Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 4/15 bl. 4-7
  • Laat Jehovah se krag jou vertroos

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Laat Jehovah se krag jou vertroos
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kalmerende uitwerking van Jehovah se sorg
  • Bybelse hoop bied vertroosting
  • Die rol van gebed
  • Die heilige gees as trooster
  • ’n Broederskap wat vertroosting bied
  • Ons kan vertroosting vind!
  • Hoe God ons vertroos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Vertrou op Jehovah, “die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ‘Vertroos al die treurendes’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 4/15 bl. 4-7

Laat Jehovah se krag jou vertroos

“As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.”—PSALM 94:19.

DIE Bybel bevat bemoedigende woorde vir almal wat na vertroosting smag. Daarom verbaas dit ’n mens nie dat The World Book Encyclopedia sê dat “tallose mense hulle tot die Bybel wend vir vertroosting, hoop en leiding gedurende moeilike en onsekere tye”. Waarom?

Omdat die Bybel geïnspireer is deur ons liefdevolle Skepper, “die God van alle vertroosting”, die Een “wat ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4). Hy is ‘die God wat vertroosting verskaf’ (Romeine 15:5). Jehovah het die inisiatief hierin geneem deur ’n uitkoms vir ons almal te voorsien. Hy het sy enigverwekte Seun, Christus Jesus, na die aarde toe gestuur om vir ons hoop en vertroosting te gee. Jesus het mense geleer: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die Bybel beskryf Jehovah as die een “wat daagliks die vrag vir ons dra, die ware God van ons redding” (Psalm 68:19, NW). Godvresende mense kan met vertroue sê: “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.”—Psalm 16:8.

Hierdie Bybeltekste toon Jehovah God se groot liefde vir ons as mense. Dit is duidelik dat hy ’n opregte begeerte—asook die vermoë—het om oorgenoeg vertroosting te voorsien en om ons pyn in moeilike tye te verlig. “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie” (Jesaja 40:29). Hoe kan ons deur Jehovah se krag vertroos word?

Die kalmerende uitwerking van Jehovah se sorg

Die psalmis het geskryf: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Ja, Jehovah God stel in die mensdom belang. Die apostel Petrus het eerste-eeuse Christene verseker: “Hy [God] is besorg oor julle” (1 Petrus 5:7). Jesus Christus het beklemtoon hoe kosbaar mense in God se oë is deur te sê: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:6, 7). Ons is so kosbaar vir God dat hy selfs die kleinste besonderheid omtrent ons ken. Hy weet dinge wat ons self nie eers weet nie, want hy stel intens belang in elkeen van ons.

Hierdie persoonlike belangstelling wat Jehovah in mense het, was ’n groot vertroosting vir Svetlana, die jong prostituut wat in die vorige artikel genoem is. Sy was op die punt om selfmoord te pleeg toe sy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het. Daarna het sy tot ’n Bybelstudie ingestem, en dit het haar gehelp om Jehovah te leer ken as ’n werklike persoon wat in haar welsyn belangstel. Dit het haar hart geraak en haar beweeg om haar lewenswyse te verander en haar aan God toe te wy. Dit het Svetlana ook ’n mate van eiewaarde gegee wat sy nodig gehad het om ten spyte van haar probleme voort te gaan en om ’n positiewe uitkyk op die lewe te kry. “Ek is daarvan oortuig”, sê sy nou, “dat Jehovah my nooit sal verlaat nie. Ek het gevind dat die woorde in 1 Petrus 5:7 waar is. Dit sê: ‘[Werp] al julle sorge op [Jehovah] . . . , want hy is besorg oor julle.’”

Bybelse hoop bied vertroosting

’n Spesifieke manier waarop God vertroosting bied, is deur sy geskrewe Woord, wat ’n wonderlike hoop vir die toekoms bevat. Die apostel Paulus het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Paulus het die verband tussen ware hoop en vertroosting duidelik gemaak toe hy geskryf het: “Mag . . . God, ons Vader, wat ons liefgehad het en deur middel van onverdiende goedhartigheid ewige troos en goeie hoop gegee het, julle harte vertroos en julle standvastig maak in elke goeie daad en woord” (2 Tessalonisense 2:16, 17). Hierdie “goeie hoop” sluit die vooruitsig op volmaakte, gelukkige en ewige lewe op ’n paradysaarde in.—2 Petrus 3:13.

Hierdie gewisse en wonderlike hoop het Laimonis, die verlamde alkoholis wat in die vorige artikel genoem is, bemoedig. Toe hy die Bybellektuur van Jehovah se Getuies gelees het, was hy so bly om te leer van die nuwe wêreld onder God se Koninkryk waar hy heeltemal gesond kan word. In die Bybel het hy hierdie wonderlike belofte van wonderdadige genesing gelees: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 35:5, 6). Laimonis het groot veranderinge aangebring sodat hy kan kwalifiseer om in daardie Paradys te lewe. Hy het die drank laat staan, en die veranderinge wat hy gemaak het, het nie ongesiens by sy bure en vriende verbygegaan nie. Hy hou nou ’n hele paar Bybelstudies, en sodoende vertroos hy ander met die Bybelse hoop.

