Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 8/1 bl. 20-23
  • Waarom het hulle nie kinders nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom het hulle nie kinders nie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle moeder se besorgdheid
  • Vreugde en verantwoordelikheid
  • Waarom party kinderloos bly
  • Veilige en vreugdevolle lewens
  • Gelief en kosbaar in God se oë
  • Verantwoordelike ouerskap in hierdie tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Die huwelik en ouerskap in hierdie tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 8/1 bl. 20-23

Waarom het hulle nie kinders nie?

DELE en Fola,a ’n egpaar, het by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Nigerië gewoon en gewerk. Kort nadat hulle daar begin dien het, het Fola se moeder vir hulle kom kuier. Sy het ver gereis om ’n saak te kom bespreek wat vir haar van groot belang was, waaroor sy al baie slapelose nagte gehad het.

“Julle doen sulke goeie dinge vir my”, het sy vir hulle gesê. “Julle stuur vir my geskenke en julle kom kuier vir my. Hierdie blyke van liefde is vir my kosbaar. Maar dit maak my ook bekommerd omdat ek altyd wonder wie sulke dinge vir julle gaan doen wanneer julle so oud is soos ek. Julle is nou al twee jaar getroud, en julle het nie kinders nie. Dink julle nie dis tyd dat julle Bethel verlaat en met ’n gesin begin nie?”

Hulle moeder het so geredeneer: Dele en Fola het al genoeg tyd in Bethel deurgebring. Nou is dit tyd dat hulle aan hulle toekoms dink. Ander mense kan tog sekerlik hulle werk oorneem. Dele en Fola hoef nie die voltydse bediening op te gee nie, maar hulle kan aan ’n ander aspek van die bediening deelneem, wat hulle in staat sal stel om kinders te hê en die vreugdes van ouerskap te ondervind.

Hulle moeder se besorgdheid

Hulle moeder se besorgdheid was verstaanbaar. Die begeerte om kinders te hê, is ’n wesenlike deel van en algemeen in alle kulture en tye. Om kinders te hê, wek diep gevoelens van vreugde en hoop. “Die vrug van die moederskoot is ’n beloning”, sê die Bybel. Ja, die vermoë om kinders voort te bring, is ’n kosbare gawe van ons liefdevolle Skepper.—Psalm 127:3.

In baie gemeenskappe word daar geweldige druk op egpare uitgeoefen om kinders te hê. In Nigerië, waar die gemiddelde vrou aan ses kinders geboorte gee, is dit byvoorbeeld by troues algemeen om te hoor dat vriende vir die pasgetroudes sê: “Nege maande van nou af verwag ons om ’n baba in julle huis te hoor huil.” Die bruid en bruidegom kan ’n bababedjie as ’n trougeskenk kry. Skoonmoeders hou die kalender fyn dop. As die bruid nie binne ’n jaar of wat swanger is nie, probeer hulle uitvind of daar enige probleme is waarmee hulle kan help.

Vir baie moeders is die rede waarom ’n paartjie trou om kinders te hê en om die geslagslyn te laat voortduur. Fola se moeder het vir haar gesê: “Waarom het jy getrou as jy nie kinders gaan hê nie? Iemand het jou in die lewe gebring; jy behoort jou eie kinders in die lewe te bring.”

Daarbenewens is daar praktiese sake wat in ag geneem moet word. In baie Afrikalande maak die regering nie juis voorsiening vir die versorging van bejaardes nie. Dit is gebruiklik dat die kinders vir hulle bejaarde ouers sorg, net soos hierdie ouers vir hulle gesorg het toe hulle jonk was. Fola se moeder het dus geredeneer dat haar kinders, as hulle nie hulle eie kinders het nie, in latere jare die gevaar sou loop om eensaam, verstote en arm te wees, met niemand om hulle te begrawe wanneer hulle sterf nie.

In die grootste gedeelte van Afrika word dit as ’n vloek beskou om nie kinders te hê nie. In party gebiede word daar selfs van vroue verwag om voor die huwelik te bewys dat sy kinders kan baar. Baie vroue wat nie swanger kan word nie, sal naarstig soek na medisyne en geneesmiddels om hulle onvrugbare toestand te probeer regstel.

In die lig van hierdie gesindhede word daar gemeen dat egpare wat doelbewus nie kinders het nie hulleself iets goeds ontsê. Hulle word dikwels beskou as eienaardig, kortsigtig en bejammerenswaardig.

Vreugde en verantwoordelikheid

Jehovah se volk besef dat die grootmaak van kinders vreugde kan verskaf, maar dat dit ook verantwoordelikheid meebring. Die Bybel sê in 1 Timoteus 5:8: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”

Ouers moet materieel sowel as geestelik vir hulle gesin sorg, en dit verg aansienlike tyd en inspanning. Hulle het nie die gesindheid dat God vir hulle kinders moet sorg, aangesien kinders ’n gawe van hom is nie. Hulle besef dat die grootmaak van kinders volgens Bybelbeginsels ’n voltydse verantwoordelikheid is wat God aan ouers gegee het; dit is nie iets wat aan ander gedelegeer moet word nie.—Deuteronomium 6:6, 7.

Die taak om kinders groot te maak, is veral moeilik in hierdie “laaste dae” van die “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Buiten verslegtende ekonomiese toestande dra die toenemende goddeloosheid van die samelewing by tot die uitdagings om vandag kinders groot te maak. Nietemin het tallose Christenegpare oor die hele wêreld hierdie uitdaging aanvaar en maak hulle godvrugtige kinders met welslae groot “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” (Efesiërs 6:4). Jehovah het hierdie ouers lief en seën hulle vir hulle harde werk.

Waarom party kinderloos bly

Aan die ander kant het baie Christenegpare nie kinders nie. Party is onvrugbaar, en tog neem hulle nie kinders aan nie. Ander egpare wat die vermoë het om kinders voort te bring, besluit om dit nie te doen nie. Sulke egpare bly nie kinderloos omdat hulle die verantwoordelikheid vermy of bang is om die uitdagings van ouerskap te aanvaar nie. Hulle het eerder besluit om hulle volle aandag te gee aan verskillende fasette van die voltydse bediening, wat nie moontlik sou wees as hulle kinders moes grootmaak nie. Party dien as sendelinge. Ander dien Jehovah in die reisende werk of by Bethel.

Soos alle Christene besef hulle dat daar ’n dringende werk is wat gedoen moet word. Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hierdie werk word vandag gedoen. Dit is ’n lewensbelangrike werk, aangesien “die einde” vernietiging sal beteken vir diegene wat nie op die goeie nuus ag geslaan het nie.—Matteus 24:14; 2 Tessalonisense 1:7, 8.

Ons tyd is soortgelyk aan die tyd toe Noag en sy gesin die reusagtige ark gebou het waarin hulle deur die groot Vloed heen behoue gebly het (Genesis 6:13-16; Matteus 24:37). Hoewel Noag se drie seuns almal getroud was, het nie een van hulle kinders gehad tot ná die Vloed nie. Een rede daarvoor is moontlik dat hierdie egpare hulle volle aandag en energie wou wy aan die werk wat gedoen moes word. ’n Ander rede was miskien dat hulle teësinnig was om kinders in ’n verdorwe en gewelddadige wêreld te bring waar “die boosheid van die mens . . . groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”.—Genesis 6:5.

Hoewel dit nie impliseer dat dit verkeerd is om vandag kinders te hê nie, besluit baie Christenegpare om nie kinders te hê nie sodat hulle ’n groter aandeel kan hê aan die dringende werk wat Jehovah sy volk gegee het om te doen. Party egpare het ’n ruk lank gewag voordat hulle kinders gehad het; ander het besluit om kinderloos te bly en aan die moontlikheid te dink om in Jehovah se regverdige nuwe wêreld kinders te hê. Is dit kortsigtig? Word hulle iets in die lewe ontsê? Moet ander hulle jammer kry?

Veilige en vreugdevolle lewens

Dele en Fola, wat vroeër gemeld is, is nou al meer as tien jaar getroud, en hulle bly vasbeslote om nie kinders te hê nie. “Ons familielede oefen nog steeds druk op ons uit om kinders te hê”, sê Dele. “Hulle is veral bekommerd oor ons toekomstige veiligheid. Ons spreek altyd ons waardering uit vir hulle besorgdheid, maar ons verduidelik taktvol dat ons gelukkig is in wat ons doen. Wat veiligheid betref, wys ons daarop dat ons ons vertroue in Jehovah stel, wat omsien na die welsyn van almal wat getrou en lojaal aan hom bly. Ons verduidelik ook dat mense geen waarborg het wanneer hulle kinders in die wêreld bring dat die kinders hulle ouers sal versorg wanneer hulle oud is nie. Party mense gee nie vir hulle ouers om nie, ander kan nie help nie en nog ander sterf voor hulle ouers. Aan die ander kant is ons toekoms verseker by Jehovah.”

Dele en ander soos hy stel hulle vaste vertroue in Jehovah se belofte aan sy getroue knegte: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Hulle glo ook dat ‘die hand van die HERE nie te kort is om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie’.—Jesaja 59:1.

’n Mens vind nog ’n rede vir vertroue wanneer jy sien hoe Jehovah sy getroue knegte onderskraag. Koning Dawid het geskryf: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien . . . nie.” Dink net daaraan. Weet jy van ’n getroue kneg van Jehovah wat “verlate” is?—Psalm 37:25.

Diegene wat Jehovah en hulle mede-Christene hulle hele lewe lank gedien het, is nie spyt wanneer hulle terugkyk nie, maar dink eerder terug met ’n gevoel van tevredenheid. Broer Iro Umah is al 45 jaar in die voltydse diens en dien nou as ’n reisende opsiener in Nigerië. Hy sê: “Hoewel ek en my vrou nie kinders het nie, hou ons in gedagte dat Jehovah nog altyd geestelik sowel as materieel na ons omgesien het. Ons het niks kortgekom nie. Hy sal ons nie verlaat wanneer ons ouer word nie. Hierdie jare in die voltydse diens was die gelukkigste jare van ons lewe. Ons is dankbaar dat ons ons broers kan dien, en ons broers waardeer ons diens en hulle help ons.”

Hoewel baie egpare nie vleeslike kinders gehad het nie, het hulle ander soort kinders gehad: Christendissipels wat Jehovah aanbid. Die apostel Johannes was ongeveer 100 jaar oud toe hy geskryf het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Die getrouheid van Johannes se “kinders”—diegene vir wie hy “die waarheid” geleer het—het hom groot vreugde verskaf.

Dieselfde vreugde is vandag oorvloedig. Bernice, ’n Nigeriër, is al 19 jaar getroud en verkies om nie kinders te hê nie. Sy dien al die afgelope 14 jaar as ’n pionier. Noudat sy die tyd van haar lewe nader wanneer sy nie meer haar eie kinders sal kan hê nie, is sy nie spyt omdat sy haar lewe aan die dissipelmaakwerk wy nie. Sy sê: “Ek is bly om te sien hoe my geestelike kinders groei. Selfs al het ek my eie kinders gehad, twyfel ek of hulle nader aan my sou gewees het as diegene wat ek gehelp het om die waarheid te leer. Hulle behandel my soos hulle eie ma en bespreek hulle vreugdes en probleme met my en vra my raad. Hulle skryf briewe en ons kuier by mekaar.

“Party beskou dit as ’n vloek as ’n mens nie jou eie kinders het nie. Hulle sê jy gaan ly wanneer jy oud is. Maar ek sien dit nie so nie. Ek weet dat Jehovah my sal beloon en na my sal omsien, solank ek hom heelhartig dien. Hy sal my nooit verwerp wanneer ek oud word nie.”

Gelief en kosbaar in God se oë

Diegene wat kinders grootgemaak het wat “voortgaan om in die waarheid te wandel”, het baie waarvoor hulle dankbaar kan wees. Dit is geen wonder nie dat die Bybel sê: “Die vader van ’n regverdige juig baie; en as iemand ’n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het”!—Spreuke 23:24, 25.

Christene wat nie die vreugde gehad het om kinders in die wêreld te bring nie, is op ander maniere geseën. Baie van hierdie egpare het ’n noodsaaklike rol daarin gespeel om Koninkryksbelange op ’n groot skaal te bevorder. Deur die jare heen het hulle ervaring, wysheid en vaardighede verkry wat hulle in staat stel om ’n waardevolle bydrae tot die Koninkrykswerk te lewer. Baie is aan die voorpunt van die werk.

Hoewel hulle ter wille van Koninkryksbelange kinderloos gebly het, het Jehovah hulle geseën met ’n liefdevolle geestelike gesin wat die opofferings wat hulle gemaak het opreg waardeer. Dit is soos Jesus gesê het: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat [letterlik “laat los”] nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye . . . en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.”—Markus 10:29, 30.

Hoe kosbaar is almal wat getrou is tog vir Jehovah! Al hierdie lojales, diegene wat kinders het sowel as dié wat nie het nie, het dié versekering van die apostel Paulus: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—Hebreërs 6:10.

[Voetnoot]

a Name is verander.

[Prente op bladsy 23]

Kinderlose egpare is geseën met ’n liefdevolle geestelike gesin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel