Koninkryksverkondigers berig
Hulp om die heiligheid van bloed te respekteer
REGOOR die aarde het Jehovah se knegte hulle lojaliteit aan God getoon deur die heiligheid van bloed te respekteer (Handelinge 15:28, 29). Die “getroue en verstandige slaaf”-klas het die Christenbroederskap van hulp in dié verband voorsien (Matteus 24:45-47). Kom ons kyk wat die resultate in die Filippyne was.
Die takkantoor in die Filippyne berig: “In 1990 is ons in kennis gestel dat verteenwoordigers van die Brooklynse Bethel ’n seminaar hier in die Filippyne sou hou. Broers van verskeie takkantore in Asië, waaronder Korea, Taiwan en Hongkong, is genooi. Die doel was om Hospitaalinligtingsdienste by die verskillende takkantore in te stel en ook te reël dat Hospitaalskakelkomitees gevorm word. In die Filippyne is die komitees aanvanklik in vier groot stede gestig.” Die komitees se taak sou wees om dokters te vind wat bereid is om ons Christelike standpunt oor bloed te respekteer. Hulle sou ook die broers bystaan wanneer probleme in verband met die bloedkwessie ontstaan.
Remegio is as lid van die Hospitaalskakelkomitee in Baguio aangestel. Dokters het met verloop van tyd die waarde van hierdie diens begin besef. Remegio onthou ’n keer toe ’n hele paar dokters wat met die Hospitaalskakelkomitee vergader het, wou weet hoe hulle Getuiepasiënte wat bloed weier, moet behandel. Remegio het gesê: “Die dokters het vrae begin stel, maar ek het gesukkel om aan antwoorde te dink omdat die vrae baie tegnies was.” Hy het tot Jehovah gebid om hom te help om hierdie uitdaging die hoof te bied. Remegio het verder gesê: “Ná elke vraag het ander dokters hulle hand opgesteek en vertel wat hulle in ’n soortgelyke situasie gedoen het.” Remegio was bly oor die hulp, veral aangesien die vraag-en-antwoord-sessie twee uur lank geduur het.
Daar is nou 21 komitees regoor die land, met altesaam 77 broers wat daarop dien. Danilo, ’n Getuie wat ’n dokter is, sê: “Dokters besef dat hulle Getuiepasiënte ondersteun word deur ’n organisasie wat liefdevol na hulle omsien.” Een dokter was aanvanklik huiwerig om ’n broer sonder ’n bloedoortapping te opereer. Maar die broer het ferm by sy standpunt gebly. Die operasie is gedoen en was ’n sukses. Hospitaalinligtingsdienste berig: “Die dokter was baie verbaas oor die broer se herstel. Hy het gesê: ‘Op grond van wat hier gebeur het, sal ek bereid wees om hierdie soort operasie sonder bloed te doen op enige van julle lede wat dit nodig het.’”