Die rol van gebed

Wanneer ons om die een of ander rede hartseer is, kan ons vertroosting vind deur tot Jehovah te bid. Dit kan ons las verlig. Tydens ons smeekbedes word ons dalk vertroos deur aan gedagtes te dink wat in God se Woord staan. Die langste psalm in die Bybel is soos ’n pragtige gebed. Die psalmis het gesing: “Ek het gedink aan u regterlike beslissings wat sedert onbepaalde tyd is, o Jehovah, en ek vind vertroosting” (Psalm 119:52, NW). In uiters moeilike situasies, veral wanneer dit ’n gesondheidskrisis is, is daar dikwels nie een enkele, allesomvattende oplossing nie. In ons eie krag weet ons dalk nie presies waar ons hulp kan kry nie. Wanneer alles menslik moontlik gedoen is, het baie gevind dat hulle groot vertroosting en soms selfs onvoorsiene oplossings vind as hulle tot God in gebed gaan.—1 Korintiërs 10:13.

Pat wat inderhaas na ’n hospitaal se ongevallesaal geneem is, het hierdie vertroostende uitwerking van gebed ervaar. Nadat sy gesond geword het, het sy gesê: “Ek het tot Jehovah gebid en tot die besef gekom dat ek my lewe aan hom moes oorlaat en op hom moes vertrou om te doen wat sy wil ook al was. Deur hierdie hele tyd het ek kalm gevoel; ek het die vrede van God ondervind waarvan Filippense 4:6, 7 melding maak.” Hoe vertroostend kan hierdie verse tog vir ons almal wees! Daarin het Paulus ons aangespoor: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”

Die heilige gees as trooster

Die nag voor Jesus se dood het hy vir sy apostels verduidelik dat hy hulle binnekort gaan verlaat. Dit het hulle verontrus en bedroef gemaak (Johannes 13:33, 36; 14:27-31). Jesus het besef dat hulle voortdurend vertroosting nodig sou hê en het belowe: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper [of trooster] gee om vir ewig by julle te wees” (Johannes 14:16, voetnoot in naslaanuitgawe). Jesus het hier na God se heilige gees verwys. God se gees het die apostels onder meer vertroos gedurende hulle beproewinge en hulle versterk om God se wil te bly doen.—Handelinge 4:31.

Angie, wie se man byna in ’n ernstige ongeluk gesterf het, kon in haar omstandighede al die angs en pyn met welslae die hoof bied. Wat het haar gehelp? Sy sê: “Sonder die ondersteuning van Jehovah se heilige gees sou ons nie die dinge wat ons oorgekom het, kon verduur en nog sterk gebly het nie. Jehovah se krag is inderdaad deur ons swakhede geopenbaar, en hy was ’n sterk vesting in ons tyd van benoudheid.”

’n Broederskap wat vertroosting bied

Wat ook al ’n persoon se situasie in die lewe is, ongeag watter tragiese gebeure moontlik plaasvind, hy behoort vertroosting te kan vind in die broederskap wat in Jehovah se gemeente bestaan. Hierdie broederskap voorsien geestelike ondersteuning en hulp aan diegene wat deel daarvan is. Daarin vind ’n mens ’n groep liefdevolle en besorgde vriende wat vertroosting bied en wat gereed en gewillig is om ander in tye van nood te help en te bemoedig.—2 Korintiërs 7:5-7.

Lede van die Christengemeente word geleer om “aan almal goed [te] doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan [hulle] verwant is” (Galasiërs 6:10). Die Bybelse onderrigting wat hulle ontvang, beweeg hulle om broederlike liefde en tere geneentheid aan mekaar te betoon (Romeine 12:10; 1 Petrus 3:8). Geestelike broers en susters in die gemeente word aangespoor om goedhartig, bemoedigend en medelydend te wees.—Efesiërs 4:32.

Joe en Rebecca, wie se seun op tragiese wyse gesterf het, het sulke vertroostende hulp van lede in die Christengemeente ontvang. Hulle sê: “Jehovah en sy liefdevolle gemeente het ons deur ons moeilike tyd gehelp. Ons het honderde kaartjies, briewe en telefoonoproepe ontvang. Dit laat ons besef hoe kosbaar ons broederskap is. Terwyl ons nog besig was om die skok van die tragedie te verwerk, het baie van die plaaslike gemeentes ons gehelp deur maaltye te voorsien en die huis skoon te maak.”

Ons kan vertroosting vind!

Wanneer die stormwinde van teëspoed begin waai, en die genadelose reën en hael van angs aanhou val, is God gereed om vertroostende beskerming te bied. Een van die psalms beskryf die vertroostende beskerming wat hy bied as volg: “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil” (Psalm 91:4). Dit is moontlik ’n arend wat hier uitgebeeld word. Dit is die voorstelling van ’n voël wat besef daar is gevaar en dan sy vlerke beskermend oor sy kleintjies uitsprei. Jehovah word in selfs groter mate ’n ware Beskermer vir almal wat by hom skuil.—Psalm 7:2.

As jy graag meer wil leer van God, sy persoonlikheid, sy voornemens en sy vermoë om vertroosting te voorsien, moedig ons jou aan om sy Woord te bestudeer. Jehovah se Getuies sal jou graag daarmee wil help. Ja, jy kan ook deur Jehovah se krag vertroos word!

[Prente op bladsy 7]

Die Bybelse hoop vir die toekoms kan vertroosting bied

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel