Die krag van gebed
Die son sak oor die stad Nahor in die Midde-Ooste. ’n Siriese man met die naam Eliëser kom met ’n karavaan van tien kamele by ’n put buite die stad aan. Hoewel Eliëser ongetwyfeld moeg en dors is, is hy meer besorg oor die belange van ander. Hy het van ’n ander land af gekom om ’n vrou vir die seun van sy heer te vind. Daarbenewens moet hy hierdie vrou onder sy heer se familielede vind. Hoe gaan hy hierdie moeilike taak verrig?
ELIËSER glo aan die krag van gebed. Met merkwaardige, kinderlike geloof doen hy hierdie nederige versoek: “HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink—dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.”—Genesis 24:12-14.
Eliëser se vertroue in die krag van gebed is nie tevergeefs nie. Trouens, die heel eerste vrou wat na die put toe kom, is die kleindogter van Abraham se broer! Haar naam is Rebekka, en sy is ongetroud, sedelik rein en baie mooi. Dit is opmerkenswaardig dat sy nie net vir Eliëser water gee om te drink nie, maar ook vriendelik aanbied om die dors van al sy kamele te les. Later, nadat haar gesin geraadpleeg is, is Rebekka gewillig om saam met Eliëser terug te gaan na ’n ver land om die vrou van Abraham se seun, Isak, te word. Wat ’n treffende en duidelike antwoord op Eliëser se gebed in ’n tyd toe God soms op wonderdadige wyse in sake ingegryp het!
Ons kan baie uit Eliëser se gebed leer. Dit het getoon watter uitsonderlike geloof, nederigheid en onselfsugtige besorgdheid hy oor die belange van ander gehad het. Eliëser se gebed het ook getoon dat hy hom onderwerp het aan die manier waarop Jehovah met die mensdom handel. Hy was ongetwyfeld bewus van God se spesiale band met Abraham sowel as van Sy belofte dat toekomstige seëninge vir die hele mensdom deur middel van Abraham sou kom (Genesis 12:3). Eliëser het dus sy gebed met hierdie woorde begin: “HERE, God van Abraham, my heer.”
Jesus Christus was die nakomeling van Abraham deur wie die hele gehoorsame mensdom geseën sou word (Genesis 22:18). As ons vandag wil hê dat ons gebede verhoor moet word, moet ons die manier waarop God deur middel van sy Seun met die mensdom handel nederig erken. Jesus Christus het gesê: “As julle in eenheid met my bly en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal vir julle geskied.”—Johannes 15:7.
’n Volgeling van Christus wat gesien het hoe waar hierdie woorde van Jesus is, was die apostel Paulus. Sy geloof in die krag van gebed was beslis nie tevergeefs nie. Hy het mede-Christene aangespoor om tot God te bid oor al hulle sorge, en het bevestig: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:6, 7, 13). Beteken dit dat God al Paulus se biddende versoeke toegestaan het? Kom ons kyk.
Nie alle versoeke word toegestaan nie
In Paulus se onselfsugtige bediening het hy gely weens “’n doring in die vlees”, soos hy dit genoem het (2 Korintiërs 12:7). Dit kon die verstandelike en emosionele angs gewees het wat veroorsaak is deur teenstanders en “valse broers” (2 Korintiërs 11:26; Galasiërs 2:4). Of dit kon die fisiese ongemak van ’n chroniese oogkwaal gewees het (Galasiërs 4:15). Wat die geval ook al was, hierdie “doring in die vlees” het Paulus se kragte verswak. “Ek [het] die Here drie keer dringend versoek dat dit van my sou wyk”, het hy geskryf. Maar Paulus se versoek is nie toegestaan nie. Daar is vir Paulus verduidelik dat die geestelike seëninge wat hy reeds van God ontvang het, soos die krag om beproewinge te verduur, voldoende was. Daarbenewens het God gesê: “My krag word tot volmaaktheid gebring in swakheid.”—2 Korintiërs 12:8, 9.
Wat leer ons uit die voorbeelde van Eliëser en Paulus? Jehovah God luister beslis na die gebede van diegene wat hom nederig wil dien. Maar dit beteken nie dat hy altyd hulle versoeke toestaan nie, want God het ’n langtermynbeskouing van sake. Hy weet beter as ons wat die beste vir ons is. Nog belangriker, hy tree altyd op in ooreenstemming met sy verklaarde voorneme soos dit in die Bybel opgeteken is.
’n Tyd vir geestelike genesing
God belowe om die mensdom van alle fisiese, geestes- en emosionele kwale te genees gedurende die Duisendjarige Heerskappy van sy Seun oor die aarde (Openbaring 20:1-3; 21:3-5). Opregte Christene wag gretig op hierdie beloofde toekoms, met volle vertroue in God se mag om dit ’n werklikheid te laat word. Hoewel hulle nie nou sulke wonderdadige genesing verwag nie, bid hulle tot God vir vertroosting en krag om hierdie beproewinge die hoof te bied (Psalm 55:23). Wanneer hulle siek word, vra hulle moontlik ook vir God se leiding in hulle pogings om die beste mediese behandeling te verkry wat hulle kan bekostig.
Party godsdienste moedig die siekes aan om te bid dat hulle nou genees kan word en verwys hulle na die wonderdadige genesings wat Jesus en sy apostels verrig het. Maar sulke wonderwerke is met ’n spesiale doel gedoen. Dit het bewys dat Jesus Christus die ware Messias was en het getoon dat God sy guns weggeneem het van die Joodse nasie en dit aan die jong Christengemeente gegee het. In daardie tyd was wonderdadige gawes nodig om die geloof van die pas gestigte Christengemeente te versterk. Toe die nuwe gemeente gevestig en sterk was, is die wonderdadige gawes “weggedoen”.—1 Korintiërs 13:8, 11.
Gedurende hierdie kritieke tyd rig Jehovah God sy aanbidders in die belangriker werk van geestelike genesing. Terwyl mense nog die tyd het, moet hulle dringend reageer op hierdie beroep: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.”—Jesaja 55:6, 7.
Hierdie geestelike genesing van berouvolle sondaars word deur middel van die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk gedoen (Matteus 24:14). Deur sy knegte die krag te gee om hierdie lewensreddende werk uit te voer, help Jehovah God miljoene mense uit alle nasies om berou te toon oor hulle sondes en ’n goedgekeurde verhouding met hom op te bou voor die einde van hierdie goddelose stelsel kom. Die gebede van almal wat opreg vra vir sulke geestelike genesing en almal wat bid vir hulp om hierdie genesingswerk te verrig, word beslis verhoor.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Eliëser en Rebekka/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications