Die dag om te onthou
DIT was die dag wat die mensdom se lewensloop geheel en al tot hulle ewige voordeel verander het. Geen ander dag in die geskiedenis het so ’n groot invloed op die mensdom se toekoms gehad nie. Dit was die dag toe Jesus alles volbring het wat hy op die aarde kom doen het. Genael aan ’n folterpaal het hy met sy laaste asem uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Waarom het Jesus aarde toe gekom?
“Die Seun van die mens [het] gekom”, sê die Bybel, “nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Jesus het sy siel, of lewe, gegee sodat die mensdom van oorgeërfde sonde en die dood gered kon word. Ja, “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Wat ’n waardevolle voorsiening is Jesus se offerande tog!
Daar is nog ’n rede waarom die dag van Jesus se dood onthou moet word. Op daardie dag het die Seun van God sy apostels waardevolle lesse geleer wat hulle sou help om getrou te bly. Hoe moes sy laaste woorde tog daardie dissipels se harte geroer het! Wat het hy hulle geleer? Hoe kan ons baat vind by wat Jesus hulle geleer het? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.