Moenie toelaat dat jou sterk punte vir jou ’n swakheid word nie
Met 16 waterdigte kompartemente in die romp van die luukse passasierskip Titanic is dit as onsinkbaar beskou. Op die skip se eerste vaart in 1912 het dit net ongeveer die helfte van die aantal reddingsbote gehad wat nodig was. Die skip het teen ’n ysberg gebots en gesink, en meer as 1 500 mense het hulle lewe verloor.
GODVRESENDE koning Ussia van eertydse Jerusalem was ’n briljante militêre bevelvoerder. Met Jehovah se hulp het hy sy vyande die een na die ander oorwin. “Gevolglik het [Ussia se] roem baie ver versprei, want hy is op ’n wonderbare wyse gehelp totdat hy sterk was.” Maar toe “het sy hart so hoogmoedig geword . . . , sodat hy ontrou teenoor Jehovah sy God gehandel het”. Weens Ussia se hoogmoed is hy met melaatsheid getref.—2 Kronieke 26:15-21, NW; Spreuke 16:18.
Hierdie twee verslae leer ons dat sterk punte, wanneer dit nie met wysheid, beskeidenheid en nederigheid in ewewig gehou word nie, maklik swakhede of laste kan word. Dit stem ’n mens tot nadenke aangesien elkeen van ons sekere sterk punte, of gawes, het, en ons wil hê dat dit ’n bate en ’n bron van vreugde moet wees vir ons en vir ander, veral vir ons Skepper. Trouens, ons moet enige gawe van God wat ons dalk het ten volle gebruik, maar dit terselfdertyd onder beheer hou sodat dit ’n waardevolle bate bly.
Iemand wat byvoorbeeld sy werk baie geniet, kan hierdie gawe maklik ’n swakheid laat word deur ’n werkslaaf te word. ’n Versigtige persoon word dalk nie maklik om die bos gelei, of bedrieg, nie maar hy is dalk so versigtig dat hy nooit besluite neem nie. Vaardigheid is ook iets goeds, maar as dit te ver gevoer word, sodat dit die menslike element ignoreer, kan die gevolg ’n koue, gespanne atmosfeer wees wat tot ongelukkigheid lei. Dink dus ’n oomblik na oor jou eie sterk punte. Het jy dit goed onder beheer? Is dit vir ander ’n seën? Gebruik jy dit bowenal om Jehovah, die Bron van “elke goeie gawe”, te vereer? (Jakobus 1:17). Kom ons ondersoek nou ’n paar ander voorbeelde van sterk punte wat swakhede, selfs laste, kan word as niks daaraan gedoen word nie.
Gebruik jou verstandelike vermoëns wyslik
’n Goeie verstand is beslis ’n uitstekende bate. Maar dit kan ’n swakheid word as dit tot te veel selfvertroue lei of as dit veroorsaak dat ons ’n hoë dunk van onsself ontwikkel, veral as ander ons uitermate prys of ons vlei. Of ons ontwikkel dalk ’n intellektuele beskouing van God se Woord en Bybelpublikasies.
Te veel selfvertroue kan op verskillende maniere geopenbaar word. Wanneer iemand wat vlug van verstand is byvoorbeeld ’n toespraak in die Christengemeente kry, moontlik ’n openbare toespraak of ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool, berei hy dalk op die nippertjie voor en vra hy miskien nie eers Jehovah se seën nie. Hy vertrou eerder op die kennis wat hy reeds het en op sy vermoë om vinnig te kan dink. Sy natuurlike vermoëns sal dalk ’n ruk lank sy onverskillige houding verberg, maar sonder Jehovah se volle seën sal sy geestelike vooruitgang afneem, dalk selfs ophou. Wat ’n vermorsing van ’n uitstekende gawe!—Spreuke 3:5, 6; Jakobus 3:1.
Iemand met ’n skerp verstand kry dalk ook ’n intellektuele beskouing van die Bybel en Bybelstudiehulpe. Maar sulke kennis ‘blaas net op’ of laat die ego soos ’n ballon opblaas; liefdevolle Christelike verhoudinge word nie daardeur “opgebou” nie (1 Korintiërs 8:1; Galasiërs 5:26). Aan die ander kant bid die geestelike man altyd vir God se gees, en hy vertrou altyd daarop, ongeag wat sy verstandelike vermoëns mag wees. Sy sterk punt word al hoe meer ’n bate namate sy liefde, nederigheid, kennis en wysheid toeneem—en alles in goeie verhouding.—Kolossense 1:9, 10.
Ons vermoëns kan ook ’n swakheid word as dit veroorsaak dat ons ’n hoë dunk van onsself ontwikkel en ’n gebrek aan beskeidenheid toon. ’n Begaafde persoon—en enigiemand wat hom vereer—vergeet dalk dat Jehovah “geen ag [slaan] op dié wat wys is in hulle eie hart nie”, al is hulle ook begaaf (Job 37:24, NW). “By die beskeidenes is wysheid”, sê God se Woord (Spreuke 11:2). Hoewel die apostel Paulus ’n baie intelligente en hoog geleerde man was, het hy vir die Korintiërs gesê: “Ek [het], toe ek na julle toe gekom het, broers, . . . nie met oordrewe woorde of wysheid [gekom] nie. . . . Ek het in swakheid en in vrees en met veel bewing na julle toe gekom; en wat ek gesê het en wat ek gepreek het, was nie met oorredende woorde van wysheid nie, maar met ’n betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in mense se wysheid sou wees nie, maar in God se krag.”—1 Korintiërs 2:1-5.
Die waarlik wyse persoon word nie bedrieg deur die wêreld se beskouing van intellek of hulle standaard van sukses nie. Hy gebruik dus nie sy talente om die goedkeuring van mense te verkry of om wêreldse rykdom bymekaar te maak nie, maar gee eerder sy beste aan die Een wat hom sy lewe en vermoëns gegee het (1 Johannes 2:15-17). Met dié doel hou hy Koninkryksbelange eerste in sy lewe en word hy soos ’n vrugbare “boom wat geplant is by waterstrome”. Dit is te danke aan Jehovah se seën, nie sy eie aangebore talente nie, dat hy ‘alles wat hy doen voorspoedig uitvoer’.—Psalm 1:1-3; Matteus 6:33.
Word deur die Christelike geloof versterk
Die Christelike geloof is uiteraard so kragtig dat wêreldse filosofieë nie daarmee vergelyk kan word nie. Die Christelike lewenswyse bring byvoorbeeld die beste mans en vrouens voort, die beste bure en die beste werknemers—mense wat eerlik, eerbiedig, vreedsaam en pligsgetrou is (Kolossense 3:18-23). Daarbenewens bou Christelike opleiding in spraak en onderrigting goeie kommunikasievaardighede op (1 Timoteus 4:13-15). Dit is derhalwe nie verbasend dat werkgewers dikwels bykomende verantwoordelikhede en bevorderings aan Christene gee nie. Maar sulke sterk punte kan ook misbruik word as ’n mens nie baie versigtig is nie. ’n Bevordering of ’n aanloklike werksaanbod kan beteken dat ’n mens feitlik aan die maatskappy toegewyd moet wees, gereeld van Christelike vergaderinge moet wegbly of kosbare tyd saam met jou gesin moet opoffer.
’n Christen- ouer man en gesinsman in Australië, wat ook ’n baie suksesvolle sakeman was, het baie goeie vooruitsigte in die wêreld gehad. En tog het hy die versoeking weerstaan om in hierdie stelsel opgang te maak. “Ek wou meer tyd saam met my gesin en in die Christelike bediening deurbring”, het hy gesê. “Ek en my vrou het dus saam besluit dat ek geleidelik minder tyd aan my sekulêre werk sou bestee. Waarom moet ek vyf dae per week werk as dit nie nodig is nie?” het hy bygevoeg. Deur ’n paar weldeurdagte veranderinge in sy lewe aan te bring, het hierdie ouer man gevind dat hy nog steeds na sy gesin kon omsien deur drie of vier dae per week te werk. Mettertyd is hy ander diensvoorregte aangebied, soos om op die plaaslike Byeenkomssaalkomitee te dien en met die administrasie tydens streekbyeenkomste te help. Sy sterk punte, wat wyslik gebruik is, het hom en sy gesin vreugde en bevrediging verskaf.
’n Gebalanseerde gesindheid teenoor jou voorregte
Christenmans word aangemoedig om na diensvoorregte in die gemeente te streef. “As iemand na ’n opsienersamp streef [of ’n bedieningskneg wil wees], begeer hy ’n voortreflike werk” (1 Timoteus 3:1). Soos in die geval van die sterk punte wat reeds genoem is, moet ’n gewilligheid om verantwoordelikhede te aanvaar ook met goeie oordeel getemper word. Niemand moet soveel toewysings aanvaar dat hy sy vreugde in Jehovah se diens verloor nie. Ja, ’n gewillige gees is prysenswaardig, in werklikheid noodsaaklik, want Jehovah keur ’n lakse gesindheid af; maar gewilligheid moet ook beskeidenheid en “gesonde verstand” weerspieël.—Titus 2:12; Openbaring 3:15, 16.
Jesus se saggeaardheid, insig en sensitiwiteit het selfs die eenvoudigste mense in sy teenwoordigheid op hulle gemak laat voel. Mense voel vandag eweneens op hulle gemak wanneer hulle saam met persone is wie se sterk punte hulle empatie en besorgdheid is. In die Christengemeente is sulke hartlike, genaakbare ouer manne waarlik kosbare “gawes in die vorm van mense”. Hulle is “’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag”.—Efesiërs 4:8; Jesaja 32:2.
Maar ouer manne moet die tyd wat hulle daaraan bestee om ander te help in ewewig hou met hulle eie behoefte aan persoonlike studie, bepeinsing, gebed en die openbare bediening. Getroude ouer manne moet natuurlik ook tyd inruim vir hulle gesin, vir wie hulle veral genaakbaar moet wees.
Bekwame vroue—’n wonderlike seën
Soos bekwame ouer manne is geestelikgesinde vroue ook waardevolle lede van Jehovah se organisasie. Vroue is oor die algemeen geseën met ’n belangstelling in ander mense—’n eienskap wat Jehovah waardeer en aanmoedig. Hou julle ‘oog nie net in persoonlike belangstelling op julle eie sake nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander’, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 2:4). Maar hierdie “persoonlike belangstelling” het sy perke, want geen Christen sal “iemand [wil wees] wat hom met ander mense se sake bemoei” nie, en ’n mens moet ook nie ’n skindertong wees nie.—1 Petrus 4:15; 1 Timoteus 5:13.
Vroue het baie ander gawes. Byvoorbeeld, ’n Christenvrou is dalk verstandelik meer begaaf as haar man. As “’n deugsame vrou” wat Jehovah vrees, sal sy nietemin haar man respekteer en haar gawes gebruik om hom te komplementeer, nie om met hom mee te ding nie. En ’n wyse, nederige man sal nie jaloers of afgunstig op sy vrou wees nie, maar sal eerder haar sterk punte waardeer en daaroor verheug wees. Hy sal haar aanmoedig om haar talente ten volle te gebruik om haar huisgesin op te bou en haar kinders te help om ‘die HERE te vrees’, net soos sy self ook doen (Spreuke 31:10, 28-30; Genesis 2:18, NW). Sulke beskeie, nederige mans en vrouens put groot geluk uit huwelike wat Jehovah waarlik vereer.
Hou ’n sterk persoonlikheid onder beheer
’n Sterk persoonlikheid wat daarop ingestel is om regverdigheid te beoefen en Jehovah se wil heelhartig te doen, kan ’n goeie bate wees wanneer dit getemper word met beskeidenheid en nederigheid. Maar dit kan ’n swakheid wees as dit veroorsaak dat ’n mens ander oorheers of intimideer. Dit is veral waar in die Christengemeente. Christene moet ontspanne voel wanneer hulle by mekaar is, en selfs wanneer hulle in die geselskap is van gemeentelike ouer manne.—Matteus 20:25-27.
Ouer manne moet op hulle beurt op hulle gemak voel in mekaar se geselskap. En wanneer hulle vergader, moet die heilige gees, nie die krag van ’n persoonlikheid nie, hulle besluite beïnvloed. Trouens, die heilige gees kan ’n invloed op enige ouer man in die liggaam hê, insluitende die jongste of mees teruggetrokke ouer man. Diegene met sterker persoonlikhede moet dus, selfs wanneer hulle meen dat hulle reg is, hulle sterk punt onder beheer hou deur die kuns van inskiklikheid aan te leer en sodoende ‘eer te betoon’ aan mede- ouer manne (Romeine 12:10). Prediker 7:16 gee ons hierdie vriendelike waarskuwing: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?”
Jehovah, die Bron van “elke goeie gawe”, hou sy ontsagwekkende sterk punte absoluut volmaak onder beheer (Jakobus 1:17; Deuteronomium 32:4). En hy is ons Onderrigter! Laat ons dus by hom leer en hard werk om ons natuurlike gawes, of sterk punte, te ontwikkel sowel as om dit op ’n wyse, beskeie en liefdevolle manier onder beheer te hou. Watter seën sal ons dan tog vir ander wees!
[Prente op bladsy 27]
Geestelike vooruitgang hang van biddende studie en vertroue op Jehovah af
[Prent op bladsy 29]
Persoonlike belangstelling tesame met beskeidenheid is ’n seën
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Met vergunning van: The Mariners’ Museum, Newport News, VA