: “Ek onthou ons eerste kringbesoek, nadat ons maar drie maande daar was. Dit was duidelik dat die broer illustrasies gebruik het en iets moois gesê het om ons harte te raak, maar ek kon nie verstaan wat hy sê nie. Ek het net daar in die saal in trane uitgebars. Die trane het nie net saggies oor my wange gerol nie, ek het gesnik. Ná die vergadering het ek vir die kringopsiener probeer verduidelik waarom ek gehuil het. Hy was baie vriendelik en het vir my gesê wat almal nog heeltyd vir my gesê het: ‘Ten paciencia, hermana’ (‘Wees geduldig, suster’). Twee of drie jaar later het ons mekaar weer ontmoet en 45 minute lank gesels, baie bly dat ons kon kommunikeer.”

“Dit is belangrik om hard te leer”, sê ’n ander broer. “Hoe meer ons ons inspan om die taal aan te leer, hoe beter word ons kommunikasievermoëns.”

Almal stem saam dat sulke inspanning baie voordele meebring. ’n Mens kweek nederigheid, geduld en volharding aan wanneer jy ’n nuwe taal probeer aanleer. ’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei om die goeie nuus aan ander te verkondig, word oopgemaak. As ’n mens byvoorbeeld Spaans leer praat, kan jy in ’n taal kommunikeer wat deur meer as 400 miljoen mense regoor die wêreld gepraat word. Baie wat later na hulle vaderland moes terugkeer, kon hulle taalkennis nog steeds gebruik om mense te help wie se moedertaal Spaans is.

Wat van verlange huis toe?

“Toe ons in 1989 in Ecuador aangekom het”, sê Deborah, wat saam met haar man, Gary, in die Amasonestreek gedien het, “het ek eers baie huis toe verlang. Ek het geleer om meer op die broers en susters in die gemeente te steun. Hulle het soos my familie geword.”

Karen, wat aan die begin genoem is, sê: “Ek het teen verlange huis toe gestry deur elke dag aan die bediening deel te neem. Op dié manier het ek nie oor die huis gedagdroom nie. Ek het ook in gedagte gehou dat my ouers trots is op my werk in ’n vreemde land. My ma het my altyd aangemoedig met die woorde: ‘Jehovah kan beter vir jou sorg as wat ek kan.’”

Makiko, van Japan, sê grappenderwys: “Ná ek ’n hele dag in die velddiens deurgebring het, is ek baie moeg. Wanneer ek dus by die huis kom en begin verlang, raak ek gewoonlik aan die slaap. Gevolglik hou die verlange nie baie lank nie.”

Wat van die kinders?

As ’n mens kinders het, moet jy dink aan hulle behoeftes, soos skoolopleiding. In hierdie verband het party gekies om tuisonderrigting te gee terwyl ander hulle kinders in die plaaslike skole gesit het.

Al het met sy vrou, twee kinders en sy ma na Suid-Amerika verhuis. Hy sê: “Ons het die kinders in die skool gesit en gevind dat dit hulle gehelp het om die taal baie gou aan te leer. Binne drie maande het hulle dit redelik vlot gepraat.” Aan die ander kant kry Mike en Carrie se twee tienderjarige seuns hulle skoolopleiding deur middel van ’n erkende korrespondensiekollege. Die ouers sê: “Ons het gevind dat ons kinders nie hierdie skoolwerk op hulle eie kon doen nie. Ons moes betrokke wees by die kursus en seker maak dat die kinders by die toegewese leerplan bybly.”

David en Janita, van Australië, het die volgende van hulle twee seuns gesê: “Ons wou hê dat ons seuns self moes sien hoe ander mense lewe. Dit is maklik om aan te neem dat die lewenstyl waarmee ons grootgeword het die norm is, maar eintlik is ons in die minderheid. Hulle het ook gesien hoe teokratiese beginsels regoor die wêreld werk, ongeag watter land of kultuur dit is.”

“Ek was maar vier jaar oud toe ons gesin in 1969 uit Engeland verhuis het”, sê Ken. “Hoewel ek teleurgesteld was dat ons nie in ’n kleihuisie met ’n grasdak gewoon het, soos ek my voorgestel het nie, dink ek dat ek die opwindendste kinderjare gehad het wat ’n mens kan hê. Ek het altyd jammer gevoel vir ander kinders wat nie dieselfde geleentheid gehad het nie! Weens goeie omgang met sendelinge en spesiale pioniers het ek hulppionierdiens begin doen toe ek nege jaar oud was.” Ken is nou ’n reisende opsiener.

“Ecuador is beslis nou ons tuiste”, sê Gabriella, Jesse se dogter. “Ek is so bly dat my ouers besluit het om hierheen te kom.”

Daar is egter kinders wat om verskeie redes nie kon aanpas nie, en hulle gesinne moes na hulle vaderland terugkeer. Daarom is dit raadsaam om die vreemde land te besoek voordat ’n mens daarheen verhuis. Sodoende kan ’n mens ’n besluit op grond van eerstehandse kennis maak.

Seëninge as ’n mens verhuis

Daar is inderdaad baie uitdagings en opofferings wat ’n mens moet maak as jy na ’n vreemde land verhuis. Voel diegene wat dit gedoen het dat dit die moeite werd was? Laat hulle ons vertel.

Jesse: “In die tien jaar dat ons in die stad Ambato is, het ons gesien hoe die getal gemeentes van 2 tot 11 vermeerder. Ons het die voorreg gehad om vyf van daardie gemeentes te help vorm, en ons het twee Koninkryksale help bou. Ons het ook die vreugde gehad om gemiddeld twee Bybelstudente per jaar te help om te kwalifiseer om gedoop te word. Ek is net oor een ding spyt—dat ons nie tien jaar vroeër hierheen gekom het nie.”

Linda: “Die mense se waardering vir die goeie nuus en vir ons werk moedig ons grootliks aan. Byvoorbeeld, in ’n klein dorpie in die oerwoud het ’n Bybelstudent met die naam Alfonso besef hoe voordelig dit sou wees as openbare toesprake in sy gebied gehou word. Hy het kort tevore in sy nuutgeboude houthuis ingetrek, een van net ’n paar in die dorpie. Hy het besluit dat sy huis die enigste gebou in die dorp was wat waardig is om in Jehovah se aanbidding gebruik te word en het dus teruggetrek na sy grashuisie en sy huis aan die broers gegee om dit as ’n Koninkryksaal te gebruik.”

Jim: “Die tyd wat ons werklik met mense in die bediening gesels, is tien maal meer as in die Verenigde State. Daarbenewens is die lewe hier baie rustiger. Daar is beslis meer tyd vir studie en velddiens.”

Sandra: “Dit gee my groot genot om te sien hoe Bybelwaarheid mense se lewe ten goede kan verander. Ek het die Bybel met Amada, die 69-jarige eienares van ’n klein kruidenierswinkel, gestudeer. Sy het gereeld twee dele water by elke tien dele melk gevoeg. Sy het haar klante verder gekul deur minder as die volle maat van hierdie verdunde melk aan hulle te verkoop. Maar nadat sy die materiaal onder die onderhofie ‘Eerlikheid lei tot geluk’ in hoofstuk 13 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei bestudeer het, het Amada hierdie verkeerde gebruike laat vaar. Wat ’n vreugde was dit tog om ’n ruk later te sien hoe sy gedoop word!”

Karen: “Ek moet hier baie meer op Jehovah vertrou en word hier baie meer deur hom gebruik as voordat ek hierheen gekom het. My vriendskap met Jehovah het hegter en sterker geword.”

Wat van jou?

Deur die jare heen het duisende Getuies na die buiteland verhuis. Party bly ’n jaar of twee, ander vir ’n onbepaalde tyd. Hulle bring hulle ondervinding, geestelike rypheid en geldelike middele saam met hulle, met die doelwit om die Koninkryksbelange in ’n ander land te bevorder. Hulle kon in gebiede dien waar die plaaslike Koninkryksverkondigers nie kon dien nie omdat sekulêre werk skaars is. Baie het vierwielaangedrewe voertuie gekoop om gebiede te dek wat andersins onbereikbaar is. Ander, wat die stadslewe verkies, het ’n stabiele invloed in groot gemeentes geword waar daar min ouer manne beskikbaar is. Maar hulle sê almal sonder uitsondering dat hulle veel meer ontvang het in die vorm van geestelike seëninge as wat hulle gegee het.

Kan jy ook die voorreg geniet om in ’n ander land te dien? Waarom ondersoek jy nie die moontlikheid om dit te doen as jou omstandighede jou toelaat nie? Die eerste, en ’n noodsaaklike, stap is om te skryf na die Genootskap se takkantoor in die land waar jy oorweeg om te dien. Die spesifieke inligting wat jy ontvang, sal jou help om te bepaal wat jou kanse is om suksesvol te wees. Daarbenewens kan ’n hele paar praktiese wenke gevind word in die artikel “Trek uit jou land en uit jou familie” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1988. Met behoorlike beplanning en Jehovah se seën kan jy dalk ook die vreugde daarvan ondervind om in ’n ander land te dien.

[Prent op bladsy 24]

TOM EN LINDA OP ’N AFGELEË VOETPAADJIE, OP PAD NA ’N SHUAR-INDIANEGEMEENSKAP

[Prent op bladsy 25]

BAIE DIEN IN QUITO, DIE HOOFSTAD VAN ECUADOR

[Prent op bladsy 25]

MAKIKO DOEN DIE PREDIKINGSWERK IN DIE ANDESGEBERGTE

[Prent op bladsy 26]

DIE HILBIG-GESIN DIEN DIE AFGELOPE VYF JAAR IN ECUADOR

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel