Help dit om te bid?
OP DIE een of ander stadium het omtrent almal ’n behoefte daaraan om te bid. Trouens, mense van byna elke godsdiensoortuiging bid ernstig. ’n Boeddhis sal byvoorbeeld dalk duisende kere per dag dié gebed opsê: “Ek stel my geloof in Amida Boeddha.”
Met die oog op die probleme wat regoor die wêreld bly voortbestaan, is dit redelik om te vra: Wat verwag mense om deur gebed te bereik? Help al hierdie gebede?
Waarom bid mense?
Baie Oosterlinge bid tot hulle voorouers en tot die gode Sjinto of Tao. Hulle doen dit in die hoop om ’n eksamen op skool te slaag, goeie oeste te hê of om siektes te voorkom. Boeddhiste hoop om deur gebed verligting te verkry. Hindoes bid op vroom wyse tot hulle gunstelinggode of -godinne vir kennis, rykdom en beskerming.
Party Katolieke hoop om die mensdom te bevoordeel deur hulle af te sonder vir ’n lewe as monnik of non in ’n klooster en voortdurend te bid. Miljoene Katolieke vra Maria om gunste deur gememoriseerde gebede op te sê, moontlik met die krale van ’n rosekrans. In Oosterse lande gebruik baie mense bidwiele. Protestante herhaal die woorde van die Onse Vader, hoewel hulle hulle gevoelens ook spontaan teenoor God kan uitspreek. Baie Jode reis lang afstande om by die Westelike Muur in Jerusalem te bid, in die hoop dat die tempel herstel sal word en dat daar ’n nuwe era van voorspoed en vrede sal wees.
Hoewel miljoene ernstig bid, word die mensegemeenskap al hoe meer deur probleme soos armoede, verslawing, gebroke gesinne, misdaad en oorlog geteister. Is dit moontlik dat al hierdie mense nie op die regte manier bid nie? Trouens, is daar enigiemand wat werklik gebede verhoor?
Is daar enigiemand wat gebede verhoor?
Gebede kan nie werklik help nie tensy dit verhoor word. Wanneer iemand bid, glo hy klaarblyklik dat iemand in die onsigbare geesteryk hom hoor. Maar gebede word nie deur blote klankgolwe oorgedra nie. Baie mense glo dat iemand selfs die gedagtes kan lees van die een wat bid. Wie kan dit wees?
Presies hoe gedagtes gevorm word in die miljarde neurone wat die serebrale korteks van ons brein uitmaak, is vir navorsers grootliks ’n raaisel. Maar die Een wat die brein ontwerp het, kan redelikerwys hierdie gedagtes lees. Daardie een is niemand anders nie as ons Skepper, Jehovah God (Psalm 83:18, NW; Openbaring 4:11). Gebede moet tot hom gerig word. Maar skenk Jehovah aandag aan al hierdie gebede?
Word alle gebede verhoor?
Koning Dawid van eertydse Israel was ’n man van gebed. As ’n psalmis wat deur God geïnspireer is, het hy gesing: “o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!” (Psalm 65:3). Jehovah kan gebede verstaan wat gedoen word in enige van die duisende tale wat deur die mensdom gepraat word. Die feit dat geen mens se verstand soveel inligting kan verwerk nie, beteken nie dat God nie aandag kan skenk aan almal wat op aanneemlike wyse tot hom bid nie.
Maar Jesus Christus—ook ’n man van gebed—het geopenbaar dat God nie ’n behae in alle gebede het nie. Let op wat Jesus gesê het oor die gebruik wat destyds gewild was, om gememoriseerde gebede op te sê. Volgens die Katolieke Jerusalem Bible het hy gesê: “Moenie in julle gebede babbel soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle gehoor sal word as hulle baie woorde gebruik” (Matteus 6:7). Ons kan nie verwag dat Jehovah na gebede sal luister wat nie ons ware gevoelens uitdruk nie.
’n Bybelspreuk toon waarom God nie ’n behae in party gebede het nie deur te sê: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel” (Spreuke 28:9). ’n Ander spreuk sê: “Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spreuke 15:29). Op ’n tyd toe die leiers van eertydse Juda baie skuld gedra het, het Jehovah verklaar: “As julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.”—Jesaja 1:1, 15.
Die apostel Petrus het iets anders gemeld wat gebede vir God onaanneemlik kan maak. Petrus het geskryf: “Mans, gaan insgelyks voort om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7). Die gebede van ’n man wat hierdie raad ignoreer, sal dalk nie verder as die plafon gaan nie!
Dit is duidelik dat ons aan sekere vereistes moet voldoen as ons wil hê dat ons gebede verhoor moet word. Maar baie wat bid, is nie eintlik daaroor besorg om te doen wat God van ons vereis nie. Dit is waarom al die ernstige gebede nie ’n beter wêreld tot gevolg gehad het nie.
Wat vereis God dan sodat ons gebede verhoor sal word? Die antwoord het te doen met die rede waarom ons bid. Trouens, as ons wil weet of dit help om te bid, moet ons die doel van gebede verstaan. Waarom het Jehovah dit vir ons moontlik gemaak om met hom te praat?
[Foto-erkenning op bladsy 3]
G.P.O., Jerusalem