Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 11/15 bl. 13-18
  • Dink aan jou Grootse Skepper!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dink aan jou Grootse Skepper!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uitstekende voorbeelde uit die verlede
  • Dink nóú aan Jehovah!
  • Die gevolge van veroudering
  • Watter toekoms wag op diegene wat aan God dink?
  • Dink aan jou Skepper in jou jeug
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Benut jou leweten volle
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Bybelboek nommer 21—Prediker
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Kom jy jou hele verpligting teenoor god na?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 11/15 bl. 13-18

Dink aan jou Grootse Skepper!

“Dink dan nou aan jou Grootse Skepper . . . voordat die rampspoedige dae kom.”—PREDIKER 12:1, NW.

1. Hoe wil jongmense graag hulle jeug en krag gebruik as hulle aan God toegewy is?

JEHOVAH gee aan sy knegte krag om sy wil te doen (Jesaja 40:28-31). Dit is die geval ongeag hoe oud hulle is. Maar veral jongmense wat aan God toegewy is, behoort die begeerte te hê om hulle jeug en krag verstandig te gebruik. Daarom neem hulle die raad van “die Prediker”, koning Salomo van eertydse Israel, ter harte. Hy het ons aangespoor: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid, voordat die rampspoedige dae kom, of die jare aangebreek het wanneer jy sal sê: ‘Ek het daar geen behae in nie.’”—Prediker 1:1; 12:1, NW.

2. Wat moet kinders van toegewyde Christene doen?

2 Salomo se vermaning om gedurende die jeug aan die Grootse Skepper te dink, is eers gegee aan jong manne en vroue van Israel. Hulle is gebore as lede van ’n nasie wat aan Jehovah toegewy was. Wat van die kinders van toegewyde Christene wat vandag leef? Hulle moet beslis aan hulle Grootse Skepper dink. As hulle dit doen, sal hulle hom eer en hulleself bevoordeel.—Jesaja 48:17, 18, NW.

Uitstekende voorbeelde uit die verlede

3. Watter voorbeeld het Josef, Samuel en Dawid gestel?

3 Talle jongmense in die Bybel het uitstekende voorbeelde gestel as persone wat aan hulle Grootse Skepper gedink het. Jakob se seun Josef het van jongs af aan sy Skepper gedink. Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei het om geslagsonsedelikheid met haar te pleeg, het hy ferm geweier en gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:9). Die Leviet Samuel het nie net gedurende sy kinderjare aan sy Skepper gedink nie, maar dwarsdeur sy lewe (1 Samuel 1:22-28; 2:18; 3:1-5). Die jong man Dawid van Betlehem het ongetwyfeld aan sy Skepper gedink. Sy vertroue op God is duidelik gesien toe hy voor die Filistynse reus Goliat gestaan en gesê het: “Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, . . . sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.” Kort daarna was Goliat dood, en die Filistyne het gevlug.—1 Samuel 17:45-51.

4. (a) Wat toon dat ’n gevange Israelitiese dogtertjie in Sirië en jong koning Josia aan ons Grootse Skepper gedink het? (b) Hoe het die 12-jarige Jesus getoon dat hy aan sy Skepper gedink het?

4 Nog ’n jong persoon wat aan die Grootse Skepper gedink het, was ’n gevange Israelitiese dogtertjie. Sy het so ’n goeie getuienis aan die vrou van die Siriese leërowerste Naäman gegee dat hy na God se profeet gegaan het, van sy melaatsheid genees is en ’n aanbidder van Jehovah geword het (2 Konings 5:1-19). Die jong koning Josia het moedig die rein aanbidding van Jehovah bevorder (2 Konings 22:1–23:25). Maar die beste voorbeeld van iemand wat aan sy Grootse Skepper gedink het terwyl hy nog baie jonk was, is Jesus van Nasaret. Let op wat gebeur het toe hy 12 jaar oud was. Sy ouers het hom na Jerusalem geneem vir die Pasga. Op pad terug het hulle opgemerk dat Jesus nie saam met hulle was nie, en hulle het dus teruggegaan om hom te soek. Op die derde dag het hulle hom in die tempel gevind waar hy skriftuurlike vrae met die leraars bespreek het. In antwoord op sy moeder se bekommerde vraag, het Jesus gevra: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). Dit was tot Jesus se voordeel om geestelike inligting by die tempel, ‘die huis van sy Vader’, te ontvang. Vandag is die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies ’n uitstekende plek om juiste kennis van ons Grootse Skepper in te neem.

Dink nóú aan Jehovah!

5. Hoe sou jy in jou eie woorde sê wat die Prediker volgens Prediker 12:1 gesê het?

5 ’n Heelhartige aanbidder van Jehovah wil Hom graag so gou moontlik begin dien en dit die res van sy lewe doen. Maar watter vooruitsigte het iemand wat sy jeug op nuttelose wyse deurbring omdat hy nie aan die Skepper dink nie? Die Prediker sê onder Goddelike inspirasie: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid, voordat die rampspoedige dae kom, of die jare aangebreek het wanneer jy sal sê: ‘Ek het daar geen behae in nie.’”—Prediker 12:1, NW.

6. Watter bewyse is daar dat die bejaarde Simeon en Anna aan hulle Grootse Skepper gedink het?

6 Niemand skep behae in “die rampspoedige dae” van bejaardheid nie. Maar bejaardes wat aan God dink, is vreugdevol. Die bejaarde Simeon het byvoorbeeld die kindjie Jesus by die tempel in sy arms geneem en met vreugde uitgeroep: “Nou laat u, Soewereine Heer, u slaaf in vrede gaan volgens u verklaring; want my oë het u middel tot redding gesien wat u voor die oë van al die volke gereedgemaak het, ’n lig om die sluier te verwyder van die nasies en ’n heerlikheid van u volk Israel” (Lukas 2:25-32). Die 84-jarige Anna het ook aan haar Skepper gedink. Sy was altyd by die tempel en was teenwoordig toe die kindjie Jesus daarheen geneem is. “In daardie selfde uur het sy nader gekom en begin om dank aan God te betuig en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het oor die kind te praat.”—Lukas 2:36-38.

7. Wat is die situasie van diegene wat oud geword het in God se diens?

7 Hedendaagse Getuies van Jehovah wat oud geword het in God se diens, ondervind dalk die pyne en beperkings van bejaardheid. Maar hoe gelukkig is hulle tog, en hoe waardeer ons tog nie hulle getroue diens nie! Hulle het “die vreugde van Jehovah”, want hulle weet dat hy sy onoorwinlike mag oor hierdie aarde begin uitoefen het en Jesus Christus as ’n magtige hemelse Koning aangestel het (Nehemia 8:10, NW). Dit is nou die tyd vir oud en jonk om op die vermaning ag te slaan: “Jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!”—Psalm 148:12, 13.

8, 9. (a) Vir wie is die “rampspoedige dae” nie lonend nie, en waarom is dit die geval? (b) Hoe sal jy Prediker 12:2 verduidelik?

8 “Die rampspoedige dae” van die bejaarde lewe is nie lonend nie—dalk eerder uiters angswekkend—vir diegene wat nie aan hulle Grootse Skepper gedink het nie en wat geen begrip van sy wonderlike voornemens het nie. Hulle het geen geestelike insig wat ’n teëwig kan vorm teen die beproewinge van die bejaarde lewe en die weë wat die mensdom teister sedert Satan uit die hemel gewerp is nie (Openbaring 12:7-12). Die Prediker spoor ons dus aan om aan ons Skepper te dink “voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën” (Prediker 12:2). Wat beteken hierdie woorde?

9 Salomo vergelyk die jeug met die Palestynse somer wanneer die son, maan en sterre hulle lig uitstraal uit ’n wolklose hemelruim. Dan lyk dinge baie helder. Maar wanneer ’n mens oud is, is jou dae soos die koue, reënerige winterseisoen, met een stortbui probleme ná die ander (Job 14:1). Hoe hartseer sal dit tog wees om te weet dat daar ’n Skepper is, maar om hom nie in die somer van ’n mens se lewe te dien nie! In die winter van die lewe wanneer ’n mens oud is, word dinge donker, veral vir diegene wat geleenthede laat verbygaan het om Jehovah in hulle jeug te dien omdat hulle betrokke was by nuttelose strewes. Maar ongeag hoe oud ons is, laat ons ‘Jehovah volkome volg’, soos getroue Kaleb, ’n lojale metgesel van die profeet Moses.—Josua 14:6-9, NW.

Die gevolge van veroudering

10. Wat word voorgestel deur (a) “die wagters van die huis”? (b) “die sterk manne”?

10 Salomo praat vervolgens van probleme op “dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word” (Prediker 12:3). Die “huis” verwys na die mens se liggaam (Matteus 12:43-45; 2 Korintiërs 5:1-8). Die “wagters” is die arms en hande wat die liggaam beskerm en in die behoeftes daarvan voorsien. Wanneer ’n mens oud is, bewe hulle dikwels weens swakheid, senuweeagtigheid en verlamming. “Die sterk manne”—die bene—is nie meer stewige pilare nie, maar het verswak en krom getrek sodat die voete bloot skuifel. Maar is jy nie bly om bejaarde medegelowiges by Christelike vergaderinge te sien nie?

11. Wie is “die malers” en “die wat deur die vensters kyk”, figuurlik gesproke?

11 ‘Die malers het die werk gestaak omdat hulle te min geword het’—maar hoe? Die tande het dalk sleg geword of uitgeval, sodat min indien enige oor is. Dit is moeilik of onmoontlik om vaste voedsel fyn te kou. “Die wat deur die vensters kyk”—die oë tesame met die verstandelike vermoëns wat sig moontlik maak—het dof of heeltemal verduister geword.

12. (a) Hoe is “die deure na die straat gesluit”? (b) Hoe voel jy oor bejaarde Koninkryksverkondigers?

12 “En”, sê die Prediker voorts, “die deure na die straat [sal] gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy [sal] opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof . . . word” (Prediker 12:4). Die twee deure van die mond—die lippe—maak nie dikwels, of dalk glad nie, meer oop om te sê wat in die “huis” of liggaam aangaan van bejaardes wat God nie dien nie. Niks word meer uitgestuur na “die straat” van die openbare lewe nie. Maar wat van ywerige bejaarde Koninkryksverkondigers? (Job 41:5). Hulle loop dalk stadig van huis tot huis en party praat dalk moeilik, maar daar bestaan geen twyfel dat hulle Jah loof nie!—Psalm 113:1, NW.

13. Hoe beskryf die Prediker ander probleme van bejaardes, maar wat is waar van bejaarde Christene?

13 Die geruis van die meul verswak omdat kos sonder tande geëet word. ’n Ou man geniet nie ’n diep slaap op sy bed nie. Selfs die getjirp van ’n voëltjie maak hom wakker. Hy sing nie meer baie nie, en enige liedjie wat hy neurie, is skaars hoorbaar. “Al die tone van die lied”—die melodieuse klanke—‘sal dof word’. Die bejaarde hoor die musiek en sang wat ander voortbring nie meer so mooi nie. Maar bejaarde gesalfdes en hulle metgeselle, waarvan party ook nie meer so jonk is nie, hou aan om by Christelike vergaderinge lofliedere tot God te sing. Hoe bly is ons tog om hulle aan ons sy te hê terwyl ons Jehovah in die gemeente verheerlik!—Psalm 149:1.

14. Watter vrese teister bejaardes?

14 Hoe droewig is die situasie van bejaardes tog, veral dié wat die Skepper geïgnoreer het! Die Prediker sê: “Ook sal hy bang wees vir ’n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan” (Prediker 12:5). Baie bejaardes is bang om te val as hulle boaan ’n hoë trap staan. Selfs om op te kyk na iets wat hoog is, kan hulle duiselig laat voel. Wanneer hulle uit moet gaan op besige strate, word hulle vreesbevange as hulle daaraan dink dat hulle seergemaak of deur diewe aangeval kan word.

15. Hoe ‘staan die amandelboom in bloei’, en hoe ‘sleep die sprinkaan homself met moeite voort’?

15 In die geval van ’n bejaarde man verwys ‘die amandelboom wat in bloei staan’ blykbaar na sy hare wat grys en dan sneeuwit word. Die grys hare val uit soos die wit bloeisels van die amandelboom afval. Terwyl hy “homself met moeite voortsleep”, moontlik krom stap met sy arms langs sy sye of met sy hande op sy heupe en sy elmboë wat na bo gebuig is, lyk hy soos ’n sprinkaan. As enigeen van ons dalk so lyk, moet ander egter daarop let dat ons deel is van Jehovah se energieke, blitsvinnige sprinkaanleërmag!—Sien Die Wagtoring van 1 Mei 1998, bladsye 8-13.

16. (a) In watter sin ‘is die kapperkruid nutteloos’? (b) Wat is die mens se “ewige huis”, en watter tekens van naderende dood word duidelik?

16 Die bejaarde persoon het nie meer ’n goeie eetlus nie, selfs al is die kos wat voor hom staan so smaaklik soos die kapperkruid. Hierdie bessies word lank reeds gebruik om eetlus op te wek. ‘Die kapperkruid is nutteloos’ in die sin dat ’n bejaarde man, wanneer hy sy eetlus begin verloor, se lus vir kos nie eers deur hierdie vrug opgewek word nie. Hierdie dinge toon dat hy nader aan “sy ewige huis”, die graf, kom. Dit sal vir ewig sy huis wees as hy nie aan sy Skepper gedink het nie en só ’n goddelose weg gevolg het dat God hom nie in die opstanding onthou nie. Die droewige gekreun en gekerm wat uit die deure van die bejaarde se mond voortkom, is duidelike tekens van naderende dood.

17. Hoe word “die silwerdraad” verwyder, en wat word moontlik deur “die goue bak” voorgestel?

17 Ons word aangespoor om aan ons Skepper te dink “voordat die silwerdraad verwyder en die goue bak verbrysel word en die kruik by die fontein gebreek word en die waterwiel vir die reënbak verbrysel is” (Prediker 12:6, NW). Die “silwerdraad” kan na die rugmurg verwys. Die dood is onvermydelik wanneer hierdie wonderlike kanaal van prikkels na die brein onherstelbaar beskadig is. Die “goue bak” kan na die brein verwys, wat in die bakvormige skedel geleë is en waaraan die rugmurg gekoppel is. Goud dui kosbaarheid aan, en wanneer die brein ophou werk, beteken dit die dood.

18. Wat is die figuurlike “kruik by die fontein”, en wat gebeur wanneer dit gebreek word?

18 “Die kruik by die fontein” is die hart, wat die stroom bloed ontvang en dit weer uitstuur om deur die liggaam te sirkuleer. By die dood word die hart soos ’n gebreekte kruik wat by die fontein stukkend gebreek is omdat dit nie meer bloed wat noodsaaklik vir die liggaam se voeding en verkwikking is, kan ontvang, hou en uitpomp nie. Die ‘verbryselde waterwiel vir die reënbak’ hou op draai, wat die sirkulasie van lewensonderhoudende bloed beëindig. Jehovah het sodoende al vir Salomo van die bloedsomloop vertel lank voordat die 17de-eeuse geneesheer William Harvey bewys het dat bloed sirkuleer.

19. Hoe is die woorde van Prediker 12:7 by die dood van toepassing?

19 Die Prediker het bygevoeg dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker 12:7). Met die “waterwiel” wat verbrysel is, keer die menseliggaam wat oorspronklik uit die stof van die aarde gemaak is terug tot stof (Genesis 2:7; 3:19). Die siel sterf omdat die gees, of lewenskrag, wat God daaraan gegee het na ons Skepper terugkeer en by hom bly.—Esegiël 18:4, 20; Jakobus 2:26.

Watter toekoms wag op diegene wat aan God dink?

20. Wat het Moses gevra toe hy die gebed in Psalm 90:12 gedoen het?

20 Salomo het op ’n uiters doeltreffende manier getoon hoe belangrik dit is om aan ons Grootse Skepper te dink. ’n Betreklike kort en moeilike lewe is beslis nie al wat daar is vir diegene wat aan Jehovah dink en sy wil heelhartig doen nie. Hetsy hulle oud of jonk is, hulle het dieselfde gesindheid as Moses wat gebid het: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” God se nederige profeet het opreg begeer dat Jehovah hom en die volk Israel leer om wysheid te openbaar deur ‘die dae van hulle jare’ as kosbaar te beskou en dit te gebruik op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra.—Psalm 90:10, 12.

21. Wat moet ons doen om ons dae tot eer van Jehovah te tel?

21 Christenjongmense moet veral vasbeslote wees om ag te slaan op die Prediker se raad om aan die Skepper te dink. Watter uitstekende geleenthede het hulle tog om heilige diens aan God te verrig! Maar as ons, ongeag hoe oud ons is, leer om ons dae in hierdie “tyd van die einde” tot eer van Jehovah te tel, sal ons moontlik die geleentheid hê om dit tot in alle ewigheid aan te hou tel (Daniël 12:4; Johannes 17:3). Om dit te doen, moet ons natuurlik aan ons Grootse Skepper dink. Ons moet ook ons hele verpligting teenoor God nakom.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom word jongmense aangespoor om aan hulle Skepper te dink?

◻ Wat is ’n paar skriftuurlike voorbeelde van persone wat aan hulle Grootse Skepper gedink het?

◻ Wat is van die gevolge van veroudering wat Salomo beskryf het?

◻ Watter toekoms wag daar op diegene wat aan Jehovah dink?

[Prente op bladsy 15]

Dawid, die gevange Israelitiese dogtertjie, Anna en Simeon het aan Jehovah gedink

[Prente op bladsy 16]

Bejaarde Getuies van Jehovah verrig met vreugde heilige diens aan ons Grootse Skepper

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel