Wat is die sleutel tot sukses?
TWEE ondernemende jong mans was besig om ’n eienaardige masjien stelselmatig vir ’n uiters belangrike toets voor te berei. Skielik het ’n hewige rukwind die breekbare apparaat opgeraap, dit deur die lug geslinger en met ’n verpletterende slag neergegooi. Die mans het mismoedig en stilswyend toegekyk. Al hulle harde werk wat hulle met soveel sorg gedoen het, het in stukke gelê, net ’n hoop hout en metaal.
Wat op daardie dag in Oktober 1900 gebeur het, was vir Orville en Wilbur Wright nie die eerste frustrerende terugslag in hulle poging om ’n swaarder-as-lug-vliegmasjien te bou nie. Hulle het reeds etlike jare en ’n aansienlike bedrag geld aan proefnemings bestee.
Maar hulle volharding het uiteindelik vrugte afgewerp. Op 17 Desember 1903, by Kitty Hawk, Noord-Carolina, VSA, het die Wright-broers daarin geslaag om ’n enjinaangedrewe prototipe te laat opstyg, wat 12 sekondes gevlieg het—dalk kort in vergelyking met hedendaagse vlugte, maar lank genoeg om die wêreld vir ewig te verander!
Sukses in die meeste strewes hang grootliks van geduldige volharding af. Hetsy ’n mens ’n nuwe taal wil bemeester, ’n ambag wil leer of selfs ’n verhouding wil opbou, dit is slegs deur volgehoue inspanning dat jy sukses behaal met die meeste dinge wat waarde het. “Nege uit tien keer”, sê die skrywer Charles Templeton, “kan sukses direk toegeskryf word aan een ding: harde werk.” Die rubriekskrywer Leonard Pitts jr. sê: “Ons praat van talent, ons erken ’n gelukslag, maar so dikwels ignoreer ons die belangrikste dinge. Die harde werk en al die mislukkings. Die vroeg begin en laat ophou.”
Dit bevestig wat die Bybel lank gelede gesê het: “Die hand van die vlytiges sal heers” (Spreuke 12:24). Vlytigheid beteken dat ons in ons pogings volhard. Dit is nodig as ons wil voltooi wat ons aanpak. Wat is volharding? Hoe kan ons volhard wanneer ons ons doelwitte nastreef, en waarin behoort ons te volhard? Hierdie vrae sal in die volgende artikel beantwoord word.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
U.S. National Archives photo