Cyrillus Lukaris—’n Man wat die Bybel waardeer het
Dit was ’n somerdag in 1638. Vissermanne op die See van Marmara naby Konstantinopel (die hedendaagse Istanboel), die hoofstad van die Ottomaanse Ryk, het geskrik toe hulle ’n lyk in die water sien dryf. By nadere ondersoek het hulle met afgryse besef dat dit die verwurgde liggaam van die ekumeniese patriarg van Konstantinopel, die hoof van die Ortodokse Kerk, was. Dít was die tragiese einde van Cyrillus Lukaris, ’n vername godsdiensfiguur van die 17de eeu.
LUKARIS het nie lank genoeg gelewe om te sien hoe sy droom—die vrystelling van ’n vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in die Griekse omgangstaal—’n werklikheid word nie. Nog ’n droom van Lukaris is ook nie verwesenlik nie—om te sien dat die Ortodokse Kerk weer tot “evangeliese eenvoud” terugkeer. Wie was hierdie man? Voor watter struikelblokke het hy in sy pogings te staan gekom?
Ontsteld oor ’n gebrek aan onderrigting
Cyrillus Lukaris is in 1572 gebore in Candia (nou Iráklion), Kreta, wat deur Venesië beset was. Hy was baie talentvol en het in Venesië en Padua in Italië gestudeer en toe baie in daardie land en in ander lande gereis. Aangesien hy verbitterd was oor die wedywering tussen faksies in die kerk en deur die hervormingsbewegings in Europa aangetrek is, het hy moontlik Genève besoek, wat toe onder die invloed van Calvinisme was.
Terwyl Lukaris Pole besoek het, het hy gesien dat die Ortodokse priesters sowel as leke in ’n betreurenswaardige geestelike toestand was as gevolg van hulle gebrek aan onderrigting. En in Aleksandrië en Konstantinopel het hy tot sy ontsteltenis uitgevind dat selfs die preekstoele—van waar daar uit die Skrif gelees is—uit party kerke verwyder is!
In 1602 het Lukaris na Aleksandrië gegaan, waar hy sy familielid, patriarg Meletios, in daardie biskopsetel opgevolg het. Hy het toe met verskeie hervormingsgesinde teoloë in Europa begin korrespondeer. In een van hierdie briewe het hy gesê dat die Ortodokse Kerk talle verkeerde gebruike gehandhaaf het. In ander briewe het hy beklemtoon dat die kerk bygelowigheid met “evangeliese eenvoud” moet vervang en op die gesag van die Skrif alleen moet staatmaak.
Dit het Lukaris ook ontstel dat die geestelike gesag van die Kerkvaders net so hooggeag is as die woorde van Jesus en die apostels. “Ek kan dit nie meer verduur om te hoor hoe mense sê dat die kommentare wat uit mensetradisies spruit dieselfde gewig dra as die Skrif nie”, het hy geskryf (Matteus 15:6). Hy het bygevoeg dat die aanbidding van beelde na sy mening rampspoedig is. Hy het gesê dat dit ’n belediging vir die Middelaar, Jesus, is om “heiliges” aan te roep.—1 Timoteus 2:5.
Die patriargale troon is te koop
Daardie idees, tesame met Lukaris se afkeer van die Rooms-Katolieke Kerk, het veroorsaak dat hy gehaat en vervolg is deur die Jesuïete en diegene in die Ortodokse Kerk wat ten gunste was van ’n verbintenis met die Katolieke. Ondanks daardie teenstand is Lukaris in 1620 as patriarg van Konstantinopel verkies. Die patriargaat van die Ortodokse Kerk was op daardie stadium onder die heerskappy van die Ottomaanse Ryk. Die Ottomaanse regering het ’n patriarg sommer maklik afgesit en ’n nuwe aanvaar as hulle betaling daarvoor ontvang het.
Lukaris se vyande, hoofsaaklik die Jesuïete en die oppermagtige en skrikwekkende pouslike Congregatio de Propaganda Fide (Gemeente vir die uitbreiding van die geloof), het hom aanhoudend belaster en teen hom saamgesweer. “In hulle strewe na hierdie doel het die Jesuïete elke middel gebruik—lis, beswaddering, vleiery en bowenal omkopery, wat verreweg die doeltreffendste wapen was om die guns van die [Ottomaanse] edelmanne te verkry”, sê die werk Kyrillos Loukaris. Gevolglik is Lukaris in 1622 na die eiland Rodos verban, en Gregorius van Amasya het die amp vir 20 000 silwermuntstukke gekoop. Gregorius kon egter nie met die beloofde som vorendag kom nie, en gevolglik het Antimus van Adrianopel die amp gekoop, maar hy het later bedank. Lukaris is verbasend genoeg weer op die patriargale troon herstel.
Lukaris was vasbeslote om hierdie nuwe geleentheid te gebruik om die Ortodokse geestelikes en leke te onderrig deur ’n vertaling van die Bybel en teologiese traktate te publiseer. Om dit te doen, het hy gereël dat ’n drukpers onder die beskerming van die Engelse ambassadeur na Konstantinopel gebring word. Maar toe die pers in Junie 1627 daar aankom, het Lukaris se vyande hom daarvan beskuldig dat hy dit vir politieke doeleindes gebruik, en hulle het dit uiteindelik laat vernietig. Lukaris moes toe drukperse in Genève gebruik.
’n Vertaling van die Christelike Geskrifte
Lukaris se ontsaglike respek vir die Bybel en die krag daarvan om mense te onderrig, het sy begeerte aangevuur om die woorde daarvan vir die gewone mens meer toeganklik te maak. Hy het besef dat die taal wat in die oorspronklike, geïnspireerde Griekse Bybelmanuskripte gebruik is nie meer vir die gewone mens verstaanbaar was nie. Lukaris het dus heel eerste opdrag gegee dat die Christelike Griekse Geskrifte in die Grieks van sy dag vertaal word. Maximus Kallipolites, ’n geleerde monnik, het in Maart 1629 daaraan begin werk. Baie lede van die Ortodokse Kerk het gemeen dat dit verregaande is om die Skrif te vertaal, ongeag hoe onduidelik die teks dalk andersins vir die lesers is. Om hulle tevrede te stel, het Lukaris die oorspronklike teks en die moderne vertaling in parallelle kolomme gedruk en net ’n paar aantekeninge bygevoeg. Aangesien Kallipolites gesterf het kort nadat hy die manuskrip afgelewer het, het Lukaris self die proewe gelees. Daardie vertaling is kort ná Lukaris se dood in 1638 gedruk.
Ten spyte van Lukaris se voorsorgmaatreëls het daardie vertaling ’n storm van afkeuring onder baie biskoppe ontketen. Lukaris se liefde vir God se Woord kon beslis duidelik gesien word in die voorwoord van daardie Bybelvertaling. Hy het geskryf dat die Skrif, wat in die taal aangebied word wat die mense praat, “’n soet boodskap [is] wat uit die hemel aan ons gegee is”. Hy het mense aangespoor “om [die] hele [Bybel se] inhoud te ken en daarmee vertroud te wees” en gesê dat daar geen ander manier is om kennis te verkry van “die dinge wat tereg betrekking het op geloof . . . as deur die Goddelike en heilige Evangelie” nie.—Filippense 1:9, 10.
Lukaris het diegene wat die studie van die Bybel verbied het sowel as diegene wat die vertaling van die oorspronklike teks verwerp het streng veroordeel: “As ons sonder begrip praat of lees, is dit asof ons in die wind praat.” (Vergelyk 1 Korintiërs 14:7-9.) Hy het die voorwoord met hierdie woorde afgesluit: “Terwyl julle almal hierdie Goddelike en heilige Evangelie in julle eie taal lees, moet julle die goeie dinge wat julle daaruit leer julle eie maak, . . . en mag God altyd julle weg verlig tot dit wat goed is.”—Spreuke 4:18.
’n Geloofsbelydenis
Nadat Lukaris daardie Bybelvertaling aan die gang gesit het, het hy nog ’n moedige stap geneem. In 1629 het hy in Genève ’n Confession of Faith (Geloofsbelydenis) gepubliseer. Dit was ’n persoonlike verklaring van oortuigings wat hy gehoop het die Ortodokse Kerk sou aanneem. Volgens die boek The Orthodox Church neem daardie Confession “alle betekenis uit die Ortodokse leerstelling oor die priesterskap en heilige orde, en dit beskou die verering van ikone en die smeekbedes tot heiliges as ’n vorm van afgodediens”.
Die Confession bestaan uit 18 artikels. Die tweede artikel verklaar dat die Skrif deur God geïnspireer is en dat die gesag daarvan hoër as dié van die kerk is. Dit sê: “Ons glo dat die Heilige Skrif deur God gegee is . . . Ons glo dat die gesag van die Heilige Skrif bo die gesag van die Kerk is. Om deur die Heilige Gees geleer te word, is heeltemal anders as om deur ’n mens geleer te word.”—2 Timoteus 3:16.
Die agtste en tiende artikels sê dat Jesus Christus die enigste Middelaar, Hoë Priester en Hoof van die gemeente is. Lukaris het geskryf: “Ons glo dat ons Here Jesus Christus aan die regterhand van Sy Vader sit en daar voorspraak doen vir ons en alleen die amp van ’n ware en wettige hoë priester en middelaar beklee.”—Matteus 23:10.
Die 12de artikel verklaar dat die kerk kan afdwaal en die valse as die ware aansien, maar die lig van die heilige gees kan dit red deur die inspanning van getroue bedienaars. In artikel 18 sê Lukaris dat die vaevuur bloot ’n versinsel is: “Dit is duidelik dat die versinsel van die Vaevuur nie toegelaat kan word nie.”
Die aanhangsel tot die Confession bevat ’n aantal vrae en antwoorde. Daar beklemtoon Lukaris eerstens dat die Skrif deur elkeen van die getroues gelees moet word en dat dit vir ’n Christen nadelig is om nie God se Woord te lees nie. Hy voeg dan by dat die Apokriewe boeke verwerp moet word.—Openbaring 22:18, 19.
Die vierde vraag is: “Hoe moet ons ikone beskou?” Lukaris antwoord: “Ons word deur die Goddelike en Heilige Skrif geleer, wat duidelik sê: ‘Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is nie; jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; [Exodus 20:4, 5]’ aangesien ons nie die skeppingswerk moet aanbid nie, maar alleenlik die Skepper en Maker van die hemel en van die aarde en Hom alleenlik vereer. . . . Die aanbidding van [die ikone], wat verbied word . . . in die Heilige Skrif, verwerp ons, uit vrees dat ons vergeet en kleure, kuns en skeppingswerke pleks van die Skepper en Maker vereer.”—Handelinge 17:29.
Hoewel Lukaris nie alles wat verkeerd was ten volle kon onderskei in die tydperk van geestelike duisternis waarin hy gelewe het nie,a het hy prysenswaardige pogings aangewend om die Bybel die gesag oor kerkleerstellings te laat wees en om mense oor die leringe daarvan te onderrig.
Onmiddellik ná die vrystelling van hierdie Confession het ’n hernieude vlaag van teenstand teen Lukaris ontstaan. In 1633 het Cyrillus Contari, die aartsbiskop van Berea (nou Aleppo), wat ’n persoonlike vyand van Lukaris was en deur die Jesuïete ondersteun is, met die Ottomane probeer onderhandel oor die patriargale amp. Maar die plan het misluk toe Contari nie die geld kon betaal nie. Lukaris het die amp behou. Die volgende jaar het Atanasius van Tessalonika 60 000 silwermuntstukke vir die amp betaal. Lukaris is weer afgesit. Maar binne ’n maand is hy teruggeroep en herstel. Teen daardie tyd het Cyrillus Contari sy 50 000 silwermuntstukke bymekaargemaak. Hierdie keer is Lukaris na Rodos verban. Ná ses maande kon sy vriende dit regkry dat hy herstel word.
Maar in 1638 het Jesuïete en hulle Ortodokse samesweerders Lukaris van hoogverraad teen die Ottomaanse Ryk beskuldig. Hierdie keer het die sultan beveel dat hy doodgemaak word. Lukaris is in hegtenis geneem, en op 27 Julie 1638 is hy met ’n klein boot geneem asof hy verban sou word. Die oomblik toe die boot op die oop see gekom het, is hy verwurg. Sy liggaam is naby die kus begrawe, toe opgegrawe en in die see gegooi. Dit is deur vissermanne gevind en later deur sy vriende begrawe.
Lesse vir ons
“’n Mens moet ook onthou dat dit een van [Lukaris se] hoofdoelwitte was om sy geestelikes en kudde te verlig en hulle opvoedingsvlak te verhoog, wat in die sestiende en vroeë sewentiende eeu tot ’n geweldige laagtepunt gedaal het”, sê ’n geleerde. Verskeie struikelblokke het gekeer dat Lukaris sy doelwit bereik. Hy is vyf keer van die patriargale troon afgesit. Vier-en-dertig jaar ná sy dood het ’n sinode in Jerusalem sy oortuigings as kettery veroordeel. Hulle het verklaar dat die Skrif “nie deur sommer enigiemand gelees moet word nie, maar slegs deur diegene wat in die diep dinge van die gees tuur nadat hulle gepaste navorsing gedoen het”—dit wil sê net die sogenaamde geleerde geestelikes.
Die heersende geestelike klas het weer eens pogings onderdruk om God se Woord aan hulle kudde beskikbaar te stel. Hulle het op gewelddadige wyse iemand stilgemaak wat van die foute van hulle nie-Bybelse opvattings uitgewys het. Hulle was onder die ergste vyande van godsdiensvryheid en die waarheid. Ongelukkig bestaan hierdie houding vandag nog op verskeie maniere voort. Dit is ’n ernstige herinnering aan wat gebeur wanneer geestelikes se knoeiery in die pad staan van vryheid van denke en van vrye meningsuiting.
[Voetnoot]
a In sy Confession ondersteun hy die Drie-eenheid en die leerstellings oor voorbeskikking en die onsterflike siel—leerstellings wat nie in die Bybel voorkom nie.
[Lokteks op bladsy 29]
Lukaris het prysenswaardige pogings aangewend om die Bybel as gesag oor kerkleerstellings te hê en om mense in die leringe daarvan te onderrig
[Venster/Prent op bladsy 28]
Lukaris en die Kodeks Aleksandrinus
Een van die skatte van die Britse Biblioteek is die Kodeks Aleksandrinus, ’n Bybelmanuskrip uit die vyfde eeu G.J. Van die 820 bladsye waaruit die oorspronklike moontlik bestaan het, het 773 behoue gebly.
Terwyl Lukaris die patriarg van Aleksandrië, Egipte, was, het hy ’n groot versameling boeke besit. Toe hy die patriarg van Konstantinopel geword het, het hy die Kodeks Aleksandrinus saam met hom geneem. In 1624 het hy dit vir die Britse ambassadeur in Turkye gegee as ’n geskenk vir die Engelse koning, Jakobus I. Dit is drie jaar later aan sy opvolger, Karel I, oorhandig.
In 1757 is die koning se Koninklike Biblioteek aan die Britse volk gegee, en hierdie uitsonderlike kodeks word nou in die John Ritblat-galery in die nuwe Britse Biblioteek uitgestal.
[Erkennings]
Uit The Codex Alexandrinus in Reduced Photographic Facsimile, 1909
Gewerbehalle, Vol. 10
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Bib. Publ. Univ. de Genève