’n Voorbeeldige man wat teregwysing aanvaar het
“ZAMBIESE krokodille eet 30 mense per maand.” Dit is wat ’n koerant in Afrika ’n hele paar jaar gelede berig het. Volgens ’n dierkundige wat hierdie reptiele gevang het om hulle te bestudeer, “was 12 mans nodig om een krokodil vas te hou”. Met sy kragtige stert en sterk kake kan die krokodil ’n gevreesde dier wees!
Die Skepper het klaarblyklik na die krokodil verwys as “Leviatan” en hierdie “koning oor al die majestueuse wilde diere” gebruik om sy kneg Job ’n belangrike les te leer (Job 41:1, 34, NW). Dit het ongeveer 3 500 jaar gelede plaasgevind in die land Us, wat waarskynlik iewers in die noorde van Arabië is. Toe God hierdie dier beskryf het, het hy vir Job gesê: “Niemand is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?” (Job 41:1). Hoe waar tog! As ons bang is vir die krokodil, hoeveel te meer moet ons bang wees om teen die Een te praat wat dit geskep het! Job het sy waardering vir hierdie les getoon deur sy sonde te bely.—Job 42:1-6.
Wanneer daar van Job gepraat word, dink ons dalk aan sy getroue voorbeeld toe hy beproewinge verduur het (Jakobus 5:11). Jehovah het in werklikheid behae in Job gehad selfs voordat sy geloof swaar beproef is. Na God se oordeel was daar op daardie tydstip “niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom [“onberispelik”, NW] en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Dit behoort ons te beweeg om meer omtrent Job te leer, want dit sal ons help om te sien hoe ons ook God kan behaag.
Sy verhouding met God het eerste gekom
Job was ’n welgestelde man. Buiten goud het hy 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 eselinne, 1 000 beeste en ’n groot menigte knegte gehad (Job 1:3). Maar Job het op Jehovah vertrou, nie op rykdom nie. Hy het geredeneer: “As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het; . . . ook dit sou ’n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het” (Job 31:24-28). Soos met Job moet ’n hegte verhouding met Jehovah God vir ons van baie groter waarde wees as materiële dinge.
Hy het sy medemens regverdig behandel
Hoe het Job sy knegte behandel? Job se eie woorde toon dat hulle hom as regverdig en genaakbaar beskou het: “As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle ’n geskil met my gehad het—wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen?” (Job 31:13, 14). Job het Jehovah se barmhartigheid waardeer en dus aan sy slawe barmhartigheid betoon. Wat ’n goeie voorbeeld, veral vir diegene wat as opsieners in die Christengemeente dien! Hulle moet ook regverdig, onpartydig en genaakbaar wees.
Job het ook belangstelling getoon in diegene wat nie deel van sy huishouding was nie. Hy het sy besorgdheid oor ander getoon toe hy gesê het: “As ek die armes ’n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het . . . , as ek my hand teen ’n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het—laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word” (Job 31:16-22). Mag ons net so bedagsaam wees teenoor minder bevoorregtes wat ons in die gemeente ken.
Weens Job se onselfsugtige belangstelling in sy medemens was hy gasvry teenoor vreemdelinge. Hy kon dus sê: “Die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!” (Job 31:32). Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir God se hedendaagse knegte! Wanneer mense wat onlangs in Bybelwaarheid begin belangstel het na die Koninkryksaal toe kom, kan dit tot hulle geestelike vordering bydra as ons hulle gasvry ontvang. Reisende opsieners en ander Christene het natuurlik ook ons liefdevolle gasvryheid nodig.—1 Petrus 4:9; 3 Johannes 5-8.
Job het selfs die regte gesindheid teenoor sy vyande gehad. Hy was nie bly as onheil iemand getref het wat hom haat nie (Job 31:29, 30). Hy was eerder bereid om goed te doen aan sulke mense, soos blyk uit sy bereidwilligheid om vir sy drie valse vertroosters te bid.—Job 16:2; 42:8, 9; vergelyk Matteus 5:43-48.
Hy was sedelik rein
Job was lojaal teenoor sy vrou en het nooit toegelaat dat ’n onvanpaste gehegtheid aan ’n ander vrou in sy hart posvat nie. Job het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou? As my hart verlok was oor ’n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste—laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig. Want dit is ’n skandelike daad, en dit is ’n strafbare misdaad.”—Job 31:1, 9-11.
Job het nie toegelaat dat onsedelike begeertes sy hart besoedel nie. Hy het eerder ’n onberispelike weg nagestreef. Dit is geen wonder dat Jehovah God behae gehad het in hierdie getroue man wat versoekings om onsedelik te wees, weerstaan het nie!—Matteus 5:27-30.
Hy was besorg oor sy gesin se geestelikheid
Job se seuns het soms feeste gereël waar al sy seuns en dogters teenwoordig was. Nadat hierdie dae van die feesmaal verby was, was Job baie bekommerd dat sy kinders dalk op die een of ander manier teen Jehovah gesondig het. Job het dus daadwerklik opgetree, want die skriftuurlike verslag sê: “Wanneer die dae van die feesmaal dan die kring voltooi het, het Job gestuur en hulle geheilig; en hy het die oggend vroeg opgestaan en brandofferandes gebring ooreenkomstig die getal van hulle almal; want, het Job gesê, ‘miskien het my seuns gesondig en God in hulle hart vervloek’” (Job 1:4, 5, NW). Dit het Job se gesinslede ongetwyfeld laat besef dat hy daaroor besorgd was dat hulle eerbiedige vrees vir Jehovah handhaaf en in Sy weë wandel!
Vandag moet Christengesinshoofde hulle gesin in God se Woord, die Bybel, onderrig (1 Timoteus 5:8). En dit is beslis gepas om vir gesinslede te bid.—Romeine 12:12.
Hy het getrou volhard tydens beproewing
Die meeste mense wat die Bybel lees, is vertroud met die swaar beproewinge wat Job moes verduur. Satan die Duiwel het beweer dat Job God onder moeilike omstandighede sou vervloek. Jehovah het hierdie uitdaging aanvaar, en Satan het sonder versuim onheil oor Job gebring. Hy het al sy vee verloor. Nog erger, hy het al sy kinders aan die dood afgestaan. Kort daarna het Satan Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel.—Job, hoofstukke 1, 2.
Wat was die uiteinde? Toe sy vrou hom aangespoor het om God te vervloek, het Job gesê: “Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” Die Bybelverslag voeg by: “By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie” (Job 2:10). Ja, Job het getrou volhard en die Duiwel dus ’n leuenaar bewys. Mag ons eweneens beproewinge verduur en bewys dat opregte liefde vir Jehovah die dryfkrag agter ons diens aan God is.—Matteus 22:36-38.
Hy het nederig teregwysing aanvaar
Hoewel Job in baie opsigte voorbeeldig was, was hy nie ’n volmaakte man nie. Hy het self gesê: “Ag, kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine—nie een nie!” (Job 14:4; Romeine 5:12). Toe God dus gesê het dat Job onberispelik is, was dit waar in die sin dat hy ooreenkomstig al God se vereistes vir sy onvolmaakte en sondige menseknegte gelewe het. Wat ’n bron van aanmoediging!
Job het sy toets verduur, maar dit het ’n swakheid geopenbaar. Drie sogenaamde vertroosters het hom besoek nadat hulle gehoor het van al die onheil wat hom getref het (Job 2:11-13). Hulle het beweer dat Jehovah Job gestraf het omdat hy ernstige sondes gepleeg het. Hierdie valse beskuldigings het Job natuurlik gekrenk laat voel, en hy het hom heftig probeer verdedig. Maar hy het ongebalanseerd geraak in sy pogings om homself te regverdig. Job het selfs te kenne gegee dat hy meer regverdig as God is!—Job 35:2, 3, NW.
Omdat God Job liefgehad het, het Hy ’n jong man gebruik om Job op sy fout te wys. Die verslag sê: “Die toorn van Elihu . . . het ontvlam. Teen Job het sy toorn ontvlam omdat hy eerder sy eie siel regverdig verklaar het as God.” Elihu het opgemerk: “Job het gesê: ‘Ek is beslis reg, maar God het my reg laat wyk’” (Job 32:2, NW; 34:5, NW). Maar Elihu het nie ook soos die drie “vertroosters” verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat God Job vir sy sondes straf nie. Elihu het eerder sy vertroue uitgespreek in die getrouheid van Job, en hy het hom aangeraai: “Die regsaak is voor [Jehovah]: wag dan op Hom.” Ja, Job moes eerder op Jehovah gewag het as om homself so vinnig te verdedig. Elihu het Job verseker: “Geregtigheid en ’n oorvloed van regverdigheid sal [God] nie geringag nie.”—Job 35:14; 37:23, NW.
Job se denke moes reggestel word. Daarom het Jehovah hom gewys hoe nietig die mens in vergelyking met God se grootheid is. Jehovah het hom na die aarde, die see, die sterrehemel, die diere en na baie ander skeppingswonders verwys. Laastens het God van Leviatan—die krokodil—gepraat. Job het nederig teregwysing aanvaar, en hierin het hy ’n verdere voorbeeld gestel.
Hoewel ons dalk goed doen in Jehovah se diens, sal ons foute begaan. As ’n fout ernstig is, sal Jehovah ons moontlik op die een of ander manier teregwys (Spreuke 3:11, 12). Ons dink dalk aan ’n teks wat ons gewete laat reageer. Die Wagtoring of ’n ander publikasie van die Wagtoringgenootskap sê dalk iets wat ons bewus maak van ons fout. Of miskien sal ’n mede-Christen liefdevol vir ons wys dat ons versuim het om ’n Bybelbeginsel toe te pas. Hoe sal ons op sulke teregwysing reageer? Job het ’n berouvolle gees geopenbaar en gesê: “Daarom herroep ek en het berou in stof en as.”—Job 42:6.
Hy is deur Jehovah beloon
Jehovah het Job beloon deur toe te laat dat sy kneg nog 140 jaar lewe. Gedurende daardie tyd het hy baie meer ontvang as wat hy verloor het. En hoewel Job uiteindelik gesterf het, gaan hy beslis ’n opstanding in God se nuwe wêreld kry.—Job 42:12-17; Esegiël 14:14; Johannes 5:28, 29; 2 Petrus 3:13.
Ons kan ook seker wees van God se guns en seën as ons hom lojaal dien en al die Bybelse teregwysing aanvaar wat ons ontvang. Gevolglik sal ons die gewisse hoop van lewe in God se nuwe stelsel van dinge hê. Nog belangriker, ons sal God eer. Ons getrouheid sal beloon word en sal bydra tot die bewys dat sy volk hom uit opregte liefde dien en nie om selfsugtige redes nie. Hoe bevoorreg is ons tog dat ons Jehovah se hart kan verbly, soos die getroue man Job, wat teregwysing nederig aanvaar het!—Spreuke 27:11.
[Prent op bladsy 26]
Job het liefdevolle besorgdheid teenoor wese, weduwees en ander getoon
[Prente op bladsy 28]
Job is ryklik beloon omdat hy teregwysing nederig aanvaar het