Koninkryksverkondigers berig
Indië—“Eenheid te midde van verskeidenheid”
“EENHEID te midde van verskeidenheid” is ’n gewilde slagspreuk wat gebruik word om nasionale integrasie in Indië te beskryf. Dit is nie baie maklik om eenheid te verkry in hierdie uitgestrekte land met ’n groot verskeidenheid kulture, tale, godsdienste, etniese agtergronde, kleredrag en kossoorte nie. Maar sulke eenheid kan gesien word by die administrasiekantoor van Jehovah se Getuies in Indië, alhoewel die vrywilligers wat daar woon en werk van baie state en territoriale gebiede kom en ’n hele aantal verskillende tale praat.
• Ontmoet Rajrani—’n jong vrou uit die Pandjab, in die verre noordweste van Indië. Toe Rajrani op skool was, het een van haar klasmaats die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hierdie jong meisie het Rajrani se belangstelling in die Bybel probeer wek. Aangesien die klasmaat se Engels beperk was en Die Wagtoring op daardie stadium nie in Pandjabi beskikbaar was nie, het sy Rajrani gevra om die inhoud van die tydskrif vir haar te vertaal. Wat Rajrani in Die Wagtoring gelees het, het haar so diep getref dat sy, ondanks haar ouers se teenstand, dermate gevorder het dat sy haar lewe aan Jehovah God toegewy het. Vandag dien sy by die Bethel in Indië en doen sy juis dit wat haar oë vir die waarheid laat oopgaan het. Sy vertaal Christelike publikasies in Pandjabi!
• Kyk ook na die voorbeeld van Bijoe, wat van ’n ander deel van Indië kom—die suidwestelike staat Kerala. Bijoe is uit die hoërskool geskors omdat hy gedurende nasionalistiese seremonies ’n neutrale standpunt ingeneem het. Ná ’n uitgerekte hofsaak wat met ’n epogmakende oorwinning vir ware aanbidding geëindig het, het Bijoe teruggegaan skool toe.a Hy het ook universiteit toe gegaan. Maar omdat dit sy gewete gepla het om in daardie onsedelike atmosfeer te wees, het hy die universiteit gedurende die eerste semester verlaat. Nou, ná tien jaar in Bethel, voel hy dat hy meer baat daarby gevind het om ’n lid van ’n gemengde maar verenigde Bethelgesin te wees as wat hy sou gevind het as hy naskoolse opleiding nagestreef het.
• Norma en Lily is albei oor die 70 en is al jare lank weduwees. Hulle is al twee meer as 40 jaar in die voltydse diens. Lily werk nou omtrent 20 jaar lank as ’n Tamil-vertaler in die takkantoor. Norma het 13 jaar gelede Bethel toe gekom nadat haar man oorlede is. Hulle is nie net goeie voorbeelde van ywerige en pligsgetroue werkers nie, maar hulle het ook ’n verenigende invloed op die hele Bethelgesin. Hulle hou baie daarvan om gaste te ontvang, en hulle geniet die geselskap van jonger lede van die gesin, met wie hulle gesels oor die vreugdes van jare lange Christelike diens. En op hulle beurt nooi die jongmense hulle weer na hulle kamers vir assosiasie en help hulle hulle waar nodig. Inderdaad goeie voorbeelde!
Aangesien hierdie vrywilligers verskille oorkom het wat op baie plekke twis en onenigheid veroorsaak, werk hulle vreugdevol saam om as lede van die verenigde Bethelgesin in Indië ander te dien.—Psalm 133:1, NW.
[Voetnoot]
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Agtergrond: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.